Hoofstuk Drie
Behou ’n stewige greep op die Woord van God
1. (a) Hoe het eertydse Israel ondervind dat God se woord waaragtig is? (b) Waarom is dit vir ons van belang?
“JULLE weet goed met julle hele hart en met julle hele siel dat nie een woord van al die goeie woorde wat Jehovah julle God met julle gespreek het, onvervuld gebly het nie. Alles is vir julle bewaarheid” (Josua 23:14-16). Dit is wat Josua vir die ouer manne van Israel gesê het nadat hulle hulle in die Beloofde Land gevestig het. Ja, Jehovah se beloftes was betroubaar. Dié verslag—en die res van die Bybel—is vir ons bewaar sodat ons “hoop kan hê”.—Romeine 15:4.
2. (a) In watter sin is die Bybel “deur God geïnspireer”? (b) Watter verantwoordelikheid plaas die wete dat die Bybel deur God geïnspireer is, op ons?
2 Hoewel ongeveer 40 menseskrywers gebruik is om die Bybel op skrif te stel, is Jehovah self die Outeur daarvan. Beteken dit dat hy alles wat daarin geskryf is, daadwerklik gerig het? Ja. Hy het dit deur middel van sy kragtige heilige gees, sy werkende krag, gedoen. Die apostel Paulus het tereg gesê: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer . . . sodat die mens van God volkome bevoeg kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk.” Mense regoor die wêreld wat hiervan oortuig is, slaan ag op die Bybel en bou hulle lewe om die inhoud daarvan.—2 Timoteus 3:16, 17; 1 Tessalonisense 2:13.
Help ander om dit te waardeer
3. Wat is die beste manier om baie te help wat nie oortuig is dat die Bybel die Woord van God is nie?
3 Baie mense met wie ons praat, deel nie ons oortuiging dat die Bybel die Woord van God is nie. Hoe kan ons hulle help? Die beste manier is dikwels om die Bybel oop te slaan en vir hulle te wys wat dit bevat. “Die woord van God is lewend en oefen krag uit en is skerper as enige tweesnydende swaard . . . en kan gedagtes en bedoelings van die hart onderskei” (Hebreërs 4:12). “Die woord van God” is nie dooie geskiedenis nie; dit is lewend! Niks kan keer dat die Bybel se beloftes vervul word nie. Die invloed van die Bybel se boodskap op die ware beweegredes van ’n persoon se hart is kragtiger as enigiets wat ons kan sê.
4. Watter verduidelikings van Bybelwaarhede het party mense se gesindheid teenoor die Bybel verander, en waarom?
4 Baie mense is beweeg om ’n dieper studie van die Bybel te maak toe hulle God se naam daarin gesien het. Ander het besluit om die Bybel te bestudeer toe daar vir hulle gewys is wat dit sê oor die doel van die lewe, waarom God goddeloosheid toelaat, die betekenis van huidige gebeure of die hoop op die ewige lewe op ’n paradysaarde. In lande waar godsdiensgebruike mense aan teistering deur bose geeste blootgestel het, het die Bybel se verduideliking van die oorsaak hiervan en hoe om verligting te kry, belangstelling gewek. Waarom beïndruk hierdie punte opregte mense? Omdat die Bybel die enigste bron van betroubare inligting oor sulke lewensbelangrike sake is.—Psalm 119:130.
5. (a) Waarom sê mense soms dat hulle nie in die Bybel glo nie? (b) Hoe kan ons sulke mense help?
5 Maar gestel mense sê vir ons dat hulle nie in die Bybel glo nie. Moet dit ’n einde aan die gesprek maak? Nie as hulle bereid is om daaroor te redeneer nie. Miskien beskou hulle die Bybel as die Christendom se boek. Die Christendom se reputasie van huigelary en politieke inmenging, sowel as sy voortdurende versoeke om geld, verklaar moontlik hulle negatiewe reaksie op die Bybel. Vra hulle gerus of dit die geval is. Die Bybel se veroordeling van die Christendom se wêreldlike weë, asook verskille tussen die Christendom en die ware Christelike godsdiens, kan hulle belangstelling wek.—Miga 3:11, 12; Matteus 15:7-9; Jakobus 4:4.
6. (a) Wat oortuig jou persoonlik dat die Bybel God se Woord is? (b) Watter ander redenasies kan gebruik word om mense te help besef dat die Bybel werklik van God af kom?
6 Vir ander kan ’n eerlike bespreking van die bewyse dat die Bybel deur God geïnspireer is, nuttig wees. Wat bewys duidelik vir jou dat die Bybel van Jehovah God af kom? Is dit wat die Bybel self oor sy oorsprong sê? Of is dit die feit dat die Bybel talle profesieë bevat wat van ’n deeglike kennis van die toekoms getuig, profesieë wat ongetwyfeld van ’n bomenslike bron gekom het? (2 Petrus 1:20, 21). Is dit miskien die Bybel se interne harmonie, hoewel dit deur 40 manne oor ’n tydperk van ongeveer 1 600 jaar geskryf is? Of is dit die wetenskaplike juistheid daarvan in teenstelling met ander geskrifte uit daardie tye? Of die openhartigheid van die skrywers? Of die feit dat dit behoue gebly het ondanks verwoede pogings om dit te vernietig? Wat jou ook al persoonlik beïndruk het, kan ook gebruik word om ander mense te help.a
Ons persoonlike Bybellees
7, 8. (a) Wat moet ons met die Bybel doen? (b) Wat benewens persoonlike Bybellees het ons nodig? (c) Hoe het jy ’n begrip van Jehovah se voornemens verkry?
7 Ons moenie net ander help om in die Bybel te glo nie, maar moet self ook tyd inruim om dit gereeld te lees. Doen jy dit? Dit is die allerbelangrikste boek wat ooit geskryf is. Dit beteken natuurlik nie dat ons, as ons dit op ons eie lees, niks anders nodig het nie. Die Skrif waarsku dat ons ons nie moet afsonder nie. Ons moenie dink dat ons alles deur onafhanklike navorsing kan uitpluis nie. Persoonlike studie sowel as gereelde bywoning van die vergaderinge van God se volk is nodig as ons gebalanseerde Christene wil wees.—Spreuke 18:1; Hebreërs 10:24, 25.
8 In hierdie verband vertel die Bybel van ’n Etiopiese amptenaar wat uit die profesie van Jesaja gelees het. ’n Engel het die Christenevangeliedienaar Filippus gerig om die man te vra: “Verstaan u werklik wat u lees?” Die Etiopiër het nederig geantwoord: “Hoe sou ek tog ooit kon, tensy iemand my lei?” Hy het daarop aangedring dat Filippus die Skrifgedeelte moet verduidelik. Filippus was nie net ’n onafhanklike Bybelleser wat sy mening oor die Skrif gegee het nie. Hy het noue kontak met God se sigbare organisasie behou. Hy kon dus die Etiopiër help om baat te vind by die onderrigting wat Jehovah deur daardie organisasie beskikbaar gestel het (Handelinge 6:5, 6; 8:5, 26-35). Net so verkry niemand vandag op sy eie ’n juiste begrip van Jehovah se voornemens nie. Ons almal het die hulp nodig wat Jehovah liefdevol deur sy sigbare organisasie voorsien.
9. By watter Bybelleesprogram kan ons almal baat vind?
9 Om ons die Bybel te help verstaan, voorsien Jehovah se organisasie uitstekende skriftuurlike materiaal in verskillende publikasies. Daarbenewens word ’n vaste rooster vir Bybellees vir ons uiteengesit wat verband hou met die Teokratiese Bedieningskool wat in al die gemeentes van Jehovah se Getuies regoor die wêreld gehou word. Jy kan baie daarby baat vind as jy die Heilige Skrif persoonlik ondersoek (Psalm 1:1-3; 19:7, 8). Wend ’n spesiale poging aan om die Bybel gereeld te lees. Al verstaan jy nie alles ten volle nie, kan jy ’n geheelbeeld van die Skrif kry, wat van groot waarde sal wees. As jy byvoorbeeld net vier of vyf bladsye per dag lees, kan jy die Bybel in ongeveer ’n jaar deurlees.
10. (a) Wanneer lees jy die Bybel? (b) Wie anders moet ingesluit word wanneer jy die Bybel lees, en waarom is gereeldheid belangrik?
10 Wanneer kan jy die Bybel lees? As jy elke dag net 10 of 15 minute daarvoor opsy sit, sal dit jou tot groot voordeel strek. As jy nie kan nie, moet jy ten minste elke week spesifieke tye daarvoor opsy sit en dan by daardie rooster hou. As jy getroud is, kan jy en jou maat die Bybel vir mekaar voorlees. As daar kinders is wat oud genoeg is om te lees, kan hulle beurte maak om dit voor te lees. Bybellees moet ’n lewenslange gewoonte wees, soos om kos te eet. Soos jy weet, sal ’n mens se gesondheid daaronder ly as jy swak eetgewoontes het. So ook hang ons geestelike lewe, en gevolglik ons ewige lewe, daarvan af dat ons gereeld gevoed word met “elke woord wat uit Jehovah se mond kom”.—Matteus 4:4.
Ons oogmerk
11. Wat moet ons oogmerk met Bybellees wees?
11 Wat moet ons oogmerk met Bybellees wees? Dit moenie net ons doel wees om ’n sekere aantal bladsye te dek nie. Ons beweegrede moet wees om God beter te leer ken sodat ons liefde vir hom kan toeneem en ons hom op aanneemlike wyse kan aanbid (Johannes 5:39-42). Ons moet dieselfde gesindheid hê as die Bybelskrywer wat gesê het: “Maak u weë aan my bekend, o Jehovah; leer my u paaie.”—Psalm 25:4.
12. (a) Waarom is dit nodig om “juiste kennis” te verkry, en wat moet ons dalk doen terwyl ons lees om hierdie kennis te verkry? (b) Uit watter vier oogpunte kan ons wat ons in die Bybel lees, met vrug ontleed? (Sien venster op bladsy 30.) (c) Lig hierdie punte toe deur die vrae in hierdie paragraaf te beantwoord. Slaan die teksverwysings na wat nie aangehaal word nie.
12 Wanneer ons onderrigting van Jehovah ontvang, moet dit ons begeerte wees om “juiste kennis” te verkry. Hoe sal ons daarsonder God se Woord behoorlik in ons eie lewe kan toepas of dit met juistheid aan ander kan verduidelik? (Kolossense 3:10; 2 Timoteus 2:15). As ons juiste kennis wil verkry, moet ons met aandag lees, en as ’n gedeelte moeilik is, moet ons dit dalk meer as een keer lees om die betekenis daarvan te snap. Ons sal ook daarby baat vind as ons tyd neem om oor die materiaal te peins en uit verskeie oogpunte daaroor na te dink. Vier nuttige moontlikhede word op bladsy 30 genoem. Baie Skrifgedeeltes kan met vrug ontleed word deur dit uit een of meer van hierdie oogpunte te beskou. Wanneer jy die vrae op die volgende bladsye beantwoord, sal jy sien hoe dit die geval is.
(1) Die Skrifgedeelte wat jy lees, kan jou dikwels iets vertel van watter soort persoon Jehovah is. In Psalm 139:13, 14 leer ons byvoorbeeld van God se groot besorgdheid oor die ongeborenes: “U het my afgeskerm gehou in die skoot van my moeder. Ek sal u prys, omdat ek op ’n vreesinboesemende wyse wonderbaar gemaak is. U werke is wonderbaar, soos my siel alte goed weet.” Hoe wonderlik is Jehovah se skeppingswerke tog! Die manier waarop mense gemaak is, getuig van sy groot liefde vir ons.
Wanneer ons lees hoe Jesus ander behandel het, sien ons, in die lig van wat Johannes 14:9, 10 sê, in werklikheid hoe Jehovah sou optree. Watter gevolgtrekking kan ons dan omtrent Jehovah maak na aanleiding van die voorvalle wat in Lukas 5:12, 13 en Lukas 7:11-15 opgeteken is?
(2) Kyk hoe die verslag verband hou met die Bybel se tema: die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit en die heiliging van sy naam deur die Koninkryk onder Jesus Christus, die beloofde Saad.
Hoe is die Bybel se tema deur Esegiël en Daniël beklemtoon? (Esegiël 38:21-23; Daniël 2:44; 4:17; 7:9-14)
Hoe identifiseer die Bybel Jesus duidelik as die beloofde Saad? (Galasiërs 3:16)
Hoe beskryf Openbaring die groot klimaks van die Koninkrykstema? (Openbaring 11:15; 12:7-10; 17:16-18; 19:11-16; 20:1-3; 21:1-5)
(3) Vra jou af hoe jy wat jy lees, persoonlik kan toepas. Ons lees byvoorbeeld in Eksodus tot Deuteronomium van Israel se onsedelikheid en opstandigheid. Ons leer dat daardie gesindhede en dade slegte gevolge gehad het. Ons moet dus beweeg word om Jehovah te behaag deur nie Israel se slegte voorbeeld te volg nie. “Hierdie dinge het hulle as voorbeelde bly oorkom, en dit is opgeskryf as ’n waarskuwing vir ons op wie die eindes van die stelsels van dinge gekom het.”—1 Korintiërs 10:11.
Watter les leer ons uit die verslag oor Kain wat Abel doodgemaak het? (Genesis 4:3-12; Hebreërs 11:4; 1 Johannes 3:10-15; 4:20, 21)
Is Bybelraad aan Christene wat ’n hemelse hoop het, ook van toepassing op diegene wat die hoop op ewige lewe op aarde het? (Numeri 15:16; Johannes 10:16)
Waarom moet ons nadink oor hoe om die Bybelraad wat ons reeds ken, in voller mate toe te pas, al het ons ’n goeie reputasie in die Christengemeente? (2 Korintiërs 13:5; 1 Tessalonisense 4:1)
(4) Dink aan hoe jy wat jy lees, kan gebruik om ander te help. Aangesien alle mense oor gesondheidsprobleme besorg is, kan ons vir hulle lees wat Jesus gedoen het om toe te lig wat hy in Koninkryksmag op ’n baie groter skaal gaan doen: “Groot menigtes [het] na hom toe gekom wat kreupeles, verminktes, blindes, stommes en baie ander by hulle gehad het, . . . en hy het hulle genees.”—Matteus 15:30.
Wie kan deur die verhaal oor die opstanding van Jaïrus se dogter gehelp word? (Lukas 8:41, 42, 49-56)
13. Watter resultate kan ons verwag van ’n volgehoue program vir Bybellees en -studie saam met Jehovah se organisasie?
13 Hoe lonend word Bybellees tog wanneer ons die bogenoemde vier punte in oënskou neem! Dit is beslis ’n uitdaging om die Bybel te lees. Maar ons kan lewenslank daarby baat vind, want terwyl ons die Skrif lees, sal ons geestelik sterker word. Gereelde Bybellees sal ons nader laat kom aan ons liefdevolle Vader, Jehovah, en aan ons Christenbroers. Dit sal ons help om ag te slaan op die raad om “’n stewige greep op die woord van die lewe” te behou.—Filippense 2:16.
[Voetnoot]
a Vir ’n bespreking van die redes waarom die Bybel verdien om ondersoek te word, sien die brosjure ’n Boek vir alle mense, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word.
Hersieningsbespreking
• Waarom is die Bybel geskryf en tot in ons dag bewaar?
• Hoe kan ons ander help om die Bybel te waardeer?
• Waarom is gereelde, persoonlike Bybellees nuttig? Uit watter vier oogpunte kan ons wat ons lees, met vrug ontleed?
[Venster/Prent op bladsy 30]
WANNEER JY ’N GEDEELTE VAN DIE BYBEL LEES, DINK AAN
Wat dit jou van Jehovah as ’n persoon vertel
Hoe dit met die tema van die Bybel verband hou
Watter uitwerking dit op jou lewe moet hê
Hoe jy dit kan gebruik om ander te help