Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • wt hfst. 2 bl. 14-22
  • Verheerlik Jehovah as die enigste ware God

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verheerlik Jehovah as die enigste ware God
  • Aanbid die enigste ware God
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “God is liefde”
  • Betoon liefde aan ander
  • ‘Wandel in die naam van Jehovah’
  • Jy moet die God liefhê wat jou liefhet
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Jehovah is die God van liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Die grootste hiervan is die liefde”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Word opgebou deur liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Aanbid die enigste ware God
wt hfst. 2 bl. 14-22

Hoofstuk Twee

Verheerlik Jehovah as die enigste ware God

1. Wie is die enigste ware God?

DIE Bybel sê dat daar baie is wat as gode beskou word, maar dat “daar in werklikheid vir ons een God, die Vader,” is (1 Korintiërs 8:5, 6). Hierdie “een God” is Jehovah, die Skepper van alles (Deuteronomium 6:4; Openbaring 4:11). Jesus het na hom verwys as “my God en julle God” (Johannes 20:17). Hy was dit eens met Moses, wat vroeër gesê het: “Jehovah [is] die ware God . . . ; daar is geen ander buiten hom nie” (Deuteronomium 4:35). Jehovah is ver verhewe bo enige voorwerpe van aanbidding, soos afgode, vergoddelikte mense of sy vyand Satan die Duiwel, “die god van hierdie stelsel van dinge” (2 Korintiërs 4:3, 4). In teenstelling met almal van hulle is Jehovah, soos Jesus hom genoem het, “die enigste ware God”.—Johannes 17:3.

2. Watter uitwerking moet dit op ons lewe hê wanneer ons van God leer?

2 Mense met waardering wat van God se hartverblydende eienskappe leer, asook van wat hy vir ons gedoen het en nog sal doen, voel aangetrokke tot hom. Namate hulle liefde vir Jehovah toeneem, word hulle daartoe beweeg om hom te verheerlik. Hoe? Een manier is om ander van hom te vertel. “Met die mond doen ’n mens openbare bekendmaking tot redding”, sê Romeine 10:10. Nog ’n manier is om hom in woord en daad na te volg. “Word dan navolgers van God, as geliefde kinders”, sê Efesiërs 5:1. Om dit in voller mate te doen, moet ons Jehovah leer ken soos hy waarlik is.

3. Wat is God se hoofeienskappe?

3 Dwarsdeur die Bybel is daar baie verklarings wat God se uitsonderlike eienskappe identifiseer. Sy vier hoofeienskappe is wysheid, geregtigheid, krag en liefde. “By hom is wysheid” (Job 12:13). “Al sy weë is geregtigheid” (Deuteronomium 32:4). Hy is “sterk in krag” (Jesaja 40:26). “God is liefde” (1 Johannes 4:8). Maar watter een van God se vier hoofeienskappe is die uitsonderlikste, die een wat by uitstek toon watter soort God hy is?

“God is liefde”

4. Watter eienskap van God het hom beweeg om die heelal en alle lewende wesens te skep?

4 Dink aan wat Jehovah beweeg het om die heelal te skep, asook intelligente gees- en menseskepsele. Was dit sy wysheid of krag? Nee, want hoewel God dit gebruik het, was dit nie wat hom daartoe beweeg het nie. En sy geregtigheid het nie vereis dat hy die gawe van lewe met ander deel nie. Dit was eerder God se groot liefde wat hom aangespoor het om die vreugdes van intelligente bestaan met ander te deel. Liefde het aanleiding gegee tot sy voorneme dat gehoorsame mense vir ewig in ’n paradys moet lewe (Genesis 1:28; 2:15). Liefde het hom reëlings laat tref sodat die veroordeling wat Adam se oortreding oor die mensdom gebring het, opgehef kan word.

5. Volgens die Bybel is Jehovah die verpersoonliking van watter eienskap, en waarom?

5 God se liefde is dus die uitsonderlikste van al sy eienskappe. Dit is die kern van sy wese. Al is sy wysheid, geregtigheid en krag baie belangrik, sê die Bybel nooit dat Jehovah enige van dié eienskappe is nie. Maar dit sê wel dat hy liefde is. Ja, Jehovah is die verpersoonliking van liefde. Hierdie liefde word deur beginsels gerig, nie deur emosies nie. God se liefde word deur die beginsels van waarheid en regverdigheid beheer. Dit is die mees verhewe vorm van liefde, waarvan Jehovah God die volmaakte voorbeeld is. Hierdie liefde is ’n blyk van volkome onselfsugtigheid en gaan altyd gepaard met dade wat ’n tasbare bewys daarvan is.

6. Wat maak dit vir ons moontlik om God na te volg, al is hy verhewe bo ons?

6 Dit is hierdie wonderlike eienskap, liefde, wat ons in staat stel om so ’n God na te volg. As nietige, onvolmaakte mense wat maar alte maklik foute maak, dink ons miskien dat ons dit nooit sal kan doen nie. Maar hier is nog ’n voorbeeld van Jehovah se groot liefde: Hy is bewus van ons beperkings en verwag nie volmaaktheid van ons nie. Hy weet dat ons nou alles behalwe volmaak is (Psalm 51:5). Daarom sê Psalm 130:3, 4: “As u op oortredings ag gegee het, o Jah, o Jehovah, wie sou kon bly staan? Want by u is daar ware vergifnis.” Ja, Jehovah is “’n barmhartige en genadige God, wat nie gou toornig word nie en oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid” (Eksodus 34:6). “U, o Jehovah, is goed en vergewensgesind” (Psalm 86:5). Hoe bemoedigend tog! Hoe verkwikkend is dit tog om hierdie wonderlike God te dien en sy liefdevolle, barmhartige sorg te geniet!

7. Hoe kan Jehovah se liefde in sy skeppingswerke gesien word?

7 Jehovah se liefde kan ook in sy skeppingswerke gesien word. Dink aan al die goeie dinge wat Jehovah vir ons genot voorsien het, soos pragtige berge, woude, mere en oseane. Hy het ons ’n verbasende verskeidenheid voedsel gegee om ons genot te verskaf en te voed. Jehovah het ook baie soorte pragtige en geurige blomme voorsien, asook die fassinerende diereskepping. Hy het dinge gemaak wat mense genot sou verskaf, al was dit nie vir hom nodig om dit te doen nie. Ons kan weliswaar nie sy skepping ten volle geniet terwyl ons in ons huidige onvolmaakte toestand in hierdie goddelose wêreld lewe nie (Romeine 8:22). Maar dink net wat Jehovah in die Paradys vir ons sal doen! Die psalmis verseker ons: “U maak u hand oop en bevredig die [gepaste] begeerte van alles wat lewe.”—Psalm 145:16.

8. Wat is die uitsonderlikste voorbeeld van Jehovah se liefde vir ons?

8 Wat is die uitsonderlikste voorbeeld van Jehovah se liefde vir die mens? Die Bybel verduidelik: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Het Jehovah dit gedoen omdat die mens goed is? Romeine 5:8 antwoord: “Hierin beveel God sy eie liefde by ons aan, dat Christus vir ons gesterf het terwyl ons nog sondaars was.” Ja, God het sy volmaakte Seun aarde toe gestuur om sy lewe as ’n losprysoffer te gee om ons los te koop van die veroordeling van sonde en die dood (Matteus 20:28). Dit het die weg gebaan vir mense wat God liefhet om die ewige lewe te verkry. Gelukkig word God se liefde bewys aan almal wat daarna streef om sy wil te doen, want die Bybel sê vir ons: “God [is] nie partydig . . . nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik.”—Handelinge 10:34, 35.

9. Hoe moet die feit dat Jehovah sy Seun as ’n losprys vir ons gegee het, ons raak?

9 Hoe moet die feit dat Jehovah sy Seun as ’n losprys vir ons gegee het, wat die ewige lewe moontlik maak, die manier raak waarop ons nou ons lewe gebruik? Dit moet ons liefde vir die ware God, Jehovah, laat toeneem. Terselfdertyd moet dit die begeerte by ons wek om na Jesus, wat God verteenwoordig, te luister. “[Jesus] het vir almal gesterf, sodat dié wat lewe, nie langer vir hulleself moet lewe nie, maar vir hom wat vir hulle gesterf het” (2 Korintiërs 5:15). Wat ’n genot is dit tog om in Jesus se voetstappe te volg, want hy het Jehovah se liefde en medelye op voorbeeldige wyse nagevolg! Dit blyk uit wat Jesus vir nederiges gesê het: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik. Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind. Want my juk is sag en my vrag is lig.”—Matteus 11:28-30.

Betoon liefde aan ander

10. Wat is party maniere waarop ons liefde aan mede-Christene kan betoon?

10 Hoe kan ons toon dat ons die soort liefde vir mede-Christene het wat Jehovah en Jesus vir ons het? Let op al die maniere waarop ons dit kan doen: “Die liefde is lankmoedig en goedhartig. Die liefde is nie jaloers nie, dit praat nie groot nie, raak nie opgeblase nie, gedra hom nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, raak nie ergerlik nie. Dit hou nie boek van die kwaad nie. Dit is nie bly oor onregverdigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit verdra alles, glo alles, hoop alles, verduur alles. Die liefde faal nooit nie.”—1 Korintiërs 13:4-8; 1 Johannes 3:14-18; 4:7-12.

11. Aan wie anders moet ons liefde betoon, en hoe?

11 Aan wie anders moet ons liefde betoon, en hoe? Jesus het gesê: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20). Dit beteken dat ons die goeie nuus van God se komende paradysagtige nuwe wêreld moet bekend maak aan diegene wat nog nie ons mede-Christene is nie. Jesus het duidelik getoon dat ons liefde nie beperk moet word tot diegene met dieselfde godsdiensoortuigings as ons nie, want hy het gesê: “As julle [net] dié liefhet wat julle liefhet, watter beloning het julle? Doen die belastinggaarders nie ook dieselfde nie? En as julle net julle broers groet, wat doen julle wat buitengewoon is? Doen die mense van die nasies nie ook dieselfde nie?”—Matteus 5:46, 47; 24:14; Galasiërs 6:10.

‘Wandel in die naam van Jehovah’

12. Waarom kan God se naam net op hom van toepassing wees?

12 Nog ’n belangrike manier waarop die ware God verheerlik kan word, is deur sy unieke naam, Jehovah, te ken, te gebruik en aan ander te leer. Die psalmis het hierdie hartgrondige wens uitgespreek: “[Dat] mense kan weet dat u, wie se naam Jehovah is, U alleen die Allerhoogste oor die hele aarde is” (Psalm 83:18). Die naam Jehovah beteken “Hy laat word”. Hy is die Groot Voornemer, wat altyd sy voornemens verwesenlik. En net die ware God kan tereg dié naam dra, want mense kan nooit seker wees dat hulle pogings suksesvol sal wees nie (Jakobus 4:13, 14). Jehovah alleen kan sê dat sy woord ‘beslis sukses sal behaal’ in alles waarvoor hy dit stuur (Jesaja 55:11). Baie mense is verheug wanneer hulle God se naam vir die eerste keer in hulle Bybel sien en leer wat dit beteken (Eksodus 6:3). Maar hulle sal slegs by hierdie kennis baat vind as hulle ‘vir ewig in die naam van Jehovah wandel’.—Miga 4:5.

13. Wat behels dit om Jehovah se naam te ken en in sy naam te wandel?

13 Psalm 9:10 sê van God se naam: “Dié wat u naam ken, sal op u vertrou.” Dit behels meer as om net van die naam Jehovah te weet, want dít op sigself beteken nie dat ’n mens op hom vertrou nie. Om God se naam te ken, beteken dat ’n mens besef watter soort God Jehovah is, sy gesag respekteer, sy gebooie gehoorsaam en hom in alles vertrou (Spreuke 3:5, 6). Om in die naam van Jehovah te wandel, impliseer eweneens dat jy aan hom toegewy is en hom as een van sy aanbidders verteenwoordig, dat jy jou lewe waarlik in ooreenstemming met God se wil gebruik (Lukas 10:27). Doen jy dit?

14. Wat benewens pligsgevoel is nodig as ons Jehovah vir ewig wil dien?

14 As ons Jehovah vir ewig gaan dien, moet ons deur meer as net pligsgevoel aangedryf word. Die apostel Paulus het Timoteus, wat Jehovah al baie jare lank gedien het, aangespoor: “Oefen jou . . . met godvrugtige toegewydheid as jou doel” (1 Timoteus 4:7). Toegewydheid kom uit ’n hart vol waardering vir die persoon tot wie die toegewydheid gerig word. “Godvrugtige toegewydheid” is ’n blyk van diepe eerbied vir Jehovah as persoon. Dit openbaar liefdevolle gehegtheid aan hom as gevolg van grenslose agting vir hom en sy weë. Dit wek by ons die begeerte dat almal hoë agting vir sy naam moet hê. Ons moet godvrugtige toegewydheid in ons lewe aankweek as ons vir ewig in die naam van Jehovah, die enigste ware God, wil wandel.—Psalm 37:4; 2 Petrus 3:11.

15. Hoe kan ons ons uitsluitlike toegewydheid aan God betoon?

15 As ons God op aanneemlike wyse wil dien, moet ons aanbidding van hom onverdeeld wees, want hy is “’n God wat uitsluitlike toegewydheid eis” (Eksodus 20:5). Ons kan God nie liefhê en terselfdertyd die goddelose wêreld, waarvan Satan die god is, liefhê nie (Jakobus 4:4; 1 Johannes 2:15-17). Jehovah weet presies watter soort persoon elkeen van ons probeer wees (Jeremia 17:10). As ons regverdigheid waarlik liefhet, sien hy dit en sal hy ons help om ons daaglikse beproewinge te verduur. Deur ons met sy kragtige heilige gees te ondersteun, sal hy ons in staat stel om te seëvier oor die goddeloosheid wat so algemeen in hierdie wêreld is (2 Korintiërs 4:7). Hy sal ons ook help om ons vaste hoop op die ewige lewe op ’n paradysaarde te behou. Wat ’n wonderlike vooruitsig is dit tog! Ons moet groot waardering daarvoor hê en die ware God, Jehovah, wat dit moontlik maak, gewillig dien.

16. Wat moet jy saam met miljoene ander wil doen?

16 Miljoene mense regoor die aarde het met vreugde die uitnodiging aanvaar van die psalmis wat geskryf het: “O maak Jehovah saam met my groot, en laat ons sy naam saam verhef” (Psalm 34:3). Jehovah nooi jou om onder die toenemende menigtes in al die nasies te wees wat dit doen.

Hersieningsbespreking

• Watter soort persoon is Jehovah? Hoe strek dit ons tot voordeel as ons ’n duidelike begrip van sy eienskappe verkry?

• Hoe kan ons liefde aan ander betoon?

• Wat behels dit om Jehovah se naam te ken en in sy naam te wandel?

[Prente op bladsy 14]

Jehovah sal, in sy groot liefde, ‘sy hand oopmaak en die begeerte bevredig van alles wat lewe’

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel