Hoofstuk Elf
Maak jou lewe vir ewig sinvoller
WAAR ons ook al woon, hoor ons van wetenskaplike ontdekkings. Bioloë, oseanograwe en ander verbreed voortdurend die mens se kennis van ons aarde en lewe daarop. Sterrekundiges en fisici, wat navorsing in ’n ander rigting doen, leer al die tyd meer van ons sonnestelsel, die sterre, selfs vergeleë sterrestelsels. Waarop dui dit?
Talle helderdenkende mense stem saam met eertydse koning Dawid: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande” (Psalm 19:2). Party stem weliswaar nie daarmee saam nie of sê dat hulle nie daarvan seker kan wees nie. Maar kan jy nie, nadat jy die getuienis in hierdie boek ondersoek het, oorgenoeg rede sien om te glo dat ’n Skepper bestaan en dat hy die Bron van ons heelal en ons lewe is nie?
Die apostel Paulus het gesê: “Mense kan nie sê dat hulle nie van God weet nie. Van die begin van die wêreld af kon mense sien watter soort persoon God is deur middel van die dinge wat Hy gemaak het. Dit toon Sy mag wat ewigdurend is. Dit toon dat Hy God is” (Romeine 1:20, Holy Bible—New Life Version). Die inligting wat ons in vorige hoofstukke oor die skepping gedek het, het dit makliker gemaak om te “sien watter soort persoon God is”, om “sy onsigbare eienskappe” (Nuwe Wêreld-vertaling) te waardeer. Maar dit moet nie ’n doel op sigself wees om te sien dat die fisiese skepping bewys lewer van die Skepper nie. Waarom nie?
Baie wetenskaplikes wy hulle lewe daaraan om die heelal te bestudeer, maar hulle voel nog steeds ’n groot leemte in die lewe en vind geen blywende sin daarin nie. Fisikus Steven Weinberg het byvoorbeeld geskryf: “Hoe beter ’n mens die heelal verstaan, hoe sinloser lyk dit.” Die tydskrif Science het oor sterrekundige Alan Dressler se beskouing gesê: “Wanneer navorsers sê dat die kosmologie die ‘verstand’ of ‘handskrif’ van God openbaar, skryf hulle aan die Goddelike toe wat per slot van rekening moontlik die minder belangrike aspek van die heelal is—die fisiese samestelling daarvan.” Dressler het te kenne gegee dat die doel van die mensebestaan belangriker is. Hy het gesê: “Mense het die ou opvatting laat vaar dat die mensdom die fisiese middelpunt van die [fisiese] heelal is, maar hulle moet weer begin glo dat ons die middelpunt van sin in die lewe is.”
Dit is duidelik dat elkeen van ons intens in die doel van ons bestaan moet belangstel. Die blote feit dat ons erken dat die Skepper, of Meesterontwerper, bestaan en dat ons van hom afhanklik is, sal dalk nie ons lewe sinvol maak nie. Dit is veral die geval omdat die lewe maar kort lyk. Baie voel soos koning Macbeth in een van William Shakespeare se toneelstukke:
“Die lewe is ’n skim wat dwaal, ’n swak speler,
Wat op die toneel sy uur vol pronk en raas,
Dan stil, vir goed verdwyn. Dis ’n verhaal,
’n Sot se storie, vol rumoer en drif,
Maar sonder sin.”—Macbeth, Vyfde bedryf, Vyfde toneel.
Mense regoor die aarde kan hulle met hierdie woorde vereenselwig; maar wanneer hulle self voor ’n ernstige krisis te staan kom, sal hulle moontlik nog steeds tot God om hulp roep. Elihu, ’n wyse man van lank gelede, het gesê: “Vanweë die menigte van verdrukkinge skreeu hulle; hulle roep om hulp . . . Maar niemand sê nie: Waar is God, my Maker, . . . wat ons meer leer as aan die diere van die aarde en ons wyser maak as die voëls van die hemel?”—Job 35:9-11.
Elihu se woorde beklemtoon die feit dat ons as mense nie die werklike middelpunt van sin in die lewe is nie. Ons Grootse Skepper is daardie middelpunt, en enige ware sin in ons bestaan hou logieserwys met hom verband en hang van hom af. As ons daardie sin in die lewe wil vind, asook die diepe tevredenheid wat daarmee gepaardgaan, moet ons die Skepper leer ken en ons lewe in ooreenstemming met sy wil bring.
Wend jou tot die Skepper
Moses het dit gedoen. Hy was realisties en het erken: “Die dae van ons jare—daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet.” Hierdie besef het Moses nie swaarmoedig of pessimisties gemaak nie; dit het hom laat insien hoe belangrik dit is om ons tot ons Skepper te wend. Moses het gebid: “Leer ons om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart mag bekom! Versadig ons in die môre met u goedertierenheid, sodat ons kan jubel en bly wees in al ons dae. En laat die lieflikheid van die HERE onse God oor ons wees.”—Psalm 90:10, 12, 14, 17.
‘Versadig in die môre.’ ‘Om in al ons dae bly te wees.’ ‘God se lieflikheid oor ons.’ Gee sulke uitdrukkings nie te kenne dat ’n mens sin in die lewe gevind het nie—sin wat die mense oor die algemeen ontwyk?
Ons kan baie nader daaraan kom as ons besef wat ons posisie voor die Skepper is. Die toenemende kennis oor die heelal kan ons in sekere sin help. Dawid het gevra: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het—wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?”—Psalm 8:4, 5.
En ons moet meer doen as om bloot te erken dat Jehovah die son, maan en sterre geskep het en toe die aarde, met sy hele infrastruktuur, van lewensvorme laat wemel het (Nehemia 9:6; Psalm 24:2; Jesaja 40:26; Jeremia 10:10, 12). Soos ons vroeër gesien het, dui Jehovah se unieke naam daarop dat hy ’n God met voornemens is en dat hy die enigste een is wat sy wil volkome kan uitvoer.
Jesaja het geskryf: “Hy, die ware God, die Formeerder van die aarde en die Maker daarvan, Hy wat dit stewig bevestig het, wat dit nie bloot verniet geskep het nie, wat dit geformeer het om bewoon te word.” Jesaja het toe Jehovah se woorde aangehaal: “Ek is Jehovah, en daar is geen ander nie” (Jesaja 45:18, NW). En Paulus het later van mede-Christene gesê: “Ons is ’n produk van sy werk en is in eenheid met Christus Jesus geskep vir goeie werke.” Die vernaamste van hierdie “goeie werke” is om “die uiters veelsydige wysheid van God . . . volgens [sy] ewige voorneme” bekend te maak (Efesiërs 2:10; 3:8-11). Ons kan en moet logieserwys ’n verhouding met die Skepper hê en probeer om sy voorneme te wete te kom en daarmee saam te werk.—Psalm 95:3-6.
Die besef dat daar ’n liefdevolle Skepper is wat vir ons omgee, behoort ons tot dade te beweeg. Let byvoorbeeld op die verband tussen so ’n besef en die manier waarop ons ander moet behandel. “Wie die geringe verdruk, versmaad sy Maker, maar hy wat hom oor die behoeftige ontferm, eer Hom.” “Het een God ons nie geskape nie? Waarom handel ons dan troueloos met mekaar?” (Spreuke 14:31; Maleagi 2:10). Die besef dat daar ’n Skepper is wat vir ons omgee, behoort ons dus te beweeg om groter liefdevolle besorgdheid teenoor sy ander skepsele te betoon.
Ons hoef dit nie op ons eie te probeer doen nie. Die Skepper kan ons help. Hoewel Jehovah nou geen nuwe aardse skeppingswerke voortbring nie, kan daar gesê word dat hy op ’n ander manier nog skep. Hy bied daadwerklike en produktiewe hulp aan mense wat sy leiding soek. Nadat Dawid gesondig het, het hy gevra: “Skep vir my ’n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ’n vaste gees” (Psalm 51:12; 124:8). En die Bybel spoor Christene aan om ‘die ou persoonlikheid af te lê’ wat deur die wêreld om hulle gevorm word en hulle ‘met die nuwe persoonlikheid te beklee, wat na God se wil geskep is’ (Efesiërs 4:22-24). Ja, Jehovah kan ’n nuwe figuurlike hart in mense skep en hulle help om ’n persoonlikheid te ontwikkel wat sy eienskappe weerspieël.
Maar dit is net die eerste stappe. Ons moet verder gaan. Paulus het vir ’n aantal geleerde Ateners gesê: ‘Die God wat die wêreld en alles daarin gemaak het, het die vasgestelde tye verorden, sodat mense hom sou soek, indien hulle na hom sou tas en hom werklik sou vind, hoewel hy nie ver van elkeen van ons af is nie.’—Handelinge 17:24-27.
’n Sinvolle lewe is op kennis gegrond
Uit wat ons bespreek het, moet dit duidelik wees dat die Skepper ’n skat van kennis deur sy fisiese skepping en deur sy geïnspireerde Woord, die Bybel, voorsien het. Hy spoor ons aan om in kennis en insig te groei en voorspel selfs die tyd wanneer ‘die aarde vol van die kennis van Jehovah sal wees soos die waters die seebodem oordek’.—Jesaja 11:9; 40:13, 14.
Dit is nie die Skepper se wil dat ons vermoë om te leer en te verbeter tot ’n lewensduur van 70 of 80 jaar beperk moet wees nie. Jy kan dit uit een van Jesus se bekendste verklarings sien: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”—Johannes 3:16.
“Die ewige lewe.” Dit is nie ’n hersenskim nie. Inteendeel, die idee van lewe sonder einde strook met wat die Skepper ons oorspronklike ouers, Adam en Eva, aangebied het. Dit strook met wetenskaplike feite oor die samestelling en vermoë van ons brein. En dit strook met wat Jesus Christus geleer het. Ewige lewe vir die mensdom was die kern van Jesus se boodskap. Tydens sy laaste aand op die aarde saam met die apostels het hy gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.”—Johannes 17:3.
Soos in die vorige hoofstuk bespreek is, sal Jesus se belofte van die ewige lewe vir miljoene mense ’n werklikheid word hier op die aarde. Hierdie vooruitsig kan ’n mens se lewe ongetwyfeld baie sinvoller maak. Dit beteken dat jy ’n verhouding met die Skepper moet opbou. So ’n verhouding lê nou die grondslag vir die verkryging van die ewige lewe. Stel jou voor wat daardie lewe vir jou moontlik sal maak: om dinge te leer, te ondersoek en te ondervind—alles sonder die beperking wat siekte en die dood nou op ons plaas. (VergelykJesaja 40:28.) Wat kan of sal jy met daardie lewe doen? Jy weet die beste waarin jy belangstel, watter talente jy graag wil ontwikkel en wat jy nog alles wil uitvind. Die feit dat jy jou daarop sal kan toelê, sal jou lewe nog sinvoller maak!
Paulus het grondige rede gehad om die tyd te verwag wanneer “die skepping self ook van die slawerny van die verderflikheid vrygemaak sal word en die glorieryke vryheid van die kinders van God sal hê” (Romeine 8:21). Diegene wat uiteindelik daardie vryheid verkry, sal nou reeds ware sin in die lewe vind en sal vir ewig ’n sinvolle lewe hê, tot God se heerlikheid.—Openbaring 4:11.
Jehovah se Getuies in alle wêrelddele het hierdie onderwerp bestudeer. Hulle is daarvan oortuig dat daar ’n Skepper is en dat hy vir hulle en vir jou omgee. Hulle help ander graag om hierdie stewig gegronde sin in die lewe te vind. Ondersoek hierdie onderwerp gerus saam met hulle. Dit sal jou lewe vir ewig sinvoller maak!
[Venster op bladsy 185]
God in watter sin?
“Wetenskaplikes en ander gebruik soms die woord ‘God’ in so ’n abstrakte en onverbonde sin dat Hy skaars van die natuurwette onderskei kan word”, het Steven Weinberg gesê, wat ’n Nobelprys vir sy werk op die gebied van fundamentele kragte ontvang het. Hy het bygevoeg:
“As die woord ‘God’ van enige nut moet wees, lyk dit vir my of dit verstaan moet word in die sin van ’n belangstellende God, ’n skepper en wetgewer wat nie net die wette van die natuur en die heelal ingestel het nie maar ook standaarde van wat goed en kwaad is, ’n persoonlikheid wat in ons dade belangstel, kortom iets wat vir ons gepas is om te aanbid. . . . Dít is die God wat vir mans en vroue deur die hele geskiedenis heen van belang was.”—Dreams of a Final Theory.
[Prent op bladsy 187]
Moses het besef dat ’n werklik sinvolle lewe, ongeag hoe lank ons lewe, met die Skepper verband hou
[Prent op bladsy 190]
Wanneer jy blywende sin in die lewe vind, skep dit ’n oorvloed van moontlikhede