Hoofstuk 22
Deel 2—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
Die Koninkryksverkondigingswerk van 1914 tot 1935 word op bladsye 423 tot 443 bespreek. Jehovah se Getuies wys na 1914 as die tyd toe Jesus Christus as hemelse Koning op die troon geplaas is met gesag oor die nasies. Toe Jesus op die aarde was, het hy voorspel dat ’n wêreldwye verkondiging van die Koninkryksboodskap ondanks hewige vervolging deel sou uitmaak van die teken van sy teenwoordigheid in Koninkryksmag. Wat het in werklikheid gedurende die jare ná 1914 gebeur?
DIE Eerste Wêreldoorlog het in 1914 vinnig deur Europa versprei. Daarna het dit uitgebrei en is lande betrek wat ongeveer 90 persent van die wêreldbevolking uitgemaak het. Hoe het die gebeure wat met daardie oorlog verband gehou het die predikingsbedrywighede van Jehovah se knegte geraak?
Die donker jare van die Eerste Wêreldoorlog
Gedurende die eerste paar jaar van die oorlog is daar min teëstand ondervind, behalwe in Duitsland en Frankryk. Traktate is in baie plekke vryelik versprei en die “Fotodrama” is steeds gebruik, hoewel op ’n baie kleiner skaal ná 1914. Namate die oorlogskoors hoog begin loop het, het die geestelikes in die Brits-Wes-Indiese Eilande gerugte versprei dat E. J. Coward, wat die Wagtoringgenootskap verteenwoordig het, ’n Duitse spioen is, en hy is gevolglik beveel om die eilande te verlaat. Toe die verspreiding van die boek The Finished Mystery in 1917 op dreef gekom het, het teëstand oral ontstaan.
Die publiek was gretig om daardie boek te bekom. Die Genootskap se oorspronklike bestelling by die drukkers moes in net ’n paar maande meer as vertienvoudig word. Maar die geestelikes van die Christendom was woedend omdat hulle valse leerstellings aan die kaak gestel is. Hulle het van die oorlogshisterie gebruik gemaak om die Bybelstudente by regeringsamptenare aan te kla. Oor die hele Verenigde State is mans en vroue wat met die verspreiding van die Bybelstudente se lektuur geassosieer is deur oproerige skares aangeval en ook geteer en veer. In Kanada is huise deurgesoek, en mense wat sekere publikasies van die Internasionale Bybelstudente-vereniging in hulle besit gehad het, is swaar beboet of in die tronk gegooi. Thomas J. Sullivan, wat toe in Port Arthur, Ontario, was, het egter vertel dat die polisie in daardie stad by een geleentheid, toe hy ’n nag in die tronk was, eksemplare van die verbode lektuur vir hulle en hulle vriende huis toe geneem het en sodoende die hele beskikbare voorraad—sowat 500 of 600 eksemplare—versprei het.
Die hoofkwartier van die Wagtoringgenootskap self is aangeval, en lede van die administratiewe personeel is lang tronkstrawwe opgelê. Dit het vir hulle vyande gelyk asof die Bybelstudente die doodslag toegedien is. Hulle getuieniswerk, wat oral die aandag van die publiek getrek het, het feitlik tot stilstand gekom.
Nietemin het selfs Bybelstudente wat in die tronk was geleenthede gevind om met medegevangenes oor God se voorneme te praat. Toe die Genootskap se ampsdraers en hulle intieme metgeselle by die gevangenis in Atlanta, Georgia, aangekom het, is hulle aanvanklik verbied om te preek. Maar hulle het die Bybel onder mekaar bespreek, en ander is deur hulle gedrag, hulle lewenswyse, aangetrek. Ná ’n paar maande het die onderbewaarder hulle aangestel om vir ander gevangenes godsdiensonderrig te gee. Die getal het toegeneem totdat omtrent 90 die klasse bygewoon het.
Ander lojale Christene het ook maniere gevind om gedurende daardie oorlogsjare te getuig. Dit het soms daartoe gelei dat die Koninkryksboodskap na lande versprei is waar die goeie nuus nog nie tevore verkondig is nie. Dit was die geval met ’n Bybelstudent in New York, ’n Colombiaan, wat in 1915 die Spaanse uitgawe van The Divine Plan of the Ages aan ’n man in Bogotá, Colombia, gepos het. Ná omtrent ses maande het hy ’n antwoord van Ramón Salgar ontvang. Hy het die boek deeglik bestudeer, was diep beïndruk daardeur en wou 200 eksemplare hê om onder ander te versprei. Broer J. L. Mayer, van Brooklyn, New York, het ook baie eksemplare van die Bible Students Monthly in Spaans aan ander gepos. ’n Groot aantal eksemplare hiervan is na Spanje gestuur. En toe Alfred Joseph, wat destyds in Barbados was, op kontrak in Sierra Leone, Wes-Afrika, gaan werk het, het hy elke geleentheid aangegryp om daar oor die Bybelwaarhede te getuig wat hy kort tevore geleer het.
Vir die kolporteurs, wie se bediening behels het dat hulle huise en sakeondernemings besoek, was dit dikwels moeiliker. Maar ’n hele paar wat na El Salvador, Honduras en Guatemala gegaan het, was in 1916 besig om lewegewende waarhede aan die mense daar te verkondig. Gedurende hierdie tydperk het Fanny Mackenzie, ’n kolporteur van Britse afkoms, twee keer per boot na die Ooste gereis en China, Japan en Korea aangedoen om Bybellektuur te versprei, en daarna het sy met belangstellendes gekorrespondeer.
Nietemin het die aantal Bybelstudente wat volgens beskikbare verslae gedurende 1918 ’n deelname aan die verkondiging van die goeie nuus gerapporteer het wêreldwyd met 20 persent gedaal in vergelyking met die rapport vir 1914. Sou hulle in hulle bediening volhou nadat hulle gedurende die oorlogsjare so wreed behandel is?
Besiel met nuwe lewe
Op 26 Maart 1919 is die president van die Wagtoringgenootskap en sy metgeselle uit hulle onregverdige gevangenskap vrygelaat. Planne is gou in werking gestel om die wêreldwye verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk te bevorder.
J. F. Rutherford, wat toe die president van die Genootskap was, het in September daardie jaar by ’n algemene byeenkoms in Cedar Point, Ohio, ’n toespraak gehou wat beklemtoon het dat die aankondiging van die glorieryke oprigting van God se Messiaanse Koninkryk die waarlik belangrike werk vir Jehovah se knegte is.
Daar was egter maar min wat toe aan daardie werk deelgeneem het. Party wat uit vrees gedurende 1918 opgehou preek het, het weer bedrywig geword, en ’n paar ander het by hulle geledere aangesluit. Maar die beskikbare verslae toon dat daar in 1919 maar ongeveer 5 700 was wat in 43 lande in die getuieniswerk bedrywig was. Tog het Jesus voorspel: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies” (Matt. 24:14). Hoe kon dit volbring word? Hulle het nie geweet nie, en hulle het ook nie geweet hoe lank die getuieniswerk sou voortduur nie. Diegene wat lojale knegte van God was, was nogtans gewillig en gretig om met die werk voort te gaan. Hulle was vol vertroue dat Jehovah sake in ooreenstemming met sy wil sou rig.
Hulle het aan die werk gespring, besiel met ywer vir wat hulle gesien het duidelik in God se Woord beveel word. Binne drie jaar het die aantal wat aan die openbare verkondiging van God se Koninkryk deelgeneem het volgens beskikbare verslae bykans verviervoudig, en gedurende 1922 het hulle in 15 lande meer as in 1919 gepreek.
’n Fassinerende onderwerp
Wat ’n opwindende boodskap het hulle tog verkondig—“Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie!” Broer Rutherford het in 1918 ’n toespraak oor hierdie onderwerp gehou. Dit was ook die titel van ’n boekie met 128 bladsye wat in 1920 uitgegee is. Van 1920 tot 1925 is toesprake oor daardie selfde onderwerp keer op keer regoor die wêreld in meer as 30 tale by openbare vergaderinge gehou in alle gebiede waar sprekers beskikbaar was. Pleks van soos die Christendom te sê dat alle goeie mense hemel toe sal gaan, het hierdie toespraak mense se aandag gevestig op die Bybelse hoop van die ewige lewe op ’n paradysaarde vir gehoorsame mense (Jes. 45:18; Openb. 21:1-5). En dit het die oortuiging uitgespreek dat die tyd vir die verwesenliking van daardie hoop baie naby is.
Koerante en plakkate is gebruik om die toesprake te adverteer. Dit was ’n fassinerende onderwerp. Op 26 Februarie 1922 het meer as 70 000 by 121 vergaderplekke in Duitsland alleen die toespraak bygewoon. Dit was niks ongewoons dat ’n enkele gehoor in die duisende getel het nie. In Kaapstad, Suid-Afrika, was daar byvoorbeeld 2 000 teenwoordig toe die toespraak by die Operahuis gehou is. By die universiteitsouditorium in die hoofstad van Noorweë is nie net al die sitplekke gevul nie, maar soveel moes weggewys word dat die program ’n uur en ’n half later herhaal moes word—en die ouditorium was weer eens stampvol.
In Klagenfurt, Oostenryk, het Richard Heide vir sy pa gesê: “Ek gaan na daardie toespraak luister ongeag wat ander sê. Ek wil weet of dit net ’n bedrogspul is en of daar enige waarheid in steek!” Hy was diep beïndruk deur wat hy gehoor het, en kort voor lank het hy en sy suster, sowel as hulle ouers, ander daarvan begin vertel.
Maar die Bybel se boodskap was nie net bedoel vir mense wat ’n openbare toespraak bywoon nie. Ander moes ook daarvan bewus gemaak word. Nie net die publiek nie, maar ook politieke en godsdiensleiers moes daarvan hoor. Hoe kon dit gedoen word?
Die verspreiding van kragtige verklarings
Die gedrukte woord is gebruik om miljoene mense te bereik wat voorheen net gehoor het van die Bybelstudente en die boodskap wat hulle verkondig. ’n Doeltreffende getuienis is tussen 1922 en 1928 gelewer deur middel van sewe kragtige verklarings, resolusies wat by die Bybelstudente se jaarlikse byeenkomste aangeneem is. Die aantal gedrukte eksemplare van die meeste van die afsonderlike resolusies wat ná daardie byeenkomste versprei is, was tussen 45 en 50 miljoen—’n waarlik merkwaardige prestasie vir die klein groepie Koninkryksverkondigers wat toe bedrywig was!
Die resolusie in 1922 se titel was “’n Uitdaging aan wêreldleiers”—ja, ’n uitdaging om hulle bewering te staaf dat hulle vrede, voorspoed en geluk vir die mensdom kan bewerkstellig of andersins te erken dat slegs God se Koninkryk deur sy Messias hierdie dinge kan teweegbring. In Duitsland is daardie resolusie per geregistreerde pos aan die uitgeweke Duitse keiser, aan die president en aan al die lede van die Ryksdag gestuur; en sowat vier en ’n half miljoen eksemplare is onder die publiek versprei. In Suid-Afrika het Edwin Scott, met die lektuur in ’n rugsak en ’n stok in een hand om kwaai honde mee af te weer, 64 dorpe gedek en persoonlik 50 000 eksemplare versprei. Toe die Hollandse geestelikes in Suid-Afrika daarna die huise van gemeentelede besoek het om die kollekte op te neem, het baie van die gemeentelede die resolusie vir hulle predikant gewys en gesê: “U behoort dit te lees en dan sal u nie weer kom om geld by ons te kry nie.”
In 1924 het die resolusie “Aanklag teen die geestelikes” die onskriftuurlike leerstellings en gebruike van die geestelikes blootgelê, hulle rol tydens die wêreldoorlog onthul en mense aangespoor om die Bybel te bestudeer sodat hulle self kon leer van die wonderlike voorsienings wat God tot seën van die mensdom gemaak het. In Italië is daar destyds van drukkers vereis dat hulle naam op alles verskyn wat hulle druk, en hulle was aanspreeklik vir die inhoud. Die Bybelstudent wat oor die werk in Italië toesig gehou het, het ’n afskrif van die resolusie aan die regeringsowerheid voorgelê, wat dit nagegaan en geredelik toestemming vir die druk en verspreiding daarvan gegee het. Die drukkers het ook ingestem om dit te publiseer. Die broers in Italië het 100 000 eksemplare versprei. Hulle het veral toegesien dat die pous en ander hooggeplaaste amptenare van die Vatikaan elkeen ’n eksemplaar ontvang.
In Frankryk het die verspreiding van hierdie resolusie ’n heftige en dikwels gewelddadige reaksie by die geestelikes uitgelok. Uit radeloosheid het ’n geestelike in Pomerania, Duitsland, ’n klag teen die Genootskap en sy bestuurder ingebring, maar die geestelike het die saak verloor toe die hof die inhoud van die hele resolusie gehoor het. Die Bybelstudente in die provinsie Quebec, in Kanada, het in die vroeë oggendure, van 3:00 vm. af, resolusies van huis tot huis versprei sodat hulle werk nie belemmer sou word deur diegene wat nie wou hê dat mense die waarheid moet leer nie. Dit was opwindende tye!
Waardering vir bevredigende antwoorde
Gedurende die Eerste Wêreldoorlog is baie Armeniërs sonder genade uit hulle huise en hulle geboorteland verdryf. Net twee dekades vroeër is honderdduisende Armeniërs om die lewe gebring en het ander ter wille van hulle lewe gevlug. ’n Paar van hierdie mense het die Wagtoringgenootskap se publikasies in hulle geboorteland gelees. Maar baie meer van hulle het ’n getuienis ontvang in die lande waarheen hulle gevlug het.
Ná die verskriklike dinge wat hulle deurgemaak het, het baie van hulle ernstige vrae gehad oor waarom God goddeloosheid toelaat. Hoe lank sou dit voortduur? Wanneer sou dit tot ’n einde kom? Party van hulle was dankbaar om die bevredigende antwoorde in die Bybel te leer. Groepe Armeense Bybelstudente is spoedig in verskeie stede in die Midde-Ooste gevorm. Hulle ywer vir Bybelwaarheid het ander se lewe geraak. In Ethiopië, Argentinië en die Verenigde State het ander Armeniërs die goeie nuus aangeneem en met blydskap die verantwoordelikheid aanvaar om dit aan ander bekend te maak. Een van hulle was Krikor Hatzakortzian, wat in die middel-dertigerjare as ’n alleenwerkende pionier die Koninkryksboodskap in Ethiopië verkondig het. By een geleentheid, toe teenstanders valse aanklagte teen hom ingebring het, het hy selfs die geleentheid gehad om vir die keiser, Haile Selassie, te getuig.
Mense neem kosbare waarhede terug na hulle geboorteland
’n Brandende begeerte om lewensbelangrike Bybelwaarhede aan ander te verkondig, het baie mense beweeg om na hulle geboorteland terug te keer om die evangelisasiewerk te doen. Hulle het gereageer soos daardie mense uit baie lande wat in 33 G.J. in Jerusalem was en wat gelowiges geword het toe die heilige gees die apostels en hulle metgeselle beweeg het om in baie tale te praat oor “die groot dade van God” (Hand. 2:1-11). Net soos daardie eerste-eeuse gelowiges, het hierdie hedendaagse dissipels die waarheid na hulle geboorteland teruggeneem.
Sowel mans as vroue wat die waarheid in ander lande geleer het, het na Italië teruggekeer. Hulle het van Amerika, België en Frankryk af gekom en die Koninkryksboodskap ywerig verkondig op die plekke waar hulle gaan woon het. Kolporteurs van die Italiaanssprekende Switserse kanton van Ticino het ook na Italië verhuis om hulle werk voort te sit. Al was hulle min, het hulle spoedig, as gevolg van hulle verenigde bedrywigheid, byna al die vernaamste stede en baie van die dorpies in Italië bereik. Hulle het nie die ure getel wat hulle aan hierdie werk bestee het nie. Omdat hulle daarvan oortuig was dat hulle waarhede verkondig wat God wil hê mense moet weet, het hulle dikwels van soggens tot saans gewerk om soveel mense as moontlik te bereik.
Grieke wat in nabygeleë Albanië en selfs in Amerika Bybelstudente geword het, het hulle ook op hulle geboorteland toegespits. Hulle was verheug toe hulle geleer het dat die aanbidding van beelde onskriftuurlik is (Ex. 20:4, 5; 1 Joh. 5:21), dat sondaars nie in ’n helse vuur gebrand word nie (Pred. 9:5, 10; Eseg. 18:4; Openb. 21:8) en dat God se Koninkryk die mensdom se ware en enigste hoop is (Dan. 2:44; Matt. 6:9, 10). Hulle was gretig om hierdie waarhede—persoonlik of per pos—aan hulle landgenote bekend te maak. Gevolglik het groepe Getuies van Jehovah in Griekeland en op die Griekse eilande ontstaan.
Ná die Eerste Wêreldoorlog het duisende mense van Pole na Frankryk verhuis om in die steenkoolmyne te gaan werk. Die Franse gemeentes het hulle nie oorgeslaan omdat hulle ’n ander taal gepraat het nie. Hulle het maniere gevind om Bybelwaarhede aan hierdie mynwerkers en hulle gesinne bekend te maak, en diegene wat gunstig gereageer het, was kort voor lank meer as die Franse Getuies. Toe 280 in 1935 as gevolg van ’n deportasiebevel deur die regering na Pole moes terugkeer, het dit bloot die verkondiging van die Koninkryksboodskap daar uitgebrei. Daar was in 1935 dus 1 090 Koninkryksverkondigers wat in Pole aan die getuieniswerk deelgeneem het.
Ander het die uitnodiging aanvaar om hulle geboorteland te verlaat en die bediening in ander lande op te neem.
Ywerige Europese evangeliedienaars help in buitelandse sendingvelde
Danksy internasionale samewerking het die Baltiese state (Estland, Letland en Litaue) die hartverblydende waarhede oor God se Koninkryk gehoor. Gedurende die twintiger- en dertigerjare het ywerige broers en susters van Denemarke, Engeland, Finland en Duitsland omvattende getuieniswerk in hierdie gebied gedoen. Baie lektuur is versprei en duisende het die Bybeltoesprake gehoor wat gehou is. Uit Estland het gereelde radio-uitsendings van Bybelprogramme in verskeie tale selfs mense in die voormalige Sowjetunie bereik.
Gewillige werkers uit Duitsland het gedurende die twintiger- en dertigerjare toewysings aanvaar in plekke soos België, Bulgarye, Frankryk, Joego-Slawië, Luxemburg, Nederland, Oostenryk, Spanje en Tsjeggo-Slowakye. Willy Unglaube was een van hulle. Nadat hy ’n tyd lank by die Bethelhuis in Maagdenburg, in Duitsland, gedien het, is hy as ’n voltydse evangeliedienaar na Frankryk, Algerië, Spanje, Singapoer, Maleisië en Thailand gestuur.
Toe Frankryk in die dertigerjare ’n oproep om meer werkers gedoen het, het kolporteurs van Brittanje getoon dat hulle besef dat die Christelike opdrag om te preek vereis dat hulle die evangelisasiewerk nie net in hulle eie land nie, maar ook in ander wêrelddele moet doen (Mark. 13:10). John Cooke was een van die ywerige werkers wat aan die Macedoniese oproep gehoor gegee het. (Vergelyk Handelinge 16:9, 10.) Hy het gedurende die volgende ses dekades na dienstoewysings in Frankryk, Spanje, Ierland, Portugal, Angola, Mosambiek en Suid-Afrika omgesien. Sy broer Eric het sy werk by Barclay’s Bank opgegee en by John in die voltydse bediening in Frankryk aangesluit; daarna het hy ook in Spanje en Ierland gedien en sendingwerk in Suid-Rhodesië (nou Zimbabwe) en Suid-Afrika gedoen.
In Mei 1926 het George Wright en Edwin Skinner, in Engeland, ’n uitnodiging aanvaar om die Koninkrykswerk in Indië uit te brei. Hulle het ’n ontsaglike toewysing gehad! Dit het die hele Afganistan, Birma (nou Myanma), Ceylon (nou Sri Lanka), Indië en Persië (nou Iran) ingesluit. Met hulle aankoms in Bombaai is hulle deur die moesonreëns begroet. Maar hulle was nie te besorg oor persoonlike gemak of gerief nie en het gou na alle dele van die land gereis om met die Bybelstudente waarvan hulle geweet het in aanraking te kom om hulle aan te moedig. Hulle het ook baie lektuur versprei om belangstelling onder ander te wek. Die werk is met intensiteit gedoen. Die 54 Koninkryksverkondigers in Travancore (Kerala), in Suid-Indië, het dus gedurende 1928 reëlings getref vir 550 openbare toesprake, wat deur ongeveer 40 000 mense bygewoon is. In 1929 het nog vier pioniers van die Britse veld na Indië gegaan om met die werk te help. En in 1931 het nog drie van Engeland af in Bombaai aangekom. Hulle het herhaaldelik na verskillende dele van hierdie ontsaglike land gegaan en lektuur nie alleen in Engels nie, maar ook in die Indiese tale versprei.
Hoe het sake intussen in Oos-Europa verloop?
’n Geestelike oes
Voor die Eerste Wêreldoorlog is saad van Bybelwaarheid in Oos-Europa rondgestrooi en party het begin groei. In 1908 het Andrásné Benedek, ’n nederige Hongaarse vrou, na Oostenryk-Hongarye teruggekeer om ander te vertel van die goeie dinge wat sy geleer het. Twee jaar later het Károly Szabó en József Kiss ook na daardie land teruggekeer en Bybelwaarheid verkondig in gebiede wat later as Roemenië en Tsjeggo-Slowakye bekend gestaan het. Ondanks hewige teëstand van ontstoke geestelikes is studiegroepe gevorm en omvattende getuieniswerk gedoen. Ander het saam met hulle hulle geloof in die openbaar begin bekend maak, en teen 1935 het die getal Koninkryksverkondigers in Hongarye tot 348 toegeneem.
Roemenië se grootte het feitlik verdubbel toe die kaart van Europa ná die Eerste Wêreldoorlog deur die oorwinnaars heringedeel is. Volgens berig was daar in 1920 in daardie vergrote land ongeveer 150 groepe Bybelstudente, wat uit 1 700 mense bestaan het. Die volgende jaar het bykans 2 000 die Gedenkmaalembleme by die viering van die Here se Aandmaal gebruik, wat ’n aanduiding was van hulle belydenis dat hulle geesgesalfde broers van Christus is. Daardie getal het gedurende die volgende vier jaar skerp gestyg. In 1925 het 4 185 die Gedenkmaal bygewoon, en soos dit destyds gebruiklik was, het die meeste van hulle ongetwyfeld die embleme gebruik. Maar hulle almal se geloof sou op die proef gestel word. Sou hulle ware “koring” of net ’n namaaksel wees? (Matt. 13:24-30, 36-43). Sou hulle werklik die getuieniswerk doen wat Jesus sy volgelinge beveel het om te doen? Sou hulle daarmee volhou ten spyte van hewige teëstand? Sou hulle getrou bly selfs wanneer ander ’n gesindheid soos dié van Judas Iskariot aan die dag lê?
Die rapport vir 1935 toon dat nie almal die soort geloof gehad het wat hulle in staat gestel het om te volhard nie. In daardie jaar was daar net 1 188 wat aan die getuieniswerk in Roemenië deelgeneem het, hoewel meer as twee keer soveel op daardie tydstip die Gedenkmaalembleme gebruik het. Die getroues het nietemin besig gebly in die Heer se diens. Hulle het die Bybelwaarhede wat hulle eie hart met soveel vreugde gevul het aan ander nederige mense verkondig. Lektuurverspreiding was een van die besondere maniere waarop hulle dit gedoen het. Hulle het tussen 1924 en 1935 meer as 800 000 boeke en boekies, benewens traktate, by belangstellendes gelaat.
Wat van Tsjeggo-Slowakye, wat ná die ineenstorting van die Oostenryks-Hongaarse Ryk in 1918 ’n nasie geword het? Hier het ’n selfs groter getuienis tot die geestelike oes bygedra. Die predikingswerk is vroeër in Hongaars, Russies, Roemeens en Duits gedoen. Toe, in 1922, het ’n hele paar Bybelstudente van Amerika af teruggekeer om aandag aan die Slowaakssprekende bevolking te skenk, en die volgende jaar het ’n egpaar van Duitsland hulle op die Tsjeggiese gebied begin toespits. Gereelde byeenkomste, hoewel klein, het gehelp om die broers te bemoedig en te verenig. Nadat die gemeentes in 1927 beter vir die evangelisasiewerk van huis tot huis georganiseer is, was die groei merkbaar. In 1932 het ’n internasionale byeenkoms in Praag, wat deur ongeveer 1 500 van Tsjeggo-Slowakye en omliggende lande bygewoon is, die werk ’n kragtige stoot gegee. Daarbenewens het groot skares ’n vier uur lange weergawe van die “Fotodrama van die Skepping” bygewoon wat landwyd vertoon is. Binne slegs ’n dekade is meer as 2 700 000 stukke Bybellektuur onder die verskillende taalgroepe in hierdie land versprei. Al hierdie geestelike plant-, kweek- en natmaakwerk het tot ’n oes bygedra waaraan 1 198 Koninkryksverkondigers in 1935 deelgeneem het.
Joego-Slawië (wat eers as die Koninkryk van die Serwiërs, Kroate en Slowene bekend gestaan het) het tot stand gekom as gevolg van die herindeling van die kaart van Europa ná die Eerste Wêreldoorlog. Daar is reeds in 1923 berig dat ’n groep Bybelstudente die getuieniswerk in Belgrado doen. Later is die “Fotodrama van die Skepping” regdeur die land aan groot skares vertoon. Toe Jehovah se Getuies in Duitsland swaar begin vervolg is, is die geledere in Joego-Slawië met Duitse pioniers versterk. Sonder enige besorgdheid oor hulle persoonlike gerief het hulle na alle dele van hierdie bergagtige land gegaan om te preek. Party van daardie pioniers het na Bulgarye gegaan. Pogings is ook aangewend om die goeie nuus in Albanië te verkondig. Saad van Koninkrykswaarheid is in al hierdie plekke gesaai. Party van hierdie sade het vrugte voortgebring. Maar daar sou eers in latere jare ’n groter oes in hierdie plekke wees.
Verder suid, op die vasteland van Afrika, is die goeie nuus ook verkondig deur diegene wat ’n diepe waardering gehad het vir die voorreg om getuies van die Allerhoogste te wees.
Geestelike lig skyn in Wes-Afrika
Ongeveer sewe jaar nadat ’n Bybelstudent van Barbados die eerste keer op kontrak in Wes-Afrika gaan werk het, het hy aan die Wagtoringgenootskap se kantoor in New York geskryf om hulle in kennis te stel dat daar ’n hele paar mense is wat in die Bybel belangstel. ’n Paar maande later, op 14 April 1923, het W. R. Brown, wat tot op daardie stadium in Trinidad gedien het, op broer Rutherford se uitnodiging met sy gesin in Freetown, Sierra Leone, aangekom.
Reëlings is dadelik getref sodat broer Brown ’n toespraak in die Wilberforce-gedenksaal kon hou. Op 19 April was daar sowat 500 mense teenwoordig, waaronder die meeste van Freetown se geestelikes. Die volgende Sondag het hy weer ’n toespraak gehou. Sy onderwerp was een wat C. T. Russell dikwels gebruik het—“Hel toe en terug. Wie is daar?” Broer Brown het regdeur sy toespraak gereeld tekste in die Skrif aangehaal, wat deur middel van skyfies aan die gehoor vertoon is. Gedurende sy toespraak het hy dikwels gesê: “Nie Brown sê nie, maar die Bybel sê.” As gevolg hiervan het hy later as “Bible Brown” bekend gestaan. En vanweë sy logiese, skriftuurlike aanbieding het sommige vooraanstaande lidmate uit die kerk bedank en Jehovah se diens betree.
Hy het baie gereis om die Koninkrykswerk in meer gebiede aan die gang te kry. Hy het met daardie doel talle Bybeltoesprake gehou en baie lektuur versprei, en hy het ander aangemoedig om dit ook te doen. Sy evangelisasiewerk het hom na die Goudkus (nou Ghana), Liberië, Gambië en Nigerië geneem. Ander het die Koninkryksboodskap van Nigerië na Benin (wat toe as Dahomey bekend gestaan het) en Kameroen geneem. Broer Brown het geweet dat die mense geen respek gehad het vir wat hulle “die wit man se godsdiens” genoem het nie, en daarom het hy by die Glover-gedenksaal in Lagos ’n toespraak oor die mislukking van die Christendom se godsdiens gehou. Ná die vergadering het die geesdriftige gehoor 3 900 boeke geneem om te lees en vir ander te gee.
Toe broer Brown oorspronklik Wes-Afrika toe is, het slegs ’n handjievol mense daar al die Koninkryksboodskap gehoor. Toe hy 27 jaar later vertrek, was daar ver oor die 11 000 bedrywige Getuies van Jehovah in daardie gebied. Godsdiensleuens is blootgelê; ware aanbidding het posgevat en was besig om vinnig uit te brei.
Die ooskus van Afrika
Sommige van C. T. Russell se publikasies is redelik vroeg in die 20ste eeu in die suidoostelike deel van Afrika deur mense versprei wat ’n paar van die idees in daardie boeke aangeneem het, maar dit toe met hulle eie filosofie gemeng het. Die gevolg was ’n aantal sogenaamde Wagtoringbewegings wat hoegenaamd geen verbintenis met Jehovah se Getuies gehad het nie. Party van die bewegings was polities georiënteerd en het oproer onder die inboorlinge in Afrika verwek. Die slegte reputasie wat daardie groepe ontwikkel het, het die werk van Jehovah se Getuies baie jare lank belemmer.
’n Aantal Afrikane het nietemin die verskil tussen die ware en die valse onderskei. Trekarbeiders het die goeie nuus van God se Koninkryk na nabygeleë lande geneem en dit aan mense verkondig wat Afrika-tale gepraat het. Die Engelssprekende bevolking in Suidoos-Afrika het die boodskap hoofsaaklik vanweë bande met Suid-Afrika gehoor. In party lande het sterk amptelike teëstand, aangevuur deur die Christendom se geestelikes, egter die blanke Getuies se predikingswerk onder die swart taalgroepe beperk. Die waarheid het nogtans versprei, hoewel baie mense wat belangstelling in die Bybel se boodskap getoon het verdere hulp nodig gehad het om wat hulle geleer het op juiste en praktiese wyse toe te pas.
’n Paar onpartydige regeringsamptenare het nie die venynige aanklagte wat deur die Christendom se geestelikes teen die Getuies ingebring is sonder meer aanvaar nie. Dit was die geval met ’n polisiekommissaris in Njassaland (nou Malawi) wat hom vermom en die vergaderinge van die plaaslike Getuies bygewoon het om self uit te vind watter soort mense hulle is. Hy was diep beïndruk. Toe die regering toestemming gegee het dat ’n blanke verteenwoordiger daar mag woon, is Bert McLuckie en later sy broer Bill in die middel-dertigerjare daarheen gestuur. Hulle het met die polisie en die distrikskommissarisse in kontak gebly sodat hierdie amptenare ’n duidelike begrip van hulle bedrywighede sou hê en hulle Jehovah se Getuies nie met enige bewegings sou verwar wat verkeerdelik Wagtoring genoem is nie. Terselfdertyd het hulle geduldig saam met Gresham Kwazizirah, ’n ryp plaaslike Getuie, gewerk om die honderde wat met die gemeentes wou assosieer te help insien dat geslagsonsedelikheid, drankmisbruik en bygelowigheid geen plek in die lewe van Jehovah se Getuies het nie.—1 Kor. 5:9-13; 2 Kor. 7:1; Openb. 22:15.
In 1930 was daar maar omtrent honderd Getuies van Jehovah in die hele Suider-Afrika. Tog het hulle ’n toewysing gehad wat min of meer die hele Afrika suid van die ewenaar, asook ’n paar gebiede noord daarvan, ingesluit het. Om so ’n ontsaglike gebied met die Koninkryksboodskap te dek, sou ware pioniers verg. Frank en Gray Smith was daardie soort pioniers.
Hulle het 4 800 kilometer oos en noord van Kaapstad gevaar en toe vier dae per motor oor slegte paaie gereis om by Nairobi, Kenia (in Brits-Oos-Afrika), te kom. In minder as ’n maand het hulle 40 kartondose Bybellektuur versprei. Maar tydens die terugtog het Frank ongelukkig aan malaria gesterf. Desnieteenstaande het Robert Nisbet en David Norman ’n kort rukkie later vertrek—hierdie keer met 200 kartondose lektuur—om in Kenia en Uganda, asook Tanganjika en Zanzibar (albei nou Tanzanië), te gaan preek en soveel mense as moontlik te bereik. Die Koninkryksboodskap is tydens ander soortgelyke togte op die eilande Mauritius en Madagaskar in die Indiese Oseaan en St. Helena in die Atlantiese Oseaan verkondig. Saad van waarheid is gesaai, maar hulle het nie oral dadelik ontkiem en gegroei nie.
Van Suid-Afrika af het die verkondiging van die goeie nuus reeds in 1925 ook na Basoetoland (nou Lesotho), Betsjoeanaland (nou Botswana) en Swaziland uitgebrei. Toe pioniers omtrent agt jaar later weer in Swaziland gaan preek het, het koning Sobhuza II hulle ’n koninklike verwelkoming gegee. Hy het sy lyfwag van honderd krygers versamel, na ’n deeglike getuienis geluister en toe al die Genootskap se publikasies geneem wat die broers by hulle gehad het.
Jehovah se Getuies in hierdie deel van die wêreldveld het gaandeweg toegeneem. Ander het aangesluit by diegene wat vroeg in hierdie 20ste eeu die werk in Afrika begin het, en teen 1935 was daar 1 407 op die vasteland van Afrika wat ’n deelname aan die getuieniswerk oor God se Koninkryk gerapporteer het. Baie van hulle was in Suid-Afrika en Nigerië. Ander groot groepe wat hulle as Jehovah se Getuies geïdentifiseer het, was in Njassaland (nou Malawi), Noord-Rhodesië (nou Zambië) en Suid-Rhodesië (nou Zimbabwe).
Gedurende hierdie selfde tydperk is die aandag ook op Spaans- en Portugeessprekende lande toegespits.
Die uitbreiding van die Spaanse en Portugese veld
Terwyl die Eerste Wêreldoorlog nog gewoed het, is Die Wagtoring vir die eerste keer in Spaans uitgegee. Dit het die adres bevat van ’n kantoor in Los Angeles, Kalifornië, wat gestig is om spesiale aandag aan die Spaanssprekende veld te skenk. Broers van daardie kantoor het persoonlik baie hulp verleen aan belangstellendes in die Verenigde State sowel as in lande verder suid.
Juan Muñiz, wat in 1917 een van Jehovah se knegte geword het, is in 1920 deur broer Rutherford aangemoedig om die Verenigde State te verlaat en na Spanje, sy geboorteland, terug te keer om die Koninkrykspredikingswerk daar te organiseer. Daar was egter nie veel resultate nie—nie weens ’n gebrek aan ywer van sy kant nie, maar omdat hy gedurig deur die polisie gevolg is; hy is dus ná ’n paar jaar na Argentinië toe gestuur.
In Brasilië was daar reeds ’n paar aanbidders van Jehovah wat met die predikingswerk besig was. Agt nederige matrose het die waarheid geleer terwyl hulle op landverlof in New York was. In die vroeë twintigerjare was hulle terug in Brasilië en besig om die Bybel se boodskap aan ander te verkondig.
George Young, ’n Kanadees, is in 1923 na Brasilië toe gestuur. Hy het beslis gehelp om die werk daar uit te brei. Hy het deur talle openbare toesprake, wat deur middel van tolke gehou is, getoon wat die Bybel oor die toestand van die dooies sê, spiritisme as demonisme blootgelê en God se voorneme verduidelik om al die gesinne van die aarde te seën. Omdat hy partykeer die Bybeltekste wat bespreek is op ’n doek vertoon het sodat die gehoor die tekste in hulle eie taal kon sien, was sy toesprake des te meer oortuigend. Terwyl hy in Brasilië was, kon Bellona Ferguson, van Sao Paulo, asook vier van haar kinders, uiteindelik gedoop word. Sy het 25 jaar vir hierdie geleentheid gewag. Van diegene wat die waarheid aangeneem het, het toe aangebied om lektuur in Portugees te help vertaal. Daar was gou heelwat publikasies in daardie taal beskikbaar.
Broer Young het in 1924 van Brasilië na Argentinië gegaan en gereël dat 300 000 stukke Spaanse lektuur gratis in 25 van die vernaamste stede en dorpe versprei word. Daardie selfde jaar het hy ook persoonlik na Chili, Peru en Bolivia gereis om traktate te versprei.
George Young was kort daarna op pad na ’n nuwe toewysing. Hierdie keer was dit Spanje en Portugal. Nadat hy deur die Britse ambassadeur aan plaaslike regeringsamptenare voorgestel is, kon hy reël dat broer Rutherford gehore in Barcelona en Madrid, sowel as in Portugal se hoofstad, toespreek. Ná hierdie toesprake het altesaam meer as 2 350 mense hulle naam en adres ingegee en meer inligting aangevra. Die toespraak is daarna in een van Spanje se vername koerante gepubliseer en in die vorm van ’n traktaat aan mense regdeur die land gepos. Dit het ook in Portugese koerante verskyn.
Só is mense ver buite die grense van Spanje en Portugal bereik. Teen die einde van 1925 het die goeie nuus die Kaap-Verdiese Eilande (nou die Kaap-Verdiese Republiek), Madeira, Portugees-Oos-Afrika (nou Mosambiek), Portugees-Wes-Afrika (nou Angola) en eilande in die Indiese Oseaan bereik.
Die volgende jaar is reëlings getref om die kragtige resolusie “’n Getuienis aan die heersers van die wêreld” in die Spaanse koerant La Libertad te publiseer. Radio-uitsendings en die verspreiding van boeke, boekies en traktate, sowel as vertonings van die “Fotodrama van die Skepping”, het gehelp om ’n groter getuienis te gee. In 1932 het verskeie pioniers uit Engeland op die uitnodiging gereageer om in hierdie veld te kom help, en hulle het stelselmatig groot dele van die land met behulp van Bybellektuur gedek totdat hulle weens die Spaanse Burgeroorlog die land moes verlaat.
Intussen het broer Muñiz met sy aankoms in Argentinië dadelik begin preek, terwyl hy homself onderhou het deur horlosies te herstel. Buiten sy werk in Argentinië het hy ook aan Chili, Paraguay en Uruguay aandag geskenk. Op sy versoek het ’n paar broers van Europa af gekom om vir die Duitssprekende bevolking te getuig. Baie jare later het Carlos Ott vertel dat hulle hulle bediening vir die dag om 4:00 vm. begin het deur traktate onder elke deur in ’n gebied te laat. Later in die dag het hulle daardie huise besoek om verder te getuig en vir belangstellende huisbewoners nog Bybellektuur aan te bied. Die voltydse bedienaars het hulle werk van Buenos Aires af deur die hele land uitgebrei deur eers die treinroetes te volg, wat van die hoofstad af honderde kilometers gestrek het soos die uitgespreide vingers van ’n mens se hand, en daarna enige ander vervoermiddel te gebruik wat hulle kon vind. Hulle het materieel baie min gehad en het baie ontberinge verduur, maar hulle was geestelik ryk.
Een van daardie ywerige werkers in Argentinië was Nicolás Argyrós, ’n Griek. Toe hy vroeg in 1930 lektuur bekom het wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee is, was hy veral beïndruk deur die boekie Hell met ondertitels wat gevra het: “Wat is dit? Wie is daar? Kan hulle daar uitkom?” Hy was verbaas om te sien dat hierdie boekie nie die gedagte uitbeeld dat sondaars op ’n rooster brand nie. Wat ’n verrassing was dit toe hy besef dat die helse vuur ’n godsdiensleuen is wat versin is om mense bang te maak, net soos dit hom banggemaak het! Hy het dadelik die waarheid aan ander begin verkondig—eers aan Grieke; toe, namate sy Spaans verbeter het, aan ander. Hy het elke maand tussen 200 en 300 uur bestee aan die verkondiging van die goeie nuus aan ander. Hy het Bybelwaarhede per voet en met behulp van enige ander beskikbare vervoermiddel in 14 van Argentinië se 22 provinsies verkondig. Terwyl hy van die een plek na die ander gereis het, het hy in ’n bed geslaap wanneer gasvrye mense hom dit aangebied het, maar hy het dikwels buite geslaap, en selfs in ’n skuur met ’n donkie as ’n wekker!
Nog iemand wat die gees van ’n ware pionier gehad het, was Richard Traub, wat die waarheid in Buenos Aires geleer het. Hy was gretig om die goeie nuus aan mense oorkant die Andes, in Chili, te gaan verkondig. In 1930, vyf jaar nadat hy gedoop is, het hy in Chili aangekom—die enigste Getuie in ’n land met 4 000 000 mense. Aanvanklik het hy net die Bybel gehad waarmee hy die werk kon doen, maar hy het van huis tot huis begin gaan. Daar was geen gemeentelike vergaderinge wat hy kon bywoon nie, en dus het hy Sondae, op die gewone vergaderingtyd, na die berg San Cristóbal gestap, in die skaduwee van ’n boom gaan sit en hom in persoonlike studie en gebed verdiep. Nadat hy ’n woonstel gehuur het, het hy mense vir vergaderinge daarheen genooi. Die enigste persoon wat vir die eerste vergadering opgedaag het, was Juan Flores, wat gevra het: “En die ander? Wanneer kom hulle?” Broer Traub het eenvoudig geantwoord: “Hulle sal kom.” En hulle het. In minder as ’n jaar het 13 mense gedoopte knegte van Jehovah geword.
Vier jaar later het twee Getuies wat mekaar nie tevore geken het nie die goeie nuus saam in Colombia gaan verkondig. Ná ’n vrugbare jaar daar moes Hilma Sjoberg na die Verenigde State terugkeer. Maar Kathe Palm het aan boord van ’n skip gegaan wat op pad was na Chili, en sy het die 17 dae op see benut om vir die bemanning en passasiers te getuig. Gedurende die volgende dekade het sy die gebied van Chili se noordelikste hawe, Arica, af tot by sy suidelikste besitting, Tierra del Fuego, gedek. Sy het sakeondernemings besoek en vir regeringsamptenare getuig. Met lektuur in ’n saalsak oor haar skouers en benodigdhede soos ’n kombers waaronder sy kon slaap in die hand, het sy die mees afgeleë mynkampe en skaapplase bereik. Dit was die lewe van ’n ware pionier. En daar was ander met daardie selfde gees—party ongetroud, party getroud, jonk en oud.
’n Spesiale poging is gedurende 1932 aangewend om die Koninkryksboodskap in Latyns-Amerikaanse lande te verkondig waar daar tot op daardie tydstip nog nie veel predikingswerk gedoen is nie. In daardie jaar is ’n verstommende aantal eksemplare van die boekie Die Koninkryk, die hoop van die wêreld versprei. Hierdie boekie het ’n toespraak bevat wat reeds tydens ’n internasionale radio-uitsending gehoor is. Nou is sowat 40 000 eksemplare van die toespraak in gedrukte vorm in Chili versprei, 25 000 in Bolivia, 25 000 in Peru, 15 000 in Ecuador, 20 000 in Colombia, 10 000 in Santo Domingo (nou die Dominikaanse Republiek) en ’n verdere 10 000 in Puerto Rico. Die Koninkryksboodskap is inderdaad verkondig, en op ’n groot skaal.
Teen 1935 was daar in Suid-Amerika self net 247 wat hulle stemme verenig het om die boodskap te verkondig dat slegs God se Koninkryk vir die mensdom ware geluk sal bring. Maar wat ’n getuienis het hulle tog gegee!
Mense word selfs in die meer afgesonderde gebiede bereik
Jehovah se Getuies het hoegenaamd nie gedink dat hulle hulle verantwoordelikheid voor God nagekom het as hulle net met ’n paar gepraat het wat toevallig hulle bure was nie. Hulle het almal met die goeie nuus probeer bereik.
Mense wat in plekke gewoon het waarheen die Getuies op daardie tydstip nie persoonlik kon reis nie, kon op ander maniere bereik word. In die laat twintigerjare het die Getuies in Kaapstad, Suid-Afrika, dus 50 000 boekies aan al die boere, vuurtoringwagters, boswagters en ander wat in afgesonderde gebiede gewoon het, gepos. ’n Bygewerkte posgids van die hele Suidwes-Afrika (wat nou as Namibië bekend staan) is ook verkry, en ’n eksemplaar van die boekie Die mensevriend is aan almal gepos wie se naam in die gids verskyn het.
In 1929 is F. J. Franske in beheer van die Wagtoringgenootskap se skoener Morton geplaas en saam met Jimmy James aangewys om mense in Labrador en al die vissersdorpies van Newfoundland te besoek. In die winter het broer Franske dikwels die kusgebiede met ’n hondeslee deurreis. Om die koste van die Bybellektuur te dek wat hy by hulle gelaat het, het die Eskimo’s en Newfoundlanders hom dinge soos leerartikels en vis gegee. ’n Paar jaar later het hy die mynwerkers, houtkappers, pelsjagters, veeboere en Indiane in die onherbergsame Cariboo-gebied van Brits-Columbië besoek. Tydens sy reise het hy vir vleis gejag, wilde bessies gepluk en sy brood in ’n pan oor ’n oop kampvuur gebak. Toe, by ’n ander geleentheid, het hy en ’n metgesel ’n boot wat vir salmvissery gebruik word as vervoermiddel gebruik en die Koninkryksboodskap na elke eiland, baai, houtkapperskamp, vuurtoring en nedersetting langs die weskus van Kanada uitgedra. Hy was maar een van baie wat spesiale pogings aangewend het om mense te bereik wat in afgesonderde gebiede van die aarde gewoon het.
Sedert die laat twintigerjare het Frank Day noordwaarts deur die dorpies van Alaska gereis en gepreek, lektuur versprei en oogglase verkoop om in sy fisiese behoeftes te voorsien. Hoewel hy met ’n kunsbeen moes voortsukkel, het hy ’n gebied gedek wat gestrek het van Ketchikan af tot by Nome, ’n afstand van ongeveer 1 900 kilometer. ’n Goudmynwerker het reeds in 1897 eksemplare van die Millennial Dawn en Die Wagtoring (in Engels) bekom terwyl hy in Kalifornië was en was van plan om hulle na Alaska terug te neem. En in 1910 het kaptein Beams, die kaptein van ’n walvisvaarder, lektuur versprei by die hawes in Alaska waar hy aangedoen het. Maar die predikingswerk het begin uitbrei toe broer Day meer as 12 jaar lank herhaaldelik sy somerreise na Alaska onderneem het.
Twee ander Getuies het met ’n 12-metermotorboot genaamd Esther die gebied al met die Noorweegse kus op tot diep in Arktika gedek. Hulle het op die eilande, by vuurtorings, in die kusdorpies en in afgesonderde gebiede hoog in die berge getuig. Baie mense het hulle verwelkom, en in ’n jaar het hulle tussen 10 000 en 15 000 boeke en boekies versprei wat God se voorneme vir die mensdom verduidelik het.
Die eilande hoor lofuitinge tot Jehovah
Dit was nie net daardie eilande naby die vasteland wat ’n getuienis ontvang het nie. In die middel van die Stille Oseaan het Sydney Shepherd in die vroeë dertigerjare twee jaar lank die Cook-eilande en Tahiti per boot besoek om daar te preek. Verder weswaarts het George Winton die goeie nuus in die Nieu-Hebride (nou Vanuatu) gaan verkondig.
Joseph Dos Santos, ’n Portugese Amerikaner, het om en by dieselfde tyd ook uitgegaan om nuwe gebiede te bereik. Hy het eers op die buitenste eilande van Hawaii getuig; toe het hy ’n predikingsreis rondom die wêreld onderneem. Toe hy die Filippyne bereik, het hy egter ’n brief van broer Rutherford af ontvang waarin hy gevra is om daar aan te bly om die Koninkrykspredikingswerk uit te brei en te organiseer. Hy het toe daar gebly, 15 jaar lank.
Op hierdie tydstip het die Genootskap se takkantoor in Australië aandag aan die werk in en om die Stille Suidsee geskenk. Twee pioniers wat van daar af uitgestuur is, het in 1930-31 ’n omvattende getuienis in Fidji gegee. Samoa het in 1931 ’n getuienis ontvang. Nieu-Caledonië is in 1932 bereik. ’n Pionierpaar van Australië het in 1933 selfs in China gaan dien en gedurende die volgende paar jaar in 13 van daardie land se vernaamste stede getuig.
Die broers in Australië het besef dat hulle meer sou kon doen as hulle ’n boot tot hulle beskikking het. Mettertyd het hulle ’n 16-meterkits, wat hulle Lightbearer genoem het, toegerus en dit van die begin van 1935 af etlike jare as ’n basis vir ’n groep ywerige broers gebruik terwyl hulle in Nederlands-Oos-Indië (nou Indonesië), Singapoer en Maleia getuig het. Die aankoms van die boot het altyd baie aandag getrek, en dit het dikwels die weg geopen vir die broers om te preek en baie lektuur te versprei.
Aan die ander kant van die aarde het twee pioniersusters van Denemarke intussen besluit om in 1935 ’n vakansie op die Faroëreilande in die Noord-Atlantiese Oseaan te gaan deurbring. Maar hulle het meer in gedagte gehad as net ’n reis om die natuurskoon te besigtig. Hulle het duisende stukke lektuur saamgeneem en dit goed benut. Ondanks wind en reën en die geestelikes se vyandigheid het hulle tydens hulle verblyf soveel van die bewoonde eilande as moontlik gedek.
Verder weswaarts het Georg Lindal, ’n Yslandse Kanadees, ’n toewysing aanvaar wat baie langer geduur het. Op voorstel van broer Rutherford het hy in 1929 na Ysland verhuis om daar as ’n pionier te dien. Watter volharding het hy tog aan die dag gelê! Die grootste deel van die volgende 18 jaar het hy alleen daar gedien. Hy het die dorpe en gehuggies herhaaldelik besoek. Tienduisende stukke lektuur is versprei, maar op daardie tydstip het geen Yslanders by hom in Jehovah se diens aangesluit nie. Buiten net een jaar was daar tot in 1947, toe twee Gileadopgeleide sendelinge daar aangekom het, geen Getuies met wie hy in Ysland kon assosieer nie.
Wanneer mense verbied wat God beveel
Wanneer die Getuies in hulle openbare bediening bedrywig was, was dit vir hulle, veral van die twintiger- tot die veertigerjare, niks ongewoons om teëstand, wat gewoonlik deur plaaslike geestelikes en soms deur regeringsamptenare aangevuur is, te ondervind nie.
In ’n plattelandse gebied noord van Wenen, Oostenryk, is die Getuies gekonfronteer deur ’n vyandige groep dorpsbewoners wat deur die plaaslike priester, met die ondersteuning van die polisie, opgestook is. Die priesters was vasbeslote dat Jehovah se Getuies nie in hulle dorpies sou preek nie. Maar die Getuies, wat vasbeslote was om hulle godgegewe toewysing uit te voer, het hulle taktiek verander, op ’n ander dag teruggekeer en die dorpies op onopsigtelike wyse binnegegaan.
Ongeag mense se dreigemente en eise, het Jehovah se Getuies besef dat hulle ’n verpligting teenoor God het om sy Koninkryk te verkondig. Hulle wou God as heerser gehoorsaam eerder as mense (Hand. 5:29). Waar plaaslike amptenare Jehovah se Getuies hulle godsdiensvryheid probeer ontneem het, het die Getuies eenvoudig versterkings ingebring.
Ná herhaalde arrestasies in 1929 in een gedeelte van Beiere, in Duitsland, het hulle twee spesiale treine gehuur—een om in Berlyn te begin en die ander in Dresden. Hulle is by Reichenbach aanmekaargekoppel en om 2:00 vm. het dié trein die Regensburg-gebied binnegegaan met 1 200 passasiers wat gretig was om aan die getuieniswerk deel te neem. Dit was duur om te reis en elkeen het sy eie reisgeld betaal. By elke stasie het ’n paar afgeklim. ’n Hele paar van hulle het fietse gebring sodat hulle die mense op die platteland kon bereik. Die hele streek is in een dag gedek. Toe hulle die resultate van hulle verenigde pogings sien, kon hulle nie anders as om aan God se belofte aan sy knegte te dink nie: “Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie.”—Jes. 54:17.
Die Getuies in Duitsland was so ywerig dat hulle tussen 1919 en 1933 volgens skatting ten minste 125 000 000 boeke, boekies en tydskrifte, sowel as miljoene traktate, versprei het. Tog was daar op daardie stadium maar net ongeveer 15 000 000 gesinne in Duitsland. Gedurende daardie tydperk het Duitsland net so ’n deeglike getuienis as enige land op aarde ontvang. In daardie deel van die aarde was daar een van die grootste konsentrasies van mense wat bely het dat hulle geesgesalfde volgelinge van Christus is. Maar gedurende die daaropvolgende jare het hulle ook van die kwaaiste toetse van onkreukbaarheid belewe.—Openb. 14:12, NW.
In 1933 is amptelike teëstand teen die werk van Jehovah se Getuies in Duitsland grootliks verskerp. Die huise van Getuies en die Genootskap se takkantoor is herhaaldelik deur die Gestapo deurgesoek. Verbooie is in die meeste Duitse state op die werk van die Getuies geplaas, en party is in hegtenis geneem. Tonne van hulle Bybels en Bybellektuur is in die openbaar verbrand. Op 1 April 1935 is ’n nasionale wet uitgevaardig wat die Ernste Bibelforscher (die Ernstige Bybelstudente, of Jehovah se Getuies) onwettig verklaar het, en stappe is stelselmatig gedoen om hulle hulle middele vir lewensonderhoud te ontneem. Die Getuies het op hulle beurt al hulle vergaderinge in klein groepies begin hou, gereël om kopieë van hulle Bybelstudiemateriaal te maak in ’n formaat wat die Gestapo nie maklik sou herken nie en predikingsmetodes begin gebruik wat nie so opsigtelik was nie.
Selfs voor dit, van 1925 af, het die broers in Italië onder ’n Fascistiese diktatorskap gelewe, en in 1929 is ’n konkordaat tussen die Katolieke Kerk en die Fascistiese Staat onderteken. Ware Christene is genadeloos opgespoor en in hegtenis geneem. Sommige het in skure en op hooisolders vergader sodat hulle nie in hegtenis geneem sou word nie. Daar was toe maar min Getuies van Jehovah in Italië; maar hulle pogings om die Koninkryksboodskap te verkondig, is versterk toe 20 Getuies van Switserland in 1932 na Italië gegaan het en 300 000 eksemplare van die boekie Die Koninkryk, die hoop van die wêreld in ’n blitsveldtog versprei het.
Ook in die Verre-Ooste het die spanning begin toeneem. In Japan is Getuies van Jehovah in hegtenis geneem. Groot hoeveelhede van hulle Bybellektuur is vernietig deur amptenare in Seoel (in wat nou as die Republiek van Korea bekend staan) en Pjongjang (in wat nou die Demokratiese Volksrepubliek Korea is).
Te midde van hierdie toenemende spanning het Jehovah se Getuies in 1935 ’n duidelike begrip uit die Bybel gekry van die identiteit van die “groot menigte” van Openbaring 7:9-17. Hierdie begrip het hulle bewus gemaak van ’n onverwagte en dringende werk (Jes. 55:5). Hulle het nie meer die beskouing gehuldig dat diegene wat nie lede van die “klein kuddetjie” erfgename van die hemelse Koninkryk is nie die een of ander tyd in die toekoms die geleentheid sal hê om hulle lewe in ooreenstemming met Jehovah se vereistes te bring nie (Luk. 12:32). Hulle het besef dat die tyd aangebreek het om nóú dissipels van sulke mense te maak met die oog op hulle oorlewing tot in God se nuwe wêreld. Hulle het nie geweet hoe lank die insameling van hierdie groot menigte uit alle nasies sou voortduur nie, hoewel hulle gemeen het dat die einde van die goddelose stelsel baie naby moet wees. Hulle was nie seker presies hoe die werk uitgevoer sou word te midde van die vervolging wat uitgebrei en al hoe hewiger geword het nie. Maar van een ding was hulle wel seker—aangesien ‘die hand van Jehovah nie te kort is nie’, sou hy die weg vir hulle open om sy wil uit te voer.—Jes. 59:1.
In 1935 was daar betreklik min Getuies van Jehovah—wêreldwyd net 56 153.
Hulle het die predikingswerk daardie jaar in 115 lande gedoen; maar in byna die helfte van daardie lande was daar minder as tien Getuies. Slegs twee lande het 10 000 of meer bedrywige Getuies van Jehovah gehad (die Verenigde State, met 23 808; Duitsland, met ongeveer 10 000 van die 19 268 wat twee jaar tevore kon rapporteer). Sewe ander lande (Australië, Brittanje, Frankryk, Kanada, Pole, Roemenië en Tsjeggo-Slowakye) het elk meer as 1 000 maar minder as 6 000 Getuies gerapporteer. Volgens die verslag van bedrywighede in 21 ander lande was daar in elk van hierdie lande tussen 100 en 1 000 Getuies. Tog het hierdie ywerige groep Getuies gedurende daardie een jaar wêreldwyd 8 161 424 uur bestee aan die verkondiging van die boodskap dat God se Koninkryk die mensdom se enigste hoop is.
Behalwe die lande waarin hulle gedurende 1935 bedrywig was, het hulle reeds die goeie nuus op ander plekke verkondig, sodat 149 lande en eilandgroepe tot op daardie tydstip met die Koninkryksboodskap bereik is.
[Lokteks op bladsy 424]
Hoewel hulle in die tronk was, het hulle geleenthede gevind om te preek
[Lokteks op bladsy 425]
Gewillig en gretig om met die werk voort te gaan!
[Lokteks op bladsy 441]
Hulle het wind, reën en die geestelikes se vyandigheid getrotseer
[Lokteks op bladsy 442]
’n Getuienis van buitengewone afmetings is in Duitsland gegee voordat die “Ernste Bibelforscher” daar onwettig verklaar is
[Kaart/Prente op bladsy 423]
Terwyl die wêreld in ’n oorlog gewikkel was, was R. R. Hollister en Fanny Mackenzie besig om ’n boodskap van vrede aan die mense van China, Japan en Korea uit te dra
[Kaart]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
KOREA
JAPAN
CHINA
STILLE OSEAAN
[Kaart op bladsy 428]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Toe emigrante van die lande wat op hierdie kaart genoem word, geleer het van God se wonderlike voorneme om die mensdom te seën, het hulle hulle genoodsaak gevoel om daardie nuus na hulle geboorteland terug te neem
DIE AMERIKAS
↓ ↓
OOSTENRYK
BULGARYE
CIPRUS
TSJEGGOSLOWAKYE
DENEMARKE
FINLAND
DUITSLAND
GRIEKELAND
HONGARYE
ITALIË
NEDERLAND
NOORWEË
POLE
PORTUGAL
ROEMENIË
SPANJE
SWEDE
SWITSERLAND
TURKYE
JOEGO-SLAWIË
[Kaart op bladsy 432]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Gedurende die twintiger- en dertigerjare het evangeliedienaars van Duitsland na baie lande uitgegaan om ’n getuienis te gee
DUITSLAND
↓ ↓
SUID-AMERIKA
NOORD-AFRIKA
ASIË
[Kaart/Prente op bladsy 435]
Ywerige pioniers soos Frank Smith en sy broer Gray (in die boonste foto) het die goeie nuus langs die ooskus van Afrika verkondig
[Kaart]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
UGANDA
KENIA
TANZANIË
SUID-AFRIKA
[Kaart/Prent op bladsy 439]
In 1928 het mense regdeur Suidwes-Afrika (nou Namibië) hierdie boekie per pos ontvang
[Kaart]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
NAMIBIË
[Kaart/Prente op bladsy 440]
Ywerige pioniers het aan boord van die “Lightbearer” die Koninkryksboodskap in Suidoos-Asië verkondig
[Kaart]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
MALEIA
BORNEO
CELEBES
SUMATRA
JAVA
TIMOR
NIEU-GUINEE
AUSTRALIË
STILLE OSEAAN
[Prent op bladsy 426]
In baie lande het die toespraak “Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie” groot gehore gelok
[Prent op bladsy 427]
Edwin Scott het persoonlik 50 000 eksemplare van “’n Uitdaging aan wêreldleiers” in Suid-Afrika versprei
[Prent op bladsy 429]
In antwoord op die oproep om evangeliedienaars het Willy Unglaube in Europa, Afrika en die Ooste gedien
[Prent op bladsy 430]
Teen 1992 was Eric Cooke en sy broer John (wat sit) albei meer as 60 jaar in die voltydse diens, waartydens hulle opwindende ondervindinge in Europa en Afrika gehad het
[Prent op bladsy 431]
Toe Edwin Skinner in 1926 na Indië toe is, het sy toewysing vyf lande ingesluit; hy het 64 jaar lank getrou daar met die predikingswerk volgehou
[Prent op bladsy 433]
Alfred en Frieda Tuček, toegerus met lewensbenodigdhede en lektuur vir die getuieniswerk, het as pioniers in die eertydse Joego-Slawië gedien
[Prente op bladsy 434]
“Bible Brown” het deur die hele Wes-Afrika ywerig deelgeneem aan die blootlegging van valse aanbidding
[Prent op bladsy 436]
George Young het deelgeneem aan ’n wydverspreide verkondiging van God se Koninkryk in Suid-Amerika, Spanje en Portugal
[Prent op bladsy 437]
Juan Muñiz (links), wat sedert 1924 in Suid-Amerika gepreek het, was daar om N. H. Knorr te verwelkom toe hy Argentinië meer as 20 jaar later vir die eerste keer besoek het
[Prent op bladsy 438]
Nicolás Argyrós het die Bybel se bevrydende waarheid in 14 van Argentinië se provinsies verkondig
[Prent op bladsy 439]
F. J. Franske het oor land en per boot gereis om afgesonderde nedersettings met Bybelwaarheid te bereik