Die Bybel se beskouing
Hoe om ’n sukses van die huwelik te maak
“Hy wat hulle geskep het, [het] hulle van die begin af man en vrou gemaak [en gesê]: ‘Daarom sal ’n man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en die twee sal een vlees wees‘ . . . Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie.”—Jesus Christus, soos opgeteken in Matteus 19:4-6.
IN ONS wêreld met sy veranderende standaarde het mense nie meer respek vir die huwelik nie. Baie egpare bly bymekaar totdat hulle nie meer fisies aangetrokke tot mekaar voel nie of totdat probleme—soms nie eers ernstige probleme nie—ontstaan, en dan gaan hulle uitmekaar of skei hulle. Ongelukkig is die gevolg hiervan dikwels getraumatiseerde kinders.
Vir mense wat die Bybel bestudeer, is hierdie situasie glad nie verbasend nie. Die Bybel het voorspel dat mense oor die algemeen in “die laaste dae”, die tyd waarin ons nou lewe, nie die eienskappe sou hê wat gesinne saambind nie—naamlik lojaliteit, opregte liefde en natuurlike geneentheid (2 Timoteus 3:1-5). Is jy besorg oor hierdie agteruitgang in mense se waardes en die uitwerking wat dit op die gesinslewe het? Het jy hoë agting vir die huwelik?
Indien wel, kan jy vertroosting vind in die Bybel, want die beproefde raad daarin help baie egpare selfs vandag nog. Neem byvoorbeeld net vyf beginsels wat ’n hemelsbreë verskil in ’n huwelik kan maak.a
Vyf sleutels tot ’n suksesvolle huwelik
(1) Beskou die huwelik as ’n heilige verbintenis. Soos Jesus se woorde hier langsaan toon, beskou hy sowel as die Skepper, Jehovah God, die huwelik as ’n heilige verbintenis. Dit word bevestig deur God se streng vermaning aan sekere manne van ouds wat van hulle vrouens geskei het om met jonger vroue te trou. “Jy het jou belofte verbreek aan die vrou met wie jy in jou jeug getrou het”, het God gesê. “Sy was jou eggenote, en jy het jou belofte aan haar verbreek, hoewel jy voor God belowe het dat jy aan haar getrou sal wees.” Toe het Jehovah hierdie kragtige stelling gemaak: “Ek haat dit wanneer een van julle sy vrou so wreed behandel” (Maleagi 2:14-16, Today’s English Version). Dit is duidelik dat God die huwelik in ’n ernstige lig beskou; hy let op hoe mans en vrouens mekaar behandel.
(2) Wees ’n verantwoordelike man. Wanneer dit by belangrike gesinsake kom, moet iemand die finale besluit neem. Volgens die Bybel is dit die man se rol. “’n Man is die hoof van sy vrou”, sê Efesiërs 5:23. Maar hoofskap gee die man nie die reg om soos ’n tiran op te tree nie. Die man moet onthou dat hy en sy vrou “een vlees” is en dat hy haar moet eer en haar mening oor gesinsake moet kry (1 Petrus 3:7). “Mans [behoort] hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggaam”, maan die Bybel.—Efesiërs 5:28.
(3) Wees ’n ondersteunende vrou. Die Bybel beskryf die vrou as “’n komplement” van haar man (Genesis 2:18). As sodanig dra sy belangrike eienskappe tot die huwelik by. En as sy komplement, ding sy nie met hom mee nie, maar gee sy hom haar liefdevolle ondersteuning, en sodoende bevorder sy vrede in die gesin. “Laat vrouens onderdanig wees aan hulle mans”, sê Efesiërs 5:22. Maar sê nou sy stem nie met hom oor iets saam nie? Dan moet sy die vrymoedigheid hê om haar mening op ’n waardige, respekvolle manier te lug, want sy wil sekerlik ook hê dat haar man op so ’n manier met haar moet praat.
(4) Wees realisties en verwag uitdagings. Ondeurdagte of kwetsende woorde, finansiële probleme, ernstige siekte of die spanning wat met die grootmaak van kinders gepaardgaan, kan druk op ’n huwelik plaas. Daarom sê die Bybel ronduit dat diegene wat trou, “verdrukking in hulle vlees [sal] hê” (1 Korintiërs 7:28). Maar verdrukking, of beproewinge, hoef nie ’n huwelik te laat verswak nie. Trouens, wanneer twee mense vir mekaar lief is en goddelike wysheid het, sal hulle geskille kan oplos wat onenigheid kan veroorsaak. Het jy die nodige wysheid om gesinsprobleme te hanteer? “As een van julle dan wysheid kortkom”, sê die Bybel, “laat hom aanhou om God te vra, want hy gee aan almal mildelik en sonder om te verwyt.”—Jakobus 1:5.
(5) Wees getrou aan mekaar. Daar is min dinge wat soveel skade in ’n huwelik kan aanrig as hoerery, of seks buite die huwelik, wat die enigste gronde is vir egskeiding wat vir God aanvaarbaar is (Matteus 19:9). Die Bybel sê: “Laat die huwelik onder almal eerbaar wees en die huweliksbed sonder verontreiniging, want God sal hoereerders en egbrekers oordeel” (Hebreërs 13:4). Wat kan egpare doen sodat hulle nie in die versoeking kom om seksuele bevrediging buite die huwelik te soek nie? Die Bybel sê: “Laat die man sy vrou gee wat haar toekom; maar laat die vrou ook dieselfde teenoor haar man doen.”—1 Korintiërs 7:3, 4.
Party dink miskien dat hierdie vyf punte onrealisties of outyds is. Maar die resultate bewys die teendeel. Trouens, die resultate is soortgelyk aan dié wat ’n persoon verkry wat in alle aspekte van sy lewe op God se leiding vertrou: “Hy sal beslis word soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat sy vrugte op sy tyd gee en waarvan die blare nie verwelk nie, en alles wat hy doen, sal suksesvol wees” (Psalm 1:2, 3). “Alles” sluit ’n suksesvolle huwelik in.
[Voetnoot]
a Vir bykomende inligting oor die huwelik, sien Die Wagtoring, ons medetydskrif, van 1 Februarie 2011.
HET JY AL GEWONDER?
● Wat is God se beskouing van egskeiding?—Maleagi 2:14-16.
● Hoe moet ’n man sy vrou behandel?—Efesiërs 5:23, 28.
● Wie se wysheid kan egpare help om ’n sukses van die huwelik te maak?—Psalm 1:2, 3.