Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 5/11 bl. 22-24
  • ’n Kykie na die slaweroete

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Kykie na die slaweroete
  • Ontwaak!—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Lang, lelike geskiedenis
  • ’n Roete nat van die trane
  • Vryheid!
  • ’n Godsdiensdilemma in koloniale Brasilië
    Ontwaak!—2002
  • Die lang stryd teen slawerny
    Ontwaak!—2002
  • Miljoene word slawe
    Ontwaak!—1995
  • Het God die slawehandel goedgekeur?
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—2011
g 5/11 bl. 22-24

’n Kykie na die slaweroete

VAN die 17de tot die 19de eeu was die stad Ouidah ’n vername sentrum van slawehandel in Wes-Afrika. Meer as ’n miljoen slawe is vanaf Ouidah, in wat nou die Republiek van Benin is, uitgevoer. Afrikane het dikwels mede-Afrikane gegee in ruil vir items soos alkohol, lap, armbande, messe, swaarde en veral gewere, waarvoor daar weens stamoorloë ’n groot aanvraag was.

Daar word geskat dat 12 miljoen Afrikane tussen die 16de en die 19de eeu in skepe oor die Atlantiese Oseaan geneem is om slawe te voorsien om in die plantasies en myne van die Nuwe Wêreld te werk. Omtrent 85 persent van die slawe, sê die boek American Slavery—1619-1877, “is na Brasilië en die verskeie Karibiese kolonies van Brittanje, Frankryk, Spanje en Nederland gestuur”. Sowat 6 persent is na die kolonies geneem wat later deel van die Verenigde State sou word.a

Aan die begin van hulle tog het baie van die slawe—vasgeketting, geslaan en gebrandmerk—met die vier kilometer lange roete langs gestap, wat nou strek vanaf Ouidah se Museum van Geskiedenis, ’n herboude fort, tot by wat die Deur van Geen Terugkeer genoem word, wat op die strand staan. Die deur staan waar die Slaweroete geëindig het. Dit is eerder simbolies as letterlik, want die slawe het nie almal van dieselfde plek vertrek nie. Waarom het slawerny so gewild geraak?

’n Lang, lelike geskiedenis

Reeds van vroeë tye af het Afrikaheersers krygsgevangenes aan Arabiese handelaars verkoop. Later het Europese magte by die slawehandel betrokke geraak, veral nadat hulle kolonies in die Amerikas gestig het. Destyds het stamoorloë en die gevolglike krygsgevangenes ’n oorvloed slawe voorsien, wat oorlog ’n winsgewende bedryf vir die oorwinnaars sowel as die gierige slawehandelaars gemaak het. Daarbenewens is slawe verkry deur mense te ontvoer of is hulle by Afrikahandelaars gekoop wat hulle uit die binneland gebring het. Byna enigiemand kon as ’n slaaf verkoop word, selfs ’n prins wat sy koning se guns verloor het.

’n Welbekende handelaar was die Brasiliaan Francisco Félix de Souza. In 1788 het De Souza die bevel oorgeneem oor die fort wat die middelpunt was van die Ouidah-slawemark in die Bog van Benin. Op daardie stadium was Ouidah onder die Koninkryk van Dahomey. Maar De Souza en die koning van Dahomey, Adandozan, het ’n uitval gehad. Daarom het De Souza, moontlik terwyl hy in die tronk was, met die koning se broer saamgesweer, en in 1818 het hulle die heerser saam onttroon. So het ’n winsgewende verhouding begin tussen die nuwe koning, Ghezo, en De Souza, wat oor die slawehandel aangestel is.b

Ghezo was daarop uit om sy koninkryk uit te brei en het Europese wapens daarvoor nodig gehad. Hy het De Souza dus as onderkoning van Ouidah aangestel om die handel tussen hulle en die Europeërs te help bestuur. De Souza, wat die uitsluitlike reg oor slawehandel in daardie deel van Afrika gehad het, het gou ’n fortuin gemaak, en die slawemark, wat naby sy huis was, het ’n belangrike sentrum geword waar buitelandse en plaaslike kopers handel gedryf het.

’n Roete nat van die trane

Vir die hedendaagse besoeker begin ’n toer van die Ouidah-Slaweroete by die herboude Portugese fort. Die fort, wat oorspronklik in 1721 gebou is, dien nou as die voorgemelde museum. Gevangenes wat as slawe verkoop sou word, is in die groot binnehof opgesluit. Voordat hulle daar aangekom het, het die meeste van hulle nagte lank gestap terwyl hulle aan mekaar geketting was. Waarom het hulle in die nag gestap? Die donkerte het gehelp om hulle te disoriënteer en het dit vir ontsnaptes moeiliker gemaak om terug te keer huis toe.

Wanneer ’n groep slawe aangekom het, is ’n veiling gehou, waarna handelaars hulle aankope gebrandmerk het. Slawe wat uitgevoer sou word, is na die strand geneem, waar hulle met kano’s of bootjies na skepe geneem is.

’n Ander punt op die geskiedkundige Slaweroete is die plek waar die Boom van Vergetelheid gestaan het. Vandag is daar ’n monument waar die boom gestaan het waarom die slawe gedwing is om te loop—die mans na bewering nege keer en die vroue sewe keer. Daar is vir hulle gesê dat hierdie ritueel hulle van hulle vaderland sou laat vergeet, en dit sou hulle minder geneig maak om in opstand te kom.

Daar is ook ’n monument op die roete ter herdenking aan die Zomaï-hutte, wat nie meer bestaan nie. Zomaï verwys na die konstante duisternis binne die hutte, wat die saamgebondelde gevangenes voorberei het op die haglike omstandighede op die skepe. Trouens, hulle is moontlik maande lank in die hutte aangehou terwyl hulle vir die skepe gewag het. Dié wat gedurende hierdie ontberinge gesterf het, is in ’n massagraf gegooi.

’n Monument wat Zomachi genoem word en ’n simbool van berou en versoening is, is besonder aangrypend. Elke Januarie vra afstammelinge van slawe sowel as slawehandelaars by hierdie monument om vergifnis namens diegene wat die onregte gepleeg het.

Die toerroete stop by die Deur van Geen Terugkeer—’n monument wat die slawe se laaste oomblikke op Afrikabodem simboliseer. Op hierdie groot, geboogde poort is daar ’n uitbeelding in vlakreliëf van twee rye vasgekettingde Afrikane wat op ’n nabygeleë strand saamkom, met die Atlantiese Oseaan voor hulle. Hier het party desperate gevangenes glo sand geëet sodat hulle hulle vaderland sou onthou. Ander het die dood verkies en hulle met hulle eie kettings verwurg.

Vryheid!

Vanaf die vroeë 1800’s het pogings om slawerny af te skaf, toegeneem. Die laaste skip vol slawe wat van Ouidah na die Verenigde State gestuur is, het in Julie 1860 in Mobile, Alabama, aangekom. Hulle slawerny was egter van korte duur, aangesien die Amerikaanse regering in 1863 die Vrylatingsproklamasie uitgevaardig het. Slawerny het uiteindelik in 1888 in die Westelike Halfrond tot ’n einde gekom toe Brasilië die gebruik afgeskaf het.c

Die grootste nalatenskap van die slawehandel kan gesien word in die groot aantal Afrikane wat na ander lande versprei het en sodoende ’n groot invloed gehad het op die demografie en kultuur van baie lande in die Amerikas. Nog ’n nalatenskap is die verspreiding van voedoe, ’n vorm van godsdiens wat van toordery gebruik maak en veral in Haïti gewild is. “Die woord voedoe”, sê die Encyclopædia Britannica, “is afgelei van die woord vodun, wat in die taal van die Fon-volk van Benin (voorheen Dahomey) god, of gees, beteken.”

Ongelukkig bestaan wrede vorme van slawerny vandag nog, hoewel nie altyd in ’n letterlike sin nie. Miljoene werk byvoorbeeld soos slawe om ’n bestaan te maak onder moeilike ekonomiese toestande. Ander ly weens onderdrukkende politieke regimes (Prediker 8:9). En miljoene word gevange gehou deur valse godsdiensleringe en bygelowe. Kan menseregerings hulle onderdane van hierdie vorme van slawerny bevry? Nee. Slegs Jehovah God kan dit doen, en hy sal! Trouens, sy geskrewe Woord, die Bybel, belowe dat almal wat hulle tot Jehovah wend deur hom te aanbid in ooreenstemming met Bybelwaarheid—die waarheid wat mense vrymaak—eendag “die glorieryke vryheid van die kinders van God” sal geniet.—Romeine 8:21; Johannes 8:32.

[Voetnote]

a Hoewel die slawebevolking in die Verenigde State aanvanklik redelik klein was, het dit toegeneem, hoofsaaklik weens natuurlike bevolkingsgroei, aangesien slawe hulle eie kinders gehad het.

b “Ghezo” word op verskillende maniere gespel.

c Die Bybel se beskouing van slawerny word bespreek in die artikel “Die Bybelse beskouing: Het God die slawehandel goedgekeur?” in die Ontwaak! van 8 September 2001.

[Venster/Prent op bladsy 24]

‘DIE MENS HET OOR DIE MENS GEHEERS TOT SY NADEEL’

Baie glo dat die slawehandelaars hulle slagoffers gekry het deur dorpies binne te val en mense te ontvoer. Hoewel dit dalk gebeur het, sou slawehandelaars waarskynlik nie soveel miljoene mense kon wegneem “sonder die samewerking van ’n ontsaglike netwerk van Afrikaheersers en -handelaars nie”, het dr. Robert Harms, ’n professor van Afrikageskiedenis, in ’n radio-onderhoud gesê. Hoe waar is dit tog dat “die mens oor die mens geheers het tot sy nadeel”!—Prediker 8:9.

[Erkenning]

© Réunion des Musées Nationaux/Art Resource, NY

[Kaarte op bladsy 22]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Ongeveer 12 miljoen Afrikane is in skepe oor die Atlantiese Oseaan geneem om as slawe te gaan werk

AFRIKA

BENIN

Ouidah

Slawekus

[Prent op bladsye 22, 23]

Hierdie Portugese fort, wat in 1721 gebou is, dien nou as Ouidah se Museum van Geskiedenis

[Erkenning]

© Gary Cook/Alamy 

[Prent op bladsy 23]

’n Standbeeld van ’n vasgebinde slaaf

[Prent op bladsy 23]

Die Deur van Geen Terugkeer—’n monument wat die slawe se laaste oomblikke op Afrikabodem simboliseer

[Erkenning]

© Danita Delimont/Alamy

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel