Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 5/11 bl. 20-21
  • Waarom word Jesus se ware volgelinge gehaat?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom word Jesus se ware volgelinge gehaat?
  • Ontwaak!—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Teenstanders tree dalk in onkunde op
  • Sommige teenstanders is afgunstig
  • Gehaat omdat hulle “geen deel van die wêreld is nie”
  • Kan mense wat slegte dinge doen, verander?
    Leer by die Groot Onderwyser
  • Jesus kies Saulus
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Waarom het Saulus die Christene vervolg?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • ‘Hou jou onder die kwaad in bedwang’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Ontwaak!—2011
g 5/11 bl. 20-21

Die Bybel se beskouing

Waarom word Jesus se ware volgelinge gehaat?

“Mense [sal] julle aan verdrukking oorlewer en julle doodmaak, en julle sal weens my naam vir al die nasies voorwerpe van haat wees.”—MATTEUS 24:9.

JESUS het hierdie woorde gespreek net ’n paar dae voordat hy wreed vermoor is. Die aand voor sy dood het hy vir sy getroue apostels gesê: “As hulle my vervolg het, sal hulle julle ook vervolg” (Johannes 15:20, 21). Maar waarom sou mense diegene haat wat aan Jesus gehoorsaam is en soos hy probeer wees? Hy het hom immers ten behoewe van ander ingespan deur die armes te vertroos en aan die vertraptes hoop te gee.

Die Bybel openbaar spesifieke redes vir hierdie haat. Wanneer ons hierdie redes ondersoek, sal ons sien waarom mense wat Christus vandag navolg, dieselfde teenstand as hy ondervind.

Teenstanders tree dalk in onkunde op

Jesus het vir sy volgelinge gesê: “Die uur kom wanneer elkeen wat julle doodmaak, sal dink dat hy ’n heilige diens aan God bewys het. Maar hulle sal hierdie dinge doen omdat hulle nie die Vader of vir my leer ken het nie” (Johannes 16:2, 3). Baie vervolgers het wel beweer dat hulle dieselfde God dien as Jesus, maar hulle is deur valse godsdiensoortuigings en tradisies beïnvloed. Ja, hulle het “’n ywer vir God [gehad]; maar nie ooreenkomstig juiste kennis nie” (Romeine 10:2). Een van hierdie teenstanders was Saulus van Tarsus, wat later die Christenapostel Paulus geword het.

Saulus het aan ’n groep behoort wat as die Fariseërs bekend gestaan het, ’n Joodse sekte met groot politieke mag en invloed wat die Christelike godsdiens teëgestaan het. “Ek [was] ’n lasteraar en ’n vervolger en ’n vermetele man”, het Saulus later erken. Hy het ook gesê dat hy “onkundig was en in ’n gebrek aan geloof opgetree het” (1 Timoteus 1:12, 13). Maar toe hy die waarheid omtrent God en Sy Seun geleer het, het hy onmiddellik sy weë verander.

Dieselfde het vandag met baie voormalige vervolgers gebeur. Wat meer is, soos Saulus het sommige van hulle al self vervolging ondervind. Nietemin het hulle nie kwaad vir kwaad vergeld nie, maar hulle het eerder Jesus se vermaning gevolg: “Hou aan om julle vyande lief te hê en om te bid vir dié wat julle vervolg” (Matteus 5:44). Jehovah se Getuies streef daarna om hierdie woorde toe te pas in die hoop dat ten minste party teenstanders, soos Saulus, hulle gesindheid sal verander.

Sommige teenstanders is afgunstig

Baie mense wat Jesus teëgestaan het, het dit uit afguns gedoen. Om die waarheid te sê, die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus het “geweet dat die hoofpriesters [Jesus] uit afguns oorgelewer het” om aan die paal gehang te word (Markus 15:9, 10). Waarom was die Joodse godsdiensleiers afgunstig op Christus? Een rede was sy gewildheid by die gewone mense, op wie die godsdiensleiers neergesien het. “Die wêreld het agter hom aan geloop”, het die Fariseërs gekla (Johannes 12:19). Toe mense later positief op die bediening van Christus se volgelinge gereageer het, is godsdiensteenstanders weer eens “met jaloesie vervul” en het hulle teen die Christenevangeliedienaars uitgevaar.—Handelinge 13:45, 50.

Ander vyande was gegrief oor die goeie gedrag van God se knegte. Die apostel Petrus het aan mede-Christene gesê: “Omdat julle nie meer hierdie weg tot dieselfde lae poel van losbandigheid saam met hulle [die goddeloses] bewandel nie, vind hulle dit vreemd en hou hulle aan om julle te smaad” (1 Petrus 4:4). Vandag kan dieselfde negatiewe gesindheid gesien word. Hoewel ware Christene slegte gedrag vermy, openbaar hulle natuurlik nie ’n eiegeregtige, meerderwaardige gesindheid nie. Trouens, dit sou onchristelik wees, want alle mense is sondaars en het God se barmhartigheid nodig.—Romeine 3:23.

Gehaat omdat hulle “geen deel van die wêreld is nie”

“Moenie die wêreld of die dinge in die wêreld liefhê nie”, sê die Bybel (1 Johannes 2:15). Na watter wêreld het die apostel Johannes verwys? Die mensewêreld wat van God vervreemd is en aan Satan onderdanig is. Hy is “die god van hierdie wêreld”.—2 Korintiërs 4:4, Ou Afrikaanse Bybelvertaling; 1 Johannes 5:19.

Ongelukkig word diegene wat volgens Bybelleringe probeer lewe, teëgestaan deur party wat die wêreld en sy slegte weë liefhet. Gevolglik het Jesus vir sy apostels gesê: “As julle ’n deel van die wêreld was, sou die wêreld lief wees vir wat syne is. En omdat julle geen deel van die wêreld is nie, maar ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle.”—Johannes 15:19.

Hoe jammer is dit tog dat mense Jehovah se dienaars haat omdat hulle geen deel wil wees van ’n wêreld wat vol korrupsie, ongeregtigheid en geweld is en waarvan Satan die heerser is nie! Talle opregte mense wil die wêreld ’n beter plek maak, maar hulle is glad nie opgewasse teen die onsigbare heerser daarvan nie. Net Jehovah God kan van Satan ontslae raak—en hy sal, deur hom heeltemal te vernietig, asof deur vuur!—Openbaring 20:10, 14.

Hierdie wonderlike vooruitsig is ’n sleutelelement van die kosbare “goeie nuus van die koninkryk” wat wêreldwyd deur Jehovah se Getuies verkondig word (Matteus 24:14). Ja, die Getuies is oortuig dat net God se Koninkryk, sy regering deur Christus, blywende vrede en geluk op die aarde sal teweegbring (Matteus 6:9,10). Gevolglik sal hulle aanhou om hierdie Koninkryk te verkondig, aangesien hulle God se goedkeuring as veel belangriker beskou as dié van mense.

HET JY AL GEWONDER?

● Waarom het Saulus van Tarsus Christus se volgelinge teëgestaan?—1 Timoteus 1:12, 13.

● Deur watter slegte gesindheid is sommige van Jesus se vyande aangedryf?—Markus 15:9, 10.

● Hoe beskou ware Christene die wêreld?—1 Johannes 2:15.

[Prent op bladsy 21]

In 1945 het Jehovah se Getuies massageweld in Quebec, Kanada, ondervind omdat hulle die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig het

[Erkenning]

Courtesy Canada Wide

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel