Mense wat jy kan vertrou
Santiago, ’n taxibestuurder in Argentinië, het nie gewonder wat hy moet doen nie. Toe iemand ’n sak in sy taxi vergeet het, het hy dit eenvoudig aan die eienaar terugbesorg. Dit lyk dalk nie of Santiago iets buitengewoons gedoen het nie, maar daar was meer as $32 000 (R237 000) in die sak!
KAN jy jou ’n wêreld vol betroubare mense voorstel? Hoe anders sou die lewe tog wees! Jy sou jou kind in die sorg van ’n babaoppasser kon los sonder om bekommerd te wees. Jy sou nie huissleutels of deurslotte nodig hê nie. Is dit maar net ’n droom?
Die uitwerking van sedelike waardes
Die Christenapostel Paulus het van homself en sy mede-Christene gesê: ‘Ons wil ons in alles eerlik gedra’ (Hebreërs 13:18). Dit is wat Jehovah se Getuies probeer doen. Hulle doel is om die eienskappe aan die dag te lê wat in die Bybel in Jesaja 33:15 beskryf word: “Daar is een wat in volgehoue regverdigheid wandel en spreek wat reg is, wat die onregverdige wins deur bedrog verwerp, wat sy hande daarvan losskud om ’n omkoopgeskenk aan te gryp.” Hoe het party so ’n weg van getrouheid gevolg?
● “Spreek wat reg is.” Domingo, een van Jehovah se Getuies, werk in die Filippyne op ’n kopra-plantasie. “Baie mense is nie eerlik teenoor hulle werkgewers nie”, sê hy. “Byvoorbeeld, as hulle kopra ingesamel het, sê hulle nie vir hulle werkgewer hoeveel sakke hulle regtig het nie. Dan kan hulle van die sakke agteraf verkoop.”
Domingo en sy gesin is byna van die plantasie weggestuur omdat hulle nie oor produksiesyfers wou lieg nie. Maar Domingo sê: “Ons het vir ons werkgewer gesê dat ons nie sal lieg nie, al sou dit beteken dat ons weggestuur word. Uiteindelik het ons werkgewer gesê dat Jehovah se Getuies goeie, betroubare mense is, en hy het ons ’n ekstra stuk grond gegee om op te boer.”
● ‘Verwerp onregverdige wins.’ Pierre, die hoofbelastingbeampte in ’n streek van Kameroen, het al baie geleenthede gehad om maklik geld te maak. Toe hy die werk gegee is om die salarisse van tydelike werkers te betaal, het hy ’n onreëlmatigheid opgemerk. “Salarisse is betaal aan personeel wie se kontrakte al verval het of wat oorlede is”, verduidelik Pierre. “Pleks van te dink dat ek hierdie geld kon gebruik, het ek ’n noukeurige finansiële rekord gehou en hierdie geld in ’n kluis gebêre.”
Wat was die uiteinde? “Ná twee jaar”, sê Pierre, “is ’n oudit gedoen. Ek was regtig baie trots daarop dat ek ’n presiese rekord kon voorlê en die volle bedrag kon oorhandig, wat toe al redelik groot was. Die ouditeure het my hartlik geprys vir my eerlikheid.”
● Moenie ‘omkoopgeskenke’ aanvaar nie. In sy loopbaan as ’n notaris in Rio de Janeiro, Brasilië, is Ricardo al baie omkoopgeskenke aangebied. “By een geleentheid”, vertel hy, “het ’n regsgeleerde my probeer omkoop. Sonder dat ek dit geweet het, het hy ’n CD-speler na my huis toe gestuur. Destyds was ’n CD-speler ’n nuwigheid sowel as ’n luukse artikel.”
Wat het Ricardo gedoen? “Ek en my vrou het besluit dat ons die pakkie nie eers gaan oopmaak nie”, sê hy. “Ek het na die regsgeleerde se kantoor gegaan en hom heeltemal verras deur die pakkie op sy lessenaar neer te sit. Dit was ’n goeie geleentheid om te verduidelik waarom ek dit teruggee. Veral sy sekretaresse was beïndruk deur wat ek gedoen het.”
Hoewel Jehovah se Getuies nie die enigstes is wat eerlik probeer wees nie, het hulle as ’n groep die reputasie verwerf dat hulle betroubaar is. Dit het ’n Poolse klerekettingwinkel onlangs laat besluit om slegs Jehovah se Getuies in diens te neem. Die verkoopsbestuurder het gesê: “Daar is oral eerlike mense, maar Jehovah se Getuies het beginsels, en hulle bly daarby.”
Betroubaar ten spyte van armoede
Baie mense dink dat jy nie eerlik hoef te wees as jy arm is nie. ’n CNN-verslag vertel byvoorbeeld van ’n 14-jarige Nigeriese seun wat die hele dag lank mense oor die Internet verkul. “Wat wil julle hê moet ek doen?” sê hy om hom te regverdig. “Ek sorg dat daar kos op die tafel is vir ons gesin—my suster, my ma, my pa. ’n Mens moet aan die lewe bly.”
Die Bybel belowe natuurlik nie dat dié wat eerlik bly, ryk sal word nie, maar dit gee wel die versekering dat hulle die noodsaaklikhede van die lewe sal ontvang. Jesaja 33:16 sê: “Sy brood sal beslis aan hom gegee word; sy watervoorraad sal onuitputlik wees.”
Maar party vra dalk: ‘Hoe help eerlikheid diegene wat in uiterste situasies verkeer? Wat van dié wat elke dag sukkel net om kos in die hande te kry?’
Beskou Berthe, ’n weduwee in Kameroen wat ’n miando-stalletjie het, waar sy southappies verkoop wat van maniok gemaak word. “Daar is gewoonlik 20 miando-stokkies in elke pakkie”, sê sy. “Verkopers sit dikwels net 17 of 18 in die meeste pakkies, maar ek wil nie my geld verdien deur ander te verkul nie.”
Floreer Berthe se besigheid? Nie altyd nie. “Daar gaan dikwels ’n hele dag verby sonder dat ek enigiets verkoop”, sê sy. “Maar wanneer ek die kosverkopers vir ’n bord kos vra en vir hulle sê dat ek nog niks verkoop het nie, gee hulle dit vir my omdat hulle weet dat ek hulle sal betaal sodra ek die geld het. Dit is ’n kwessie van vertroue, wat ek met verloop van tyd verdien het.”
’n God wat ons vertroue verdien
Ons vertroue in iemand neem toe wanneer ons sien dat hy doen wat hy sê. Josua, ’n leier in eertydse Israel, het van God gesê: “Geen belofte van al die goeie beloftes wat Jehovah . . . gemaak het, het onvervuld gebly nie; alles is bewaarheid” (Josua 21:45). Het ons ook goeie redes om vertroue in God te stel?
God se beloftes is so betroubaar dat hy sy woord met die reën vergelyk (Jesaja 55:10, 11). Ja, wat kan keer dat reën op die grond val, dit natmaak en plante laat groei? Niks! Net so kan niks keer dat God se beloftes vervul word nie.
Een van hierdie beloftes is opgeteken in 2 Petrus 3:13, wat sê: “Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag, en daarin sal regverdigheid woon.” Dit is God se voorneme om almal wat hulle medemens uitbuit, van die aarde te verwyder. Wil jy graag weet hoe God sy voorneme sal vervul? Kom dan in aanraking met Jehovah se Getuies in jou omgewing of skryf na die gepaste adres op bladsy 5 van hierdie tydskrif.
[Venster/Prent op bladsy 8]
EERLIKHEID WORD BELOON
Lucio, een van Jehovah se Getuies in die Filippyne, kon oneerlik gewees het. Hy het $27 500 (R204 000) in ’n ou liaseerkabinet gevind in ’n kantoor wat hy moes skoonmaak. Die kantoor—en die geld—het aan sy werkgewer behoort, wat op ’n sakereis was. “Dit was die eerste keer in my lewe dat ek ’n dollar gesien het!” sê Lucio.
Toe sy werkgewer teruggekeer het, het Lucio die geld aan hom oorhandig. Wat was die gevolg? “Ek het groter verantwoordelikhede ontvang”, sê Lucio. “Om die waarheid te sê, my werkgewer het my ’n kamer gegee waarin my hele gesin kon bly. Al is die lewe in die Filippyne moeilik, voel ek dat Jehovah God vir ons sorg omdat ons by sy wette bly.”
[Venster/Prent op bladsy 9]
’N AKKURATE WEEGSKAAL
Almal ken Moïse se visstalletjie in ’n mark in Douala, Kameroen. “Ek het my stalletjie Die Weegskaal genoem”, sê hy, “want my weegskaal is een van die min weegskale in die mark waarmee daar nie gepeuter is nie. Ek weet dat mense gereeld kyk of ek vir hulle die regte hoeveelheid gee. As hulle ’n kilogram vis vra, gee ek dit vir hulle. Hulle vind altyd ’n manier om die vis êrens anders te laat weeg. Wanneer hulle dit doen, lyk dit of hulle meer as ’n kilogram het! Dan weet hulle dat ek hulle nie probeer kul nie! Baie mense sê vir my: ‘Ons kom na jou toe, want jy is eerlik.’”
[Prent op bladsy 7]
“Ons het vir ons werkgewer gesê dat ons nie sal lieg nie, al sou dit beteken dat ons weggestuur word.”—Domingo, Filippyne.
[Prent op bladsy 7]
“Die ouditeure het my hartlik geprys vir my eerlikheid.”—Pierre, Kameroen.
[Prent op bladsy 7]
“’n Regsgeleerde [het] my probeer omkoop. . . . Ek en my vrou het besluit dat ons die pakkie nie eers gaan oopmaak nie.”—Ricardo, Brasilië.
[Prent op bladsy 7]
Daar gaan dikwels ’n hele dag verby sonder dat Berthe enigiets verkoop. Maar dan gee die ander kosverkopers vir haar ’n bord kos omdat hulle weet dat sy hulle sal betaal sodra sy die geld het.