Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 5/10 bl. 18-19
  • Hoe kan ek verstandig met geld werk?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan ek verstandig met geld werk?
  • Ontwaak!—2010
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wysheid vir kritieke tye
  • Hoe om swaar ekonomiese tye die hoof te bied
  • Wat is die verstandige beskouing van geld?
    Ontwaak!—2007
  • Spandeer jou geld wyslik
    Ontwaak!—2025
  • Geld
    Ontwaak!—2014
  • Werk verstandig met jou geld
    Ontwaak!—2009
Sien nog
Ontwaak!—2010
g 5/10 bl. 18-19

Die Bybel se beskouing

Hoe kan ek verstandig met geld werk?

“Namate my salaristjek kleiner word, raak my rekeninge groter. Ek lê dikwels snags wakker en wonder hoe ek vir my gesin sal sorg.”—James.

“Dit was asof ek met my rug teen die muur gestaan het en daar vir my geen uitweg was nie.”—Sheri.

IN TYE van ekonomiese onbestendigheid is sulke kommentare algemeen. Juan Somavia, die direkteur-generaal van die Internasionale Arbeidsburo, het van die onlangse ekonomiese afswaai gesê: “Dit is nie bloot ’n krisis op Wall Street nie”, en toe het hy bygevoeg: “Dit is ’n krisis op alle strate.”

As iemand skielik sy werk verloor of nie genoeg geld het om in die basiese behoeftes van sy gesin te voorsien nie, kan dit tot groot bekommernis en selfs gevoelens van wanhoop lei. Op een stadium in sy lewe het die Bybelskrywer Dawid so gevoel. Hy het gebid: “Die benoudhede van my hart het vermeerder; lei my tog uit my angste” (Psalm 25:17). Wat sê die Bybel oor ons tye, en kan die geïnspireerde wysheid daarin ons groter veiligheid bied en meer gemoedsrus gee?

Wysheid vir kritieke tye

Die Bybel het voorspel dat “die laaste dae” van die teenswoordige wêreld gekenmerk sou word deur “weë van benoudheid” en “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1; Matteus 24:8). Hierdie woorde word beslis bewaarheid! Nietemin is ons nie sonder hoop nie, want God het, deur middel van die Heilige Bybel, aan ons die nodige wysheid voorsien om tye van ekonomiese onsekerheid die hoof te bied.

Die Bybel help ons byvoorbeeld om die regte beskouing van geld te hê. Prediker 7:12 sê: “Wysheid dien as ’n beskerming net soos geld as ’n beskerming dien; maar die voordeel van kennis is dat wysheid die besitters daarvan in die lewe hou.” Ja, geld kan ’n mate van beskerming voorsien, maar slegs goddelike wysheid, wat in die bladsye van die Bybel gevind word, kan te alle tye ware veiligheid bied. Kyk na ’n paar voorbeelde.

Hoe om swaar ekonomiese tye die hoof te bied

Wees vlytig. “Die luiaard toon dat hy begerig is, maar sy siel het niks. Die siel van die vlytiges sal egter vet gemaak word” (Spreuke 13:4). Die les? Verkry die reputasie dat jy ’n eerlike, harde werker is. Goeie werkers is vir werkgewers van groot waarde en sal heel waarskynlik die eerstes wees om in diens geneem te word en die laastes wees om afgedank te word.—Efesiërs 4:28.

Bereken die koste voordat jy koop. Jesus het gesê: “Wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg het om dit te voltooi nie?” (Lukas 14:28). Hoewel Jesus hier toegelig het hoe belangrik dit is om die koste daarvan te bereken om een van sy volgelinge te word, is sy woorde uiteraard ook in ’n letterlike sin waar. Stel dus ’n begroting op, wat ’n lys bevat van wat jy werklik nodig het en hoeveel dit kos.

Moenie geld op slegte gewoontes mors nie. Dinge soos dobbelary, die rookgewoonte en dwelm- en alkoholmisbruik is alles sleg in God se oë.—Spreuke 23:20, 21; Jesaja 65:11; 2 Korintiërs 7:1.

Vermy “die liefde vir geld” (Hebreërs 13:5). Liefhebbers van geld sal beslis ongelukkigheid en ontnugtering ervaar; trouens, hulle sal hulleself “oral met baie pyne deurboor” (1 Timoteus 6:9, 10). Wat meer is, hulle word slawe van ’n onversadigbare begeerte, want ongeag hoeveel hulle het, dit is nooit genoeg nie.—Prediker 5:10.

Leer om tevrede te wees. “Ons het niks in die wêreld ingebring nie, en ook kan ons niks uitdra nie. As ons dan voedsel, klere en onderdak het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees” (1 Timoteus 6:7, 8). Mense wat met minder tevrede is, sal moontlik oormatige bekommernis kan vermy wanneer daar ’n afswaai in die ekonomie is. Leer dus om tevrede te wees en binne jou vermoë te lewe.—Sien die venster aan die regterkant.

Nie een van ons weet wat môre inhou nie. “Tyd en onvoorsiene gebeurtenisse tref [ons] almal”, sê Prediker 9:11. Daarom vestig die verstandiges “hulle hoop nie op onsekere rykdom . . . nie, maar op God”, wat sy lojales belowe het: “Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie.”—1 Timoteus 6:17; Hebreërs 13:5.

HET JY AL GEWONDER?

● Hoe beskryf die Bybel ons tye?—2 Timoteus 3:1-5.

● Waar kan betroubare leiding vandag gevind word?—Psalm 19:7.

● Hoe kan ek toesien dat my gesin ’n veilige toekoms het?—Prediker 7:12.

[Venster/Prent op bladsy 19]

MANIERE OM TE SPAAR

Inkopies: Maak ’n lys. Moenie impulsief koop nie. Wees op die uitkyk na die beste pryse. Maak gebruik van koepons en afslag. Koop wat jy nodig het op uitverkopings en buite die seisoen. Koop in groot maat wanneer moontlik.

Huishoudelike uitgawes: Betaal rekeninge betyds om ekstra koste te vermy. Maak etes en iets om te drink by die huis, en wees matig wat kos- en alkoholverbruik betref. Skakel ligte en toestelle af wanneer dit nie gebruik word nie. Gebruik energiebesparende toestelle indien moontlik. Bring isoleermateriaal in jou huis aan. Oorweeg dit om na ’n kleiner huis te trek.

Vervoer: As jy jou eie voertuig moet hê, koop een wat betroubaar en lig op brandstof is. Dit hoef nie nuut te wees nie. Handel ’n hele paar take tydens een rit af en vorm saamrygroepe wanneer moontlik. Andersins kan jy stap, fietsry of openbare vervoer gebruik. Gaan buite seisoen op vakansie en moontlik nader aan die huis.

Telefone en vermaak: Het jy ’n landlyn sowel as ’n selfoon nodig? Kan jou kinders, as hulle selfone het, spaarsamer daarmee werk of selfs daarsonder klaarkom? Kan jy, as jy op ’n TV-diens inteken, geld bespaar deur die aantal kanale te verminder?a Neem boeke en rolprente eerder by die biblioteek of elders uit as om dit te koop.

[Voetnoot]

a Vir verdere wenke, sien die artikels “Werk verstandig met jou geld” in die Ontwaak! van Maart 2009 en “Jongmense vra . . . Hoe kan ek my uitgawes beheer?” in die Ontwaak! van Junie 2006.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel