Die Bybel se beskouing
Wat is die verstandige beskouing van geld?
‘GELD dien as ’n beskerming’, sê die Bybel (Prediker 7:12). Omdat dit vir kos, klere en behuising betaal, dien geld as ’n beskerming teen die ontberinge wat met armoede gepaardgaan. Ja, wat materiële dinge betref, kan geld feitlik enigiets koop. Dit “vind weerklank in alles”, sê Prediker 10:19.
God se Woord spoor ons aan om hard te werk sodat ons na ons behoeftes en dié van ons gesin kan omsien (1 Timoteus 5:8). Eerlike, harde werk bring tereg gevoelens van voldoening, waardigheid en veiligheid in ons voort.—Prediker 3:12, 13.
Daarbenewens help ons harde werk ons om op finansiële gebied vrygewig te wees. “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang”, het Jesus gesê (Handelinge 20:35). Ons ondervind sulke geluk wanneer ons ons geld vreugdevol gebruik om behoeftiges, veral mede-Christene, te help of om ’n geskenk vir ’n geliefde te koop.—2 Korintiërs 9:7; 1 Timoteus 6:17-19.
Jesus het sy volgelinge aangespoor om vrygewig te wees, nie net by uitsondering nie, maar as ’n gewoonte, as ’n lewenswyse. Hy het gesê: “Gee altyddeur” (Lukas 6:38). Dieselfde beginsel geld wanneer ons gee om die belange van God se Koninkryk te bevorder (Spreuke 3:9). Ja, ons vrygewigheid op hierdie gebied help ons om ‘vriende te maak’ met Jehovah en sy Seun.—Lukas 16:9.
Waak teen “die liefde vir geld”
Selfsugtige mense gee selde aan ander, en wanneer hulle dit wel doen, is dit dalk met ’n bedekte beweegrede. Hulle probleem is dikwels die liefde vir geld, wat, in teenstelling met hulle verwagtinge, gewoonlik hartseer meebring. “Die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge, en deur hierdie liefde na te streef, is party van die geloof af op ’n dwaalspoor gebring en het hulle hulleself oral met baie pyne deurboor”, sê 1 Timoteus 6:10. Waarom is die liefde vir geld so onbevredigend en selfs skadelik?
Om maar een ding te noem, ’n gierige persoon se begeerte na rykdom kan nooit bevredig word nie. “Iemand wat silwer liefhet, sal nie genoeg kry van silwer nie”, sê Prediker 5:10. Liefhebbers van geld ‘deurboor hulleself’ dus met oneindige frustrasie. Wat meer is, hulle gierigheid dra by tot swak verhoudings, ’n ongelukkige gesinslewe en selfs ’n tekort aan behoorlike rus. “Soet is die slaap van die een wat dien, of hy nou min of baie eet; maar die oorvloed wat aan die ryke behoort, laat hom nie toe om te slaap nie” (Prediker 5:12). Bowenal lei die liefde vir geld tot God se misnoeë.—Job 31:24, 28.
Bybelgeskiedenis en die sekulêre geskiedenis bevat baie voorbeelde van mense wat gesteel het, die reg verdraai het, hulle liggaam verkoop het, moord gepleeg het, ander verraai het en gelieg het—alles vir geld (Josua 7:1, 20-26; Miga 3:11; Markus 14:10, 11; Johannes 12:6). Gedurende sy aardse bediening het Jesus ’n “baie ryk” jong heerser genooi om hom te volg. Ongelukkig het die man hierdie wonderlike uitnodiging van die hand gewys omdat dit hom finansieel sou benadeel. In antwoord hierop het Jesus gesê: “Hoe moeilik sal dit tog wees vir dié wat geld het, om in die koninkryk van God in te gaan!”—Lukas 18:23, 24.
Gedurende die teenswoordige “laaste dae” moet Christene besonder waaksaam wees, want oor die algemeen is mense, soos voorspel is, “liefhebbers van geld” (2 Timoteus 3:1, 2). Ware Christene wat van hulle geestelike behoefte bewus bly, word nie meegesleur deur hierdie golf van gierigheid nie, want hulle besit iets baie beters as geld.
Iets beters as geld
Hoewel koning Salomo gesê het dat geld as ’n beskerming dien, het hy bygevoeg dat ‘wysheid as ’n beskerming dien’ omdat dit “die besitters daarvan in die lewe hou” (Prediker 7:12). Wat het hy bedoel? Salomo het hier na die wysheid verwys wat op juiste kennis van die Skrif en ’n heilsame vrees vir God gebaseer is. Hierdie goddelike wysheid is beter as geld en kan ’n mens help om tallose slaggate in die lewe te vermy en selfs van ’n vroeë dood red. Soos ’n kroon, verhef ware wysheid dié wat dit besit, en dwing dit respek by ander af (Spreuke 2:10-22; 4:5-9). En omdat dit ons help om God se guns te verkry, is dit al “’n boom van die lewe” genoem.—Spreuke 3:18.
Diegene wat ’n opregte begeerte het na sulke wysheid en gewillig is om daarna te soek, vind dat dit geredelik verkrygbaar is. “My seun, as jy . . . na begrip roep en na onderskeidingsvermoë jou stem verhef, as jy daarna bly soek soos na silwer en dit bly naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van Jehovah verstaan, en jy sal die kennis van God vind. Want Jehovah gee wysheid; uit sy mond kom kennis en onderskeidingsvermoë.”—Spreuke 2:1-6.
Omdat hulle meer waarde heg aan wysheid as aan geld, geniet ware Christene ’n mate van vrede, geluk en sekuriteit wat liefhebbers van geld ontwyk. Hebreërs 13:5 sê: “Laat julle lewenswyse vry wees van die liefde vir geld, terwyl julle tevrede is met die teenwoordige dinge. Want [God] het gesê: ‘Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie.’” Geld bied glad nie hierdie soort sekuriteit nie.
HET JY AL GEWONDER?
◼ Hoe dien geld as ’n beskerming?—Prediker 7:12.
◼ Waarom is goddelike wysheid beter as geld?—Spreuke 2:10-22; 3:13-18.
◼ Waarom moet ons die liefde vir geld vermy?—Markus 10:23, 25; Lukas 18:23, 24; 1 Timoteus 6:9, 10.