Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 10/09 bl. 22-25
  • Suksesverhale—Deel 2

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Suksesverhale—Deel 2
  • Ontwaak!—2009
  • Soortgelyke materiaal
  • Die soort ondersteuning wat tel
    Ontwaak!—1994
  • Slaan ag op waarskuwings—Dit maak ’n verskil
    Ontwaak!—2006
  • Nie eens ’n ysterlong kon keer dat sy preek nie
    Ontwaak!—1993
  • Sê vir hulle dat jy lief is vir hulle
    Ondervindinge van Jehovah se Getuies
Sien nog
Ontwaak!—2009
g 10/09 bl. 22-25

Suksesverhale—Deel 2

Soos “Suksesverhale—Deel 1” getoon het, kan Bybelbeginsels gesinne in tye van wanhoop stabiliteit gee.a Jehovah God belowe diegene wat volgens sy standaarde lewe: “Ek sal jou insig gee en jou onderrig in die weg wat jy moet gaan. Ek sal raad gee met my oog op jou.”—Psalm 32:8.

Ernstige finansiële probleme. Geldsake is dikwels die oorsaak van hewige huweliksgeskille. Maar Bybelbeginsels kan gesinne help om finansiële probleme in perspektief te sien. Jesus het gesê: “Hou op om julle te kwel oor julle siel, oor wat julle sal eet of wat julle sal drink, of oor julle liggaam, oor wat julle sal dra. . . . Julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.”—Matteus 6:25, 32.

Op bladsy 23 vertel Issachar, wat in die Verenigde State woon, hoe hy en sy gesin ernstige finansiële probleme die hoof gebied het nadat hulle huis deur die orkaan Katrina vernietig is.

Wanneer siekte ’n gesinslid teister. Feitlik alle mense word siek. Hulle toestand is dikwels tydelik en hulle word vinnig weer gesond. Maar sê nou ’n gesinslid kry ’n chroniese siekte? Die Bybel sê dat Jehovah diegene wat op ’n siekbed is, kan onderskraag (Psalm 41:1-3). Hoe kan Jehovah die gesin gebruik om sulke sorg te voorsien?

Op bladsy 24 vertel Hadjime, ’n man in Japan, hoe hy en sy dogters saamgewerk het om sy vrou, Noriko, te help nadat sy met ’n verskriklike siekte gediagnoseer is.

Wanneer ’n kind sterf. Een van die grootste tragedies wat ’n gesin kan tref, is wanneer ’n kind sterf. Jehovah belowe om die trane van droefheid wat deur sulke verskriklike verliese meegebring word, af te vee (Openbaring 21:1-4). Hy voorsien nou reeds vir die bedroefdes vertroosting.—Psalm 147:3.

Op bladsy 25 vertel Fernando en Dilma, wat in die Verenigde State woon, hoe die Bybel hulle die krag gegee het om die dood van hulle babadogtertjie te verwerk.

Die Bybel is ’n betroubare gids vir gesinne wat teëspoed ondervind, soos die verhale op die volgende bladsye toelig.

[Voetnoot]

a Sien bladsye 14-17 van hierdie tydskrif.

[Venster/Prente op bladsy 23]

Ernstige finansiële probleme

Soos vertel deur Issachar Nichols, Verenigde State

“Die orkaan Katrina het ons huis vernietig en net ’n betonblad agtergelaat. Die kollege waar ek gewerk het, was ’n maand en ’n half onder water.”

GEDURENDE die somer van 2005 het ek en my vrou, Michelle, saam met ons tweejarige dogtertjie, Sydney, in Bay St. Louis, Mississippi, VSA, gewoon. As Jehovah se Getuies het ek en Michelle die doelwit gehad om soveel moontlik in die Christelike bediening te doen. Ek was ’n beroepsonderwyser, en die kollege waar ek klas gegee het, was in nabygeleë New Orleans, Louisiana. My rooster het dit vir my moontlik gemaak om drie dae per week te werk en om baie van die oorblywende tyd te gebruik om ander van die Bybel te leer. Ons het ’n gerieflike roetine gehad. Toe het ons die nuus gekry dat die orkaan Katrina waarskynlik ons gebied sou tref. Ons het reëlings getref om die gebied onmiddellik te verlaat.

Toe die storm verby was, was ons huis in Bay St. Louis vernietig, asook die kollege in New Orleans waar ek klasgegee het. Versekeringsgeld en ’n staatstoelaag het dit vir ons moontlik gemaak om behuising te kry, maar ek het gesukkel om ’n betroubare bron van inkomste te vind. Boonop het my vrou ’n virusinfeksie weens die besoedelde water opgedoen. Haar immuunstelsel het verswak, en toe is sy deur ’n muskiet met die Wes-Nyl-virus besmet. Intussen het die versekeringskoste en die lewenskoste skerp gestyg.

Om by ons nuwe omstandighede aan te pas, het ons geleer om spaarsamiger te wees, selfs wat noodsaaklikhede betref. Ek moes minder kieskeurig wees oor die soort werk wat ek bereid was om te doen.

Ek moet erken dat dit nie vir ons maklik was toe ons ons besittings verloor het nie. Maar ons was dankbaar om te lewe. En die hele ondervinding het die feit beklemtoon dat materiële dinge beperkte waarde het. Trouens, ons is herinner aan Jesus se woorde: “Selfs wanneer iemand oorvloed het, spruit sy lewe nie voort uit die dinge wat hy besit nie.”—Lukas 12:15.

Ons het ook besef dat, ongeag hoe sleg ons oor ons verliese gevoel het, daar baie mense is wat meer verloor het—party het selfs hulle lewe verloor. Dit is een rede waarom ek onmiddellik ná die ramp begin het om met noodlenigingspogings te help en emosionele ondersteuning te gee aan ander wat verliese gely het.

Deur hierdie beproewing heen het Psalm 102:17 ons baie vertroos. Dit sê dat Jehovah God “hom beslis [sal] wend tot die gebed van dié wat alles ontneem is en hulle gebed nie [sal] verag nie”. As ’n gesin het ons beslis sy ondersteuning gevoel!

[Venster op bladsy 23]

Nadat die orkane Katrina en Rita die Golfkus van Amerika in 2005 getref het, het Jehovah se Getuies gou 13 noodlenigingsentrums, nege pakhuise en vier brandstofdepots opgerig. Byna 17 000 Getuievrywilligers het van die Verenigde State en 13 ander lande ingestroom om met die noodlenigingspogings te help. Hulle het duisende huise herstel.

[Venster/Prente op bladsy 24]

Wanneer siekte ’n gesinslid teister

Soos vertel deur Hadjime Ito, Japan

“Om saam te kook, was een van ons gunstelingtydverdrywe—totdat Noriko siek geword het. Nou kan sy nie deur haar mond eet of drink of selfs praat nie. Sy is aan ’n rolstoel gekluister en haal deur ’n respirator asem.”

IN Mei 2006 het my vrou, Noriko, dit moeilik begin vind om te praat. Daardie somer het sy begin sukkel om te eet en te drink. Teen September is sy gediagnoseer met amiotrofiese laterale sklerose (ALS)—’n aftakelende siekte wat die senuselle in die brein en die rugmurg aantas. Binne net vier maande het ons lewe heeltemal verander. En dit was maar net die begin van haar probleme.

Mettertyd het Noriko se tong sowel as haar regterhand verlam geraak. ’n Prosedure wat gastrostomie genoem word, het dit vir haar moontlik gemaak om deur ’n buisie gevoed te word, en ná ’n trageostomie—’n chirurgiese insnyding in die nek om die vloei van lug toe te laat—kon sy nie meer praat nie. Ek kan my nie indink hoe verpletterend dit vir Noriko moes gewees het nie, aangesien sy nog altyd so bedrywig was. Ons is Jehovah se Getuies, en tot op daardie stadium het Noriko en my dogters voltyds aan die Christelike bediening deelgeneem. Nou is Noriko van ’n respirator afhanklik om asem te haal, en sy is basies bedlêend.

Maar dit keer Noriko nie! Byvoorbeeld, sy woon Christelike vergaderinge by in ’n rolstoel waaraan die respirator vasgemaak is. Haar gehoor het agteruitgegaan, en daarom maak my dogter tydens die vergadering vir haar groot aantekeninge sodat sy by die program kan baat vind. En selfs al moes Noriko die voltydse bediening prysgee, skryf sy nog steeds vir mense briewe om hulle van die Bybel se boodskap van hoop te leer deur spesiale toerusting te gebruik wat op ons persoonlike rekenaar geïnstalleer is.—2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1-4.

Ons werk as ’n gesin saam om Noriko te help. Albei my dogters het van werk verander sodat hulle meer tyd kon hê om by die huis te help. Die drie van ons doen baie van die daaglikse takies wat Noriko altyd verrig het.

Wanneer ek soggens na Noriko kyk, lyk sy soms vir my moeg. Dan dink ek: ‘Ek sal graag vir haar wil sê om vandag ’n bietjie minder te doen.’ Maar Noriko wil ander van die Bybel se boodskap vertel. Wanneer ek die rekenaar vir Noriko regkry, blink haar oë! Wanneer sy skryf, lyk dit of sy beter voel. Ek het die waarde daarvan gesien om “altyd baie [te hê] om in die werk van die Here te doen”.—1 Korintiërs 15:58.

Die ondervinding van Jason Stuart, wat aan ALS gelei het, in die Ontwaak! van Januarie 2006, het Noriko baie gehelp om nie moed te verloor nie. Trouens, toe lede van die hospitaalpersoneel wou weet waarom sy so ’n positiewe gesindheid het, het Noriko vir hulle van die artikel vertel, en ons het vir hulle afskrifte daarvan gegee. Om ander van haar geloof te leer, onderskraag my vrou grootliks.

Ek en Noriko is al 30 jaar getroud, maar gedurende die afgelope drie jaar het ek dinge omtrent haar begin waardeer wat ek voorheen as vanselfsprekend aangeneem het. Ek is so bly dat ek met haar getrou het!

[Venster/Prente op bladsy 25]

Wanneer ’n kind sterf

Soos vertel deur Fernando en Dilma Freitas, Verenigde State

“Die trauma van ’n kind se dood is iets wat ’n mens eenvoudig nie kan verduidelik nie. Daar kan geen groter pyn wees nie.”

ONS dogter, wat ons Precious genoem het, is op 16 April 2006 oorlede. Sy was maar net tien dae oud. In omtrent die derde maand van die swangerskap, is daar vasgestel dat ons ongebore kind ’n ernstige hartkwaal het. Later het dit duidelik geword dat sy kort ná die geboorte sou sterf—indien sy hoegenaamd sou lewe. Dit was vir ons uiters moeilik om te aanvaar. Ons het drie gesonde kinders gehad. Ons kon nie glo dat ons baba sou sterf nie.

Ná Precious se geboorte het ’n ervare spesialis in chromosoomafwykings haar gediagnoseer met ’n seldsame siekte wat Trisomie 18 genoem word en net ongeveer 1 uit 5 000 babas aantas. Dit was duidelik dat sy nie lank sou lewe nie. Ons het heeltemal hulpeloos gevoel omdat ons so min kon doen. Die een ding wat ons wel kon doen, was om tydens haar kort lewe saam met haar te wees. En dit is wat ons gedoen het.

Ons is so dankbaar vir die tien dae wat ons saam met Precious gehad het. Gedurende daardie tyd het ons en ons drie dogters ’n band met haar gevorm. Ons het haar vasgehou, met haar gepraat, vir haar drukkies gegee, haar gesoen en soveel foto’s van haar geneem as wat ons kon. Ons het selfs gewonder na wie in die gesin sy die meeste trek. Die spesialis wat Precious met die siekte gediagnoseer het, het ons elke dag in die hospitaal besoek. Hy het saam met ons gehuil en vir ons gesê hoe jammer hy is. Hy het selfs ’n skets van Precious geteken terwyl hy met ons gepraat het, sodat hy haar kon onthou. Hy het vir ons ’n kopie daarvan gegee.

As Jehovah se Getuies glo ons vas dat God, soos die Bybel leer, paradystoestande op ons aarde sal herstel en dat hy vurig daarna verlang om dié wat gesterf het—insluitende babas soos Precious—tot lewe op die aarde op te wek (Job 14:14, 15; Johannes 5:28, 29). Ons sien uit na die dag wanneer ons haar weer in ons arms sal vashou. Elke keer wanneer ons die woord “paradys” hoor, verbly daardie hoop ons harte! Intussen put ons vertroosting uit die feit dat Precious in God se geheue is en nie meer ly nie.—Prediker 9:5, 10.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel