Jy kan sukses behaal as ’n enkelouer
DAAR is al gesê dat die tweeouergesin, as dit ’n dier was, waarskynlik op die lys van bedreigde spesies sou wees. Dink hieroor na: In die Verenigde State alleen is daar meer as 13 miljoen enkelouers, waarvan die oorgrote meerderheid enkelmoeders is. Navorsing toon dat ongeveer die helfte van alle kinders in daardie land ten minste vir ’n deel van hulle jeug in ’n enkelouergesin sal wees.
As jy ’n enkelouer is, wees verseker dat jou gesinslewe suksesvol kan wees. Probeer om die volgende wenke toe te pas.
◼ Vermy negatiewe denke. Die Bybel sê: “Al die dae van die geteisterde is sleg; maar wie vrolik van hart is, het voortdurend ’n feesmaal” (Spreuke 15:15). Jou lewe lyk dalk nie vir jou soos ’n fees nie. Maar soos hierdie vers te kenne gee, het vrolikheid meer met jou hart te doen as met jou omstandighede (Spreuke 17:22). Jy sal niks bereik deur aan jou kinders as verlore of aan jou huisgesin as onherstelbaar beskadig te dink nie. Sulke denke sal jou net ontmoedig en dit vir jou moeiliker maak om jou ouerlike pligte na te kom.—Spreuke 24:10.
Wenk: Maak ’n lys van enige negatiewe stellings waarmee jy jou situasie beskryf, en skryf dan langs elkeen ’n positiewe stelling neer om dit te vervang. Vervang byvoorbeeld “Dis net te veel vir my” met “Ek kan my verantwoordelikheid as enkelouer nakom en die hulp kry wat ek nodig het.”—Filippense 4:13.
◼ Stel ’n begroting op. Die beursie is waar baie enkelouers—veral enkelmoeders—die swaarste getref word. Maar in sommige gevalle kan finansiële druk verlig word deur die vermoë om doeltreffend te begroot. ’n Bybelspreuk sê: “Skerpsinnig is die een wat die rampspoed gesien en hom verberg het” (Spreuke 22:3). Om finansiële “rampspoed” te vermy, is beplanning en voorsorg noodsaaklik.
Wenk: Stel op papier ’n begroting op. Hou ’n maand lank rekord van jou uitgawes en vind uit waaraan jy jou geld spandeer. Doen ’n deeglike ontleding van jou koopgewoontes. Koop jy te veel op krediet? Koop jy vir jou kinders dinge om te vergoed vir die feit dat daar nie ’n tweede ouer is nie? As jou kinders oud genoeg is, kan julle saam bespreek hoe geld bespaar kan word. Dit sal vir hulle goeie opleiding wees. En dalk het hulle selfs ’n paar praktiese idees!
◼ Behou ’n vreedsame verhouding met jou eksman of -vrou. As julle gesamentlike toesig het, moet jy daarvan bewus wees dat dit ongesond is om jou gewese huweliksmaat voor jou kind af te kraak—of om jou kind as ’n spioen te gebruik om uit te vind wat in jou eksman of -vrou se lewe aangaan.a Dit is baie beter om ’n gees van samewerking tussen jou en jou gewese huweliksmaat te bevorder wanneer dit kom by dissipline of enige ander kwessies wat die welsyn van jou kind raak. Die Bybel sê: “Doen alles in jou vermoë om in vrede met almal te lewe”—en dit sluit jou eksman of -vrou in.—Romans 12:18, Today’s English Version.
Wenk: Behandel jou gewese huweliksmaat soos jy ’n werksmaat sal behandel wanneer daar weer ’n meningsverskil ontstaan. By die werk sal jy probeer om met almal ’n vreedsame verhouding te hê—selfs met dié wat jy nie juis bewonder nie. Probeer om dieselfde soort verhouding met jou eksman of -vrou te hê. Die twee van julle stem dalk nie altyd saam nie, maar elke vonk hoef nie ’n vuur aan te steek nie.—Lukas 12:58.
◼ Stel ’n goeie voorbeeld. Vra jou af: ‘Watter waardes en gesindhede wil ek hê my kinders moet aanneem? Weerspieël ek daardie waardes en gesindhede in my eie lewe?’ Byvoorbeeld, is jy oor die algemeen gelukkig hoewel jy ’n enkelouer is? Of laat jy toe dat jou omstandighede ’n skadu werp oor jou uitkyk op die lewe? Is jy nog steeds gegrief oor die manier waarop jou eksman of -vrou jou behandel het? Of het jy die vermoë om aan te gaan ondanks onregte waaroor jy geen beheer het nie? (Spreuke 15:18). Hierdie situasies is nou wel nie maklik nie, en jy sal hulle nie volmaak hanteer nie. Maar jou kinders sal waarskynlik dieselfde gesindhede oor die lewe aanneem wat hulle jou sien openbaar.
Wenk: Skryf drie eienskappe neer wat jy wil hê elkeen van jou kinders aan die dag moet lê wanneer hulle volwassenes is.b Skryf langs elke eienskap wat jy nou kan doen om jou kind deur middel van jou voorbeeld te help om dit aan te kweek.
◼ Sien om na jouself. Weens die gejaagdheid van die lewe, is dit baie maklik om jou fisiese en emosionele gesondheid te verwaarloos. Moenie in daardie strik trap nie! Dit is noodsaaklik dat jy in jou “geestelike behoefte” voorsien! (Matteus 5:3). Onthou—’n motor sonder brandstof sal nie ver kom nie. En tensy jy tyd neem om “brandstof” in te neem, sal jy ook nie.
Daar is ook “’n tyd om te lag” en “’n tyd om rond te huppel” (Prediker 3:4). Ontspanning is nie ’n mors van tyd nie. Dit verkwik jou en hernieu jou krag sodat jy kan voortgaan om jou rol as enkelouer te vervul.
Wenk: Praat met ander enkelouers oor hoe hulle na hulleself omsien. Kan jy, terwyl jy “seker . . . maak van die belangriker dinge”, ook ten minste ’n bietjie tyd elke week opsysit om iets te doen wat bloot vir jou lekker is? (Filippense 1:10). Skryf neer wat jy graag wil doen en wanneer jy dit dalk sal doen.
[Voetnote]
a Vir verdere inligting, sien die artikel “’n Huis in twee geskeur—Die uitwerking van egskeiding op adolessente”, op bladsye 18-21 van hierdie tydskrif.
b ’n Paar voorbeelde is “respek”, “redelikheid” en “vergewensgesindheid”, wat op bladsye 6-8 van hierdie tydskrif bespreek word.