Ons Beskou Die wêreld
◼ “Deesdae hou nege uit tien rampe verband met die klimaat. Oor die afgelope twee dekades het opgetekende rampe van 200 per jaar tot meer as 400 per jaar verdubbel.”—JOHN HOLMES, DIE VERENIGDE NASIES SE ONDERSEKRETARIS-GENERAAL VIR HUMANITÊRE AANGELEENTHEDE EN KOÖRDINEERDER VAN NOODLENIGING.
Menseregte vir inheemse volke
Die Verenigde Nasies se Verklaring van die Regte van Inheemse Volke, wat in 2007 aangeneem is, is nou vertaal in Maja en Nahuatl, die twee algemeenste inheemse tale in Mexiko. “Ten minste 10 miljoen mense [in Mexiko] is nie bewus van hulle regte nie”, sê die koerant El Universal. “Gevolglik besef hulle dikwels nie dat hulle misbruik word nie.” Die vertalings sal hierdie mense blykbaar in staat stel om seker te maak dat hulle basiese menseregte gerespekteer word.
Maagdelikheid te koop
Sosioloë is geskok oor sommige Poolse jongmense se bereidwilligheid om hulle eerste seksuele ervaring in ruil vir geld te hê, berig die tydskrif Newsweek Polska. “’n Eenvoudige boodskap bereik jongmense van alle kante: alles is te koop”, sê die sielkundige Jacek Kurzępa van die Universiteit van Zielona Góra. ’n Toenemende aantal jongmense veil selfs hulle maagdelikheid op die Internet op. Die prys wat jongmense egter vir so ’n besluit betaal, is hoog. “Hierdie besluit het ’n uitwerking op die res van [’n mens] se lewe en die toekomstige verhouding met ’n lewensmaat”, sê Kurzępa.
Vroeë stedelike beskawings in die Amasone
Uitgestrekte dele van Suid-Amasonië wat glo ongerepte oerwoud is, het moontlik eens op ’n tyd stedelike gemeenskappe bevat wat “deur groot mure omring is”. Hierdie gevolgtrekking is deur antropoloë gemaak wat in Mato Grosso, Brasilië, werk. Daar het hulle “netwerke van ommuurde stede en kleiner dorpe” ontdek wat onder tropiese woude toegegroei is en ’n gebied van moontlik 30 000 vierkante kilometer beslaan. Party van die dorpe was 60 hektaar groot. ’n Verslag deur antropoloë van die Universiteit van Florida, wat die ontdekking gemaak het, sê dat die dorpe “uit omstreeks 1250 tot 1650 dateer, toe Europese koloniste en die siektes wat hulle gebring het, waarskynlik die meeste van die inwoners uitgewis het”.
Plante bevorder herstel ná operasies
Daar word al lank vermoed dat kontak met die natuur stres kan verminder, positiewe gevoelens kan meebring en siekes se lyding kan verlig. Nuwe navorsing bevestig hierdie mening. “Party pasiënte is gedurende die hersteltydperk ná hulle operasie in hospitaalkamers met plante geplaas en ander in kamers sonder plante”, verduidelik Science Daily. Pasiënte wat plante in hulle kamers gehad het, het minder pyn ondervind, aansienlik minder pynstillers nodig gehad, ’n beter hartklop en bloeddruk gehad en was meer tevrede met hulle kamer as die ander. Ongeveer 93 persent van diegene wat plante in hulle kamer gehad het, het gesê dat dit die “positiefste” aspek van hulle kamer was.