Van ons lesers
Jongmense vra . . . Sê nou my broer of suster het selfmoord gepleeg? (Junie 2008) Voordat my ouer suster gesterf het, het sy vyf jaar lank aan depressie gely. Omdat ek gesien het watter ellende haar siekte veroorsaak het, het ek gedink: ‘Wat ’n jammerlike lewe het sy tog gehad!’ Maar die Ontwaak!-artikel het voorgestel dat ons aan die aangename herinneringe dink. Toe ek aan my aangename herinneringe gedink het, het ek begin besef dat my suster in werklikheid nie “’n jammerlike lewe” nie, maar ’n gelukkige lewe gehad het, want daar was meer gelukkige tye as swaar tye.
S.Y., Japan
Jongmense vra . . . Waarom vertrou my ouers my nie? (April 2008) Toe ek die Bybelbeginsels in die Ontwaak! gelees en toegepas het, het ek geleer dat om vertroue op te bou en volwassenheid te bereik soos ’n stel trappe is, en nie soos ’n deur waardeur ’n mens in ’n oomblik kan loop nie. As ek meer vryheid wou hê, moes ek eers aan my ouers bewys dat ek betroubaar is. Ek moes my takies afhandel en my huiswerk doen. Dankie vir artikels soos dié.
T.L., Verenigde State
Die uitdagings van albinisme (Julie 2008) As iemand wat met hierdie toestand saamleef, was ek eers bly om die artikel te sien. Maar ek was ontsteld om te sien hoe die woord “albino” oor en oor in die artikel gebruik word. Dit is al op baie neerhalende maniere gebruik om haat teenoor mense met hierdie toestand uit te spreek.
A.L., Verenigde State
“Ontwaak!” antwoord: Ons vra om verskoning as ons van ons lesers hierdeur ontstel het. Ons het die woord “albino” in sy mediese konteks gebruik. Maar ons erken dat party hierdie term al op ’n beledigende manier gebruik het. Nietemin aanvaar baie mense met albinisme hierdie woord en neem hulle nie aanstoot wanneer dit gebruik word nie. Dit was beslis nie ons bedoeling om enigiemand in ’n slegte lig te stel nie.
Dankie dat julle hierdie artikel gepubliseer het, want soos John, is ek ook ’n albino. Ek het dit baie waardeer om ’n akkurate, feitelike, weldeurdagte, opvoedkundige en leersame artikel oor albinisme te lees. Danksy hierdie artikel het my vriende ’n beter begrip van my toestand.
T.M., Verenigde State
Liefde kragtiger as ’n orkaan! (Augustus 2008) Artikels soos dié herinner my daaraan om my nie oor die toekoms te kwel nie, maar om ten volle op God te vertrou. Ek het drie jaar gelede broederlike geneentheid ervaar toe ’n vloed my ongelowige ouers se huis vernietig het. Jehovah se Getuies van die plaaslike gemeente het hulle gou te hulp gesnel. Ek dank Jehovah dat ek deel van sy organisasie is.
D.W., Pole
Die wonders van mielies (Augustus 2008) Ons gesin het mielies in ons groentetuin geplant, maar die pitte was nooit ewe groot nie. Danksy hierdie artikel weet ons nou waarom. Ons kon net vyf of ses saailinge plant, en dit is dus nie bestuif soos dié in ’n groot landery nie. Omdat ons verlede jaar elke sydraad van die “syroete” sorgvuldig bestuif het, kon ons soet, smaaklike mielies met pitte van dieselfde grootte oes. Baie dankie.
R.W., Japan