Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 12/08 bl. 23-25
  • Paua—opaal van die see

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Paua—opaal van die see
  • Ontwaak!—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Biologiese wonder
  • Vele gebruike van die paua
  • Paua-pêrels
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2008
  • Die samestelling van ’n skulp
    Ontwaak!—1991
  • Swart pêrels—Juwele uit die Suidsee
    Ontwaak!—2005
  • Juwele op die strand
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—2008
g 12/08 bl. 23-25

Paua—opaal van die see

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN NIEU-SEELAND

Onder die seewater beweeg ’n groot skulpdier stadig oor die rotse terwyl dit vreet aan seegras wat in die seestrome wieg. Die buitekant van sy oninteressante skulp, aangepak met kalk en klein seediertjies, verberg ’n reënboogkleurige binnekant—skakerings van koelblou, seegroen en donkerpers vloei in sagte geel en pienk in, met flitse van goud en silwer tussenin.

HIERDIE merkwaardige dier is ’n paua, ’n soort perlemoen wat uniek is aan Nieu-Seeland. Hierdie spesie en ander soorte perlemoen lewe onderwater langs rotsagtige kuslyne. Hoewel die paua gesog is weens die helder kleure aan die binnekant van die skulp, waarvan pragtige juweliersware gemaak kan word, is sy vleis vir baie ’n heerlike lekkerny. Daarbenewens kan glansende pêrels daarin gekweek word.

Die paua is een van die meer as 100 perlemoenspesies wat regoor die wêreld gevind word. Daar is spesies wat uniek is aan Suid-Afrika en Kalifornië, VSA. Perlemoen word awabi genoem in Japan, muttonfish in Australië en ormer op die eiland Guernsey, in die Engelse Kanaal. Maar dit is net in die koue, suidelike waters van die Stille Suidsee waar Nieu-Seeland se eie helderkleurige perlemoen gevind kan word, wat die paua (Haliotis iris) genoem word.

’n Biologiese wonder

Binne-in die paua se skulp bou afwisselende lae proteïen en kalsium op wat ligstrale in skitterende reënboogkleure breek, baie soos opale dit doen. Daarom is die paua al die opaal van die see genoem. Wanneer die seetemperatuur daal, laat dit die perlemoen “hiberneer” of aan die slaap raak. Die lae van sy skulp neem dan langer om te groei. Die verskeidenheid kleure, meen ’n paua-deskundige, is moontlik die gevolg van die voedingstowwe in die water sowel as die verskillende kleure van die seegras wat die perlemoen vreet.

Pauas is selektief oor wat hulle eet, en hulle is kieskeurig wanneer dit kom by hulle bure. Hulle sal nie naby die stekelrige seekastaiing, of kina, woon nie omdat hulle om dieselfde soorte seegras meeding. Die seester is ook ’n gevaarlike vyand. ’n Paar van hulle kan ’n kolonie pauas uitroei. Die geslepe seester plaas ’n tentakel op die paua se ry asemhalingsopeninge, en versmoor hom sodoende. Dan, wanneer die paua van die rots afval, het die seester ’n maklike ete.

Vele gebruike van die paua

Hoewel die paua se swart buitekant nie baie aantreklik is nie, is sy vleis al eeue lank gesog onder die Maori-inboorlinge van Nieu-Seeland. Die eetbare deel van die paua is ’n groot spier, of voet, waarmee die dier oor sy rotsagtige omgewing beweeg. Die Maori het ook die skulp as lokaas vir vis en as versiering gebruik, asook vir juweliersware en as oë in hulle snywerk.

Die paua is nou gewilder as ooit tevore. Sommige meen dat ’n mens nie Nieu-Seeland kan besoek sonder om paua-juweliersware te koop nie.

Vandag word ’n aansienlike hoeveelheid pauas geoes deur duikers—wat geen onderwaterasemhalingsapparaat gebruik nie. Dit het ’n multimiljoenrand-uitvoerbedryf geword. ’n Kwotastelsel is ingestel om die paua se oorlewing in Nieu-Seeland se waters te verseker. Die meeste vleis word vir die Asiatiese mark ingelê, en van die vleis word gevries en na Singapoer en Hongkong gestuur, waar paua ’n gesogte lekkerny is. Dit word dikwels rou en opgesny bedien, soos soesji. Ten spyte van die oorvloed pauas in hulle waters het baie Nieu-Seelanders nog nooit die vleis geproe nie, weens die oorsese aanvraag daarna.

Om in die toenemende internasionale aanvraag na paua te help voorsien, gebruik verskaffers nou moderne waterboerdery. Hierdie mensgemaakte produksiemetode was suksesvol met die kweek van ander perlemoen in Australië, Japan en die Verenigde State. Hierdie nuwe tegnieke maak dit moontlik om pauas in temperatuurbeheerde tenks te kweek, ver van hulle natuurlike mariene omgewing af.

Gekweekte pauas is net so gulsig soos dié in die natuur. Hulle kan weekliks tot die helfte van hulle liggaamsgewig eet. Verbasend genoeg, pauas is ook redelik atleties. As hulle omgekeer word, kan hulle vinnig weer regop draai. Dit is maklik om pauas te kweek. Een deskundige sê: “Pauas is wonderlike diere om te teel omdat hulle so gedwee en goedgemanierd is—en hulle praat nooit terug nie!”

Paua-pêrels

Pauas is nie net ’n bron van skulp-juweliersware en heerlike voedsel nie, maar kan ook glansende pêrels voortbring. Natuurlike pêrels kom selde voor in pauas wat in die see lewe. Maar hulle kan gekweek word deur middel van ’n tegniek wat aanvanklik in die 1890’s deur die Franse wetenskaplike Louis Boutan ontwikkel is. Die resultaat is ’n halfronde juweel wat dieselfde skouspelagtige kleure as die skulp het. Hoe werk hierdie tegniek?

’n Klein voorwerpie word in die paua ingeplant, gewoonlik op drie plekke—twee aan die sykante en een aan die agterkant. Hierdie voorwerpies sal geleidelik met lae perlemoen bedek word, wat kalsiumkarbonaat en kongiolin bevat. Ná ten minste 18 maande—en duisende lae—word ’n klein pêrel voortgebring. (Sien die venster hieronder.) Dit neem tot ses jaar vir ’n groot pêrel om te vorm. Sowat 1 uit 50 pauas sal ’n pêrel voortbring wat byna volmaak is. Dit is ’n juweel met ’n gladde oppervlak, skitterende kleur en uitsonderlike glans.

Navorsers kon tot dusver nie ’n ronde pêrel in ’n paua kweek nie. Dit is omdat ’n paua, anders as ’n oester, ’n spier in sy maag het wat enige korreltjie uitspoeg wat in sy spysverteringstelsel geplaas word. Dalk sal iemand eendag die geheim ontdek om daardie gesogte sferiese pêrel te skep.

In die tussentyd kan ons die produkte van hierdie veelsydige skulpdier geniet—glansende juweliersware, ’n lekkerny om aan te smul en ’n skulp met pragtige kleure. Is ons nie dankbaar teenoor God omdat hy ons so ’n wonderlike geskenk gegee het nie?—Jakobus 1:17.

[Venster/Prent op bladsy 25]

’N DUURSAME DOP

Die hoofbestanddeel van die paua-skulp is kalsiumkarbonaat. Hierdie stof is dieselfde stof waarvan ’n stafie kryt gemaak word. Maar die skulp van die paua is ten minste 30 keer sterker as kryt!

Die paua verkry kalsiumkarbonaat van seewater en vervaardig lagies perlemoen daarmee wat mikroskopies dun is. Dit maak die skulp nie net ongelooflik hard nie, maar maak dit ook kleurvol en gee dit ’n glans. Die lagies word saamgeheg met ’n gom van proteïen en suiker wat kongiolin genoem word. Hierdie kragtige kleefstof dra ook by tot die skulp se spieëlgladde afwerking.

Wetenskaplikes kon tot dusver nie die gom of die strukturele proses namaak nie. Die skulp kan enige kraak heelmaak en het ten minste vyf meganismes om te voorkom dat dit breek. Die paua is waarlik ’n wonder van goddelike ingenieurswese en ontwerp.

[Erkenning]

© Humann/gt photo

[Foto-erkennings op bladsy 23]

Links bo: © K.L. Gowlett-Holmes; regs bo: Marcus Byrne/Photographers Direct

[Foto-erkenning op bladsy 25]

Silverdale Marine Hatchery, New Zealand

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel