Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 7/08 bl. 19-21
  • Hoe kan ek dit geniet om God te aanbid?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan ek dit geniet om God te aanbid?
  • Ontwaak!—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Uitdaging #1: Bybelstudie
  • Uitdaging #2: Deelname aan die bediening
  • Uitdaging #3: Bywoning van Christelike vergaderinge
  • Hoe kan ek my aanbidding van God genotvol maak?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
  • Waarom stry ons altyd?
    Ontwaak!—2010
  • Waarom moet ek Christelike vergaderinge bywoon?
    Ontwaak!—2012
  • Waarom stry ons altyd?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
Sien nog
Ontwaak!—2008
g 7/08 bl. 19-21

Jongmense vra

Hoe kan ek dit geniet om God te aanbid?

Josh, 16, lê uitgestrek op sy bed. Sy ma staan in die deur. “Joshua, staan op!” sê sy streng. “Jy weet dis ’n vergaderingaand!” Josh word as een van Jehovah se Getuies grootgemaak, en die bywoning van Christelike vergaderinge is ’n gereelde deel van die gesin se aanbidding. Maar deesdae voel Josh nie juis lus om te gaan nie.

“Ag, Ma”, kla hy, “moet ek regtig gaan?”

“Hou op kerm en trek aan”, antwoord sy. “Ek wil nie weer laat wees nie!” Sy draai om en begin wegstap.

Terwyl sy nog binne hoorafstand is, sê Josh voor hy hom kom kry: “Kyk Ma, dis dalk Ma se godsdiens, maar dit beteken nie dis myne nie.” Hy weet sy ma het dit gehoor, want hy het gehoor dat sy gaan stilstaan het. Dan, sonder om te antwoord, loop sy verder.

Josh voel effens skuldig. Dit is nie dat hy sy ma wil seermaak nie. Maar hy wil ook nie om verskoning vra nie. Al wat hy kan doen, is . . . 

Josh staan met ’n sug op en begin aantrek. Dan sê hy, meer vir homself as vir sy ma: “Een of ander tyd sal ek my eie besluit moet maak. Ek is nie soos die ander by die Koninkryksaal nie. Ek is nou maar net nie uitgeknip om ’n Christen te wees nie!”

HET jy al ooit soos Josh in hierdie situasie gevoel? Voel dit soms vir jou asof jy aan Christelike bedrywighede deelneem net omdat jy moet, terwyl ander dit geniet? Byvoorbeeld:

◼ Voel Bybelstudie vir jou soos net nog huiswerk?

◼ Maak dit jou benoud om van deur tot deur te gaan?

◼ Is jy dikwels verveeld by Christelike vergaderinge?

As jy op enige van hierdie vrae “ja” geantwoord het, moet jy nie ontmoedig voel nie. Met ’n paar aanpassings kan jy leer om dit te geniet om God te dien. Kom ons kyk hoe.

Uitdaging #1: Bybelstudie

Waarom dit nie maklik is nie. Dalk voel jy dat jy eenvoudig nie die soort is wat kan sit en studeer nie. Jy meen dalk dat jy nie lank kan konsentreer nie—dat dit moeilik is om stil te sit en aandag te skenk! Het jy dan nie al genoeg om vir die skool te studeer nie?

Waarom jy dit moet doen. Die Bybel is nie net deur God geïnspireer nie, maar is ook “nuttig om mense te leer en te help en hulle tereg te wys en hulle te wys hoe om te lewe” (2 Timoteus 3:16, Contemporary English Version). Om die Bybel te studeer en te peins oor wat jy lees, kan ’n hele nuwe wêreld vir jou open. Kom ons wees eerlik: Niks wat die moeite werd is, word sonder harde werk bereik nie. As jy ’n sekere soort sport goed wil speel, moet jy die reëls leer en die spel gereeld speel. As jy fiks wil word, moet jy oefen. As jy oor jou Skepper wil leer, moet jy God se Woord bestudeer.

Wat party van jou portuurs sê. “Ek het by ’n kruispad in my lewe gekom toe ek hoërskool toe is. Die kinders het allerhande verkeerde dinge gedoen, en ek moes ’n paar besluite neem: ‘Is dit wat ek wil doen? Leer my ouers my werklik die waarheid?’ Ek moes self uitvind.”—Tshedza.

“Ek het altyd geglo dat wat ek geleer het, die waarheid is, maar ek moes dit aan myself bewys. Ek moes dit my eie godsdiens maak—dit moes meer as net ons gesin se godsdiens wees.”—Nelisa.

Wat jy kan doen. Stel jou eie, persoonlike studierooster op volgens jou omstandighede. Dan kan jy kies watter onderwerpe jy wil ondersoek. Waar kan jy begin? Maak gerus ’n deeglike studie van die Bybel en ontleed jou opvattings, dalk met behulp van ’n boek soos Wat leer die Bybel werklik?a

Aksieplan. Om mee te begin, merk twee of drie Bybelonderwerpe hieronder waaroor jy meer wil leer—of, as jy wil, skryf ’n paar van jou eie neer.

□ Is daar ’n God?

□ Hoe kan ek seker wees dat die Bybelskrywers deur God geïnspireer is?

□ Waarom moet ek eerder in die skepping as in evolusie glo?

□ Wat is God se Koninkryk, en hoe kan ek bewys dat dit bestaan?

□ Hoe kan ek my opvatting oor wat by die dood gebeur, verduidelik?

□ Waarom moet ek oortuig wees dat daar ’n opstanding sal wees?

□ Hoe kan ek seker wees watter godsdiens die ware godsdiens is?

□ ․․․․․

Uitdaging #2: Deelname aan die bediening

Waarom dit nie maklik is nie. Om met ander oor die Bybel te praat—of ’n skoolmaat teë te kom terwyl jy dit doen—kan jou skrikkerig laat voel.

Waarom jy dit moet doen. Jesus het sy volgelinge beveel: “Maak dissipels . . . , en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20). Maar daar is nog redes waarom jy dit moet doen. Studies toon dat die oorgrote meerderheid tieners op sommige plekke in God en in die Bybel glo. Tog het daardie selfde jongmense geen ware hoop vir die toekoms nie. Deur jou studie van die Bybel het jy juis die inligting waarna jou portuurs soek en wat hulle nodig het!

Wat party van jou portuurs sê. “Ek en my vriend het doeltreffende inleidings voorberei, en ons het geleer hoe om besware te oorkom en herbesoeke te doen. Toe ek meer in my bediening begin doen het, het ek dit meer begin geniet.”—Nelisa.

“Een Christensuster het my regtig baie gehelp! Sy is ses jaar ouer as ek en sy neem my in die bediening uit; soms gaan eet ons saam ontbyt. Sy het vir my bemoedigende tekste gewys wat my gehelp het om my denke reg te stel. Danksy haar wonderlike voorbeeld toon ek nou groter belangstelling in ander mense. Ek sal haar nooit genoeg kan bedank nie!”—Shontay.

Wat jy kan doen. Met jou ouers se toestemming kan jy iemand in jou gemeente wat ouer as jy is, vra of jy saam met hulle aan die bediening kan deelneem (Handelinge 16:1-3). Die Bybel sê: “Deur yster word yster geslyp. So slyp een man die aangesig van ’n ander” (Spreuke 27:17). Dit hou baie voordele in om te assosieer met oueres wat ’n skat van ervaring het. “Dit is eintlik ’n verligting om saam met ouer mense te wees”, sê die 19-jarige Alexis.

Aksieplan. Skryf hieronder die naam van iemand in jou gemeente, buiten jou ouers, wat jou in die bediening kan help.

․․․․․

Uitdaging #3: Bywoning van Christelike vergaderinge

Waarom dit nie maklik is nie. Nadat jy die hele dag in ’n klaskamer was, voel dit dalk na ’n ewigheid om ’n uur of twee na Bybeltoesprake te sit en luister.

Waarom jy dit moet doen. Die Bybel maan Christene: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat soos party die gewoonte het nie, maar mekaar aanmoedig, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”—Hebreërs 10:24, 25.

Wat party van jou portuurs sê. “Dit is absoluut noodsaaklik om vir gemeentelike vergaderinge voor te berei. Soms moet jy jouself eenvoudig motiveer. Wanneer jy wel voorberei, geniet jy die vergaderinge omdat jy weet wat bespreek word, en jy kan selfs daaraan deelneem.”—Elda.

“Ek het op ’n stadium begin besef dat ek die vergaderinge waarby ek kommentaar gelewer het, baie interessanter gevind het.”—Jessica.

Wat jy kan doen. Neem die tyd om vooraf voor te berei, en lewer ’n kommentaar, as jy kan. Dit sal jou help om meer deel te voel van wat aangaan.

Om toe te lig: Wat geniet jy die meeste—om na ’n sport op televisie te kyk of om dit op die veld te speel? Natuurlik is dit baie lekkerder om ’n deelnemer te wees as ’n toeskouer. Kan jy Christelike vergaderinge dalk ook so probeer benader?

Aksieplan. Skryf in die ruimte hieronder ’n tyd neer wanneer jy selfs net 30 minute elke week daaraan kan bestee om vir ’n gemeentelike vergadering voor te berei.

․․․․․

Talle jongmense sien hoe waar die woorde van Psalm 34:8 is, wat sê: “Smaak en sien dat Jehovah goed is.” Hoe bevredigend is dit om te hoor van ’n heerlike gereg? Is dit nie beter om die kos self te proe nie? Dit is dieselfde wanneer dit kom by die aanbidding van God. Smaak en sien self hoe bevredigend dit is om aan geestelike bedrywighede deel te neem. Die Bybel sê dat die een wat nie net ’n hoorder van die werk is nie, maar ’n dader, “gelukkig [sal] wees deurdat hy dit doen”.—Jakobus 1:25.

Nog artikels uit die reeks “Jongmense vra” kan gevind word op die webwerf www.watchtower.org/ype

[Voetnoot]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

IETS OM OOR TE DINK

◼ Waarom lyk geestelike bedrywighede dalk vir ’n tiener vervelig?

◼ Aan watter een van die drie aspekte van aanbidding wat in hierdie artikel bespreek is, wil jy werk, en hoe gaan jy dit doen?

[Prent op bladsy 20, 21]

As jy fisies fiks wil word, moet jy oefen. As jy geestelik fiks wil word, moet jy God se Woord bestudeer

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel