Wat kan skeef loop?
DIT is onrealisties om te verwag dat ’n huwelik sonder enige probleme sal wees. Selfs huweliksmaats wat baie goed by mekaar pas, pas immers nie volmaak by mekaar nie. Probleme van die een of ander aard is dus onvermydelik. Net soos roes metaal onder ’n laag verf kan wegvreet, kan ’n aantal faktore ’n huwelik geleidelik afbreek. Om te verstaan wat gedoen kan word om ’n huwelik te verbeter, moet ons eers kyk na van die dinge wat kan skeef loop.
Tye van groot spanning
Die Bybel het voorspel dat baie mense in ons tyd “liefhebbers van hulleself [sal] wees, liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, . . . ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots” (2 Timoteus 3:2-4). Sulke eienskappe kan die misverstande, swak kommunikasie en onbedagsame aanmerkings vererger waartoe onvolmaakte mense so geneig is.
“Dit is ’n verwarrende tydperk in die geskiedenis om getroud te wees”, sê een navorser. “Aan die een kant . . . het ons toegang tot ’n byna oneindige hoeveelheid inligting oor hoe om ons huwelike sterker te maak . . . Aan die ander kant sit ons met ’n menigte maatskaplike en ekonomiese kragte wat ons potensiaal om ’n goeie huwelik te hê, belemmer.”
Onrealistiese verwagtinge
“Onrealistiese verwagtinge”, verduidelik ’n huweliksberader, “is een van die grootste oorsake van ontevredenheid in die huwelik.” Talle getroudes word ontnugter wanneer hulle ontdek dat die huwelik nie alles is wat hulle verwag het nie en dat hulle huweliksmaat nie heeltemal die persoon is wat hulle gedink het hy of sy sou wees nie. Die foute van hulle maat, wat hulle voorheen misgekyk het of ernstiger is as wat hulle verwag het, is vir hulle ’n baie groot teleurstelling.
Die Bybel sê egter reguit dat getroudes soms “sal swaar kry” (1 Korintiërs 7:28, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Waarom? Een rede hiervoor is dat ’n verhouding tussen twee onvolmaakte mense vroeër of later albei se onderskeie swakhede sal uitbring.
Boonop het baie mense die onrealistiese verwagting dat hulle meer uit die huwelik sal kry as wat hulle insit. Hulle dink die huwelik is net maanskyn en rose, maar dink nie aan die verantwoordelikheid en harde werk wat nodig is om ’n gelukkige huwelik op te bou nie. Hulle plaas hulleself in ’n situasie wat op ’n tragiese ontmoeting met die werklikheid afstuur en hulle heel moontlik teleurgesteld en verward sal laat. Hoe meer onrealisties die idees omtrent die huwelik is, hoe groter is die ontnugtering dikwels wanneer die harde werklikheid intree.
’n Kommunikasiekrisis
Watter kommunikasiefoute kan vermy word sodat ’n sterker huweliksband gesmee kan word? Sommige paartjies verval in die gewoonte om te hoor sonder om te luister en te praat sonder om te kommunikeer. Hartlike en liefdevolle interaksie word vervang deur ’n koue, kliniese roetine. Betekenisvolle, openhartige gesprekke word dikwels oorheers deur ’n alewige gestry oor enigiets, alles en niks. Verkeerde gevolgtrekkings lei tot misverstande; mondelinge aanvalle word beantwoord met ’n kille stilte.
Ongelukkig sien baie getroudes nie hulle huweliksmaat se positiewe gedrag raak nie of hulle sien dit wel raak, maar spreek nie hulle waardering daarvoor uit nie. En in die huidige werksklimaat raak baie getroude vroue gegrief omdat hulle bo en behalwe hulle sekulêre werk ook die meeste werk by die huis moet doen. Verder voel baie vrouens dat hulle emosionele behoeftes geïgnoreer word.
Wat kan jy doen om ’n gelukkige huwelik op te bou? Kyk na die volgende praktiese raad uit die Bybel.
[Lokteks op bladsy 4]
Sommige paartjies hoor sonder om te luister en praat sonder om te kommunikeer
[Lokteks op bladsy 5]
Baie verwag dat hulle meer uit die huwelik sal kry as wat hulle insit