Huwelike onder druk
“Ek kan dit nie meer vat nie!” Het jy al ooit gehoor dat mense dit oor hulle huwelik sê? Het jy, as jy getroud is, al op die een of ander stadium ook so gevoel?
DUISENDE paartjies het hulle getroude lewe in die warm gloed van liefde—of in vurige hartstog—begin, met die verwagting dat hulle gelukkig sal wees. “Maar teen die tyd dat hulle my kom sien, het baie al heeltemal hoop verloor”, het een berader gesê. “Hulle is teleurgesteld in hulle maat, in hulle huwelik, in die liefde en soms selfs in die lewe.” Al wat baie van hierdie paartjies in gemeen het, is ’n huweliksertifikaat en die plek waarin hulle woon.
Party huwelike bly in die slag weens spanning en kommer wat opbou. Veeleisende werk, skofte en lang werksure kan die toegewydste paartjies emosioneel uitput. Liefde en respek kan ook deur finansiële moeilikhede, probleme met kinders, verhuising, ’n nuwe werk en gesondheidsprobleme ondermyn word. Eenvoudig gestel, die veranderinge wat met verloop van tyd plaasvind, kan die soort spanning veroorsaak wat paartjies uitmekaardryf.
Baie moeders het as ’t ware twee voltydse werke—een by die werksplek, die ander by die huis. Dit kan daartoe lei dat alles op die agtergrond geskuif word behalwe werk en om na die kinders om te sien. Stres en uitputting veroorsaak dat huweliksmaats baie min tyd oorhet om saam deur te bring. Baie voel dus asof hulle in ’n draaikolk van frustrasie en vervreemding ingesuig word. Waarom verkeer soveel huwelike onder sulke groot druk? Wat kan jy doen om ’n gelukkige en suksesvolle huwelik op te bou?