Ons beskou die wêreld
◼ Gedurende 2007 het Arktiese see-ys gekrimp tot “die laagste vlakke sedert daar begin is om dit per satelliet te meet”. Daar was 4,28 miljoen vierkante kilometer ys, 23 persent minder as die vorige laagste vlak, wat in 2005 opgeteken is.—NASIONALE SENTRUM VIR DATA OOR SNEEU EN YS, VSA.
◼ Met 90 vuurwapens vir elke 100 burgers is die Verenigde State die swaarste bewapende land ter wêreld. Die land met die “tweede grootste burgerlike vuurwapenarsenaal” is Indië, met “slegs 4 vuurwapens per 100 mense”.—TIME, VSA.
◼ ’n Baba wat op 21 weke en 6 dae in Miami, Florida, VSA, gebore is en by geboorte net minder as 283,5 gram geweeg het, is “moontlik die vroegs gebore baba op rekord wat oorleef het”. “Die algemene beskouing is dat babas wat voor 23 weke gebore word en minder as 14,11 onse (400 gram) weeg, nie sal oorleef nie.” —DIE REUTERS-NUUSDIENS, VSA.
Varswater uit die see
In ’n poging om die probleem van watertekorte op eilande in die Egeïese See op te los, het Griekse wetenskaplikes die “wêreld se eerste onafhanklike, drywende, omgewingsvriendelike ontsoutingsplatform” gebou, berig die Nuusagentskap van Atene. Die platform, wat deur windturbines en sonselle aan boord aangedryf word, produseer genoeg drinkwater om in die daaglikse behoeftes van sowat 300 mense te voorsien. Die eenheid word nie deur slegte weerstoestande beïnvloed nie, dit kan op ’n afstand gemonitor en beheer word en kan geskuif word na waar dit ook al nodig is.
Prehistoriese beendere kom te voorskyn
“In die verre noorde van Siberië . . . laat die veranderende temperatuur die ysgrond smelt, en gevolglik kom die beendere van prehistoriese diere soos mammoete, wolhaarrenosters en leeus te voorskyn”, sê ’n Reuters-nuusberig uit Tsjerski, Sacha, in Rusland. Aangesien versamelaars en wetenskaplike institute bereid is om groot somme geld te betaal vir beendere wat in ’n goeie toestand is, fynkam prospekteerders die toendra hiervoor met die hulp van plaaslike stamlede. Die verslag sê: “Die ysgrond smelt en breek so vinnig op dat daar op sekere plekke . . . elke paar meter bene uit die grond steek.”
Gekonfiskeerde alkohol word goed benut
Tot net ’n paar jaar gelede het Sweedse doeanebeamptes alkohol wat van smokkelaars gekonfiskeer is, gewoonlik “in die drein” afgegooi. Nou word hierdie smokkelgoedere gebruik “om die land se openbare vervoerstelsel van brandstof te help voorsien”, sê ’n Associated Press-nuusberig uit Stockholm. Byna die hele 700 000 liter drank waarop daar in 2006 beslag gelê is, is omskep in biogas, ’n alternatiewe brandstof, en “gebruik om busse, vragmotors en ’n biogas-trein aan te dryf”. Hierdie brandstof is “baie winsgewend”, verduidelik die verslag, “omdat die hoofbestanddeel waaruit dit gemaak word, verniet is”. Dit is ook goed omdat die gebruik daarvan Swede se kweekhuisgasse help verminder.
“Epidemie van skaamheid”
“E-pos, SMS’e en iPods veroorsaak ’n wêreldwye epidemie van skaamheid”, berig Australië se Sunday Telegraph. Volgens die sielkundige en navorser Robin Abrahams is skaamheid in sosiale situasies iets wat nou sowat die helfte van die bevolking raak, wat ’n aansienlike toename oor vorige syfers is. “Tegnologie maak dit vir ons moontlik om moeilike situasies te vermy en veroorsaak dat mense hulle meer afsonder”, sê Abrahams. “Mense . . . stuur eerder vir mekaar ’n e-pos of SMS as om met mekaar te praat.”