Ons beskou die wêreld
◼ In die afgelope ses jaar “is bykans 100 000 mense . . . in die Verenigde State vermoor”.—THE NEW YORK TIMES, VSA.
◼ ’n Sosiale netwerk op die Internet het die profiele van 29 000 veroordeelde seksoortreders wat van die diens gebruik gemaak het, van hulle webwerf verwyder. “Die geweldige toename in profiele van seksoortreders op [die webwerf] vereis dringende optrede”, het die prokureur-generaal van Connecticut, Richard Blumenthal, gesê.—DIE REUTERS-NUUSDIENS, VSA.
◼ “China ondervind ’n tekort aan name. . . . ’n Landwye opname wat in 2006 gedoen is, het getoon [dat] daar net 100 vanne is wat deur ongeveer 85 persent . . . van China se 1,4 miljard mense gebruik word.”—CHINA DAILY, CHINA.
◼ Vir elke kilometer wat gery word, is “dit 32 keer waarskynliker dat motorfietsryers [in verkeersongelukke] sal sterf” as diegene in motors.—UC BERKELEY WELLNESS LETTER, VSA.
Jehovah se Getuies word in Turkye geregistreer
Op 31 Julie 2007 is Jehovah se Getuies in Turkye amptelik in kennis gestel dat hulle as ’n godsdienstige regspersoon geregistreer is. Hierdie status stel hulle in staat om eiendom te koop en te besit, vergaderplekke te huur, bydraes te aanvaar en hulle wetlike belange, indien nodig, in die hof te verdedig.
Internet “verlaag inhibisies”
’n Duitse webwerf wat ontwerp is om huweliksontrou makliker te maak, het in ’n persverklaring gespog dat hulle 310 000 verbruikers het en dat 1 000 nuwe mense daagliks registreer. Die agentskap roem hulle daarop dat hulle buite-egtelike afsprake met “100-persent-anonimiteit” reël. Een van die direkteure het gesê: “Die anonimiteit van die Internet verlaag inhibisies” en maak dit “makliker om onbeskroomd en openlik verhoudings aan te knoop”. ’n Ander direkteur het die vertroue uitgespreek dat die Internet ontrouheid selfs gewilder sal maak.
Fossiele wat probleme skep
Wetenskaplikes beeld dikwels die finale “stadiums” van “menslike evolusie” uit as ’n progressiewe ontwikkeling van Homo habilis tot Homo erectus tot “die moderne mens”, Homo sapiens. Maar twee fossiele wat in Kenia binne loopafstand van mekaar gevind is, het sommige wetenskaplikes nou tot die slotsom laat kom dat die twee spesies Homo habilis en Homo erectus, wat glo voorouers van die mens was, op dieselfde tyd gelewe het. “Die feit dat hulle op dieselfde tyd gelewe het, maak dit onwaarskynlik dat Homo erectus uit Homo habilis geëvolueer het”, sê Meave Leakey, een van die samestellers van die verslag.
Slegter weer oor naweke?
Baie Duitsers vermoed dat die weer oor naweke slegter is as op werksdae. ’n Ontleding van weerdata wat oor 15 jaar in verskillende dele van Duitsland ingesamel is, bevestig moontlik hulle vermoede, berig Der Spiegel. Die warmste dag is Woensdag, en die koelste is Saterdag. Op Saterdae is daar 15 persent meer reën, en dit reën 10 persent meer dikwels as op Maandae, wat die droogste dae is. Dinsdae het gemiddeld 15 minute meer son as Saterdae. Navorsers veronderstel dat uitlaatgasse weens menslike bedrywighede gedurende die week, teen die naweek ’n hoogtepunt bereik, wat sonlig weerkaats en help om wolke te vorm omdat dit kondensasiekerne voorsien.