Gered uit al my benoudhede
Soos vertel deur Jean-Claude François
As gevolg van my bybelopgeleide gewete is ek sewe jaar lank in meer as 12 tronke opgesluit. ondanks die lyding wat ek verduur het, dink ek dat ek geseënd is. kom ek verduidelik waarom.
EK IS op 9 Januarie 1937 in Algiers, Algerië, gebore. Frankryk het destyds oor Algerië geheers, en my pa was ’n offisier in die Franse leër. Sy werk het hom maande lank na Egipte, Irak, Libanon en Sirië geneem, wat hom min tyd vir sy vyf kinders gegee het.
Ek het baie van skool gehou en akademies goed gevaar. Maar ek het gewonder oor vrae soos: Waarom sterf ons, en hoe kan daar boosheid wees as God almagtig en goed is? Ek het geen bevredigende antwoorde gevind nie. Ek wou ook baie graag weet hoe lewe ontstaan het. Darwin se evolusieteorie het na die enigste grondige verklaring geklink, en daarom het ek later ’n ateïs geword.
Uiteindelik antwoorde!
In 1954 het ’n vriend genaamd Georges, wat een van Jehovah se Getuies geword het, vir my die boekie Evolution Versus the New World gegee.a Ek het dit verslind. Die boekie het nie net die gebreke van die evolusieteorie blootgelê nie, maar het ook getoon dat die fossielverslag die Genesisverslag bevestig, wat sê dat God alle lewende dinge “volgens hulle soorte” geskep het (Genesis 1:12, 25). Maar die vraag oor boosheid het my steeds gekwel.
Georges was ’n pionier, of voltydse bedienaar, en het baie van sy tyd daaraan gewy om mense die Bybel te leer, ’n boek wat ek nooit tevore gelees het nie. Sou hy my vrae kon beantwoord? Ek het na sy klein woonstel gegaan, waar hy saam met ander pioniers gewoon het, en ek het skriftuurlike antwoorde op baie van my vrae gekry. Daarna het ek met ’n stelselmatige en baie aangename studie van die Bybel begin. Sedertdien het ek nog nooit moeg geword om in God se Woord te delf op soek na geloofversterkende skatte nie.—Spreuke 2:1-5.
Ek het ook Christelike vergaderinge begin bywoon, wat in die kelderverdieping van ’n restaurant in die hartjie van Algiers gehou is. Die Getuies het my hartlik verwelkom, en ná ’n ruk het ek die vergaderinge gereeld begin bywoon. Toe ’n aankondiging gemaak is oor ’n vergadering wat by ’n sekere straat gehou sou word, het ek besluit om te gaan. Toe ek daar aankom, het ek uitgevind dat die Getuies byeengekom het om die predikingswerk van huis tot huis te doen (Handelinge 20:20). Ek het nietemin gebly, en so het ek vir die eerste keer aan die openbare bediening deelgeneem.
Die derde keer dat ek aan die getuieniswerk deelgeneem het, het ek op my eie met huisbewoners gepraat. By een deur kon ek nie ’n Bybelteks vind wat ek aangehaal het nie. “Jong man”, het die huisbewoner gesê, “leer ander wanneer jy bekwaam is om dit te doen.” Toe het hy die deur toegemaak. Gefrustreerd het ek op ’n bankie gaan sit en daardie teks gesoek. Toe ek dit ’n paar minute later gevind het, het ek teruggegaan en dit vir die man gewys.
Ek is op 4 Maart 1956 gedoop as ’n simbool van my toewyding aan God. Ses maande later het ek voor ’n groot besluit te staan gekom. Moes ek ’n gewone pionier word, of moes ek ’n onderwyserspos in die Algeriese binneland aanvaar en minder tyd aan die bediening bestee? Ek het die pionierdiens gekies.
My pa was woedend oor my besluit en het ’n mes teen my keel gehou terwyl hy my beveel het om elke aand huis toe te kom. Hy het ook gesê dat ek nie langer kon verwag om kos gegee te word nie, hoewel ek heeltemal van plan was om al my uitgawes te betaal. Ek het dus soggens die huis met ’n honger maag verlaat, smiddags ’n ete saam die ander pioniers geëet en saans ’n toebroodjie geëet voordat ek huis toe gegaan het.
Ons ontwyk bomme en koeëls
Op daardie stadium was Algerië in ’n oorlog gewikkel om onafhanklikheid van Frankryk te verkry, en Algiers is deur bomaanvalle en wrede vergeldingsdade geteister. In een maand was daar meer as 100 ontploffings. Bomme is in busse, kroeë en stadions geplaas. Dit was ’n uitdaging om aan die bediening deel te neem. Mense was bang om hulle deure oop te maak, en daar was dikwels aandklokreëlings, identiteitskontrolerings en deursoekings.
Terwyl ek en ’n hele paar ander pioniers op Sondag 30 September 1956 ons vergaderplek aan die kant gemaak het, het ’n bom in die restaurant bo ons ontplof en tientalle mense gedood en vermink. Gelukkig het nie een van ons in die kelder seergekry nie. In Desember het ek en ’n suster in ’n besige straat predikingswerk gedoen toe ’n motor verbygejaag het en daar vanuit die oop vensters op die skare geskiet is. Ons het vinnig na ’n deuropening gehardloop, waar ek die suster op die grond neergestoot het en toe self neergeval het. Wegskramkoeëls het bo ons koppe verbygevlieg. Ná dié voorval was ons almal baie versigtiger wanneer ons getuieniswerk gedoen het.
Ek het geweier om die wapen op te neem
Ek is op 1 Maart 1957 vir militêre diens opgeroep. Aangesien my Christelike gewete my nie toegelaat het om die wapen op te neem nie, het ek gebid vir krag wanneer ek met die owerhede te doen sou kry. Ek het ook gevra dat ek ’n konfrontasie met my pa sou vermy. Tot my groot verligting is ek aangesê om by die stad Lille, Frankryk, aan te meld, wat ver was van waar ons gewoon het.
Ses dae later het ek by die Sitadel van Lille aangekom, ’n vesting wat dateer uit die dae van die 17de-eeuse koning Lodewyk XIV. Ek het die Bybel gebruik om my neutrale standpunt aan die leëroffisiere te verduidelik, wat my toe in die gevangenis gegooi het. Een oggend het wagte my uit my sel gesleep, my deursoek en ’n klein Bybeltjie gevind. Hulle het my toe met my gesig in die sneeu laat lê, my Bybel langs my in die sneeu gegooi, ’n geweerkolf teen my agterkop gedruk en my sowat 30 minute lank so laat lê. Tot my vreugde het die wagte my agterna toegelaat om die Bybel te hou, en dit is vandag nog op my boekrak. Maar die mishandeling wat ek daardie dag deurgemaak het, het my jare lank maagkrampe laat kry.
’n Paar dae later het die bevelvoerder gedeeltes uit ’n brief wat hy van my pa ontvang het, aan my voorgelees. “Hy moet gedwing word om toe te gee. Knak hom as julle moet”, het dit gesê. Omdat ek nie my geloof wou prysgee nie, het die offisier my in ’n donker sel gegooi, waar ek op ’n plank geslaap en my met ’n klein kombers toegemaak het. Aangesien daar geen toilet was nie, het ek my behoefte in die een hoek van die sel gedoen. Ek kon nie was, my tande borsel of my bord skoonmaak nie. Twee weke later is ek na die Fresnes-gevangenis in Parys gestuur.
Gedurende die volgende ses jaar is ek vier keer gevonnis en het ek tronkstraf in 14 gevangenisse uitgedien. Tydens een winter is ek by Fontevrault aangehou, ’n 12de-eeuse klooster in die Loirevallei wat as ’n gevangenis gebruik is. My besittings is gekonfiskeer toe ek daar aangekom het. Omdat ek aanhoudend my Bybel gevra het, het die wagte my ’n maand lank in eensame opsluiting gesit. Daar het my ander vyand, die koue, met mening teruggekeer, en ek het bloed begin ophoes.
Ek is toe na ’n beter gevangenis verskuif—die Château de Turquant, naby Saumur, waar gevangenes huishoudelike take vir afgetrede magistrate verrig het. Een van die gevangenes was Ahmed ben Bella, die toekomstige president van die Algeriese republiek. Ek het etlike maande lank vir hom getuig. “Jy is in Algiers gebore”, het hy by een geleentheid vir my gesê, “en jy is hier omdat jy geweier het om die wapen teen die Algeriërs op te neem.” Hy het my gerespekteer weens my standpunt.
Deur verdere beproewinge heen versterk
My gesondheid het agteruitgegaan, en ek is met tuberkulose gediagnoseer en na ’n sanatorium in die suide van Frankryk gestuur, waar ek maande lank bedlêend was. My dokter het ’n operasie aanbeveel sodat die aangetaste long verwyder kon word, en ek het daartoe ingestem, op voorwaarde dat ek my ‘van bloed onthou’ (Handelinge 15:29). Die dokter was kwaad en het geweier om te opereer. Ek was toe in my sesde jaar van gevangenskap.
Ek moes die sanatorium in die middel van die winter verlaat, met net die klere aan my lyf. Maar net soos Jehovah Onesiforus gestuur het om die apostel Paulus te help, het Hy nou ’n helper na my toe gestuur—broer Adolphe Garatoni, wat my verblyf gegee het en vir my “’n versterkende hulp” was (Kolossense 4:11; 2 Timoteus 1:16-18). Met sy hulp en dié van ’n dokter in die suide van Frankryk het my gesondheid geleidelik verbeter.
Gedurende hierdie tyd het ek ’n paar groot uitgawes gehad en fondse nodig gehad om dit te dek. Ek het nie geweet hoe ek die mas sou opkom nie. Toe, op ’n dag, het ’n vreemdeling my besoek. “Ek is ’n prokureur”, het sy gesê. “Die president van Algerië, mnr. Ben Bella, het my gestuur om dit vir jou te gee.” Sy het vir my ’n koevert gegee met meer as genoeg geld om my uitgawes te dek. Ek het Jehovah, die “Hoorder van die gebed”, van harte bedank.—Psalm 65:2.
Wonderlike diensvoorregte en ’n pragtige metgesel
Toe ek uit die gevangenis vrygelaat is, het ek weer eens die voltydse bediening betree. In die Melun-gemeente, naby Parys, het ek ’n 35-jarige weduwee, Andrée Morel, ontmoet. Haar eerste man, wat ook ’n Getuie was, is in ’n motorongeluk dood. Ons is op 26 September 1964 getroud. Op 1 Augustus 1965 het ons ’n toewysing as spesiale pionierbedienaars ontvang. Hoewel Andrée se gesondheid nie baie goed was nie, was sy 28 jaar lank in die voltydse diens!
In 1967 is ek aangestel as ’n kringopsiener, ’n reisende bedienaar wat gemeentes van Jehovah se Getuies besoek en aanmoedig. Ons het in die suide van Frankryk gedien, van Bordeaux tot Monaco, en ’n jaar lank in Parys. Weens ons gesondheid was die reisende werk nie maklik nie, maar met Jehovah se hulp het ons die broers 20 jaar lank gedien, tot 1986, toe ons weer eens spesiale pioniers geword het.
My lewe vandag
Ek is nou amper 70 jaar oud en het keer op keer gevind dat Jehovah altyd sy knegte die krag gee om beproewinge te verduur. Van hierdie krag verkry ek natuurlik deur sy geïnspireerde Woord te studeer, wat ek elke jaar probeer deurlees.—Jesaja 40:28-31; Romeine 15:4; 2 Timoteus 3:16.
Dit is vir Andrée en my aanmoedigend wanneer ons sien hoe mense op die goeie nuus reageer en hulle lewe aan Jehovah toewy. Ja, oor die jare heen het ons gesien hoe 70 van ons Bybelstudente dit doen, iets wat ons oneindige en blywende vreugde verskaf. Wanneer ek oor ons lewe nadink, voel ek dat die psalmis namens elkeen van ons gepraat het toe hy geskryf het: “Hierdie geteisterde het geroep, en Jehovah het gehoor. En uit al sy benoudhede het Hy hom gered.”—Psalm 34:6.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.
[[Prent op bladsy 21]
In die gevangenis by die Château de Turquant, naby Saumur
[[Prent op bladsy 23]
Ek en my vrou in 1967, en vandag