Die Roma—duisend jaar van vreugde en smart
DIE geleentheid is soortgelyk aan enige groot, tradisionele troue. Daar is volop kos en drank, en musiek vul die huis. Familielede beur vorentoe om die skugter bruidegom en sy stralende bruid geluk te wens. Maar dit is nie ’n troue nie—net ’n verlowingspartytjie die aand voor die troue waar meer as 600 gaste bymekaargekom het. By hierdie geleentheid gee die bruidegom se gesin die bruidsprys aan hulle seun se aanstaande skoonouers. Môre sal die bruidegom en sy gesin die nuwe bruid na sy huis vergesel, waar nog ’n viering tydens die eintlike troue gehou sal word.
Al die familielede van die nuwe egpaar praat Romani—wat as ’n vreemde taal beskou sou word waar hulle ook al woon. Hierdie taal en die verskillende dialekte daarvan, asook talle ou tradisies en trougebruike, is die gemeenskaplike erfenis van ’n volk wat regoor die wêreld versprei is, maar wat nie op enige nasionale gebied aanspraak maak of hulle eie nasionale regering het nie. Hulle is die Roma.a
Wie is die Roma?
As ons die Roma se taal- en kultuuragtergrond en genetiese herkoms naspoor, neem dit ons ongeveer 1 000 jaar terug na Noord-Indië. Hulle taal, afgesien van die toevoegings in onlangser tye, is duidelik van Indiese oorsprong. Waarom hulle Indië verlaat het, is nie so duidelik nie. Sommige geleerdes meen dat hulle voorouers moontlik ambagsmanne en vermaaklikheidskunstenaars was wat verbonde was aan groepe soldate wat hulle tuisland ná militêre konflikte verlaat het. Hoe dit ook al sy, die Roma het voor die jaar 1300 G.J. via Persië en Turkye in Europa aangekom.
In Europa is daar al lank twee uiterste beskouings van die Roma. Aan die een kant is hulle in party verhale en rolprente geromantiseer as ’n gasvrye, kommerlose, nomadiese volk wat deur middel van sang en dans onbeteueld uiting gee aan die vreugde en smart van die lewe. Aan die ander kant is hulle beswadder as onbetroubaar, geheimsinnig en wantrouig—altyd die buitestanders, afgeskeie van die gemeenskap om hulle. Om ons te help verstaan hoe sulke stereotipes ontstaan het, kan ons kyk na die fassinerende verlede van die Roma.
’n Tyd van diskriminasie
In die Middeleeue het die meeste Europeërs se hele wêreld net uit hulle eie dorpie bestaan. Stel jou voor wat hulle moes gedink het toe hulle Roma-gesinne vir die eerste keer sien aankom. Baie dinge omtrent hulle was ongetwyfeld fassinerend. Buiten hulle blas vel, donker oë en swart hare, was die nuwelinge se klere, gebruike en taal heeltemal anders as die dorpenaars s’n, en die Roma was geneig om hulle van ander af te sonder—’n gewoonte wat moontlik teruggevoer kan word na die tyd toe hulle nog in Indië onder die kastestelsel gelewe het. Binne dekades het die Europeërs se aanvanklike nuuskierigheid plek gemaak vir wantroue.
Die Roma is verstoot—gedwing om slegs aan die rand van dorpies kamp op te slaan en toegang verbied, selfs om benodigdhede te koop of water te skep. “Hulle steel kinders”, is daar gesê, “en eet hulle selfs!” Op sommige plekke het die wet vereis dat die Roma buite moes kook, sodat enigiemand wat wou, kon kyk wat in hulle potte is. Dit is dikwels gedoen deur die maaltyd vir die dag op die grond uit te gooi. Dit is nie verbasend dat party Roma kos gesteel het om aan die lewe te bly nie.
Die Roma het die diskriminasie hanteer deur hegte bande met mekaar te behou. Hulle gesinslewe was eeue lank hulle bron van ondersteuning en geluk. Tradisioneel is Roma-ouers baie lief vir hulle kinders, en kinders is baie lief vir hulle ouers en sorg vir hulle op hulle oudag. Baie Roma bly ook streng by tradisionele standaarde van gedrag en welvoeglikheid.
’n Nomadiese lewe
Aangesien die Roma selde welkom was, was hulle heeltyd aan die beweeg. Hierdie nomadiese lewe het die ontwikkeling bevorder van verskeie vaardighede, soos metaalwerk, handeldryf en vermaak. Deur hierdie nodige dienste te lewer, kon hulle ten minste hulle gesin van kos voorsien. Sommige Roma-vroue het gebruik gemaak van hulle reputasie dat hulle psigiese kragte het en het dikwels voorgegee dat dit so is om geld te maak. ’n Nomadiese lewe het ook die gevaar verminder van kulturele of sedelike besoedeling deur te veel kontak met gadje—Romani vir “nie-Roma”.b
Intussen het vooroordeel tot vervolging gelei. Die Roma is uit party dele van Europa verdryf. In ander gebiede is die Roma eeue lank as slawe aangehou. Die einde van daardie slawerny in die 1860’s het die Roma-diaspora verdere stukrag gegee, en groot getalle Roma het na Wes-Europa en die Amerikas getrek. Waar hulle ook al gegaan het, het hulle hulle taal, gebruike en talente saamgeneem.
Selfs in hulle verdrukte toestand het die Roma soms ’n mate van tevredenheid gevind deur middel van hulle uitvoerende kunste. In Spanje het die vermenging van die Roma-kultuur met ander kulture flamenkomusiek en -dans voortgebring, terwyl Roma-musikante in Oos-Europa plaaslike volksliedjies begin sing het en hulle eie kenmerkende styl daarby gevoeg het. Die passievolle wysies van Roma-musiekopvoerings het selfs klassieke komponiste beïnvloed, insluitende Beethoven, Brahms, Dvořák, Haydn, Liszt, Mozart, Rachmaninof, Ravel, Rossini, Saint-Saëns en Sarasate.
Die Roma in die moderne wêreld
Vandag is daar tussen twee- en vyfmiljoen Roma—party sê baie meer—wat in feitlik elke uithoek van die aarde woon. Die meeste van hulle woon in Europa. Baie reis nie meer heeltyd nie, en sommige is welaf. Maar in baie plekke word die Roma nog steeds onder die armes en minder bevoorregtes getel, en hulle lewe dikwels in ellendige toestande.
Gedurende die Kommunistiese era in Oos-Europa het die politieke teorie bepaal dat alle burgers gelyk moet wees. Regerings het met ’n mindere of meerdere mate van sukses die Roma se nomadiese lewenswyse probeer inperk deur hulle werk te gee en hulle in huise te laat bly wat deur die regering gebou is. Dit het die gesondheid- en lewenstandaarde soms ietwat verbeter. Maar dit het nie die blywende negatiewe gevoelens en menings uit die weg geruim wat die Roma en nie-Roma al eeue lank teenoor mekaar gekoester het nie.
In die 1990’s het politieke veranderinge in Oos-Europa nuwe geleenthede in die vooruitsig gestel. Maar die veranderinge het ou wonde oopgekrap, want toe maatskaplike hulpprogramme afgeskaal is en antidiskriminasie-wette minder streng toegepas is, het dit baie Roma weer in ’n moeiliker maatskaplike en ekonomiese situasie geplaas.
Hulle vind hoop en ’n beter lewe
In Oos-Europa het Andrea, met haar pikswart hare, onder sulke omstandighede skoolgegaan. Sy was die enigste leerder van Roma-afkoms in haar klas. Hoewel sy moedig is, probeer sy tevergeefs haar trane keer terwyl sy vertel van hoe sy uitgetart en verstoot is. “Ek was dikwels die laaste een om gekies te word wanneer ons spanne vir speletjies gekies het”, sê Andrea. “Ek wou weghardloop na Indië waar ek kon inpas. Trouens, iemand het eenkeer vir een van my vriende geskreeu: ‘Gaan terug Indië toe!’ Hy het geantwoord: ‘Ek sou as ek die geld gehad het.’ Ek het nêrens tuis gevoel nie. Ons was oral onwelkom.” Andrea, wat ’n talentvolle danseres is, het daarvan gedroom om beroemd te word en sodoende aanvaar te word. Maar in haar tienerjare het sy iets baie beters gevind.
“Eendag het ’n jong vrou met die naam Piroska, een van Jehovah se Getuies, na ons huis gekom”, vertel Andrea. “Sy het my uit die Bybel gewys dat God ons elkeen as ’n individu liefhet, en nie net die mensdom in sy geheel nie. Sy het verduidelik dat ek ’n goeie verhouding met God kon hê as ek wou. Dit het my laat voel dat ek werklik belangrik is vir iemand. Die wete dat almal in God se oë gelyk is, het my meer selfvertroue gegee.
“Piroska het my na die Getuies se vergaderinge geneem, waar ek mense ontmoet het wat Roma en nie-Roma is, en ek kon die eenheid onder hulle sien. Ek het ware vriende gemaak met Getuies van albei agtergronde. Nadat Piroska ongeveer ’n jaar en ’n half lank die Bybel met my gestudeer het, het ek ook een van Jehovah se Getuies geword.” Vandag is Andrea en haar man voltydse evangeliedienaars en leer hulle ander oor God se tere liefde vir mense van alle nasies.
“Aanvaar as ’n gelyke”
’n Rom genaamd Hajro vertel van sy jong dae: “Slegte assosiasie met ander seuns wat nie die wet gerespekteer het nie, het my gereeld in die moeilikheid laat beland. Eenkeer het die polisie my aangehou omdat ek iets gesteel het terwyl ek saam met daardie seuns was. Toe die polisie my huis toe neem, was ek banger vir my ma se reaksie as wat ek vir hulle was omdat, soos in baie Roma-gesinne gebeur, ek geleer is dat dit verkeerd is om by enigiemand iets te steel .”
Toe Hajro ouer word, het hy en sy gesin ook Jehovah se Getuies ontmoet. Die Bybel se belofte dat God se Koninkryk die mensegemeenskap sal bevry van probleme, insluitende vooroordeel en diskriminasie, het Hajro se hart diep geraak. “Roma het nog nooit hulle eie nasionale regering gehad om na hulle om te sien nie”, sê hy. “Dit is waarom ek voel dat Roma in ’n goeie posisie is om waardering te hê vir die feit dat God se Koninkryk alle nasies sal bevoordeel. Ek sien daardie voordele selfs nou. Van die oomblik toe ek in die Koninkryksaal ingestap het, het ek gevoel soos die apostel Petrus toe hy gesê het: ‘Ek sien vir seker dat God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik’ (Handelinge 10:34, 35). Ek was deur almal aanvaar as ’n gelyke. Ek kon dit skaars glo toe nie-Roma my phrala—‘broer’ in Romani—noem!
“Aanvanklik het party van my familielede my hewig teëgestaan. Hulle kon nie die veranderinge verstaan wat ek besig was om aan te bring om volgens Bybelbeginsels te lewe nie. Maar nou het ons familielede en die Roma-gemeenskap gesien dat dit my gelukkig maak en talle goeie resultate oplewer om ’n ferm standpunt vir God se standaarde in te neem. Die meeste van hulle wil ook graag hulle lewe verbeter.” Hajro dien tans as ’n Christen- ouer man en voltydse evangeliedienaar. Sy nie-Roma vrou, Meghan, leer ook Roma en ander hoe die Bybel hulle kan help om ’n gelukkige lewe te geniet—nou en in die toekoms. “Ek is al heeltemal deur my man se familie en die gemeenskap aanvaar”, sê sy. “Hulle hou daarvan dat ’n nie-Rom soveel in hulle belangstel.”
[Voetnote]
a In verskillende wêrelddele is die Roma al Sigeuners, Gitanos, Gypsies, Tsigani en Cigány genoem. Hierdie terme word as neerhalend beskou. Rom (meervoud roma), wat in hulle taal “mens” beteken, is die term wat die meeste Roma gebruik om na hulleself te verwys. Party Romani-sprekende groepe is bekend onder ander name, soos in die geval van die Sinti.
b Hoewel sommige Roma verbete aan baie tradisies vasklou, het hulle dikwels die hoofgodsdiens aangeneem van die gebied waar hulle woon.
[Lokteks op bladsy 24]
Vandag woon die Roma in feitlik elke uithoek van die aarde
[Venster/Prente op bladsy 23]
Gedurende die Nazi-era in Europa het Hitler ongeveer 400 000 of meer Roma in sy uitwissingskampe om die lewe gebring, tesame met Jode, Jehovah se Getuies en ander. In 1940, selfs voordat Hitler se veldtog van uitwissing algemeen bekend geword het, het die rolprentakteur Charlie Chaplin—wat self van Roma-afkoms was—The Great Dictator gemaak, ’n satiriese rolprent oor Hitler en die Nazi-beweging. Ander welbekende kunstenaars wat beweer het dat hulle van Roma-afkoms is, is onder meer die akteur Yul Brynner, die aktrise Rita Hayworth (onder), die skilder Pablo Picasso (onder), die jazz-musikant Django Reinhart en die Masedoniese sangeres Esma Redžepova. Roma het ook al ingenieurs, dokters, professors en lede van nasionale parlemente geword.
[Erkennings]
AFP/Getty Images
Photo by Tony Vaccaro/Getty Images
[Venster/Prente op bladsy 26]
Roma wat Getuies is
Baie Roma het Jehovah se Getuies geword. Party dien as gemeentelike ouer manne en voltydse pionierbedienaars. Plaaslike regeringsamptenare en ander nie-Roma beskou hulle as voorbeeldig. ’n Roma-Getuie in Slowakye sê: “Eendag het ’n nie-Roma buurman aan ons woonstel se deur geklop. ‘My huwelik is in ’n krisis, maar ek weet dat julle ons kan help’, het hy verduidelik. ‘Waarom ons?’, het ons gevra. Hy het geantwoord: ‘As die God wat julle aanbid, julle as Roma kan help om die gehalte van julle lewe te verbeter, kan hy ons dalk ook help.’ Ons het hom ’n eksemplaar van ’n Bybelpublikasie oor gesinslewe gegee wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word.
“Later het sy vrou ook aan ons deur geklop met dieselfde versoek, min wetende dat haar man reeds daar was. ‘Niemand anders in hierdie woonstelblok kan ons help nie’, het sy gesê. Ons het haar ’n eksemplaar van dieselfde boek gegee. Elkeen het ons gevra om nie die ander te vertel van die besoek nie. Een en ’n half maande later het ons die Bybel met die egpaar begin studeer. Die feit dat ons volgens Bybelwaarheid lewe, het gemaak dat ander ’n hoër dunk van ons het en selfs na ons toe kom vir geestelike hulp.”
[Prente]
Narbonne, Frankryk
Granada, Spanje
‘Roma is in ’n goeie posisie om waardering te hê vir die feit dat God se Koninkryk alle nasies sal bevoordeel.’—Hajro
[Prent op bladsy 22]
Pole
[Erkenning]
© Clive Shirley/Panos Pictures
[Prent op bladsy 22]
Roma in Engeland, 1911
[Erkenning]
By courtesy of the University of Liverpool Library
[Prent op bladsy 22, 23]
Slowakye
[Prent op bladsy 23]
Masedonië
[Erkenning]
© Mikkel Ostergaard/Panos Pictures
[Prent op bladsy 24]
Roemenië
[Prent op bladsy 24]
Masedonië
[Prent op bladsy 24, 25]
Tsjeggiese Republiek
[Prent op bladsy 24, 25]
Spanje
[Prente op bladsy 25]
Andrea het daarvan gedroom om beroemd en aanvaar te word deur middel van dans
[Foto-erkennings op bladsy 24]
Roemenië: © Karen Robinson/Panos Pictures; Masedonië: © Mikkel Ostergaard/Panos Pictures; Tsjeggiese Republiek: © Julie Denesha/Panos Pictures