Van ons lesers
Kan die huwelik die storm deurstaan? (Julie 2006) Ek lees gereeld die Ontwaak! Ek is ’n Katoliek, maar ek vind dat julle tydskrif baie interessant en leersaam is. Ek stem egter nie saam met die volgende stelling wat julle gemaak het nie: “In 1983 het die kerk sy reëls aangaande huweliksverbintenisse verslap en dit vir Katolieke makliker gemaak om hulle huwelik te beëindig.”
G.V.M., Zambië
“Ontwaak!” antwoord: Ons het verwys na die veranderinge in prosedures wat gemaak is in die Kerkwet van 1983. Die gevolge van sulke veranderinge was dramaties, veral in die Verenigde State. Volgens die Rooms-Katolieke biskop Mark A. Pivarunas is slegs 338 huweliksontbindings in 1968 in die Verenigde State toegestaan. Maar teen 1990 het daardie syfer tot 62 824 gestyg. Waarom was daar so ’n toename?
Edward Peters, ’n prokureur in die kerklike reg, het gesê: “’n Paar baie betekenisvolle veranderinge in kerklike prosedures is al gedurende die afgelope 30 jaar gemaak, veranderinge wat dit makliker gemaak het om ’n huweliksontbinding te versoek en die kanse vergroot het dat sulke versoeke as geldig beskou sou word.” Nadat hy ’n aantal veranderinge in die kerkwet gemeld het, het Peters bygevoeg: “Elkeen van hierdie Roomse veranderinge aan die kerklike prosesreg het beslis bygedra tot die dramatiese toename in huweliksontbindings.” Ongeag wat die bedoeling daarvan was, die direkte gevolg van hierdie veranderinge in die kerkwet was—ten minste in die Verenigde State—soos die “Ontwaak!” gesê het: “[Die kerk] het dit vir Katolieke makliker gemaak om hulle huwelik te beëindig.”
Is daar ’n Skepper? (September 2006) Hierdie spesiale uitgawe van die Ontwaak! was ’n meesterstuk. Die argumente wat aangevoer is, was eenvoudig, kragtig, logies en redelik. Ek het baie van die formaat gehou, aangesien die hele tydskrif dieselfde tema uit verskillende hoeke bespreek het.
A. B., Spanje
Dankie vir hierdie uitstekende en fassinerende tydskrif. Die verskillende argumente en illustrasies vereer Jehovah. Hy verdien om op so ’n manier geloof te word.
R. B., Switserland
Ek is oortuig deur die onweerlegbare, eenvoudige bewyse ten gunste van die skepping. Die feit dat evolusie ’n klug is, is sonder vyandigheid maar met al die streng intellektuele vereistes van die wetenskap blootgelê.
L. G., Frankryk
Die Roma—duisend jaar van vreugde en smart (Oktober 2006) Ek was nog altyd lief vir die Roma. Dit is ’n jammerte dat vooroordeel teen hulle nog voortduur. Ek is seker dat julle artikel baie mense sal laat dink. Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat Jehovah nie partydig is nie en dat Roma onder sy aanbidders tel!
B. B., Frankryk
Ons is Roma. My pa is nog nie een van Jehovah se Getuies nie, en hy lees nie baie graag nie. Maar hy wou hierdie tydskrif hê, en nou lê dit op sy tafel!
A. G., Finland