Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 8/06 bl. 16-18
  • Waadvoëls—wêreldreisigers van formaat

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waadvoëls—wêreldreisigers van formaat
  • Ontwaak!—2006
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Veiliger in ’n groep
  • Die wêreld wink
  • Die gevare van migrasie
  • Spitstyd tydens hoogwater
    Ontwaak!—1997
  • Voëlkykery—’n Fassinerende stokperdjie vir almal?
    Ontwaak!—1998
  • Die raaisels van migrasie word ondersoek
    Ontwaak!—1995
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2006
Sien nog
Ontwaak!—2006
g 8/06 bl. 16-18

Waadvoëls—wêreldreisigers van formaat

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SPANJE

STEL jou voor jy bring twee maande van die noordelike somer in die Noordpooltoendra deur, waar die son so te sê nooit sak nie. Maar wanneer die winter nader kom, vertrek jy na Suid-Amerika, Australië of Suid-Afrika. Gedurende die res van die jaar trek jy van die een plek na die ander terwyl jy elke vasteland se strande fynkam vir jou gunstelinglekkerny. Dít is die tipiese lewenswyse van baie van die wêreld se waadvoëls.

Waadvoëls is—soos die naam aandui—voëls wat graag in vlak water kos soek.a Gedurende die kouer maande in die Noordelike Halfrond, vergader hierdie strandvoëls by modderige riviermondings, strande, modderbanke of rotsagtige kusgebiede, waar min mense heen gaan. Gedurende die warmer maande, wanneer toeriste na die strande toe stroom, trek die meeste waadvoëls na Arktiese en subarktiese streke, waar die kort somer hulle die afgesonderdheid en oorvloedige kos bied wat hulle nodig het om hulle kleintjies groot te maak.

Waadvoëls het nie besonder helder kleure nie, maar hulle indrukwekkende vlug en opvallende vlerkpatrone vervul baie toeskouers met verwondering. “[Strandvoëls] vlieg soms so laag dat hulle vlerkpunte aan die oppervlak van die water raak of op hoogtes van vier myl [ses kilometer] of meer. Hulle is voorwaar absolute meesters van die lug en die wind”, sê die boek Shorebirds—Beautiful Beachcombers.

Veiliger in ’n groep

Strandvoëls kom dikwels in groot swerms bymekaar waar kos volop is. Dit lyk asof hulle in ’n groep veiligheid soek. Roofvoëls soos swerfvalke verkies om jag te maak op voëls wat alleen is, terwyl ’n kompakte swerm hulle moontlik ontmoedig om aan te val. Boonop maak duisende wakende oë dit waarskynliker dat ’n roofdier betyds raakgesien sal word. Om by hierdie addisionele beskerming baat te vind, vorm baie waadvoëls gemengde swerms wat uit verskeie soorte bestaan.

Wanneer ’n swerm strandvoëls begin vlieg, is dit iets om te aanskou. ’n Digte swerm van honderde of selfs duisende voëls swaai en draai, styg en val asof ’n onsigbare hand hulle beheer. “Die feit dat duisende voëls wat teen ’n hoë spoed vlieg, in staat is om skielike bewegings met presiese koördinasie uit te voer, is op sigself ’n wonderwerk”, sê die boek Handbook of the Birds of the World. Deur hoëspoedfilmopnames van swerms bontstrandlopers te bestudeer, het voëlkundiges tot die gevolgtrekking gekom dat ’n enkele voël dalk met ’n beweging begin wat vinnig na die res van die swerm versprei.

Die wêreld wink

Party waadvoëls is ware wêreldreisigers. Rooiknoete en drietoonstrandlopers broei byvoorbeeld verder noord as byna enige ander voël. Waadvoëls kan op omtrent enige kuslyn op aarde voorkom en kan meer as 32 000 kilometer in hulle jaarlikse reise aflê.

Hoewel sommige reise vereis dat die waadvoëls oor uitgestrekte oseane moet vlieg, kan hulle nie swem nie en rus hulle nooit op die water nie. Hulle moet dus baie “brandstof” dra—in verhouding selfs meer as ’n groot straler, waarvan die brandstof 40 persent van die totale gewig van die vliegtuig uitmaak wanneer dit opstyg. Hoe neem die waadvoëls hierdie brandstof in?

“Hulle gaar [brandstof] op in die vorm van vet en eet so baie by die kusmodderbanke dat hulle hulle somergewig binne ’n paar weke byna verdubbel”, sê David Attenborough in die boek The Life of Birds. “Hierdie reserwes is selfs groter as wat die statistiek moontlik te kenne gee, aangesien baie van hulle inwendige organe, wat hulle brein en ingewande insluit, kleiner word om vir hierdie ekstra brandstof plek te maak en gewig te spaar.”

Een indrukwekkende reisiger is die Stille Oseaan- goue strandkiewiet, wat van Alaska na die Hawaii-eilande trek. Behalwe vir die uithouvermoë wat vir die direkte vlug van 4 500 kilometer nodig is, is hulle vermoë om Hawaii in die middel van die oseaan op te spoor, ’n wonderwerk van voëlnavigasie. ’n Goue strandkiewiet waarvan die vlug gemonitor is, het die reis in minder as vier dae afgelê. En een ou voël het die reis al meer as 20 keer voltooi!

Wanneer hulle uiteindelik by hulle Arktiese broeiplekke aankom, word hierdie geharde reisigers se lewe baie bedrywig. Binne twee weke moet hulle ’n maat vind, ’n gebied afbaken en ’n nes maak. Dan het hulle omtrent drie weke om hulle eiers uit te broei en nog drie weke om hulle kleintjies groot te maak. Teen die einde van Julie vlieg hulle weer suid.

Die gevare van migrasie

Daar is baie gevare op die lang reise wat strandvoëls onderneem. Een groot bedreiging kom van mense. In die 19de eeu het die natuurkenner John James Audubon vertel dat ’n jaggeselskap 48 000 Amerikaanse goue strandkiewiete op een dag doodgeskiet het. Vandag het die totale wêreldbevolking van hierdie voëlsoort ietwat herstel, maar dit is waarskynlik nog steeds minder as wat op daardie dag doodgeskiet is.

’n Selfs groter bedreiging vir waadvoëls is die verdwyning van vleilande. Strandvoëls kan nie maklik by sulke verliese aanpas nie. “Waadvoëls se broei-, migrasie- en winterverspreidingspatrone is oor derduisende jare opgebou, en dit is gans te maklik vir die mens om dit te verander of te vernietig”, verduidelik die boek Shorebirds—An Identification Guide to the Waders of the World. Die oorlewing van miljoene waadvoëls hang af van die bewaring van ’n handjievol belangrike rusplekke op die reis.

’n Goeie voorbeeld is dié van Delaware-baai, langs die suidweskus van New Jersey, VSA. Dit is waar omtrent honderdduisend rooiknoete in die lente bymekaarkom om die eiers van die Amerikaanse koningkrap te verslind. Die voëls is ontsettend honger, aangesien hulle so pas “een van die langste ononderbroke vlugte in die voëlwêreld voltooi het.” Binne twee weke het hulle 8 000 kilometer van die suidooste van Brasilië tot in Delaware-baai gevlieg, waartydens hulle die helfte van hulle liggaamsgewig verloor het.

Pogings van bewaringsgesindes kan help om te verseker dat sulke gunstelingrusplekke van die strandvoëls behoue bly. Miskien is daar een van hierdie gebiede in jou omgewing. As jy eers ’n swerm waadvoëls dopgehou het wanneer hulle oor die golwe draai en sweef of as jy na hulle klaende geroep geluister het, sal jy dit moeilik vind om hulle te vergeet.

Soos die natuurkenner Arthur Morris skryf: “Almal wat in strandvoëls belangstel, het iets in gemeen: elkeen van ons het al tallose kere op verlate strande of modderbanke gestaan en ’n swerm strandlopers dopgehou wat lig en donker flits terwyl hulle draai en maal in hulle gesamentlike vlug. En elke keer as dit gebeur, word ons met ’n gevoel van ontsag en verwondering vervul.”

[Voetnoot]

a Waadvoëls, of strandvoëls, behoort tot die wetenskaplike orde Charadrii en sluit meer as 200 soorte in.

[Venster/Prente op bladsy 18]

Gesoute wêreldreisigers

Rooiknoete verdien seker die prys vir die grootste langafstandreisiger. Dié wat in die verre noorde van Kanada broei, bring die winter gewoonlik in Wes-Europa of op die punt van Suid-Amerika deur (meer as 10 000 kilometer daarvandaan)

[Erkenning]

KK Hui

Swerms van nagenoeg ’n miljoen bontstrandlopers is al in Nederland en Mauritanië gesien

Bandstertgriete gaan ver van hulle broeiterrein in Siberië af weg en reis na die Britse Eilande, Suid-Afrika, die Midde-Ooste, Australië of Nieu-Seeland

Drietoonstrandlopers kan gevind word waar hulle langs die strande op so te sê enige plek in die wêreld hardloop. Party kan binne 950 kilometer van die Noordpool broei

[Prente op bladsy 16, 17]

Om uitgestrekte oseane oor te steek, moet waadvoëls groot vetreserwes opbou omdat hulle nie op die water kan rus nie

[Prent op bladsy 16, 17]

Drietoonstrandlopers soek veiligheid in ’n groep

[Prent op bladsy 17]

Bonttobie

[Prent op bladsy 17]

’n Gevlekte rooipootruiter soek na kos tussen die moerasplante

[Foto-erkenning op bladsy 16]

Boonste en onderste panoramiese foto’s: © Richard Crossley/VIREO

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel