Jeugdige krag—Vir ewig!
DIE man langs Jesus was besig om te sterf. “Jesus”, het hy gesmeek, “dink aan my wanneer u in u koninkryk kom.” Jesus het geantwoord: “Voorwaar, ek sê vir jou vandag: Jy sal saam met my in die Paradys wees” (Lukas 23:42, 43). Daardie anonieme man was nie ’n bejaarde wat weens siekte op sterwe was nie; hy was ’n misdadiger wat ter dood veroordeel is vir sy misdade. Nietemin kan bejaarde mense baie leer uit sy wanhopige situasie.
Ons kan nie anders as om daardie man se buitengewone vertroue te bewonder nie! Al was Jesus besig om langs hom aan ’n folterpaal te sterf, het daardie man glad nie getwyfel dat Jesus beslis as Koning van God se Koninkryk sou heers nie. Hy het ook geredeneer dat Jesus hom eendag ten goede sou kon onthou. Dink net—daardie veroordeelde man sal uit die dood opstaan in ’n wonderlike paradys, met Jesus as Koning!
Die mensdom is in ’n soortgelyke posisie as daardie sterwende kwaaddoener. Hoe so? Ons betaal almal, ongeag ons ouderdom, die prys vir sonde, en ons het verlossing nodig (Romeine 5:12). Soos daardie misdadiger kan ons ons tot Christus Jesus wend vir hoop—selfs die hoop om ontslae te raak van die pynlike probleme wat met bejaardheid gepaardgaan! Ja, Jesus het die ewige lewe in fisiese en verstandelike volmaaktheid op ’n paradysaarde vir die mensdom in die vooruitsig gestel.—Johannes 3:16, 36.
Alles nuut vir oud en jonk
Onder Christus se Koninkryk sal die bewoners van die aarde “hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede” (Psalm 37:11). Niemand sal sê: “Ek is siek” nie (Jesaja 33:24). Enige gebrek waarmee ons moontlik moes saamleef, sal weggeneem word, want “die kreupele [sal] net soos ’n takbok klim, en die tong van die stomme sal van vreugde uitroep” (Jesaja 35:6). Bejaarde mense sal hulle jeugdige krag herwin; hulle vlees sal “frisser word as in die jeug”.—Job 33:25.
Maar is dit realisties om hierdie hoop te koester? Wel, dink aan die Een wat die Paradyshoop vir daardie sterwende man gebied het. Die skares het by talle geleenthede mense na Jesus gebring wat kreupel, vermink, blind en doof was. Hy was gretig om “elke soort kwaal en elke soort gebrek” te genees (Matteus 9:35, 36; 15:30, 31; Markus 1:40-42). Hy het tasbare bewyse voorsien van wat sy Koninkryk sal doen. Jesus het selfs sommige mense wat gesterf het, weer laat lewe (Lukas 7:11-17; Johannes 11:38-44). Sodoende het hy getoon dat sy belofte betroubaar is dat “almal wat in die gedenkgrafte is, sy stem sal hoor en sal uitkom”.—Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15.
Stel jou voor dat jy in die Paradys wakker word met ’n nuwe liggaam, helder sig, ore wat die geluide van voëls en gelukkige stemme kan hoor, arms en bene sonder pyn en ’n heeltemal gesonde verstand. Die “rampspoedige dae” van bejaardheid sal vir ewig iets van die verlede wees (Prediker 12:1-7; Jesaja 35:5, 6). Selfs die dood gaan “tot niet gemaak word”—dit sal ‘vir ewig verswelg wees’.—1 Korintiërs 15:26, 54.
As ons huidige wêreldgebeure in die lig van Bybelprofesieë ondersoek, toon dit dat bejaardheid, soos ons dit nou ken, binnekort iets van die verlede sal wees (Matteus 24:7, 12, 14; Lukas 21:11; 2 Timoteus 3:1-5). Die tyd is op hande wanneer bejaardes wat geloof in God beoefen en hom dien, weer eens jeugdige krag sal geniet—maar hierdie keer sal dit vir ewig wees!
[Venster/Prent op bladsy 9]
Oefen jou brein!
Net soos fisiese oefening ’n spier versterk, stimuleer verstandelike oefening die brein. Om die brein te stimuleer, moet ons nuwe dinge doen. Hier volg ’n paar maniere waarop breinselverbindings gevorm en versterk kan word.
◼ Ontwikkel belangstellings in nuwe dinge, soos kuns, beeldhouwerk, woordspeletjies, legkaarte en blokkiesraaisels; leer ’n ander taal aan.
◼ Assosieer met verskillende mense; kuier en gesels om verveeldheid te voorkom en die verstand helder te hou.
◼ Bou jou geestelikheid op. “Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak.”—Filippense 4:6, 7.
◼ Lees gepaste leesstof; vertel iemand van wat jy gelees het.
◼ Probeer om nuusitems van radio- of TV-nuusuitsendings te onthou, en vertel iemand daarvan om jou kort- en langtermyngeheue te oefen.
◼ Gebruik jou linkerhand as jy regs is, of andersom, wanneer jy die TV se afstandbeheer of die telefoon gebruik, of jou tande borsel.
◼ Gebruik regdeur die dag al jou sintuie soveel as moontlik.
◼ Leer meer omtrent en besoek naby- of verafgeleë plekke wat jou interesseer.
[Prent op bladsy 8, 9]
Jesus belowe dat pynlike bejaardheid binnekort sal verdwyn en vervang sal word deur ewigdurende jeugdige lewenskrag