Hoe om die uitdagings van bejaardheid die hoof te bied
“ONS lewe maar sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig, en dié is vol swaarkry en leed. Dit is gou verby, ons vlieg na ons einde toe” (Psalm 90:10, Die Bybel, 1983). Hierdie 3 000 jaar oue digterlike lied bevestig dat bejaardheid ’n eeue oue uitdaging is. Ondanks prysenswaardige mediese vooruitgang veroorsaak sekere aspekte van bejaardheid baie “swaarkry en leed”. Na watter aspekte van bejaardheid word hier verwys, en hoe bied party hierdie uitdagings die hoof?
Bejaard maar helder van verstand
“My grootste vrees”, het die 79-jarige Hans gesê, “is seniliteit.” Soos talle bejaardes het Hans se vergeetagtigheid hom begin kwel. Hy was bekommerd dat hy besig was om beheer te verloor oor dit wat ’n eertydse digter “die goue bak” genoem het—die wonderlike brein met sy kosbare herinneringe (Prediker 12:6). Hans het gevra: “Is verstandelike agteruitgang ’n normale deel van veroudering?”
As jy al, soos Hans, name vergeet het en gewonder het of dit die begin van ernstige verstandelike agteruitgang is, moet jy nie mismoedig raak nie: Vergeetagtigheid kom voor op alle ouderdomme, en veranderinge in breinwerking wat ’n ouer persoon dalk ondervind, is nie gewoonlik as gevolg van seniliteit nie.a Hoewel ’n mate van geheueverlies in die latere lewe algemeen is, “bly die meeste bejaardes in volle beheer van hulle verstandelike vermoëns”, skryf dr. Michael T. Levy, voorsitter van gedragswetenskappe by die Universiteitshospitaal van Staten Island in New York.
Ja, jonger mense kan spesifieke feite gewoonlik vinniger herroep as bejaardes. Maar “as jy die spoed buite rekening laat”, sê die neuroloog Richard Restak, “vaar ouer mense oor die algemeen ten minste net so goed soos jonger mense”. Trouens, met die regte onderrigting en opleiding kan ouer mense wat verstandelik gesond is, aanhou leer, onthou en selfs spesifieke vermoëns verbeter.
Geheueprobleme en geneeslike toestande
Maar sê nou iemand ondervind ernstiger geheueprobleme? Selfs in daardie geval moet hy of sy nie outomaties tot die slotsom kom dat seniliteit die oorsaak is nie. Baie ander geneeslike toestande wat in die latere lewe voorkom, kan geheueprobleme en onverwagse verwarring veroorsaak. Sulke versteurings word dikwels verkeerdelik aan “bejaardheid” of “seniliteit” toegeskryf—soms selfs deur professionele mense wat nie behoorlik ingelig is nie. Dit is nie net vernederend vir ouer pasiënte nie, maar dit kan selfs verhinder dat hulle gepaste mediese behandeling kry. Wat is van hierdie versteurings?
Onverwagse verwarring kan veroorsaak word deur wanvoeding, ontwatering, bloedarmoede, kopbeserings, skildklierprobleme, ’n vitamientekort, newe-effekte van medikasie of selfs ’n verandering van omgewing. Geheueprobleme kan veroorsaak word deur langdurige stres; en infeksies veroorsaak dikwels verwarring by bejaardes. Depressie kan ook ’n oorsaak wees van geheueverlies en verwarring by bejaarde pasiënte. As bejaardes dus “skielik verward begin raak”, sê dr. Levy, “moet dit nooit geïgnoreer word of as ongeneeslike seniliteit afgemaak word nie”. ’n Deeglike mediese ondersoek kan help om die onderliggende oorsaak van die simptome vas te stel.
Hoe om depressie die hoof te bied
Depressie is niks nuuts vir mense nie, selfs nie vir getroue knegte van God nie. Byna tweeduisend jaar gelede moes die apostel Paulus mede-Christene hierdie raad gee: “Praat vertroostend met die terneergedrukte siele” (1 Tessalonisense 5:14). In ons stresvolle tye is daar selfs ’n groter behoefte hieraan. Maar ongelukkig word depressie by ouer mense dikwels nie gediagnoseer nie of verkeerd gediagnoseer.
Weens heersende wanopvattings dat mense neerslagtiger en buieriger raak namate hulle ouer word, kan simptome dalk beskou word as ’n normale deel van veroudering—deur ander sowel as deur die bejaarde persoon self. “Dit is egter nie die geval nie”, sê die boek Treating the Elderly. “Depressie by bejaardes is nie ’n normale deel van die verouderingsproses nie.”
Langdurige kliniese depressie—in teenstelling met gewone droefheid of ’n neerslagtige bui—is ’n ernstige siekte wat moontlik ernstige gevolge kan hê en nie geïgnoreer moet word nie. Depressie wat nie behandel word nie, kan vererger en so chronies raak dat sommige wanhopige pasiënte selfmoord pleeg. Wat so tragies is omtrent depressie by ouer pasiënte, verduidelik dr. Levy, is dat “die mees geneeslike geestesiekte ook die dodelikste kan wees”. As die depressie voortduur, moet die pasiënt dalk deur ’n professionele gesondheidswerker met ondervinding in die behandeling van gemoedsversteurings behandel word.b—Markus 2:17.
Mense wat aan depressie ly, kan daarvan seker wees dat Jehovah “baie teer in geneentheid en medelydend is” (Jakobus 5:11, voetnoot in NW). Hy “is naby die gebrokenes van hart” (Psalm 34:18). Ja, hy is by uitstek die een “wat die terneergedruktes vertroos”.—2 Korintiërs 7:6.
Geen rede om nutteloos te voel nie
“Moet my nie wegwerp in die tyd van die ouderdom nie; moet my nie verlaat juis wanneer my krag ingee nie”, het die getroue koning Dawid meer as 3 000 jaar gelede gebid (Psalm 71:9). Selfs in die 21ste eeu is sulke gevoelens nie ongewoon onder bejaardes wat bang is dat ander hulle as nutteloos sal beskou nie. Beperkings weens swak gesondheid dra maklik by tot gevoelens van onwaardigheid, en verpligte aftrede kan ’n mens se gevoel van eiewaarde ondermyn.
Maar as ons konsentreer op wat ons kan doen, eerder as om ontmoedig te raak deur wat ons nie meer kan doen nie, kan ons ’n gevoel van eiewaarde behou en sal ons nie dink dat ons nutteloos is nie. ’n VN-verslag het in hierdie verband aanbeveel dat ’n mens ‘voortdurend ontwikkel deur middel van formele en informele onderrig, betrokkenheid by gemeenskapsorganisasies en godsdiensbedrywighede’. Ernest, een van Jehovah se Getuies en ’n afgetrede meesterbakker van Switserland, is ’n voorbeeld van die voordele wat ‘voortdurende ontwikkeling deur onderrig’ inhou. Toe hy in sy sewentigerjare was, het hy besluit om ’n rekenaar te koop en te leer hoe om dit te gebruik. Waarom het hy dit gedoen, terwyl baie van sy ouderdom geïntimideer voel deur tegnologie? “Eerstens”, het hy verduidelik, “om my brein aktief te hou namate ek ouer word. En tweedens, om by te hou met tegnologie wat my kan help met my Bybelnavorsing en my bedrywighede in die Christengemeente.”
As bejaardes aan produktiewe bedrywighede deelneem, kan dit baie van hulle basiese behoeftes bevredig: Dit maak hulle lewe sinvol en gee hulle ’n gevoel van voldoening, en hulle kan selfs ’n klein inkomste verdien. Die wyse koning Salomo het gesê dat dit ’n gawe van God is “om bly te wees en om goed te doen in die lewe; en ook dat elke mens eet en inderdaad drink en die goeie sien vir al sy harde werk”.—Prediker 3:12, 13.
Ons doen soveel as wat ons kan
In baie gemeenskappe is dit die bejaardes wat kennis, sowel as sedelike en geestelike waardes, aan latere geslagte oordra. Koning Dawid het geskryf: “Nou dat ek oud en grys geword het, moet U my tog nie alleen laat nie, o God, dat ek nog aan die geslagte wat kom, kan vertel van u werk en u mag.”—Psalm 71:18, Die Bybel, 1983.
Maar sê nou ouer mense het ernstige beperkings weens gesondheid of omstandighede? Dit is wat die 79-jarige Sarah, een van Jehovah se Getuies, moedeloos gemaak het, en sy het ’n Christen- ouer man van haar gevoelens vertel. Hy het haar herinner aan die Bybelbeginsel dat ‘die smeking van ’n regverdige groot krag het’ (Jakobus 5:16). “Deur die jare heen”, het hy verduidelik, “het jy ’n intieme verhouding met God opgebou. Nou kan die res van ons baat vind by daardie verhouding wanneer jy in jou persoonlike gebede vir ons bid.” Sy het baie bemoedig gevoel toe hy gesê het: “Sarah, ons het jou gebede ten behoewe van ons nodig.”
Soos Sarah besef het, is gebed ’n uitstekende en betekenisvolle manier waarop talle ouer mense hulle nag en dag vir ander inspan (Kolossense 4:12; 1 Timoteus 5:5). Terselfdertyd help sulke gebede getroue ouer mense om nader te kom aan die “Hoorder van die gebed”, Jehovah.—Psalm 65:2; Markus 11:24.
Ouer mense wat beperkings het, maar wat vrygewig met hulle ondervinding en middele is, is waardevol in hulle gemeenskap. Hulle bewys dat ‘grysheid ’n pragtige kroon is wanneer dit op die weg van regverdigheid gevind word’.—Spreuke 16:31.
Maar ons kan met goeie rede vra: Wat hou die toekoms vir ons in namate ons ouer word? Is dit realisties om uit te sien na ’n beter lewe in ons latere jare?
[Voetnote]
a Party navorsers beweer dat “byna 90 persent van alle mense ouer as 65, nie aan seniliteit ly nie”. Vir verdere inligting oor die behandeling van demensie, sien asseblief die reeks “Alzheimer se siekte—Hoe om die pyn te verlig”, in die Ontwaak! van 22 September 1998.
b Ontwaak! staan geen spesifieke behandeling voor nie. Christene moet seker maak dat die behandeling wat hulle kies, in ooreenstemming is met Bybelbeginsels. Sien die reeks “Verstaan gemoedsversteurings” in die Ontwaak! van 8 Januarie 2004.
[Lokteks op bladsy 5]
Bejaardes voel dikwels dat hulle nie kan bybly in vandag se gejaagde wêreld nie
[Venster/Prent op bladsy 7]
Hoe jy bejaardes kan help
◼ Laat hulle hulle waardigheid behou. “Moenie ’n ouer man skerp kritiseer nie. Inteendeel, vermaan hom soos ’n vader, . . . ouer vroue soos moeders.”—1 Timoteus 5:1, 2.
◼ Luister aandagtig. “Wees [gou] om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word.”—Jakobus 1:19.
◼ Betoon empatie. “Julle [moet] almal eensgesind wees, meegevoel betoon, broederlike geneentheid en tere medelye hê, nederig van verstand wees, nie kwaad met kwaad of uitskellery met uitskellery vergeld nie.”—1 Petrus 3:8, 9.
◼ Onderskei wanneer aanmoediging nodig is. “Soos goue appels in silwersnywerk is ’n woord wat op sy regte tyd gespreek word.”—Spreuke 25:11.
◼ Sluit hulle by jou bedrywighede in. “Volg die weg van gasvryheid.”—Romeine 12:13.
◼ Bied praktiese hulp aan. “Wie hierdie wêreld se middele vir lewensonderhoud het en sy broer sien gebrek ly en tog die deur van sy tere medelye vir hom sluit, in watter opsig bly die liefde vir God in hom? Kindertjies, laat ons liefhê, nie met woorde of met die tong nie, maar met dade en in waarheid.”—1 Johannes 3:17, 18.
◼ Wees lankmoedig. “Beklee julle . . . met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid.”—Kolossense 3:12.
As ons na bejaardes omsien, toon ons respek vir God se standaarde, want sy Woord sê: “Jy moet aan ’n bejaarde agting betoon.”—Levitikus 19:32.
[Prent op bladsy 6]
’n Deeglike mediese ondersoek sal dalk nuttig wees