Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 8/22 bl. 25-27
  • Hoe kan ek dit vermy om met die verkeerde mense deurmekaar te raak?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan ek dit vermy om met die verkeerde mense deurmekaar te raak?
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Watter soort vriende is goed vir jou?
  • Vriendskappe onder mede-Christene
  • Vriendskap met die teenoorgestelde geslag
  • Pas op vir “Epikureërs”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Waarom voel ek aangetrokke tot die verkeerde mense?
    Ontwaak!—2005
  • Wees lief vir dié vir wie God lief is
    ‘Hou julle in God se liefde’
  • Die huwelik—’n gawe van ’n liefdevolle God
    ‘Hou julle in God se liefde’
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 8/22 bl. 25-27

Jongmense vra . . .

Hoe kan ek dit vermy om met die verkeerde mense deurmekaar te raak?

“Ek het met ’n meisie by die skool begin maats maak. . . . Sy het nie dwelms gebruik of wilde partytjies bygewoon nie, en sy was nie onsedelik nie. Sy het nie eers gevloek nie en het onderskeidings in al haar vakke gekry. Maar sy was beslis slegte geselskap.”—Beverly.a

WAAROM het Beverly tot hierdie gevolgtrekking gekom? Sy besef nou dat sy weens hierdie meisie se invloed by skadelike aktiwiteite betrokke geraak het. “Terwyl ons vriende was”, verduidelik Beverly, “het ek ook spiritistiese boeke begin lees en selfs ’n storie daaroor geskryf.”

’n Jong meisie met die naam Melanie is ook beïnvloed om verkeerde dinge te doen—maar deur iemand wat glo ’n mede-Christen was! Hoe kan jy vasstel of iemand heel moontlik heilsame geselskap sal wees? Is noue omgang met ongelowiges altyd gevaarlik? Is vriendskappe met mede-Christene altyd sonder gevaar?

En in die besonder, wat van vriendskap met iemand van die teenoorgestelde geslag? As jy iemand in die oog het as ’n potensiële huweliksmaat, hoe kan jy vasstel of julle verhouding goed vir jou sal wees? Kom ons kyk hoe Bybelbeginsels ons kan help om sulke vrae te beantwoord.

Watter soort vriende is goed vir jou?

Moes die feit dat Beverly se skoolmaat nie ’n aanbidder van die ware God was nie, haar nie twee keer laat dink het voordat sy ’n vriendskap met haar aangekweek het nie? Ware Christene dink weliswaar nie dat iemand ’n slegte mens of onsedelik is bloot omdat hy of sy nie ’n medegelowige is nie. Maar wanneer jy hegte bande met iemand smee, is daar rede om versigtig te wees. Die apostel Paulus het diegene in die eerste-eeuse Korintiese gemeente gewaarsku: “Slegte geselskap tas die karakter aan” (1 Korintiërs 15:33, The Bible—An American Translation). Wat het hy bedoel?

Sommige van daardie Korintiese Christene het heel moontlik met die Epikureërs, volgelinge van die Griekse filosoof Epikurus, omgegaan. Epikurus het wel sy volgelinge geleer om gesonde verstand, moedigheid, selfbeheersing en regverdigheid aan die dag te lê. Hy het hulle selfs afgeraai om in die geheim te sondig. Waarom het Paulus die Epikureërs, en selfs diegene in die gemeente met soortgelyke idees, dan as “slegte omgang” beskou?

Die Epikureërs was nie aanbidders van die ware God nie. Omdat hulle nie in die opstanding van die dooies geglo het nie, het hulle hulle daarop toegespits om soveel as moontlik uit die lewe te kry (Handelinge 17:18, 19, 32). Dit is dus geen wonder nie dat party in die gemeente in Korinte geloof in die opstanding begin verloor het omdat hulle met sulke mense omgegaan het. Dit is waarom 1 Korintiërs hoofstuk 15—waarin ons Paulus se waarskuwing teen slegte omgang vind—baie argumente bevat wat bedoel was om daardie vroeë Christene weer daarvan te oortuig dat die opstandingshoop ’n werklikheid is.

Wat is die punt? Selfs goddelose mense kan goeie eienskappe openbaar. Maar as jy hulle as jou hegte vriende kies, sal jou denke, geloof en gedrag aangetas word. Paulus het dus in sy tweede brief aan die Korintiërs gesê: “Moenie saam met ongelowiges onder ’n ongelyke juk kom nie.”—2 Korintiërs 6:14-18.

Fred, wat 16 jaar oud is, het die wysheid van Paulus se woorde geleer. Hy het aanvanklik ingestem om by ’n buitemuurse skoolaktiwiteit betrokke te raak wat behels het dat hy na ’n ontwikkelende land reis en help om kinders daar te leer. Maar terwyl Fred en die ander leerlinge saam daarvoor voorberei het, het sy beskouing verander. Hy het gesê: “Ek kon sien dat dit sleg sou wees vir my geestelikheid om soveel tyd in hulle geselskap deur te bring.” Om dié rede het Fred besluit om hom aan die projek te onttrek en om minderbevoorregtes op ander maniere te help.

Vriendskappe onder mede-Christene

Maar wat van vriendskappe in die Christengemeente? Toe Paulus vir die jong man Timoteus geskryf het, het hy gewaarsku: “In ’n groot huis is daar . . . nie net voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en erdewerk, en party vir ’n eervolle doel, maar ander vir ’n oneervolle doel. As iemand dus van laasgenoemdes wegbly, sal hy ’n voorwerp vir ’n eervolle doel wees, geheilig, nuttig vir sy eienaar, toeberei vir elke goeie werk” (2 Timoteus 2:20, 21). Paulus het dus nie die feit weggesteek dat daar selfs onder Christene dié kan wees wat hulle nie eervol gedra nie. En hy was net so reguit toe hy Timoteus aangemoedig het om van hierdie mense af weg te bly.

Beteken dit dat jy agterdogtig moet wees teenoor mede-Christene? Nee. Dit beteken ook nie dat jy moet verwag dat jou vriende volmaak moet wees nie (Prediker 7:16-18). Maar die blote feit dat ’n jongmens Christelike vergaderinge bywoon of ouers het wat ywerig is in die gemeente, beteken nie op sigself dat dit verstandig sal wees om hom of haar as ’n hegte vriend te kies nie.

“Deur sy handelinge laat ’n seun [of meisie] hom tog ken, of sy optrede suiwer en reg is”, sê Spreuke 20:11. Daarom sal dit goed wees om aan die volgende te dink: Is dit duidelik dat dié persoon se verhouding met Jehovah die middelpunt van sy of haar lewe is? Of is daar eerder bewyse van denke en gesindhede wat “die gees van die wêreld” weerspieël? (1 Korintiërs 2:12; Efesiërs 2:2). Word jou begeerte om Jehovah te aanbid, versterk deur jou omgang met hom of haar?

As jy vriende kies wat baie lief is vir Jehovah en vir geestelike dinge, sal jy nie net probleme vermy nie, maar ook meer krag vind om God te dien. Paulus het vir Timoteus gesê: “Streef na regverdigheid, geloof, liefde, vrede, saam met dié wat die Here uit ’n rein hart aanroep.”—2 Timoteus 2:22.

Vriendskap met die teenoorgestelde geslag

Het jy, as jy oud genoeg is en wil trou, gedink aan hoe hierdie einste beginsels jou keuse van ’n maat moet beïnvloed? Daar is baie dinge wat jou tot ’n voornemende huweliksmaat aangetrokke kan laat voel, maar nie een van hulle is so belangrik soos die persoon se geestelike toestand nie.

Om dié rede waarsku die Bybel herhaaldelik om nie met iemand te trou wat nie “in die Here” is nie (1 Korintiërs 7:39; Deuteronomium 7:3, 4; Nehemia 13:25). Daar is weliswaar mense wat nie medegelowiges is nie, wat verantwoordelik, ordentlik en liefdevol kan wees. Maar hulle het nie dieselfde motivering as jy om op hierdie eienskappe voort te bou en met die verloop van jare in die huwelik te volhard nie.

Aan die ander kant sal iemand wat toegewy en lojaal aan Jehovah is, doelbewus Christelike eienskappe aankweek en dit ten alle koste bewaar. Hy of sy besef dat daar volgens die Bybel ’n verband is tussen om jou maat lief te hê en ’n goeie verhouding met Jehovah te geniet (Efesiërs 5:28, 33; 1 Petrus 3:7). Wanneer al twee maats Jehovah liefhet, het hulle dus die sterkste aansporing om lojaal aan mekaar te bly.

Beteken dit dat huwelike tussen medegelowiges beslis sal slaag? Nee. Wat sou byvoorbeeld gebeur as jy met iemand trou wat nie veel in geestelike dinge belangstel nie? Iemand wat geestelik swak is, is nie toegerus om die druk van hierdie stelsel te weerstaan nie, en die kanse is groter dat hy van die Christengemeente af sal wegdryf (Filippense 3:18; 1 Johannes 2:19). Stel jou die hartseer en huweliksprobleme voor wat jou in die gesig kan staar as jou maat by die “verontreinigings van die wêreld” betrokke raak.—2 Petrus 2:20.

Voordat jy ’n verhouding aankweek wat tot ’n huwelik kan lei, moet jy jou afvra: Toon hierdie persoon dat hy of sy ’n geestelike persoon is? Stel die persoon ’n goeie voorbeeld wat sy of haar Christelike lewenswyse betref? Is hierdie persoon goed gewortel in Bybelwaarheid of het hy of sy meer tyd nodig om geestelik te groei? Is jy oortuig dat liefde vir Jehovah die belangrikste dryfkrag in sy of haar lewe is? Dit is nuttig om te weet of die persoon ’n goeie reputasie het. Maar uiteindelik moet jy oortuig wees dat die een in wie jy belangstel, toegewy is aan Jehovah en waarskynlik ’n goeie huweliksmaat sal wees.

Onthou ook dat party wat aangetrokke voel tot die “verkeerde mense”, eers aangetrek word deur die verkeerde dinge—soos die een of ander ongepaste aktiwiteit of vorm van vermaak. Voorbeeldige jongmense in die Christengemeente sal nie saam met jou aan hierdie dinge deelneem nie. Ondersoek dus jou hart.

Moenie mismoedig raak as jy agterkom dat jou hart gedissiplineer moet word nie. Die hart kan gedissiplineer word (Spreuke 23:12). Dit kom hierop neer: Wat wil jy werklik hê? Wil jy graag aangetrek word deur goeie dinge en dié wat dit beoefen? Met Jehovah se hulp kan jy so ’n hart aankweek (Psalm 97:10). En as jy jou waarnemingsvermoëns oefen om te onderskei tussen wat reg en verkeerd is, sal jy dit makliker vind om vas te stel wie heilsame en opbouende vriende sal wees.—Hebreërs 5:14.

[Voetnoot]

a Name is verander.

[Prent op bladsy 26]

Opbouende vriende is ’n positiewe geestelike invloed

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel