Jongmense vra . . .
Waarom voel ek aangetrokke tot die verkeerde mense?
“Ek het geweet dat ek nie te vriendelik met hom moet raak nie, maar ek het dit toegelaat. Ek kon nie glo dat ’n man tyd saam met my wou deurbring nie.”—Nancy.a
“Ek het alleen rolskaatsbaan toe gegaan en het sommer gou gereeld met die ‘vriende’ begin omgaan wat ek daar gemaak het. Kort voor lank het ek ’n onsedelike lewe gelei.”—Dan.
NANCY en Dan het albei ’n goeie geestelike fondament gehad. Nancy is in ’n godvresende gesin grootgemaak en het begin om haar geloof aan ander bekend te maak toe sy nege jaar oud was. Dan het as ’n tiener die voltydse diens betree. Tog het al twee ernstige terugslae in hulle geestelike lewe gehad. Waarom? Hulle het met die verkeerde mense omgegaan.
Het jy al ooit gevind dat jy onverwags aangetrokke voel tot iemand wat jy in jou binneste geweet het ’n slegte invloed op jou het? Die persoon was dalk ’n klasmaat wat dieselfde belangstellings as jy gehad het—of selfs iemand van die teenoorgestelde geslag van wie jy gehou het.
Jy het waarskynlik gedink aan die Bybel se raad: “Slegte omgang bederf nuttige gewoontes” (1 Korintiërs 15:33). Maar is alle mense wat Jehovah nie aanbid nie, slegte omgang? Sê nou hulle het sekere aantreklike, selfs bewonderenswaardige, eienskappe? En wat van iemand wat ’n medegelowige is, maar wat ’n swak geestelike voorbeeld stel? Voordat ons hierdie vrae beantwoord, kom ons kyk eers hoe en waarom ’n mens tot iemand anders aangetrokke kan voel.
Wat sit agter die aantrekking?
Omdat alle mense na God se beeld geskep is, kan daar verwag word dat party wat Jehovah nie ken nie, goeie eienskappe sal openbaar. Daarom kry jy party mense wat ordentlik, selfs gaaf, is al aanbid hulle nie die ware God nie. Moet jy alle kontak met sulke mense vermy net omdat hulle nie Bybelwaarhede ken nie? Glad nie. Wanneer die Bybel ons aanraai om “aan almal goed [te] doen”, sluit dit diegene in wat nie dieselfde Christelike oortuigings as jy het nie (Galasiërs 6:10). Met ander woorde, om versigtig te wees oor wie jy as jou intieme vriende kies, beteken nie dat jy jou moet gedra asof jy beter is as ander nie (Spreuke 8:13; Galasiërs 6:3). Sulke gedrag sal jou Christelike oortuigings in ’n slegte lig stel.
Sommige jong Christene het egter verder gegaan as om net vriendelik te wees; hulle het hegte bande gesmee met mense wat min of geen belangstelling in geestelike dinge toon nie. Dan, wat vroeër genoem is, het ’n uitstekende rolskaatser geword. Die mense met wie hy gereeld by die plaaslike rolskaatsbaan begin omgaan het, was nie Christene nie. Op die ou end het Dan saam met sy nuwe “vriende” aan onsedelike gedrag deelgeneem en met dwelms geëksperimenteer. Dan het besef dat sy lewenswyse nie meer in ooreenstemming is met die Christelike godsdiens nie en het dus sy bediening verlaat en nie meer gemeentelike vergaderinge bygewoon nie. Hy het eers ’n paar jaar later die moed bymekaargeskraap om die nodige veranderinge te maak om na ware aanbidding terug te keer.
Melanie wou vriende maak met ’n medegelowige wat geestelik nie so goed gedoen het nie. “Daar is vir my gesê dat sy ’n bietjie aanmoediging nodig gehad het, en daarom het ek met haar begin omgaan”, het Melanie verduidelik. Die Bybel moedig Christene natuurlik aan om ‘die swakkes te ondersteun’ (1 Tessalonisense 5:14). Maar Melanie het saam met haar nuwe vriendin na kroeë toe begin gaan waar verdere slegte omgang tot skandelike gedrag gelei het.
Die rol van die gesin
Gesinsverhoudings kan ’n invloed hê op die vriendskappe wat jy aanknoop. Michelle het gewonder waarom sy altyd van seuns hou wat koud en afsydig is. Sy het tot die gevolgtrekking gekom dat hulle haar herinner het aan haar pa, met wie sy nooit ’n hegte verhouding gehad het nie en wat blykbaar nooit tyd gehad het om saam met haar deur te bring nie. Sy glo dat sy so gewoond geraak het om die goedkeuring en aandag van ’n ongenaakbare man te soek dat sy onbewustelik na sulke verhoudings aangetrek is.
In teenstelling daarmee kan jongmense wat deur Christenouers grootgemaak is, nuuskierig wees oor hoe ander lewe omdat hulle voel dat hulle ouers oorbeskermend was. Of dit nou die geval is of nie, die vraag is: Moet ’n mens daarvoor probeer vergoed deur met ‘vriende van die wêreld’ om te gaan? (Jakobus 4:4). Kyk byvoorbeeld na wat met Bill gebeur het.
Hoewel Bill se ma hom van kleins af die Skrif geleer het, het hy besluit om nie sy lewe aan Jehovah toe te wy nie, want hy het gevoel dat dit sy vryheid sal beperk. Omdat hy self wou uitvind hoe die lewe sou wees as hy nie ’n ware Christen was nie, het hy vriende gemaak met ’n bende, wat veroorsaak het dat hy betrokke geraak het by ’n lewe van dwelms, geweld en misdaad. Hy is as gevolg van ’n wilde jaagtog met die polisie beseer en was maande lank in ’n koma. Die dokters het gedink dat hy dit nie sou oorleef nie. Gelukkig het Bill herstel. Maar hy is blind en gestremd. Hy het deur bittere ondervinding geleer en is nou ’n toegewyde Christen. Maar Bill het ook besef dat om deur ondervinding te leer, lewenslange gevolge kan hê.
Ander invloede
Soms beïnvloed die vermaaklikheidsmedia ’n jongmens se beskouing van wat ’n ideale vriend is. Dit is byvoorbeeld nie ongewoon dat boeke, televisieprogramme, rolprente en musiekvideo’s ’n held uitbeeld wat eers ongevoelig of sinies is en dan later meer medelydende eienskappe openbaar nie. Die indruk wat geskep word, is dat mense wat gevoelloos en selfsugtig lyk, eintlik sensitief en goedhartig kan wees. Daarbenewens kan die indruk geskep word dat ’n goeie vriend, dikwels een van die teenoorgestelde geslag, al is wat nodig is om hierdie beter eienskappe na vore te bring. Die idee is weliswaar baie gewild in stories. Maar hoe dikwels dink jy word hierdie romantiese fantasie in die regte lewe bewaarheid? Ongelukkig is party jongmense deur hierdie onheilsame fantasieë bedrieg en het hulle vriende gemaak—of selfs getrou—met ’n selfsugtige, gewelddadige persoon en dan tevergeefs gewag op die “metamorfose” tot ’n sensitiewe siel.
Kom ons kyk na nog ’n rede waarom party deur die verkeerde mense aangetrek word: Hulle beskou hulleself as onaantreklik en is dus tevrede met byna enigiemand wat lyk of hulle in hulle belangstel. Nancy, wat vroeër genoem is, het geweet wat die Bybel te sê het oor om “net in die Here” te trou (1 Korintiërs 7:39). Maar sy het haarself altyd as onaantreklik beskou en het dus gevlei gevoel toe ’n werksmaat wat nie aan dieselfde geloof as sy behoort het nie, romantiese belangstelling in haar getoon het. Sy het met hom begin uitgaan en gevaarlik naby daaraan gekom om geslagsonsedelikheid te pleeg.
Soos die bogenoemde ondervindinge wys, is daar baie redes waarom ’n jong Christen aangetrokke kan voel tot mense wat ’n slegte invloed op hom of haar het—en dit lyk of daar net soveel maniere is om hegte vriendskappe met sulke persone te regverdig. Nogtans is dit onvermydelik dat sulke vriendskappe pynlike, selfs rampspoedige, gevolge sal hê. Waarom?
Die krag van vriendskap
Die feit is dat jy soos jou vriende word. Op hierdie manier oefen diegene saam met wie ons ons tyd deurbring, groot krag en invloed oor ons uit. Spreuke 13:20 wys dat hierdie krag positief of negatief kan wees: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan.” Soos twee mense wat in dieselfde motor ry, beweeg goeie vriende noodwendig in dieselfde rigting en kom hulle by dieselfde bestemming uit. Vra jou dus af: ‘Gaan die pad waarop my vriend is, my neem na waar ek wil wees? Sal dit my nader aan my geestelike doelwitte en ideale bring?’
Dit kan weliswaar moeilik wees om in hierdie opsig eerlik met jouself te wees. Sterk gevoelens kan betrokke wees. Maar is gevoelens alleen ’n betroubare gids wanneer jy vriende kies? Jy het dalk al dikwels die raad “Volg jou hart” gehoor. Maar Spreuke 28:26 sê: “Hy wat op sy eie hart vertrou, is dwaas.” Waarom? Want “die hart is verraderliker as enigiets anders en is desperaat” (Jeremia 17:9; Numeri 15:39). Om verraderlik te wees, is om dislojaal of vals of ’n verraaier te wees. Sal jy iemand vertrou wat bekend staan as ’n bedrieër en ’n verraaier? Ons figuurlike hart kan misleidend wees. ’n Verhouding is dus nie noodwendig gesond net omdat dit reg voel nie.
God se Woord is ’n baie betroubaarder gids. In teenstelling met jou onvolmaakte hart, sal Bybelbeginsels jou nooit verraai of teleurstel nie. Hoe kan Bybelbeginsels jou help om vas te stel of iemand moontlik ’n opbouende vriend sal wees? En hoe kan jy dit voorkom om ’n slegte keuse te maak wanneer jy jou lewenslange vriend—’n huweliksmaat—kies? Hierdie vrae sal in ’n toekomstige artikel bespreek word.
[Voetnoot]
a Name is verander.
[Prent op bladsy 20]
Die media kan ons beskouing van ’n ideale vriend beïnvloed