Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 7/8 bl. 24-27
  • Ontmoet die Brasiliaanse gaucho!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ontmoet die Brasiliaanse gaucho!
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Nie net churrasco en maté nie
  • Die gaucho se klere en musiek
  • Lief vir hulle land
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2005
  • B14-B Mate, gewigte en munte (Deel 2)
    Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
  • Brittanje se “mal koei”-dilemma
    Ontwaak!—1990
  • Rys—Verkies jy dit gekook of rou?
    Ontwaak!—1995
Ontwaak!—2005
g05 7/8 bl. 24-27

Ontmoet die Brasiliaanse gaucho!

Deur Ontwaak!-medewerker in Brasilië

“DIE Brasiliaanse gaucho?” vra jy dalk. “Ek het altyd gedink dat gaucho’s van Argentinië af kom.” Dit is waar. Maar daar is ook gaucho’s, of Suid-Amerikaanse cowboys, in Uruguay, die land wat noord en oos van Argentinië lê. En as jy Rio Grande do Sul, Brasilië se suidelikste staat, besoek, sal jy heel waarskynlik ook daar gaucho’s ontmoet. Of hulle nou bombachas, die gauchobroek, dra en met perde, beeste en skape op ’n plaas werk of nie, vandag se Brasiliaanse gaucho’s is dalk nie wat jy sal verwag nie. Wat weet ons van hulle geskiedenis?

Kolonisasie het tot die gaucho se identiteit bygedra. In die 19de en 20ste eeu het immigrante uit Europa, wat gretig was om ’n plek te kry waar hulle kon woon en werk, na die suide van Brasilië gestroom en hulle daar gevestig. Hulle het hulle kennis van ambagte en tuinbou saamgebring. Talle immigrante het gaucho’s geword en hulle eie kultuur ontwikkel. Hulle nakomelinge het nog steeds baie van die kenmerke wat eie is aan die gaucho’s, soos hulle kos, klere, vermaak en gesindheid teenoor werk. Kom ons kyk eers na iets waarin ons almal belangstel—kos.

Nie net churrasco en maté nie

Moenie verwag dat jy baie gaucho’s hier sal ontmoet wat vegetariërs is nie! Die gaucho se dieet bestaan hoofsaaklik uit churrasco, skaap- of beesvleis wat oor die kole gebraai is. Dit was oorspronklik die hoofvoedselbron op die pampas, waar die diere opgepas is. Tensy jy ’n vegetariër is of jou cholesterolvlak te hoog is, sal jy moontlik ’n tradisionele rodizio wil probeer, waartydens verskillende vleissoorte een ná die ander by ’n gaucho- of braairestaurant bedien word. Jy wil dalk ook café colonial probeer, ’n tafel met ’n verskeidenheid lekkernye en drankies soos wyn, tee en koffie, waaruit jy kan kies. Die gunstelingdrankie is ongetwyfeld chimarrão, of maté, ’n tee wat van die fyngemaalde blare van die maté-boom berei word. Hoewel dit bitter is, drink gaucho’s dit enige tyd van die dag, maar veral ná maaltye.

Jy sal miskien nie hou van die vrank smaak van chimarrão nie. Maar jy sal ongetwyfeld die ontspanne en vriendelike atmosfeer geniet wat heers wanneer jy chimarrão en churrasco in aangename geselskap geniet.

Die gaucho se klere en musiek

Die tradisionele bombachas, poncho, stewels, wye gordel, hoed en nekdoek kom uit die dae toe die gaucho die meeste van die tyd in die buitelug op die pampas, of grasvlaktes, deurgebring het. Insight Guides—Brazil verduidelik: “Die unieke gaucho-kultuur is kenmerkend van Rio Grande do Sul, waar bruingebrande cowboys oor die suidelike pampas rondtrek met hulle uitsonderlike plat hoede en kenrieme, hulle wye langbroeke, rooi nekdoeke en leerstewels.” By feesgeleenthede is die klere van die vroue in hierdie gebied gewoonlik kleurvol en beskeie. Besoekers sowel as die gaucho’s geniet die danse wat in tradisionele drag uitgevoer word. Of dit nou kos, klere of vermaak is, gauchotradisie is ’n vermenging van kulture wat deur immigrante saamgebring is uit lande soos Duitsland, Italië, Portugal en Spanje, sowel as uit Griekeland, Japan, Libanon, Pole, Rusland, Sirië, die Oekraïne en Afrikalande.

In ’n onderhoud met Ontwaak! het José Cláudio Paixão Côrtes, wat gauchodrag en -danse al ongeveer 50 jaar lank bestudeer, verduidelik dat die gaucho, wat dikwels op sy eie was, ’n liefde vir musiek ontwikkel het. Dit is geen wonder nie dat sang en musiek ’n deel van die gaucho se lewe was, want hy het dikwels net sy perd as metgesel gehad. Behalwe snaarinstrumente soos die banjo en die kitaar het hulle ook later die trekklavier gespeel. Anders as jong mans in ander wêrelddele verkies jong gaucho’s nog steeds plaaslike countrymusiek bo moderne musieksoorte.

Gaucho’s dans ook graag. Selfs al trek ’n gaucho weg uit sy tuisstaat, onthou hy sy erfenis van tradisionele danse. Buiten kadriele (square dances) neem gaucho’s ook deel aan danse soos die swaarddans en ’n dans wat uitgevoer word met drie balle, of bolas. Dit word gemaak van klei, klip of yster wat met leerrieme aan mekaar vas is. Wanneer ’n gaucho met vee werk, kan hy hierdie balle na ’n dier se bene gooi sodat die rieme daarom draai en die dier in sy spore stop.

Lief vir hulle land

Die gauchokultuur en -tradisie word nog steeds gevind in die deel van Brasilië wat aan Argentinië en Uruguay grens. Een reisgids sê: “Oral op hierdie windverwaaide vlaktes, die legendariese pampas, pas die gaucho nog steeds die troppe beeste en skape op wat aanvanklik rykdom vir Rio Grande do Sul gebring het.”

Maar daar steek meer in hierdie gaucho’s as net chimarrão en churrasco. Omdat hulle trots is op die natuurskoon en die verskeidenheid wat hulle land bied, sê sommige gaucho’s skertsend dat toe God die aarde in ses dae geskep het, hy vyf dae lank met Rio Grande do Sul besig was!

Al woon en werk ’n gaucho in die stad, stel hy sy erfenis hoog op prys. Sy agtergrond as ’n immigrant of ’n nakomeling van immigrante het daartoe bygedra dat hy eienskappe aangekweek het soos selfstandigheid, openhartigheid, moed, behulpsaamheid en gasvryheid.

Die gaucho droom dikwels van ’n eenvoudige landelike lewe wat mense vroeër geniet het. Of hy nou grootgeword het met beeste, perde, lasso’s en bolas of met gewasse soos mielies, druiwe, aartappels, rys, sojabone en koring, die gaucho is baie geheg aan sy land. Wrede werklikhede soos armoede en vooroordeel het natuurlik ’n uitwerking op sy lewe. Maar baie gaucho’s wat al die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer het, glo vas dat die hele aarde binnekort ’n vreedsame paradys sal word. Jy kan ook daardie hoop koester.—Lukas 23:43; 2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1-4.

[Venster/Prente op bladsy 26]

Hoe om twee tipiese gauchogeregte te maak

BEESVLEIS OOR DIE KOLE GEBRAAI

2 kilogram beesvleis, 21⁄4 koppies growwe sout

Steek die vleis met ’n vleispen vas en strooi sout oor. Sit die vleis op die vuur. Hou die vetkant onder totdat dit bruin word; draai dit dan om. Maak seker dat daar ’n bietjie vet aan die beesvleis is, want wanneer die vet smelt, deurdring dit die vleis, wat dit smaakliker en sagter maak. Doen dieselfde met varkvleis, hoender of lamsvleis.—Genoeg vir vier.

CARRETEIRO-RYS MET SONGEDROOGE SOUTBEESVLEIS

500 gram songedroogde beesvleis, 1 3⁄4 koppie gekapte uie, 1⁄4 koppie kookolie, 2 1⁄2 koppies water, 2 1⁄2 koppies ongekookte rys, 2 knoffelhuisies, gekap

Was die songedroogde beesvleis en week dit omtrent agt uur lank in water. Vervang die water ’n hele paar keer met skoon water terwyl die vleis geweek word. Sny die beesvleis in klein stukkies en smoor dit in ’n pan saam met die olie, knoffel en uie. Voeg die ongekookte rys by die gesmoorde vleis en roer goed. Voeg die water by en laat die mengsel kook. Verlaag dan die temperatuur en laat die mengsel prut; roer nou en dan sodat dit eweredig gaar word. Roer die rys met ’n vurk wanneer dit gaar is, en bedien dit saam met boontjies.—Genoeg vir vier.

[Prente op bladsy 24, 25]

Rio Grande do Sul

[Erkenning]

Inlasfoto’s: M.A. Decusati

[Prent op bladsy 26]

Danse op tradisionele gauchomusiek

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel