Die horlosie aan jou pols
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE
WEET jy hoe laat dit is? Jy hoef net vlugtig na jou polshorlosie te kyk om uit te vind. Maar dui jou horlosie die regte tyd aan? Ons kan maklik hierdie tydhouers as vanselfsprekend aanneem, maar hulle is ingewikkelder as wat ’n mens sou dink.
Die mens het nog altyd daarin belanggestel om die verloop van tyd te meet, ten spyte van die feit dat dit ontasbaar en van verbygaande aard is. Die siklus van die seisoene, die fases van die maan, die opeenvolging van dag en nag is alles natuurlike verdelings van tyd. Maar die mens streef al lank daarna om tyd in kleiner eenhede en met groter akkuraatheid te meet.
Hoe ’n horlosie werk
Horologie—die wetenskap wat hom toespits op die vervaardiging van toestelle wat tyd aandui—is een van die oudste wetenskaplike kunste. Die “hart” van hierdie toestelle is die gang, of échappement. Dit reguleer die tempo waarteen die krag wat die toestel aandryf, vrygestel word. Wanneer hierdie krag slegs in klein hoeveelhede en met gereelde tussenposes vrygestel word, kan tyd gemeet word. Niemand weet presies wanneer die eerste ten volle meganiese horlosie uitgevind is nie, maar ’n mylpaal is omstreeks die jaar 1500 bereik, toe die eerste draagbare horlosies gemaak is.
Die polshorlosie wat vandag so algemeen is, is relatief nuut. Dit het in die laat-1800’s algemeen geword, veral onder vroue. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het artillerie-offisiere gevind dat ’n horlosie wat aan die pols gedra word, praktieser is as een wat ’n mens in jou sak dra. Daarna het polshorlosies al hoe gewilder geword.
Deesdae is die meeste horlosies elektronies en gebruik hulle kwartskristalle. Wanneer ’n spesiaal gevormde stuk kwarts in ’n geskikte elektroniese baan geplaas word, vibreer dit teen ’n konstante frekwensie, soos ’n pendulum wat vinnig swaai.
Dit is uiters moeilik om meganiese of kwartshorlosies in te stel om presies tyd te hou. Ongeag watter horlosie jy het, dit sal dus ’n bietjie tyd wen of verloor. Maar vandag is daar kwartshorlosies beskikbaar wat hulleself van tyd tot tyd regstel deur middel van tydseine vanaf atoomhorlosies.a Adverteerders beweer dat sulke radiobeheerde horlosies akkuraat is tot een sekonde in ’n miljoen jaar!
Meganiese horlosies is nog steeds gewild
As ’n mens sulke hoë presisie in ag neem, sowel as die feit dat die gang wat in meganiese horlosies gebruik word, meer as tweehonderd jaar gelede uitgevind is, voel jy dalk dat die meganiese horlosie uitgedien is. Wie sou in elk geval verkies om ’n meganiese optelmasjien te gebruik as ’n elektroniese sakrekenaar beskikbaar is? Tog word baie mense gefassineer deur ’n horlosie wat tik. Elke jaar word miljoene daarvan vervaardig. In onlangse jare was die waarde van meganiese horlosies wat deur Switserland uitgevoer is, meer as selfs dié van elektroniese horlosies. Nuwe, doeltreffende, laewrywinggange is ontwikkel, en mense soek en maak nog steeds gebruik van die dienste van vaardige horlosiemakers om hulle meganiese horlosies te herstel.
Waaraan kan die aantrekkingskrag van meganiese horlosies toegeskryf word? Volgens Michael, ’n horlosiemaker met drie dekades se ondervinding, is een rede dat hulle so lank hou. Terwyl ’n kwartshorlosie sowat 15 jaar lank betroubaar kan werk, sê hy, kan ’n goeie meganiese horlosie meer as 100 jaar lank getrou die tyd hou. So ’n horlosie, wat van ouer na kind oorgedra word, kan groot sentimentele waarde hê.
Vir ander is die aantrekkingskrag van meganiese horlosies die tegniese kompleksiteit en presisie wat dit verg om inligting te vertoon oor tyd en astronomie met behulp van piepklein ratte en vere. En omdat hierdie meganisme met die hand gemaak kan word, kan dit deur ’n entoesias verstaan en herstel word.
Anders as die meeste toestelle word daar van horlosies verwag om jare lank dag en nag te werk. Wat meer is, polshorlosies moet teen verskillende temperature en in elke denkbare posisie werk, ongeag hoe dit beweeg word, en nogtans besonder akkuraat wees. ’n Horlosie wat niks minder as 20 sekondes per dag wen of verloor nie, het ’n foutfaktor van net 0,023 persent, die soort akkuraatheid wat gewoonlik verwag word van ’n wetenskaplike instrument wat met die grootste sorg aanmekaargesit is. Dit is dus geen wonder nie dat baie mense die kombinasie van vaardigheid, vindingrykheid en vakmanskap waardeer wat in die meganiese polshorlosie gesien kan word!
Ander faktore speel natuurlik ook ’n rol. Michael, na wie vroeër verwys is, verduidelik dat party mense eenvoudig die moeite gespaar wil word om batterye te vervang, wat met die meeste kwartshorlosies nodig is. Wat kan jou dus help om te besluit watter soort horlosie jy sal dra?
Watter een sal jy kies?
Jy wil ongetwyfeld ’n horlosie hê waarvan jý hou. Vir baie mense beteken dit dat ’n horlosie nie net prakties en funksioneel nie, maar ook mooi moet wees. Daarbenewens stel Michael voor dat jy nadink oor hoe jy die horlosie gaan gebruik. Sal jy dit elke dag dra of net vir spesiale geleenthede? Sal dit gestamp word of aan uiterste temperature blootgestel word? Gereelde blootstelling aan chemikalieë of seewater kan byvoorbeeld sekere bande en kassies beskadig. Dit is dus verstandig om hierdie faktore in ag te neem.
Wat die koste betref, dit sal goed wees om daarvoor te begroot en niks meer as dit uit te gee nie. Oor die algemeen is meganiese horlosies duurder as kwartshorlosies. Maar onthou dat dieselfde basiese lopende deel (movement) in talle verskillende horlosies gebruik word. Die lopende deel is die deel van die horlosie, in die kassie, wat in werklikheid die tyd gee. Dit is oor die algemeen goed ontwerp en vervaardig. Gewoonlik wissel die pryse weens die niebewegende dele, soos die kassie of die armband. Die feit dat ’n horlosie duurder is, beteken dus nie dat dit akkurater of betroubaarder is nie.—Sien die venster hierbo.
Met ’n horlosie aan jou pols is dit maklik om sonder ’n oomblik se aarseling te kyk hoe laat dit is. Kennis omtrent die ontwikkeling van polshorlosies kan jou help om hierdie nuttige toestelle te waardeer. ’n Mens voel immers verlore sonder ’n horlosie, of hoe?
[Voetnoot]
a Atoomhorlosies, wat atomiese vibrasies as ’n frekwensiestandaard gebruik, hou tyd met die grootste akkuraatheid.
[Venster/Prente op bladsy 24]
WATTER EEN IS DIE BESTE VIR JOU?
SOORT: ’n Chronograaf het tellers om kort periodes te meet, wat ideaal is as ’n mens die tydsduur van ’n gebeurtenis wil bepaal. As ’n mens aan sport deelneem, is dit raadsaam om ’n waterbestande horlosie te hê. As jy dit moeilik vind om te onthou om ’n horlosie op te wen, kan jy in gedagte hou dat ’n kwartshorlosie nie opgewen hoef te word nie. Dit geld ook vir outomatiese horlosies, want dit word opgewen deur die bewegings van die draer se arm.
AKKURAATHEID: As dit iets is wat vir jou baie belangrik is, kan jy dalk ’n chronometer oorweeg, ’n hoogs akkurate horlosie wat voldoen aan goed gevestigde en amptelike maatstawwe van akkuraatheid. Kwartstegnologie is natuurlik akkurater. ’n Moderne meganiese horlosie wat teen 28 800 keer per uur tik, werk teen ’n frekwensie van vier vibrasies per sekonde. Vergelyk dit met ’n gewone kwartshorlosie wat teen tussen 10 000 en 100 000 vibrasies per sekonde werk!
VERTOON: ’n Digitale horlosie gebruik syfers om die tyd aan te dui; ’n analooghorlosie gebruik wysers wat om die wyserplaat beweeg. Sommige digitale horlosies kan ook as ’n alarm en stophorlosie gebruik word en kan inligting soos die datum en die tyd in ’n ander tydsone aangee. Analooghorlosies dui die tyd aan in ’n vorm wat maklik en vinnig gelees kan word deur net vlugtig na die posisie van die wysers te kyk.
INSTANDHOUDING: Omdat ’n meganiese horlosie deur ’n sterk veer aangedryf word, sal dit nie so maklik soos ’n kwartshorlosie gaan staan weens stofdeeltjies nie. Nogtans moet meganiese horlosies meer gereeld gediens word as kwartshorlosies. Omdat ’n kwartshorlosie met ’n digitale vertoon nie bewegende dele het nie, het dit geen instandhouding nodig nie, behalwe dat die battery van tyd tot tyd vervang moet word.
[Tabel/Prente op bladsy 23]
’N PAAR MERKWAARDIGE POLSHORLOSIES
◼ 1810-12
Die eerste polshorlosie op rekord, Abraham-Louis Breguet
◼ 1945
Die datum word op die wyserplaat van die horlosie aangegee, Rolex
◼ 1957
’n Polshorlosie met ’n elektriese motor, Hamilton Watch Company
◼ 1960
Elektroniese horlosie, Bulova
◼ 1972
’n Ten volle elektroniese polshorlosie met ’n digitale vertoon, Hamilton Watch Company
[Erkenning]
Tweede en vierde foto’s: Courtesy of Hamilton Watches
[Foto-erkenning op bladsy 23]
OMEGA