Biblioteke—Poorte na kennis
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË
BIBLIOTEKE is al “een van die pilare van die beskawing genoem”. Die World Book Encyclopedia sê dat hulle onder die belangrikste bydraers tot die mensekultuur en tegnologie is. Die Duitse digter Goethe het hulle die geheue van die mensdom genoem.
Watter biblioteke was van die belangrikste “pilare van die beskawing”? Watter boek het die grootste invloed op biblioteke sowel as op die verspreiding van geletterdheid gehad? En hoeveel boeke is daar in die grootste moderne biblioteke? Laat ons, om die eerste vraag te beantwoord, teruggaan in tyd en een van die mensdom se vroegste biblioteke besoek.
’n Antieke “ensiklopedie van mensekennis”
Stel jou voor dat jy in die Midde-Oosterse land is wat vandag as Irak bekend staan. Dit is die jaar 650 v.G.J. Jy is binne die hoë mure van die stad Nineve (naby die hedendaagse Mosoel). Voor jou staan die ontsaglike vorstelike paleis van koning Assurbanipal—heerser van Assirië, Egipte en Babilonië.a Terwyl jy naby die paleisdeure staan, sien jy mans wat swaar erdekruike in die gebou indra. Hierdie mans, wat elke bekende werk oor die maatskaplike, kulturele en godsdienstradisies van die volke in Assurbanipal se ryk probeer versamel, het so pas van die uithoeke van die Assiriese koninkryk teruggekeer. Jy maak een van die kruike oop en sien dat dit vol kussingvormige kleitablette is wat ongeveer agt by tien sentimeter groot is.
Jy volg een van die mans tot in die paleis, waar jy sien hoe kopiïste met beenstilusse wigvormige indrukke op klein tablette van sagte klei maak. Hulle is besig om dokumente uit ander tale in Assiries te vertaal. Later sal die tablette in ’n oond gebak word, wat die geskrifte amper onvernietigbaar sal maak. Die geskrifte word in vertrekke geberg wat vol rakke is waarop honderde kruike gestapel is. Aan die deurposte van die vertrekke is deurplate waarop die onderwerp van die geskrifte in elke vertrek aangegee word. Daar is meer as 20 000 kleitablette in hierdie biblioteek met inligting oor saketransaksies, godsdiensgebruike, die reg, die geskiedenis, die geneeskunde sowel as menslike en dierlike fisiologie, wat “’n ensiklopedie van mensekennis” uitmaak, soos ’n geleerde dit later beskryf het.
Voor en ná die biblioteek in Nineve
Daar het ander groot biblioteke voor Assurbanipal se biblioteek in Nineve bestaan. Koning Hammoerabi het ’n duisend jaar voor Assurbanipal ’n biblioteek in die Babiloniese stad Borsippa gebou. Ramses II het meer as 700 jaar voor Assurbanipal ’n beroemde biblioteek in die Egiptiese stad Tebe gestig. Maar weens die verskeidenheid inligting en die ontsaglike aantal verslae in Assurbanipal se biblioteek, word dit “die grootste [biblioteek] van die antieke wêreld” genoem. Nog 350 jaar het verloop voordat ’n ander biblioteek dit oortref het.
’n Groter biblioteek is omstreeks 300 v.G.J. deur Ptolemeus I Soter gebou, een van Aleksander die Grote se generaals. Dit is in die Egiptiese hawestad Aleksandrië opgerig, en sy bibliotekarisse het afskrifte probeer versamel van die meeste van die geskrifte in die bewoonde wêreld.b Volgens tradisie was dit in Aleksandrië waar ongeveer 70 geleerdes die Hebreeuse deel van die Skrif in Grieks begin vertaal het. Hierdie vertaling is later die Griekse Septuagint genoem en is algemeen deur die vroeë Christene gebruik.
Oosterse biblioteke
Terwyl Assurbanipal sy biblioteek verbeter het, was die Tsjou-dinastie aan die bewind in China. Gedurende die bewind van hierdie dinastie, van 1122 v.G.J. tot 256 v.G.J., het ’n groep boeke die lig gesien wat later die Vyf Klassieke Werke genoem is. Dit het ’n handboek ingesluit om die toekoms te voorspel, sowel as ’n versameling toesprake deur vroeëre heersers, gedigte, instruksies vir godsdiensseremonies en -rituele, asook ’n geskiedenis van die staat Loe van ongeveer 722 v.G.J. tot 481 v.G.J.—die laaste boek word toegeskryf aan die Chinese filosoof Confucius. Die Vyf Klassieke Werke en die talle kommentare daaroor het die Chinese denke beïnvloed en het meer as tweeduisend jaar lank die grondslag van keiserlike en private biblioteke gevorm.
In Japan het Hojo Sanetoki, ’n lid van die heersende samoerai-familie, in 1275 ’n biblioteek by sy familietuiste in Kanazawa (nou deel van Jokohama) gestig. Hy het elke boek wat in Chinees en Japannees bestaan het, probeer versamel. Hoewel hierdie versameling boeke kleiner as voorheen is, bestaan dit vandag nog.
Die Bybel, kloosterbiblioteke en die Westerse kultuur
“Die krag van die gedrukte woord, en die waarde van die biblioteek”, sê die boek A History of Libraries in the Western World, “word nêrens beter toegelig as in die opgang, verspreiding en duursaamheid van die Christelike godsdiens nie.” Wat is die verband tussen die ontwikkeling van biblioteke en die verspreiding van die Christelike godsdiens?
Nadat die Romeinse Ryk ineengestort het en die inhoud van sy groot biblioteke vernietig of verstrooi is, het die Christendom se kloosters oral in Europa verskyn en oorblyfsels van hierdie antieke biblioteke versamel. ’n Belangrike werk van baie van hierdie kloosters was om handgeskrewe afskrifte van Bybel- sowel as ander manuskripte te maak. Die Benediktynekloosters het byvoorbeeld volgens die “Reël van St. Benedictus” gelewe, waarvolgens boeke gelees en oorgeskryf moes word.
Biblioteke in Konstantinopel het afskrifte van antieke manuskripte geberg en gemaak wat uiteindelik weer hulle verskyning in Italië gemaak het. Hierdie manuskripte het vermoedelik ’n belangrike rol daarin gespeel om die Renaissance te begin. Die geskiedskrywer Elmer D. Johnson sê: “Die rol van die kloosterbiblioteek in die behoud van die Westerse Kultuur kan nie ontken word nie. Dit was min of meer ’n duisend jaar lank die intellektuele hart van Europa, en daarsonder sou die westerse beskawing ’n heel ander wêreld gewees het.”
Die kopiëring van die Bybel het gehelp om “die intellektuele hart van Europa” gedurende hierdie tyd aan die klop te hou. En terwyl die Hervorming deur Europa versprei het, het die begeerte om die Bybel te lees, gewone mense beweeg om die boeie van ongeletterdheid af te werp. Die boek The Story of Libraries sê: “Die idee dat elke lid van die samelewing ten minste genoeg opvoeding moet hê om die Bybel te lees, het tydens die Protestantse Hervorming begin posvat. Terwyl teologiese geskille toegeneem het, het dit belangriker geword om ’n groter verskeidenheid godsdiensgeskrifte te lees. Dit het nie net vereis dat mense moes kon lees nie, maar hulle moes ook toegang tot die boeke hê.”
Die Bybel het dus ’n sleutelrol gespeel in die verspreiding van biblioteke sowel as van geletterdheid deur die hele Westerse wêreld. Toe die drukpers later uitgevind is, het groot private en nasionale biblioteke, met boeke oor ’n groot verskeidenheid onderwerpe, oral in Europa, en uiteindelik in die res van die wêreld, verskyn.
Biblioteke van die 21ste eeu
Vandag het party biblioteke ontsaglik groot geword. Stel jou voor dat jy langs ’n boekrak staan wat 850 kilometer lank is en meer as 29 miljoen boeke bevat. Dit is ongeveer die grootte van die wêreld se grootste biblioteek—die Kongresbiblioteek in die Verenigde State. Behalwe boeke het die biblioteek ongeveer 2,7 miljoen audio- en video-opnames, 12 miljoen foto’s, 4,8 miljoen kaarte en 57 miljoen manuskripte. Die biblioteek voeg elke dag 7 000 items by sy versameling!
Die Britse Biblioteek in Londen het die tweede meeste boeke, meer as 18 miljoen. Die Russiese Staatsbiblioteek in Moskou het 17 miljoen boeke en bevat sowat 632 000 jaarversamelings van koerante. Die Nasionale Biblioteek van Frankryk, een van die oudste nasionale biblioteke in Europa wat nog bestaan, het 13 miljoen boeke. Daarbenewens sê die boek Library World Records: “Die Franse nasionale biblioteek was die eerste biblioteek wat via die Internet toegang verleen het tot die volledige teks van ’n groot deel van sy versamelings.” Vir enigiemand met toegang tot ’n rekenaar het die Internet dit makliker as ooit tevore gemaak om toegang te verkry tot die mensdom se skatkamer van kennis.
Daar was nog nooit so ’n drastiese toename in die hoeveelheid inligting wat aan die publiek beskikbaar is nie. Volgens skatting verdubbel die somtotaal van die mens se kennis elke vier en ’n half jaar. In die Verenigde State alleen word meer as 150 000 nuwe boeke elke jaar uitgegee.
Die waarneming van die eertydse geleerde, skrywer en koning—Salomo—is vandag baie gepas. Hy het geskryf: “Aan die maak van baie boeke kom geen einde nie, en groot toewyding daaraan is vermoeiend vir die vlees” (Prediker 12:12). Maar wanneer dit oordeelkundig gebruik word, is biblioteke steeds ’n “plaaslike poort na kennis”, soos die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur dit noem.
[Voetnote]
a Assurbanipal, vermoedelik Asenappar wat in die Bybel in Esra 4:10 gemeld word, was ’n tydgenoot van die Judese koning Manasse.
b Vir meer inligting oor die antieke sowel as die moderne biblioteek van Aleksandrië, sien die Ontwaak! van 8 Januarie 2005.
[Venster/Prent op bladsy 20]
Die bibliotekaris se rol
Moenie moed verloor as jy nie die boek wat jy nodig het, in die biblioteek se katalogus kan vind nie—vra die bibliotekaris. ’n Bibliotekaris se vaardigheid is dikwels van onskatbare waarde. Roderick, wat al 20 jaar lank as ’n bibliotekaris werk, sê: “Mense voel dikwels geïntimideer deur biblioteke en bibliotekarisse. Hulle begin dikwels deur te sê: ‘Dit klink seker simpel, maar . . . ’ En tog is daar geen simpel vrae nie. ’n Bibliotekaris wat sy sout werd is, sal vind waarna jy soek, al weet jy nie hoe om daarvoor te vra nie.”
[Venster/Prent op bladsy 21]
Wat beteken die nommers? → 225.7
Die Dewey- desimale stelsel
Baie biblioteke gebruik die Dewey- desimale klassifikasiestelsel, wat as ’n reeks nommers in hulle katalogusse en op die rug van hulle boeke verskyn. Melvil Dewey, ’n invloedryke Amerikaanse bibliotekaris, het sy stelsel in 1876 vir die eerste keer gepubliseer. Dit gebruik nommers van 000 tot 999 om alle werke volgens onderwerp te klassifiseer en in tien hoofgroepe te verdeel:
000-099 Algemeen
100-199 Filosofie en sielkunde
200-299 Godsdiens
300-399 Sosiale wetenskappe
400-499 Taal
500-599 Natuurwetenskappe en wiskunde
600-699 Tegnologie (toegepaste wetenskappe)
700-799 Die kunste
800-899 Literatuur en retoriek
900-999 Aardrykskunde en geskiedenis
Elke hoofgroep word dan in tien kleiner groepe verdeel waarin spesifieke onderwerpe geplaas word. Die Bybel word byvoorbeeld sy eie nommer onder Godsdiens in die 200-klassifikasie gegee—220. Spesifieke Bybelonderwerpe word verder verdeel. Die “Nuwe Testament” (Griekse Geskrifte) word deur die nommer 225 geïdentifiseer. Nog nommers identifiseer die soort boek:
01 Filosofie en teorie
02 Allerlei
03 Woordeboeke, ensiklopedieë, konkordansies
04 Spesiale onderwerpe
05 Vervolgwerke
06 Organisasies en bestuur
07 Opvoeding, navorsing, verwante onderwerpe
08 Versamelings
09 Geskiedenis van
Daarom sal ’n ensiklopedie oor die hele Bybel die nommer 220.3 hê, terwyl ’n kommentaar oor die Griekse Geskrifte die nommer 225.7 sal hê.
Die Library of Congress-klassifikasiestelsel is soortgelyk hieraan, maar gebruik ’n kombinasie van letters en nommers. Op die meeste boeke verskyn daar ook ’n alfanumeriese kode wat die skrywer identifiseer. In ander lande word ander klassifikasiestelsels gebruik.
[Prent op bladsy 18]
Koning Assurbanipal van Assirië, in wie se biblioteek spykerskriftablette van klei geberg is, 650 v.G.J.
[Prent op bladsy 18]
Britse Biblioteek, Londen, Engeland
[Prent op bladsy 18]
Biblioteek in ’n klooster, Switserland, 1761
[Prent op bladsy 19]
Biblioteek van Aleksandrië, Egipte, omstreeks 300 v.G.J.
[Erkenning]
From the book Ridpath’s History of the World (Vol. II)
[Prent op bladsy 20, 21]
Amerikaanse Kongresbiblioteek, die grootste ter wêreld
[Erkenning]
From the book Ridpath’s History of the World (Vol. IX)
[Foto-erkennings op bladsy 18]
Links bo en onderste foto’s: Erich Lessing/ Art Resource, NY; tablet: Photograph taken by courtesy of the British Museum