Ons beskou die wêreld
Nuwe voëlsoorte ontdek
“Altesaam 28 nuwe [voël]soorte is sedert 1998 in wetenskaptydskrifte beskryf, en met navorsing kan baie meer by die wêreldtotaal van sowat 9 700 gevoeg word”, sê The Independent van Londen. Volgens Steve Gantlett, redakteur van die tydskrif Birding World, “word baie van hierdie ontdekkings gemaak omdat die wêreld nou baie toegankliker is—voëlkundiges kan na afgeleë plekke gaan wat ’n paar dekades gelede feitlik onbereikbaar was”. Hy sê dat die ontdekkings “ook toon dat [voëlkundiges] vaardiger daarin is om [voël]soorte deur hulle roep te identifiseer—wat dikwels die enigste manier is om hulle in digte tropiese reënwoude op te spoor”. Wetenskaplikes meen dat baie meer voëlsoorte gevind kan word. Maar habitatvernietiging kan baie van die onlangs ontdekte voëlsoorte in gevaar stel “omdat hulle bevolkings klein is en tot klein gebiede beperk word”, verduidelik The Independent.
Lawaaierige visse
Navorsers by die Australiese Instituut vir Seewetenskap (AIMS) het uitgevind dat visse, “waaronder noointjievisse, soldaatvisse en kardinaalvisse . . . , deur middel van ’n reeks knor-, piep- en fluitgeluide praat”, berig die koerant The West Australian. Hierdie bevinding help om te verklaar hoe babavissies wat van ’n rif af weggesleur word, weer hulle pad huis toe kry. Navorsers van AIMS het rifgeluide opgeneem en dit in visfuike teruggespeel. Die wetenskaplike dr. Mark Meekan het vir die koerant gesê dat “meer babavissies gevang is in visfuike waarin die opnames gespeel is as in fuike sonder die lawaai, wat toon [dat] visse deur sekere geluide aangetrek word”. Navorsers het uitgevind dat party geluide van volgroeide visse tot 15 kilometer ver opgevang kan word. “Teen skemer en dagbreek”, het Meekan gesê, “bereik die koor van visgeluide ’n crescendo wat net so hard is soos die gejuig van duisende stemme by ’n sokkerstadion.” Maar die menseoor kan hierdie “koor” nie hoor nie.
Gewigsverlies of geldverlies?
“Ongeveer 231 miljoen mense in die Europese Unie het in 2002 ’n dieet probeer volg”, sê die International Herald Tribune van Parys. Volgens ’n verslag deur Datamonitor, ’n groep wat verwikkelinge in die nywerheid monitor, het mense in Europa verlede jaar 800 miljard rand aan verslankingsprodukte bestee—“wat gelyk is aan die ekonomiese opbrengs van Marokko”. Maar “minder as 4 miljoen sal dit regkry om langer as ’n jaar slank te bly”, en “minder as een uit 50 mense op dieet in Europa tel nie weer die gewig op nie”, sê die koerant. Die meeste geld is in Duitsland uitgegee, waar mense bykans 168 miljard rand vir verslankingsprodukte betaal het, terwyl Britte sowat 128 miljard rand bestee het. Verbruikers in Italië en Frankryk het ongeveer 120 miljard en 112 miljard rand onderskeidelik uitgegee. Volgens Datamonitor, sê die Tribune, “moet mense besef dat ’n dieet alleen nie ’n langtermynoplossing vir oorgewig is nie”.
“Twintigerjarekrisis”
Die “goue twintigerjare” behoort “die ideale tyd vir ’n gelukkige, ontspanne lewe” te wees, sê die Duitse koerant Gießener Allgemeine. “Puberteit is verby en ’n middeljarekrisis lê nog ver in die toekoms.” Al hoe meer mense wat in die twintig is, is egter nie gelukkig en ontspanne nie, maar ondervind eerder wat deskundiges ’n twintigerjarekrisis noem. Die woord “verwys na die identiteitskrisis wat jongmense deurmaak wanneer hulle op die punt staan om hulle opleiding te voltooi en moet besluit wat hulle met die res van hulle lewe gaan doen”, sê die koerant. ’n Sielkundige van Mannheim, Christiane Papastefanou, verduidelik dat maatskaplike verwikkelinge in onlangse jare tot kommer oor die toekoms bydra. En omdat daar vandag soveel loopbane en lewenswyses is om van te kies, is party jongmense bang dat hulle die verkeerde keuse sal maak. Maar Papastefanou, wat in die Duitse koerant aangehaal word, meen dat besluite nie onherroeplik is nie en dat dit nie verkeerd is om “’n paar ompaaie op jou lewensweg” te loop nie.
Nuwe tegnologie teen stokkiesdraaiery
“Nuwe tegnologie maak dit vir onderwysers moontlik om teksboodskappe aan ouers te stuur wanneer leerlinge van klasse wegbly”, sê die Engelse uitgawe van die Spaanse koerant El País. In 200 skole in Spanje is ’n spesiale rekenaarstelsel geïnstalleer wat onderwysers in staat stel om eksamenuitslae te stuur, op te teken wie afwesig is en aan te dui watter straf leerlinge opgelê is. Onderwysers lees elke oggend die register met ’n handtoestel wat so groot soos ’n sakrekenaar is. Dan koppel hulle die eenheid aan die hoofrekenaar, wat die data verwerk. “In party gevalle word boodskappe outomaties na ouers se selfone gestuur”, sê die koerant. Danksy hierdie tegnologie word daar nou verslag gehou van afwesigheid wat voorheen onopgemerk gebly het. Volgens die Spaanse uitgawe van El País stel nog 400 skole daarin belang om die rekenaarstelsel te installeer.
Opknappingswerk kan ’n baba se gesondheid benadeel
“As mense hulle huis gedurende swangerskap of kort ná die geboorte van hulle kind opknap”, sê Duitsland se nuusbrief Medi-Netz, “kan die baba gedurende die eerste paar maande van sy lewe irritasies van die asemhalingskanaal hê of selfs aan ’n asemhalingsiekte ly. Daar is nou uitgevind dat die kind se immuunstelsel ook aangetas word, selfs in die baarmoeder, wat die kind vatbaarder maak vir aansteeklike siektes en allergieë.” Navorsers by ’n aantal klinieke en institute in Duitsland het gevind dat probleemchemikalieë dié insluit wat deur kleefmiddels, matte, vars verf en nuwe meubels afgegee word. “Vlugtige chemikalieë verswak juis dié selle in ons immuunstelsel wat ons teen allergiese reaksies kan beskerm”, sê Medi-Netz. ’n Soortgelyke verslag in die tydskrif GEO raai ouers aan om die opknappingswerk uit te stel “totdat die baba twee jaar oud is”, wanneer sy immuunstelsel sterker is.
Sportklubs en verslawende middels
“Jongmense in sportklubs drink meer alkohol en word meer dikwels dronk as ander”, sê die Finse Uitsaaimaatskappy se aanlynnuusdiens. Volgens die bevindings, wat deur die Navorsingsentrum vir die Bevordering van Gesondheid by die Universiteit van Jyväskylä uitgegee is, “word sterk drank, bier en sigarette alte dikwels in advertensies en borgskappe met sport verbind”, sê Helsinki se koerant Helsingin Sanomat. “Jongmense volg die voorbeeld van ouer atlete wat bewonder en nageboots word. Al die sjampanje wat by die kampioenskapvierings gedrink word en die sigare wat gerook word, gaan nie ongemerk by jongmense verby nie.” Die gebruik van snuif, ’n preparaat van fyngemaalde tabak, was nog ’n probleem. “Minder as 4 persent van 15-jarige seuns wat nie in sportklubs is nie, het elke week gesnuif, maar in sportklubs het byna 10 persent dit gedoen”, sê die koerant.
’n Oogknip
“Duisende senuweeselle wat tot meer as 30 verskillende groepe behoort, is nodig om die bewegings van ons ooglede mee te bring”, verduidelik Spanje se koerant El País. Hierdie senuweeselgroepe, wat “die ooglid met die harsingskors” verbind, is presieser as ooit tevore geïdentifiseer deur ’n span wat onder leiding van Spaanse neurowetenskaplikes gewerk het en hulle navorsing op diere gedoen het. Waarom het ooglede soveel ingewikkelde groepe senuweeselle nodig? Omdat hulle nie altyd op dieselfde manier of om dieselfde rede toegaan nie. Die werking van die ooglid sluit in dat dit outomaties knip—ongeveer 15 keer per minuut om die horingvlies nat te hou—asook dat dit as ’n refleksbeweging knip wanneer iets vinnig na die oog toe beweeg en dat dit willekeurig, of doelbewus, geknip word. Ooglede kan ook gedeeltelik toegaan, miskien in reaksie op sekere gevoelens, of kan heeltemal toegaan vir verskillende tydsdure.
Rekenaars—die impak op die omgewing
“Die skoon, glansende beeld van die hedendaagse rekenaar skep ’n valse indruk van die werklike impak wat dit op die omgewing het”, sê die tydskrif New Scientist. Die blote vervaardiging van ’n basiese geheuevlokkie en die gebruik daarvan oor ’n gewone rekenaar se lewensduur van vier jaar “verg tot 800 keer die vlokkie se gewig in fossielbrandstof”, verduidelik die tydskrif. Ontleders in Japan, Frankryk en die Verenigde State skat dat ’n minimum van 1,6 kilogram fossielbrandstof, sowel as minstens 32 kilogram water en 72 gram giftige chemikalieë soos ammoniak en soutsuur, nodig is vir die vervaardiging en gebruik van ’n 32-megagreep-geheuevlokkie wat twee gram weeg. Die ontleders maak die gevolgtrekking: “Al is halfgeleiers so klein, het dit ’n baie groot impak op die omgewing.”