Waterkultuur—Vis as “vee”
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN NOORWEË
DIE Chinese en die Egiptenaars het duisende jare gelede varswaterpoele gebou waar hulle lewende visse aangehou en moontlik ook gevoer het. In ons tyd het die aanhou van visse ’n industrie geword. Dit word waterkultuur genoem. Webster’s Ninth New Collegiate Dictionary omskryf dit as “die kweking van die natuurlike produkte van water”. Dit behels die skepping van geskikte groeitoestande en die aanvulling en teling van waterdiere en -plante in sout- of vars water.
Tot dusver is die intensiewe teling en aanvulling van visse die algemener vorme van waterkultuur. In baie lande, veral waar die varswatertemperature betreklik hoog is, is die teling van varswatervisse in vatte en poele baie algemeen. Ander lande spits hulle meer op die benutting van hulle seegebiede toe. Noorweë is so ’n land. Met een van die langste kuslyne ter wêreld, ideale seetemperature en betreklike skoon water het hierdie land ’n natuurlike voordeel wat visteelt in seewater betref. Noorweë doen baanbrekerswerk, veral in die teel van Atlantiese salm en forel in die see.
Van kuit tot vis vir die mark
Produksie begin in die herfs by die broeiplek. Die kuit word uit die wyfies “gemelk” en dan met die sperm van uitgesoekte mannetjies bevrug. Die bevrugte eiers bring die winter onder noukeurige toesig in die broeiplek deur, en ná ses maande broei dit uit. Die eerste paar weke word die larwes, oftewel klein vissies, deur die dooiersak op hulle maag gevoed; dan begin die sorgsame voedingsprogram. In die natuur bring ’n klein salm van twee tot vyf jaar in die rivier deur waar dit uitgebroei het voordat dit na die see migreer waar daar voedsamer kos is. In die broeiplek ontwikkel die klein vissies binne een en ’n half jaar tot blankesalms (’n salm wat gereed is vir migrasie).
Die visse word dan van vars na soutwater verskuif. Hulle word gewoonlik in installasies, drywende hokke, in die see geplaas. Ná ’n jaar of twee in die seeplaas het die salm die regte grootte bereik en word dan uitgehaal sodat dit verwerk kan word. Dit klink alles so eenvoudig, so maklik. Dit bied egter verskeie uitdagings om vis as “vee” te hê.a
Biologiese raaisels en veranderlikes
Vroeë visboere het heel voor begin en moes ’n deeglike kennis van die voortplanting, voedselvoorkeure en instinkte van die verskillende spesies opdoen. Daar was oënskynlik ontelbare onopgeloste biologiese raaisels en dinge wat kon skeef loop. Sou dit ooit moontlik wees om in die larwes en vis se immerveranderende behoeftes met betrekking tot watergehalte, temperatuur, voedsel en lig te voorsien?
Baie van hierdie probleme is lank reeds opgelos. Etlike hedendaagse navorsingsprogramme spits hulle daarop toe om uit te vind hoe die groei en gedrag van die verskillende spesies beheer kan word deur faktore soos oefening, die manipulasie van lig en die regte hoeveelheid en gehalte voedsel.
Besoedeling en die indringing van alge
’n Skoon omgewing is belangrik in visboerdery. Ongebalanseerde ekosisteme en besoedelingsvlakke skep gevolglik probleme in die waterkultuurindustrie. Visse in die natuur wat gifstowwe in die water bespeur, probeer die gevaar vermy. Visse wat in seeplase geteel word, kan dit nie doen nie, aangesien hulle in hokke gehou word. Oliestortings of die vrystelling van giftige chemikalieë kan dus rampspoedig wees vir visplase.
In 1988 het party ’n taamlike groot skok gekry toe daar ’n geweldige vermeerdering van giftige alge al langs die suidwestelike kus van Swede en naby die suidelike kus van Noorweë was. Die alge het vis en ander seelewe oor groot gebiede laat sterf. Etlike visplase is leeggemaak, deels as gevolg van die alge self en deels as gevolg van noodslagtery. Maar die meeste installasies het aan die alge-slagting ontkom, aangesien die visboere die hokke na die veiligheid van die fjords gesleep het. Party het hierdie ramp “die Tsjernobil van die see” genoem, en deskundiges het beweer dat ’n toename in besoedeling waarskynlik ’n bydraende faktor tot die vermeerdering van die alge was.
Vishokke in die see word aan allerhande weerstoestande blootgestel en moet ys, onstuimige waters en storms weerstaan. Wanneer ’n installasie beskadig word en die vis ontsnap, verloor die visboer waardevolle eiendom. Daarbenewens kan ontsnapte visse siektes aan visse in die natuur oordra, en dit is ’n ernstige probleem. Ontsnapte visse sal ook met ander visse om voedsel en broeiplek meeding, en daar word gevrees dat dit ’n negatiewe uitwerking op plaaslike voorrade kan hê.
Daar is dus algehele eenstemmigheid dat see-installasies beter beveilig moet word om ontsnappings te voorkom. Vooruitgang is ook op hierdie gebied gemaak. In onlangse jare, sê Aquaculture in Norway, “is groot sukses [daarin behaal] om waterkultuurinstallasies teen uiterste weerstoestande bestand te maak”.
Die kontrolering van siektes
Enigiets wat nie met die aard van die visse akkordeer nie of van hulle normale omgewing afwyk, veroorsaak stres, en dit skaad hulle immuunstelsel. ’n Kombinasie van faktore, soos ’n hoë konsentrasie van visse, intensiewe voeding, die akkumulasie van organiese stowwe en ’n toename in verskillende vispatogene, veroorsaak baie ernstiger siekteprobleme onder geteelde visse as onder visse in die natuur. Dit het die industrie groot verliese laat ly.
Baie van hierdie vissiektes kan byvoorbeeld wel met antibiotika behandel word, maar langdurige gebruik van antibiotika is ’n bedreiging vir die omgewing, hoofsaaklik omdat dit weerstandbiedende bakterieë voortbring wat die ontwikkeling van nuwe medisyne vereis. Medisyne kan ook die visse verswak en hulle dus vatbaarder maak vir ander siektes. Die visboere wou natuurlik ’n einde aan hierdie bose kringloop maak.b
Die ou gesegde: Voorsorg voorkom nasorg, is dus ook op die visboerdery van toepassing. Min moeite is ontsien om meer kennis oor maniere op te doen om die natuurlike weerstand van die visse te versterk. Hierdie navorsing is gerig op gebiede soos die optimalisering van voeding, die omgewing waarin die visse geteel word en die werksroetine, die teel van visse wat veral teen siektes bestand is asook die ontwikkeling van doeltreffende entstowwe en inentingsmetodes. Hierdie werk het goeie resultate gelewer, en dit lyk asof die visboerderyindustrie die oorhand het in die stryd teen siekte.
’n Groeiende industrie
Waterkultuur is ’n tipiese streeks-industrie wat vir ’n aantal kusnedersettings van groot belang is. Sedert die waterkultuurindustrie tot stand gebring is, het verbasende groei plaasgevind. In 1990 het wêreldwye produksie ’n totale waarde van meer as R83 miljard gehad. Noorweë voorsien meer as die helfte van die wêreld se geteelde Atlantiese salm en voer salm uit na meer as 90 lande in alle wêrelddele.
Hoewel Atlantiese salm tot dusver die hoofproduk van waterkultuur was, is daar reeds beperkte hoeveelhede geteelde kabeljou en heilbot op die mark. Die waterkultuurindustrie wil graag ’n betroubare heeljaarse verskaffer van hoë gehalte vars vis word.
Ongelukkig laat mense dikwels toe dat hulle deur hebsug aangedryf word, en dit het soms in die waterkultuurindustrie gebeur. In party gevalle het omgewingsbelange plek gemaak vir die begeerte om vinnig geld te maak. Visboere met so ’n gesindheid moet leer hoe vinnig die natuur kan terugslaan; hulle moet besef dat dit in hulle belang is om vir die omgewing te sorg. Vroeër of later blyk dit altyd verstandig te wees om die aarde se hulpbronne in ooreenstemming met die Skepper se oorspronklike voorneme te bestuur—in harmonie met die natuur en sy komplekse ekosisteme.
[Voetnote]
a Gebaseer op inligting in die brosjure Aquaculture in Norway, uitgegee deur die Noorweegse Visboervereniging.
b Die Noorweegse owerheid het, in die belang van verbruikers, streng regulasies met betrekking tot die gebruik van medisyne vasgestel. Visboere kan medisyne slegs deur ’n veearts verkry, en behandelde visse word onder kwarantyn geplaas voordat hulle bemark word om te verseker dat daar geen spoor van die medisyne in hulle stelsels agterbly nie.
[Prente op bladsy 15]
Visse word in drywende hokke in die see geplaas
Die kuit word uit die wyfies gemelk
Wanneer die visse die regte grootte bereik het, word hulle uitgehaal en verwerk
[Erkenning]
Photos: Vidar Vassvik/Norwegian Seafood Export Council