Die piñata—’n Ou tradisie
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN MEXIKO
DIE buurt se kinders hou fiësta. Ons kan hoor hoe hulle opgewonde uitroep: “Dale! Dale! Dale!” (Slaan dit! Slaan dit! Slaan dit!) Ons loer by die patio in en sien ’n vrolik versierde papierdonkie wat tussen twee bome hang. ’n Geblinddoekte kind slaan met ’n stok na die donkie en probeer dit breek. Die gaste moedig hom luidkeels aan. Uiteindelik bars die donkie oop, en lekkergoed, vrugte en speelgoed val uit. Terwyl hulle uitbundig lag, val die kinders oor mekaar om die geskenkies op te tel. Dit lyk na pret. Daar word vir ons gesê dat die donkie ’n piñata genoem word en dat dit hier in Mexiko en in ’n paar ander Latyns-Amerikaanse lande tradisie is om ’n piñata by fiëstas te breek.
Ons wonder waarom die piñata so gewild is. Wat is die oorsprong daarvan? Het die breek van die piñata enige spesiale betekenis? Ons besluit om ondersoek in te stel.
Die oorsprong van die piñata
Daar word algemeen geglo dat die Chinese moontlik die eerstes was wat iets soos ’n piñata gebruik het as deel van hulle Nuwejaarsvieringe, wat ook die begin van die lente aangedui het. Hulle het voorstellings van koeie, osse en buffels gemaak, dit met gekleurde papier bedek en dit met vyf verskillende soorte saad gevul. Gekleurde stokke is gebruik om die papierpoppe oop te breek. Die sierpapier wat die poppe bedek het, is verbrand, en die as is bymekaargemaak en gehou om gedurende die nuwe jaar geluk te bring.
Daar word gemeen dat die Venesiaanse reisiger Marco Polo die “piñata” in die 13de eeu saam met hom uit China na Italië teruggeneem het. Daar het dit sy huidige naam gekry van die Italiaanse woord pignatta, of breekbare pot, en is dit met goedkoop geskenkies, juweliersware of lekkergoed pleks van sade gevul. Die tradisie het toe na Spanje oorgewaai. Die breek van die piñata het ’n gebruik geword op die eerste Sondag van die Vastyd.a Dit wil voorkom of Spaanse sendelinge die piñata aan die begin van die 16de eeu na Mexiko gebring het.
Maar die sendelinge was heel moontlik verbaas (net soos ons was) om uit te vind dat die inboorlinge van Mexiko alreeds ’n soortgelyke tradisie gehad het. Die Asteke het die verjaarsdag van Huitsilopochtli, hulle god van die son en oorlog, gevier deur aan die einde van die jaar ’n kleipot bo-op ’n paal in sy tempel te sit. Die pot is met kleurvolle vere versier, en klein kosbaarhede is daarin gesit. Dit is dan met ’n stok gebreek, en die kosbaarhede wat uitgeval het, het ’n offerande aan die beeld van die god geword. Die Majas het ook ’n speletjie gespeel waarin geblinddoekte deelnemers ’n kleipot moes slaan wat aan ’n toutjie gehang het.
As deel van hulle strategie om die Indiane tot die Christelike geloof te bekeer, het die Spaanse sendelinge op vindingryke wyse van die piñata gebruik gemaak om onder andere die Christen se stryd teen die Duiwel en die sonde te simboliseer. Die tradisionele piñata was ’n kleipot wat met gekleurde papier bedek is en was in die vorm van ’n ster met sewe punte waaraan tossels gehang het. Hierdie punte het glo die sewe doodsondes afgebeeld: hebsug, vraatsug, luiheid, hoogmoed, jaloesie, toorn en wellus. Die feit dat deelnemers geblinddoek was wanneer hulle die piñata geslaan het, was ’n afbeelding van blinde geloof en wilskrag om versoekings of boosheid te weerstaan. Die geskenkies binne-in die piñata was die beloning.
Die piñata vandag
Later het die piñata deel geword van die feesvieringe van die posadasb gedurende die Kerstyd, en dit is vandag nog so. (’n Stervormige piñata word gebruik om die ster af te beeld wat die sterrewiggelaars na Betlehem gelei het.) Om die piñata te breek, word ook as ’n noodsaaklike deel van verjaarsdagpartytjies beskou. Piñatas het in werklikheid so ’n tradisie onder die Mexikane geword dat Mexiko dit selfs na ander lande uitvoer.
Ons het uitgevind dat die piñata vir baie mense in Mexiko sy godsdienstige betekenis verloor het en dat die meeste dit net as onskuldige pret beskou. Trouens, piñatas word in Mexiko tydens verskeie feestelike geleenthede gebruik, nie net gedurende die posadas of by verjaarsdae nie. En behalwe die tradisionele stervorm kan piñatas ook in baie ander vorms gekoop word. Soms lyk hulle soos diere, blomme of narre.
Wanneer Christene moet besluit of hulle ’n piñata by ’n geselligheid gaan hê, moet hulle ander se gewete in ag neem (1 Korintiërs 10:31-33). ’n Belangrike oorweging is nie wat die gebruik honderde jare gelede beteken het nie, maar hoe dit vandag in jou gemeenskap beskou word. Dit is te verstane dat mense se siening van plek tot plek sal verskil. Gevolglik is dit verstandig om nie groot geskille van sulke sake te maak nie. Die Bybel sê: “Laat elkeen aanhou om, nie sy eie voordeel nie, maar dié van die ander persoon te soek.”—1 Korintiërs 10:24.
[Voetnote]
a In party godsdienste, soos die Katolisisme, is die Vastyd ’n 40 dae lange tydperk van boetedoening wat ’n hoogtepunt bereik in die Passieweekvieringe tydens die Paastyd.
b In Mexiko is die posadas ’n nege dae lange viering voor Kersfees, wat Josef en Maria se soeke na posadas, of huisvesting, afbeeld. As die hoogtepunt van die feesviering word ’n piñata op elk van die nege aande gebreek.
[Prent op bladsy 23]
Wanneer ’n mens moet besluit of daar ’n piñata by ’n geselligheid gaan wees, moet jy ander se gewete in ag neem
[Prent op bladsy 23]
Piñatas kom in allerhande vorms en groottes