’n Verdraagsame koninkryk in ’n onverdraagsame tyd
“ELKEEN MAG DIE GODSDIENS VAN SY KEUSE AANNEEM SONDER DAT ENIGE DWANG OP HOM UITGEOEFEN WORD, EN DIT STAAN HOM VRY OM PREDIKERS VAN SY EIE GELOOF TE ONDERSTEUN.”
AS JY moes raai wanneer hierdie woorde geskryf is, wat sou jy sê? Baie sou dink dat dit deel is van ’n hedendaagse grondwet of verklaring van regte.
Maar jy sal dalk verbaas wees om uit te vind dat hierdie verklaring meer as 400 jaar gelede gedoen is—en in ’n land wat as ’t ware ’n eiland van verdraagsaamheid in ’n see van onverdraagsaamheid was. Watter land was dit? Kom ons kyk eers na ’n bietjie van die agtergrond van hierdie verhaal.
Onverdraagsaamheid die norm
Godsdiensonverdraagsaamheid was in die Middeleeue iets algemeens, en dit het in die 16de eeu selfs erger geword. Godsdiens het afgryslike, bloedige oorloë in lande soos Duitsland, Engeland, Frankryk en Nederland aangestook. Tussen 1520 en ongeveer 1565 is sowat 3 000 mense in die Westelike Christendom as ketters tereggestel. Feitlik enige bevraagtekening van waardes en idees—veral op godsdiensgebied—sou waarskynlik ’n onverdraagsame reaksie uitlok.
’n Leerstelling van die Katolieke Kerk wat lank in omstredenheid gehul is, was die Drie-eenheid—die opvatting dat God uit drie persone bestaan. Trouens, die geskiedskrywer Earl Morse Wilbur verduidelik dat dit “’n onderwerp was waaroor Katolieke teoloë, selfs Pouse, in die Middeleeue baie gedebatteer het”. Maar die gewone mense, van wie verwag is om sulke leerstellings goedgelowig as “goddelike verborgenhede” te aanvaar, was selde bewus van hierdie debatte.
Party in die 16de eeu het egter besluit om hierdie tradisie te verwerp en die Skrif te ondersoek in ’n poging om sulke verborgenhede te verklaar. Hulle leuse was sola Scriptura (die Skrif alleen). Diegene wat die Drie-eenheidsleer verwerp het—waarvan party later Unitariërs genoem is, in teenstelling met die Trinitariërs—is dikwels hewig vervolg deur Katolieke sowel as Protestante. Hulle het hulle veelgelese werke onder skuilname gepubliseer en weggekruip om vervolging te vermy. Anti-Trinitariërs was ook aan die voorpunt van die stryd om verdraagsaamheid. Party, soos die Spaanse teoloog Michael Servetus, het selfs met hulle lewe vir hulle oortuigings betaal.a
Verenig deur verdraagsaamheid
Een land het nie by godsdiensoorloë betrokke geraak of andersdenkendes vervolg nie, maar eerder ’n totaal ander standpunt ingeneem. Daardie land was Transsilvanië, destyds ’n outonome prinsdom, en nou ’n deel van Roemenië in Oos-Europa. Die Hongaarse geskiedskrywer Katalin Péter verduidelik dat Transsilvanië se koningin-moeder Isabella “nie by godsdienskonflikte betrokke wou raak nie en dus die rol van die verdediger van alle gelowe aangeneem het”. Tussen 1544 en 1574 het die Transsilvaniese Parlement, of Ryksdag, 22 wette uitgevaardig wat godsdiensvryheid gewaarborg het.
Byvoorbeeld, ná die Ryksdag van Turda in 1557 het die koningin, saam met haar seun, bepaal dat “elkeen die godsdiens van sy keuse [mag] beoefen, volgens ou of nuwe rituele, terwyl Ons dit terselfdertyd aan hulle eie oordeel oorlaat om na hulle goeddunke te handel wat geloof betref, solank hoegenaamd niemand daardeur benadeel word nie”. Daar is al na hierdie wet verwys as “die eerste wet wat godsdiensvryheid gewaarborg het wat in enige land uitgevaardig is”. Godsdiensverdraagsaamheid het ’n hoogtepunt in Transsilvanië bereik onder Isabella se seun Johannes II Sigismund, wat die direkte heerskappy in 1559 oorgeneem het.
Openbare debat
Nog ’n sleutelfiguur in die anti-Trinitariese beweging in Transsilvanië was ’n Italiaanse geneesheer, Georgio Biandrata. Sy twyfelgedagtes oor die Drie-eenheid is waarskynlik gevoed gedurende die tyd toe hy in Italië en Switserland was, waar baie anti-Trinitariese vlugtelinge toevlug gevind het. Nadat Biandrata na Pole verhuis het, het hy baie gedoen om die Klein Kerk, wat later as die Poolse Broeders bekend gestaan het, te bevorder.b In 1563 is hy as Sigismund se geneesheer en raadgewer aangestel en het hy na Transsilvanië gegaan.
Nog ’n geleerde in Transsilvanië wat die Drie-eenheid bevraagteken het, was Fransiskus Dawid, die superintendent van die Hervormde Kerk en die hofprediker. Hy het oor die ingewikkelde leringe wat verband hou met die Drie-eenheid, geskryf: “As hierdie dinge noodsaaklik was vir redding, sou geen arm, ongeleerde Christen ooit gered kon word nie, want hy sou dit in sy hele lewe nooit kon verstaan nie.” Dawid en Biandrata het saam ’n boek gepubliseer wat van Servetus se geskrifte bevat het; hulle het dit aan Sigismund opgedra.
Die Drie-eenheid het al hoe meer van ’n geskil geword, wat daartoe gelei het dat mense ’n openbare debat oor hierdie onderwerp wou hê. In ooreenstemming met die beginsel sola Scriptura het Biandrata daarop aangedring dat slegs skriftuurlike argumente by hierdie debatte gebruik moes word, nie filosofiese argumente nie. Ná ’n onbesliste debat in 1566 het Sigismund die anti-Trinitariërs ’n drukpers gegee sodat hulle hulle idees kon versprei.
Biandrata en Dawid het hulle taak ywerig aangepak en die boek De falsa et vera unius Dei Patris, Filii, et Spiritus Sancti cognitione (Die valse en ware kennis oor die eenheid van God die Vader, Seun en Heilige gees) gepubliseer. Die boek het ’n geskiedkundige oorsig bevat van dié wat geweier het om aan die Drie-eenheid te glo. In een van die hoofstukke was daar prente wat blykbaar bedoel was om ’n bespotting te maak van die manier waarop die Drie-eenheid in kunswerk in verskeie kerke uitgebeeld is. Teenstanders was geskok omdat die afbeeldings volgens hulle skandelik was, en hulle het alle eksemplare daarvan probeer vernietig. Die omstrede publikasie het selfs meer besprekings uitgelok. Gevolglik het Sigismund ’n tweede debat gereël.
’n Oorwinning vir die Unitariërs
Die debat het vyfuur die oggend op 3 Maart 1568 begin. Dit is in Latyn gehou en het tien dae geduur. Die vernaamste woordvoerder aan die Trinitariese kant was Pieter Melius, leier van die Transsilvanies-Gereformeerde Kerk. Hy en diegene wat ten gunste van die Drie-eenheid was, het hulle redenasies gegrond op die geloofsbelydenisse, die Kerkvaders, Ortodokse teologie en die Bybel. Daarenteen het Dawid slegs die Bybel gebruik. Volgens Dawid se uiteensetting is die Vader God, die Seun ondergeskik aan die Vader en die gees die krag van God. Sigismund het ook aan die debat deelgeneem omdat hy ’n diepe belangstelling in godsdienstige aangeleenthede gehad het en geglo het dat die bespreking daarvan die beste manier was om die waarheid na vore te bring. Sy teenwoordigheid het gehelp om te verseker dat die onderwerp vryelik en openlik bespreek word, al het die humeure soms opgevlam.
Die debat is as ’n oorwinning vir die anti-Trinitariërs beskou. Dawid is soos ’n held ontvang in sy tuisdorp Kolozsvár (nou Cluj-Napoca, Roemenië). Volgens tradisie het hy by sy aankoms bo-op ’n groot klip op ’n straathoek gaan staan en met soveel oortuiging van sy opvattings gepraat dat hy almal oorreed het om dit aan te neem.
Bekering en dood
Debatte is voorheen in Latyn gehou, ’n taal wat slegs deur die geleerdes verstaan is. Maar Dawid wou hê dat die gewone mense sy boodskap moes hoor. Op 20 Oktober 1569 in Nagyvárad (nou Oradea, Roemenië) is die volgende debat met Sigismund se goedkeuring dus in Hongaars gehou. Sigismund het weer eens as moderator tussen die twee kante opgetree.
Die Trinitariër Pieter Melius het gesê dat hy die vorige nag ’n visioen ontvang het waarin die Here aan hom geopenbaar het wat die aard van God werklik is. Die koning het geantwoord: “Pastoor Pieter, as daar laas nag aan jou geopenbaar is wie die Seun van God is, wat, vra ek jou, het jy die mense voorheen geleer? Dan het jy tot dusver die mense mislei!” Toe Melius Dawid aangeval het, het Sigismund hom tereggewys en die Trinitariër daaraan herinner dat “geloof die gawe van God is” en dat ‘’n gewete nie gedwing kan word nie’. In ’n toespraak aan die einde van die debat het die koning gesê: “Ons dring aan op gewetensvryheid in ons hele ryk.”
Ná die debat het Sigismund en die meeste van sy hof hulle aan die Unitariese kant geskaar. In 1571 is ’n koninklike edik uitgevaardig wat wetlike erkenning aan die Unitariese Kerk verleen het. Transsilvanië was die enigste staat waar Unitariërs op gelyke voet verkeer het met Katolieke, Lutherane en Calviniste, en Sigismund is die enigste koning wat ooit die anti-Trinitariese geloof aangeneem het. Ongelukkig is die 30-jarige koning kort daarna beseer terwyl hy saam met Dawid en Biandrata op ’n jagtog was, en hy het ’n paar maande later gesterf.
Sy opvolger, die Katoliek Stephanus Báthory, het die wet wat erkende godsdienste beskerm het, herbevestig, maar hy het te kenne gegee dat hy geen verdere veranderinge sou duld nie. Aanvanklik het Stephanus gesê dat hy ’n heerser oor mense is, nie oor hulle gewete nie. Maar hy het kort daarna beperkings geplaas op die publisering van boeke, ’n vername manier waarop godsdiensidees versprei word. Dawid is uit sy amp onthef, en ander Unitariërs het hulle posisies aan die hof en in die staatsdiens verloor.
Toe Dawid begin leer het dat Christus nie aanbid moet word nie, is ’n bevel uitgevaardig wat hom verbied het om te preek. Ondanks hierdie verbod het Dawid die volgende Sondag twee dienste gehou. Hy is in hegtenis geneem, aangekla van godsdiens-“afwyking” en tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis. Hy het in 1579 in die koninklike kerker gesterf. Voor sy dood het Dawid op sy selmuur geskryf: “Nog die swaard van pouse . . . nog die bedreiging van die dood sal die vooruitgang van die waarheid stuit. . . . Ek is oortuig dat die leringe van die valse profete ná my dood tot niet sal gaan.”
Koninklike lesse
Koning Johannes Sigismund het opvoeding, musiek en die kunste bevorder. Maar sy lewe was kort en hy was dikwels siek. Sy heerskappy is geteister deur interne bedreigings—daar was ten minste nege sameswerings teen sy lewe—sowel as eksterne bedreigings, aangesien buitelandse magte opstand aangeblaas het. Hierdie verdraagsame koning is dikwels skerp veroordeel weens sy godsdiensopvattings. Een teenstander het later gesê dat die koning “beslis hel toe gegaan het”.
Die geskiedskrywer Wilbur help ons egter om die regte beskouing te verkry: “In die jaar toe koning Johannes [Sigismund] sy laaste handves uitgevaardig het wat algehele godsdiensvryheid aan selfs die mees gehate gereformeerde sektes gewaarborg het, het Protestantse teoloë Calvyn nog steeds geloof omdat hy Servetus lewendig verbrand het, het die Inkwisisie Protestantse bloed in Nederland vergiet, . . . en daar moes nog meer as 40 jaar verloop voor mense in Engeland nie meer op die brandstapel gesterf het omdat hulle die verkeerde godsdiensopvattings gehuldig het nie.”
Trouens, soos een kommentator gesê het: “Volgens byna enige maatstaf—beslis volgens die maatstaf van sy eie tyd—was koning Johannes Sigismund ’n merkwaardige heerser. . . . Hy het verdraagsaamheid die kenmerk van sy heerskappy gemaak.” Hy het besef dat godsdiensvrede in die belang van die staat was en het dus ’n ywerige verdediger van gewetens- en godsdiensvryheid geword.
In ons tyd, waarin godsdiensonverdraagsaamheid nog steeds sy lelike kop uitsteek, kan daardie klein koninkryk van lank gelede ons dalk stof tot nadenke gee. Vir ’n kort rukkie was Transsilvanië inderdaad ’n verdraagsame koninkryk in ’n onverdraagsame tyd.
[Voetnote]
a Sien die Ontwaak! van 22 November 1988, bladsye 19-22.
[Lokteks op bladsy 14]
“’N gewete kan nie gedwing word nie . . . ons dring aan op gewetensvryheid in ons hele ryk.”—Koning Johannes ii Sigismund
[Prente op bladsy 12, 13]
Georgio Biandrata
Bladsye uit die boek wat deur Biandrata en Dawid gepubliseer is, met twee van die prente wat Trinitariërs geskok het
Fransiskus Dawid voor die Ryksdag van Turda
[Erkennings]
Twee lyntekeninge van die Drie-eenheid: © Cliché Bibliothèque nationale de France, Paris; alle ander foto’s: Országos Széchényi Könyvtár
[Foto-erkenning op bladsy 14]
Bladsye 2 en 14: Országos Széchényi Könyvtár