Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 8/22 bl. 26-27
  • Die kleurvolle Kermode-beer

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die kleurvolle Kermode-beer
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Besoek aan die gebied van die Kermode-beer
  • ’n Paar kenmerke
  • Ontmoetings met mense
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2001
  • ’n Mabeer se lang slaap
    Ontwaak!—2002
  • Indrukwekkende reuse van die Noorde van Kanada
    Ontwaak!—1993
  • ’n Dor land word vrugbaar
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 8/22 bl. 26-27

Die kleurvolle Kermode-beer

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KANADA

“Hulle staan op hulle agterpote, sit op hulle sitvlak . . . , snork selfs wanneer hulle slaap. . . . Hulle is intelligent, hulle is nuuskierig, hulle leer vinnig en pas goed by hulle omgewing aan, en hulle het blykbaar dieselfde soort buie as ons.”

DIE natuurkundige Wayne McCrory het dit van een van die wêreld se seldsaamste bere gesê—die wit swartbeer van Kanada se noordwestelike kus. Die wetenskaplike wêreld is vir die eerste keer in 1900 deur William Hornaday, ’n lid van die Dierkundige Vereniging van New York, aan hierdie beer bekend gestel. Hy was besig om beerpelse van Victoria, Brits-Columbië, te katalogiseer toe hy op ’n ongewone pels afgekom het. Dit was roomwit met ’n ligte goue skakering en het ’n soortgelyke vorm as die pels van die Amerikaanse swartbeer gehad.

Hierdie ontdekking het Hornaday nuuskierig gemaak, en hy het Francis Kermode, die kurator van Brits-Columbië se Provinsiale Museum, gevra om hom te help om meer inligting in te win oor wat Hornaday gemeen het ’n nuwe beersoort was. In 1905 het Hornaday, ter erkenning van Kermode se werk om eksemplare en inligting in te samel, die beer Ursus kermodei—die Kermode-beer—genoem.

Kermode-bere is ’n deel van die Amerikaanse swartbeerfamilie, maar hulle is nie altyd die kleur wat hulle naam te kenne gee nie. Die Tsimshian-sprekende Indiane, wat in die gebied van die Kermode-beer woon, noem die beer Moksgm’ol, of witbeer. Mense het ook al oranje, bruinrooi, goue, heldergeel en blougrys bere gesien, selfs bontes, wat swart, bruin en wit gevlek is.

Bioloë is nog steeds nie seker waarom daar wit Kermode-bere is nie. Een verduideliking is dat ’n willekeurige genetiese mutasie vir die unieke kleur verantwoordelik kan wees. Eintlik is slegs 1 uit elke 10 Kermode-bere wat gesien word wit. Die Kermode-bere van Kanada se Pasifiese noordwestelike kus is beslis uniek en verdien meer as net ’n vlugtige kykie.

’n Besoek aan die gebied van die Kermode-beer

Kermode-bere kan in ’n gebied van ongeveer 75 000 vierkante kilometer langs die noordkus van Brits-Columbië gesien word. As ’n mens ongeveer 600 kilometer noordwes van Vancouver af reis, kom jy uit by Princess Royal-eiland en die omgewing van die Douglaskanaal naby Kitimat. Ongeveer 150 kilometer die binneland in, na die noordooste, is die houtkappersgemeenskap van Terrace, wat langs die Skeenarivier geleë is. Hierdie omgewing is die hartjie van die Kermode-beer se gebied. Dit is al as die mees ongerepte en rykste wildernis van Kanada se Weste beskryf.

’n Mens het ’n ervare gids nodig wat die gedrag van die Kermode-beer ken as jy enigsins hierdie wit swerwer wil sien. Die beste tyd om ’n beer te sien, is in Oktober wanneer die strome van Brits-Columbië wemel van duisende broeiende salms. Gedurende hierdie jaarlikse gebeurtenis kom Kermode-bere van die hooglande af om ’n feesmaal van salm te geniet. Een ooggetuie het die bere se eetritueel soos volg beskryf: “Hulle kies die vis wat hulle wil hê, sit een poot op die kop, dan stroop hulle die vel van agter die kieue af terug sodat die vleis waaraan hulle wil smul, ontbloot word.”

’n Paar kenmerke

Kermode-bere lyk miskien vriendelik, oulik en spelerig, maar in werklikheid kan hulle, soos alle bere, onvoorspelbaar en gevaarlik wees. Hulle sig is na bewering nie baie goed nie. Hulle klein spitsneus en lang neusgate is ontwerp om hulle reuksin te verskerp. Hoewel dit lyk of hulle lomp is, is hulle baie rats. Daar is vasgestel dat party meer as 50 kilometer per uur oor kort afstande kan hardloop!

Volgroeide wyfies is van 1,3 tot 1,9 meter lank en weeg tussen 50 en 180 kilogram. Die mannetjies is groter en weeg soms meer as 200 kilogram. Wanneer Kermode-bere op hulle agterpote staan, is hulle 2,5 tot 2,75 meter hoog. Hulle is ook goeie swemmers. Trouens, ’n vissery-patrolliebeampte het gesien hoe ’n beer van ’n nabygeleë eiland na die vasteland toe swem. Toe hy sy boot nader aan die beer stuur, het die beer hom verras deur te duik en onderwater te swem en net boontoe te kom om asem te haal.

Ontmoetings met mense

Wanneer bere onnatuurlike voedselbronne met mense begin assosieer, verloor hulle dikwels hulle vrees vir mense en word hulle baie aggressief en gevaarlik. Sulke bere word dikwels van kant gemaak. Wanneer jy dus weer ’n beer in die bos sien wat kos soek, moet jy onthou dat dit nie net vir jou gevaarlik kan wees nie, maar dat jy ook moontlik tot sy vroeë dood bydra as jy hom kos gee.

Wanneer ons oor hierdie interessante beer nadink, kan ons nie anders as om beïndruk te wees met die verskeidenheid wat in die beerfamilie bestaan nie. Hoeveel vreugde en plesier verskaf God se skeppingswerke die mens tog nie! En wat ’n verantwoordelikheid het die mens dus om na sulke fassinerende diere om te sien!

[Foto-erkenning op bladsy 27]

Howie Garber/www.wanderlustimages.com

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel