Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 8/22 bl. 23-25
  • Hoe kan ek Bybellees genotvoller maak?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan ek Bybellees genotvoller maak?
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Maak tyd vir Bybellees
  • Bid vir wysheid
  • Laat die Bybel lewe
  • Volhard!
  • Vind baat by daaglikse Bybellees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Bybellees—nuttig en aangenaam
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Hoe jy die meeste uit jou Bybellees kan kry
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
  • Lê jou daarop toe om beter te lees
    Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 8/22 bl. 23-25

Jongmense vra . . .

Hoe kan ek Bybellees genotvoller maak?

“Die Bybel is soms moeilik om te verstaan, en dit kan ’n mens ontmoedig.”—Annalieza, 17 jaar oud.

“Die Bybel het my verveel.”—Kimberly, 22 jaar oud.

BAIE mense hou nie van lees nie. Daarom lyk ’n dik boek soos die Bybel dalk oorweldigend—selfs vir ywerige lesers. “Vir my was die Bybel ’n dik boek met ’n klomp groot woorde wat moeilik is om te verstaan”, sê Tammy, wat 17 jaar oud is. “Om die Bybel te lees, vereis baie konsentrasie en volharding.”

Daarbenewens gebruik jy dalk baie van jou tyd en energie om huiswerk en huishoudelike takies te doen en te ontspan. Hierdie dinge kan jou aandag aflei en dit moeilik maak om jou Bybellees te geniet. Alicia, wat een van Jehovah se Getuies is, moet boonop tyd opsy sit om Christelike vergaderinge by te woon en om haar oortuiging aan ander bekend te maak. Sy erken: “Bybellees kan moeilik wees, want dit lyk asof daar altyd baie ander dinge is om te doen.”

Tog het Alicia, Tammy en baie ander jongmense die uitdaging die hoof gebied. Hulle lees die Bybel nou gereeld en geniet dit. Jy kan ook! Kom ons kyk na drie dinge wat jy kan doen om Bybellees genotvoller te maak.

Maak tyd vir Bybellees

“Ek dink jongmense sê dat Bybellees vervelig is omdat hulle dit net nog nie genoeg gedoen het nie”, sê Kelly, wat 18 is. Net soos jy ’n sportsoort of ’n speletjie geniet wat jy gereeld speel, sal jy Bybellees geniet as jy dit gereeld doen.

Maar sê nou jy het nie baie vrye tyd nie? Die apostel Paulus gee hierdie raad: “Let dus voortdurend streng op hoe julle wandel, dat dit nie as onwyses is nie, maar as wyses, terwyl julle die geleë tyd vir julleself uitkoop, omdat die dae goddeloos is” (Efesiërs 5:15, 16). Jy kan die ‘tyd uitkoop’ deur minder tyd aan onbelangrike bedrywighede te bestee, soos om TV te kyk. Die woord wat Paulus vir “tyd” gebruik het, kan verwys na ’n tyd wat vir ’n spesifieke doel vasgestel is. Wat kan jou vasgestelde tyd wees om die Bybel te lees?

Baie lees die Bybel in die oggend nadat hulle die Bybelteks en kommentaar in die boekie Ondersoek die Skrif elke daga gelees het. Ander verkies weer om dit te lees voordat hulle saans gaan slaap. Kies ’n realistiese tyd wat vir jou werk, en pas dit aan wanneer nodig. Alicia sê: “Aanpasbaarheid is eintlik die hoofrede waarom ek ’n gereelde leesprogram kan volg.”

Party jong Christene sit daagliks 10 tot 15 minute opsy om die Bybel te lees. Sodoende kon hulle al die hele Bybel in ’n jaar of twee deurlees! Selfs al lyk dit bo jou vuurmaakplek, stel jou dit ten doel om elke dag ’n gedeelte uit die Bybel te lees. As jy getrou by jou vasgestelde tyd vir Bybellees bly, sal jou liefde vir God se Woord toeneem.—Psalm 119:97; 1 Petrus 2:2.

Bid vir wysheid

Selfs gereelde Bybellesers vind dit dalk moeilik om gedeeltes van God se Woord te verstaan. Die Bybel se Outeur, Jehovah God, wil hê dat jy sy Woord moet verstaan. Die boek Handelinge vertel van ’n Etiopiese reisiger wat ’n profesie in Jesaja hoofstuk 53 nie heeltemal kon verstaan nie. Die man was gewillig om hulp te vra, en Jehovah se engel het die sendeling Filippus gestuur om die profesie aan hom te verduidelik.—Handelinge 8:26-39.

Doeltreffende Bybellees begin dus nie met lees nie, maar met gebed. Party maak dit ’n gewoonte om, voordat hulle hulle Bybel oopmaak, tot Jehovah te bid vir die wysheid om die lesse in hulle leesgedeelte te verstaan en ter harte te neem (2 Timoteus 2:7; Jakobus 1:5). God se gees kan jou selfs help om Bybeltekste te onthou wat jou sal help om vrae te beantwoord of om beproewinge te oorkom.

Een jong Christenman sê: “Toe ek 12 was, het my pa ons gesin verlaat. Een aand het ek in die bed gebid en Jehovah gesmeek om my pa te laat terugkom. Toe het ek my Bybel geneem en Psalm 10:14 (NW) gelees: ‘Aan u [Jehovah] vertrou die ongelukkige, die vaderlose seun, homself toe. U het sy helper geword.’ Ek het ’n oomblik daaroor nagedink. Ek het gevoel dat Jehovah met my gepraat en my laat besef het dat hy my helper is; hy is my Vader. Watter beter vader kan ek hê as hy?”

Kan jy ’n gewoonte daarvan maak om elke keer te bid voordat jy die Bybel lees? Adrian stel voor: “Bid voor jy lees—en selfs daarna—sodat dit werklik ’n tweerigtinggesprek met Jehovah is.” Hartgrondige gebed sal jou meer vasbeslote maak om by jou Bybelleesprogram te bly en sal jou verhouding met God versterk.—Jakobus 4:8.

Laat die Bybel lewe

Kimberly, wat aan die begin aangehaal is, het die Bybel vervelig gevind. Die Bybel is inderdaad ’n baie ou boek—wat lank voor die koms van die rekenaar, die televisie of die vliegtuig geskryf is—en Bybelkarakters het duisende jare gelede gesterf. Die apostel Paulus het nietemin geskryf: “Die woord van God is lewend en oefen krag uit” (Hebreërs 4:12). Hoe kan so ’n ou boek krag uitoefen?

In die dae van die kopiïs Esra het duisende mans, vroue en “almal wat genoeg begrip gehad het om te luister”, in Jerusalem vergader om te luister hoe die Wet van Moses voorgelees word. Die Wet was toe alreeds meer as 1 000 jaar oud! Esra en sy helpers het nogtans “bly voorlees uit die boek, uit die wet van die ware God; dit is uitgelê en betekenis is daaraan gegee; en hulle het wat voorgelees is, deurentyd verstaanbaar gemaak”. Wat was die gevolg toe hierdie mans die Skrif verduidelik en dit laat lewe het? “Toe het die hele volk weggegaan om te eet en te drink en porsies uit te stuur en hulle grootliks te verheug, want hulle het die woorde verstaan wat aan hulle bekend gemaak is.”—Nehemia 8:1-12, NW.

Hoe kan jy ‘betekenis’ aan jou Bybellees gee? Cathy, wat lees as ’n uitdaging beskou, lees hardop om te konsentreer. Nicki probeer haar in die verhaal inleef. “Ek stel my voor hoe ek in daardie situasie sou gevoel het”, sê sy. “My gunstelingverhaal was nog altyd dié van Rut en Naomi. Ek kan dit oor en oor lees. Toe ek na ’n nuwe stad getrek het, het ek vertroosting uit hierdie verhaal geput omdat ek my kon voorstel hoe Rut moes gevoel het toe sy na ’n vreemde plek gegaan en niemand geken het nie. Ek het gesien hoe sy haar vertroue in Jehovah gestel het, en dit het my werklik gehelp om dieselfde te doen.”—Rut, hoofstukke 1-4.

Bepeinsing is egter nodig sodat die Bybel ‘krag kan uitoefen’. Elke keer as jy lees, moet jy die tyd neem om na te dink oor die tekste wat jy gelees het en hoe jy kan toepas wat jy geleer het. Jy sal dalk Bybelstudiehulpe wil raadpleeg, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word, om die leesgedeelte te verryk.b

Volhard!

Dit is nie maklik om by ’n Bybelleesprogram te bly nie. Selfs die beste Bybelleesprogram moet dalk van tyd tot tyd aangepas word. Hoe kan jy volhard in jou doelwit om die Bybel elke dag te lees?

Jou vriende en gesin kan help. Die 15-jarige Amber sê: “Ek deel ’n kamer met my suster. Party aande is ek so moeg dat ek net wil gaan slaap, maar my suster herinner my daaraan om eers te lees. Sodoende vergeet ek nooit nie!” As jy ’n sekere teks of gedeelte interessant vind, kan jy gerus met ander daaroor praat. Dit sal jou waardering vir God se Woord vergroot en dalk selfs hulle belangstelling in Bybellees aanwakker (Romeine 1:11, 12). Moenie moed opgee as jy jou Bybellees een of meer dae nalaat nie! Begin weer lees waar jy opgehou het, en wees meer vasbeslote as ooit tevore om by jou program te bly.

Moet nooit vergeet van die ryk seëninge wat met daaglikse Bybellees gepaardgaan nie. Jy kan ’n hegte verhouding met Jehovah geniet as jy deur middel van sy Woord na hom luister. Jy sal sy gedagtes en gevoelens leer ken (Spreuke 2:1-5). Hierdie kosbare waarhede van ons hemelse Vader sal ’n beskerming wees. “Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou?” het die psalmis gevra. “Deur dit te hou na u woord” (Psalm 119:9). Begin dus met ’n Bybelleesprogram—en bly daarby. Jy vind moontlik dat dit baie genotvoller is as wat jy jou ooit kon indink!

[Voetnote]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

b Die Wagtoring van 1 Oktober 2000, bladsye 16-17, gee ’n paar praktiese wenke wat jou kan help om dieper in die Bybel te delf.

[Prente op bladsy 24]

Gebed en navorsing sal jou Bybellees genotvoller maak en jou help om die betekenis van die tekste te verstaan

[Prent op bladsy 25]

As jy jou in die verhaal inleef, sal dit die Skrif laat lewe

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel