Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 3/22 bl. 22-23
  • ’n Voorskou van die Paradys

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Voorskou van die Paradys
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Van maanlandskap tot park
  • “Sien julle in die Paradys!”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • ’n Paradys met ’n verskil
    Ontwaak!—1998
  • Paradys op aarde—’n Droom of ’n werklikheid?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2017
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 3/22 bl. 22-23

’n Voorskou van die Paradys

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SPANJE

OLIFANTE, tiers en wildsbokke loop nie gewoonlik in verlate myne rond nie. Bogrondse mynbou is daarvoor bekend dat dit ’n landskap verlate en vol littekens laat sodat dit nie vir eksotiese diere as ’n toevlugsoord geskik is nie.

Maar in die Cabárceno-natuurreservaat in die Spaanse provinsie van Cantabria, het ’n unieke eksperiment getoon dat selfs die onwaarskynlikste terreine mooi gemaak en feitlik in ’n paradys omskep kan word.

Ongeveer 3 000 jaar lank was Cabárceno beroemd vir sy hoë gehalte ystererts. Keltiese myners het ontdek dat die ferrioksied, wat van nature in die gebied voorgekom het, maklik tot yster verwerk kon word—’n onontbeerlike metaal vir Keltiese gereedskap en wapens. Baie eeue lank het die Romeine ook die mineraalafsettings ontgin.

Aangesien die erts naby die oppervlak was, het die eertydse myners die ryk korrelagtige afsettings moeisaam met pikke en grawe uitgehaal en honderde rotsagtige torinkies agtergelaat wat geen erts bevat het nie. Onbewustelik het hulle dus opvallende karstagtige tonele geskep, wat gewoonlik geassosieer word met kalksteenformasies wat deur die mensehand pleks van water uitgekerf is.

Met die aanbreek van die Industriële Revolusie is moderne masjinerie egter gebruik om die res van die berg te vernietig om die kosbare erts wat agtergebly het, te herwin. Toe die stootskrapers uiteindelik al die berg se mineralerykdom uitgehaal het, het die myn sy deure in 1989 toegemaak. Net ’n paar geroeste masjiene by die ingang van Cabárceno getuig van sy industriële erfenis.

Van maanlandskap tot park

Dit is ongetwyfeld makliker om ’n landskap te vernietig as om dit te herstel. Die plaaslike owerheid van Cantabria het hulle nie hierdeur laat afskrik nie en het die uitdaging aanvaar om ’n dieretuin uit ’n landskap te skep wat meer soos ’n maanlandskap gelyk het.

Hulle sukses het hoofsaaklik afgehang van die aarde se natuurlike vermoë om homself te herstel ná genoeg tyd verloop het. Daarbenewens het die landskapargitekte hard gewerk om die skade te herstel wat deur eeue se verwaarlosing en ontginning aangerig is. Binne ’n paar jaar is duisende bome aangeplant, die bogrond vervang, onooglike myngate in pragtige mere omskep en het ou spoorweë voetpaadjies geword. Uiteindelik is diere wat spesiaal gekies is, binne groot kampe geplaas om die verandering af te rond.

Die 600 000 besoekers wat elke jaar na die Cabárceno-natuurreservaat kom, voel blykbaar dat dit alles die moeite werd was. Heelparty het al opgewonde uitgeroep: “Dit is ’n paradys!” “Paradys” is ’n goedgekose woord, aangesien dit deur die antieke Perse en Grieke gebruik is om na ’n groot, waterryke park met ongerepte prag te verwys, waar diere in betreklike vryheid kon wei.

Terwyl soveel natuurlike landskappe al vernietig is, is dit verkwikkend om ’n plek te besoek wat herstel en mooi gemaak is. Wat op ’n klein skaal in Cabárceno bereik is, lig boonop goed toe waartoe hierdie wonderlike aarde in staat is.

Bruinbere klim nou kranse uit wat eens deur Romeinse myners uitgebeitel is. Olifante en wildsbokke wei op welige weivelde wat ’n gebied bedek wat vantevore deur stootskrapers kaal gestroop is. Jong tiers baljaar om granietformasies wat onwetend deur Keltiese pikke en grawe gevorm is. En hierdie groot verandering is binne net ’n paar jaar tot stand gebring!

Die Bybel belowe dat die hele aarde eendag, in ooreenstemming met God se oorspronklike voorneme vir die mensdom, ’n paradys sal wees (Genesis 1:28; 2:15; Jesaja 65:17, 22-25; Lukas 23:42, 43). Natuurreservate soos Cabárceno gee ons nie net ’n voorskou van ’n toekomstige paradys nie, maar dit herinner ons ook daaraan dat só ’n belofte in ons Skepper se mag is.

[Volbladillustrasie op bladsy 23]

[Foto-erkenning op bladsy 22]

Alle foto’s: Parque de la Naturaleza de Cabárceno

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel