’n Paradys met ’n verskil
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KANADA
WAAR jy teen die boonste hange van die kloof staan en die vallei daar onder bespied, word jy met ontsag vervul deur die asemrowende landskap—golwende heuwels en steil klowe. Voor jou lê ’n oënskynlik eindelose see van gras. ’n Windvlaag warrel verby, vol van die sterk geur van salie, die reuk van die prêrie.
Dink net, slegs tweehonderd jaar gelede kon jy dae aaneen reis sonder om die ontsaglike bisontroppe uit die oog te verloor wat oor die groot grasvlaktes van Kanada getrek het, en onder jou voete kon jy die grond voel vibreer weens die gedreun van miljoene hoewe. Selfs die bekende dieremigrasies van Afrika kon nie met dié van die bisons op hierdie groot see van gras meeding nie.
Nou is die groot klippe waarteen die bisons geskuur het van die enigste oorblywende tekens dat hulle ooit hier was. ’n Mens kan die gladde hoeke voel en die vore sien wat rondom die klippe uitgetrap is deur die duisende bisons wat hulle jeukerige vel daarteen geskuur het. Dit is nie net die sterk westewind wat jou oë laat traan nie, maar ook ’n oorweldigende gevoel van ontsag vanweë die skeppingswonders wat jou omring en jou sintuie vul. Waar is jy? Jy besoek ’n paradys met ’n verskil.
’n Park met ’n verskil
Welkom by die Grasslands- Nasionale Park, in suidwestelike Saskatchewan, Kanada—die enigste park in Noord-Amerika wat opsy gesit is om ongerepte, gemengde grasvlaktes te bewaar. Die park bestaan eintlik uit ’n oostelike en ’n westelike deel wat 22,5 kilometer uit mekaar is. Dit sal uiteindelik 900 vierkante kilometer beslaan.
Die gebied is ongelyk en besaai met talle uitdagende hindernisse. Dit is die beste om die gebied te voet of te perd te verken. Om ’n hele paar nagte onder die sterre te kampeer, is vir die avontuurlustiges, maar maak seker dat jy genoeg water en ander noodsaaklikhede saambring. (Sien die venster “Parkverkenning”.) Gedurende jou besoek aan die park sal jy geen moderne geboue, geen geplaveide of gruispaaie, geen kragdrade, geen stortterreine en geen parkeerterreine sien nie. Jy sien dalk nie eens ander mense nie. Dit is waarlik ’n paradys met ’n verskil! Wanneer jy in die park ingaan, betree jy ’n wêreld met ’n unieke skoonheid.
Die Noord-Amerikaanse Laagvlakte is een van die ekosisteme in die wêreld wat die ingrypendste verander het. Minder as tweehonderd jaar gelede was hierdie gebied nog heeltemal onbewoon en ongerep. Vandag is minder as 25 persent van hierdie gemengde grasvlakte in Kanada byvoorbeeld nog onbewerk. Die idee om hierdie prêrie te bewaar deur dit ’n park te maak, het in die 1830’s ontstaan. Meer as honderd jaar later, in 1957, het die Natuurhistoriese Vereniging van Saskatchewan daaraan begin werk om ’n nasionale park te vestig.
Maar dit was eers in 1988 dat ’n federaal-provinsiale ooreenkoms die Grasslands- Nasionale Park tot stand gebring het. Hierdie park, tesame met ander in die Kanadese prêries, beskerm nou 22 plante, soogdiere en voëls wat op Kanada se amptelike lys van bedreigde spesies is. Daarbenewens word baie ander bewaar, waarvan sommige nêrens anders in die wêreld voorkom nie.
Die Grasslands-park is ’n gebied van klimaatuiterstes. Aangesien dit in die middel van die vasteland geleë is, is daar geen oseaan naby wat ’n gematigde uitwerking daarop kan hê nie. Wintertemperature kan dus tot -50 grade Celsius daal, en in die somer is temperature van meer as 40 grade Celsius glad nie ongewoon nie. ’n Uiters lae reënval en ’n aanhoudende wind het ’n strawwe klimaat tot gevolg.
Daar is nietemin ’n oorvloed natuurlewe, hoewel dit aanvanklik nie opvallend is nie. Met geduld en volharding, veral om en by dagbreek en skemer, word jy dalk beloon met die geleentheid om foto’s te neem van takbokke, prêriewolwe, voskatte, prêriehase, heifisante, ratelslange, gatlewende uile, grootse jakkalsvoëls, goudarende, eksotiese gaffelbokke (wat beskryf word as moontlik die vinnigste groot diere van Noord-Amerika) of die enigste oorblywende gemeenskap van prêriemeerkatte in Kanada. Jy sal ook baie ander voëls sowel as insekte en plante sien wat inheems aan hierdie gebied is.
Interessante geskiedenis van die streek
As jy besluit om hierdie unieke park te besoek, wil ons jou aanmoedig om ’n bietjie navorsing oor die gebied te doen. Jy sal vind dat dit ’n ryke geskiedenis het. Die bakens op die geskiedkundige North West Mounted Police Red Coat Trail bestaan byvoorbeeld nog steeds. In 1874 het die Kanadese regering ’n afdeling van driehonderd berede lede van die polisie na die Weste gestuur om wet en orde te handhaaf nadat hulle gerugte van oproerigheid onder die inboorlinge gehoor het. Baie se vrees dat die Verenigde State op die punt was om die Weste van Kanada te beset, is ook deur hierdie optrede gestil. Omdat hierdie afdeling helderrooi soldatebaadjies gedra en op goed versorgde perde gery het, het hulle so indrukwekkend gelyk dat hulle roete tot vandag toe nog as die Red Coat Highway bekend staan.
Interessant genoeg, in 1878 het hierdie gebied die tuiste geword van een van die mees gevreesde Indiaanse krygers in Noord-Amerika—die groot Sioux-hoofman Sitting Bull. Ná die oorwinning van die Sioux-Indiane oor Custer se magte by Little Bighorn het duisende Amerikaanse Sioux-Indiane na hierdie deel van Kanada gevlug om van die Amerikaanse soldate af weg te kom.
In die park is daar ongeveer 1800 plekke van argeologiese belang wat selfs ouer is. Op baie bergrûe, heuweltoppe en koppies is daar groot klippe wat in kringe gerangskik is en as tepee-ringe bekend staan. Hierdie klippe is vroeër op die some van tepees (tente) van bisonvel gepak om te keer dat die wind hulle wegwaai. Daar is ook etlike stelsels van ou paaie wat deur die Prêrie-Indiane gebruik is om bisons aan te keer. Baie eeue gelede was die gebied ’n ryk jagveld vir die stamme van die Gros Ventre-, Cree-, Assiniboin-, Swartvoet- en Sioux-Indiane.
Selfs ouer is die dinosourusoorblyfsels wat tussen die erg verweerde kleiheuwels van die Killdeer Badlands in die park se oostelike deel gevind is.
’n Pragtige panorama
Indien die verskeidenheid en oorvloed flora en fauna of die fassinerende geskiedenis van hierdie gebied nie genoeg is om jou verstom te laat staan nie, sal die pragtige en buitengewone omvang van die gebied dit wel doen. Daar is die klank van tallose voëlspesies, die geur van salie en die gevoel van die warm son en die wind op jou vel. Die geur van kos wat op ’n draagbare gasstoof gaargemaak is, word verbeter deur die panoramiese uitsig, wat ’n ononderbroke lus vir die oë is. Bowenal het jy ’n onbelemmerde uitsig van die horison reg rondom jou, veral langs die Two Trees Interpretive-voetslaanpad, wat in die park se westelike deel geleë is. Die uitgestrekte blou lug bokant jou is hier en daar met ’n donserige wit wolk versier wat soos ’n drywende berg oor jou hang. Die dramatiese landskap gee jou ’n oorweldigende gevoel van vryheid, en dit laat jou terselfdertyd baie klein en vol ontsag voel.
Wat die prêries betref, is dit nie net wat jy sien wat belangrik is nie, maar ook die gevoel wat jy ervaar. Dit is jou gevoel vir hierdie plek wat jou sal teruglok na dié paradys met ’n verskil. Die ondervinding vul jou hart met dankbaarheid. Jou gedagtes word gevul met lof vir die Grootse Skepper, Jehovah, wat alles hier geplaas het. Binnekort sal die langverwagte dag aanbreek wanneer die hele aarde ’n paradys gaan word en sy natuurlike skoonheid ten volle sal vertoon.
[Venster op bladsy 26]
Parkverkenning
Onthou om
1. by die parkpersoneel te registreer en ’n inligtingspakket te kry voordat jy die park binnegaan.
2. genoeg drinkwater saam te dra. Drinkwater is net by die park se inligtingsentrum beskikbaar.
3. ’n sonhoed te dra en ook stewige, gemaklike skoene wat jou enkels bedek as beskerming teen die stekerige kaktusse.
4. ’n stok saam te neem om voor jou te swaai wanneer jy deur lang gras en ruigtes loop.
5. ’n kamera en verkyker saam te neem as jy so-iets het. Die beste tyd om diere dop te hou, is teen dagbreek en skemer.
WAARSKUWINGS: Moenie jou hande en voete in plekke insteek wat jy nie kan sien nie. Ratelslange kan jou pik wanneer hulle vasgekeer of verras word. Dit is onwettig om wilde diere in ’n nasionale park te steur of te jag.
[Foto-erkenning op bladsy 25]
Alle foto’s: Parks Canada