Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 2/22 bl. 20-24
  • Die oorlog het nie ons predikingswerk beëindig nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die oorlog het nie ons predikingswerk beëindig nie
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Begeerte om God te dien
  • Ek begin met die predikingswerk
  • Ons vertroue in God word beloon
  • Ons getuig te midde van oorlog
  • Vry om weer met die predikingswerk voort te gaan
  • Ons word van spioenasie beskuldig
  • ’n Lewe vol predikingsbedrywighede
  • ’n Gevangene se gebede word verhoor
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • ’n Vol lewe in Jehovah se diens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Deel 4—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Ek laat dinge agter om Christus te volg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 2/22 bl. 20-24

Die oorlog het nie ons predikingswerk beëindig nie

SOOS VERTEL DEUR LEODEGARIO BARLAAN

In 1942, gedurende die Tweede Wêreldoorlog, was Japan en die Verenigde State in oorlog gewikkel oor die Filippyne, my vaderland. In die bergdorpie Tabonan het plaaslike guerrillavegters wat teen die Japannese geveg het, my in hegtenis geneem. Ek is geslaan, van spioenasie beskuldig en met teregstelling gedreig. Laat ek verduidelik hoe ek in hierdie situasie beland het en hoe ek dit oorleef het.

EK IS op 24 Januarie 1914 gebore in die dorp San Carlos, Pangasinan. In die 1930’s het my pa my kollege toe gestuur om landboukunde te studeer. Op Sondae het ek die mis bygewoon, en die priester het gepraat van die Evangelies—Matteus, Markus, Lukas en Johannes. Gevolglik wou ek dit lees.

Eendag het ek na die klooster toe gegaan om ’n eksemplaar van die Evangelies te koop met geld wat ek gekry het deur ’n bietjie groente te verkoop. In plaas daarvan is ek ’n boekie met die titel The Way to Heaven gegee, en dit het nie die Evangelies in gehad nie. Dit het my teleurgestel. Later het ek na Manila gereis omdat ek die Evangelies so graag wou hê. Daar het my oom, wat een van Jehovah se Getuies was, my ’n eksemplaar van die hele Bybel gegee.

In Manila het ek etlike Getuies ontmoet, wie se vermoë om tekste aan te haal my beïndruk het. Ek het by hulle bevredigende antwoorde op baie van my vrae gekry. Uiteindelik het my oom, Ricardo Uson, my na ’n vergadering by die takkantoor van Jehovah se Getuies geneem. Toe ons amper daar was, het ek ’n sigaret aangesteek. “Gooi dit weg”, het my oom gesê. “Jehovah se Getuies rook nie.” Ek het toe die sigaret weggegooi en nooit weer gerook nie. Ek het Joseph Dos Santos, die takopsiener, ontmoet, sowel as ’n paar ander Getuies. Vandag, dekades later, onthou ek nog steeds daardie gawe Christenbroers.

’n Begeerte om God te dien

Teen Oktober 1937, terwyl ek aan die Landboukollege van Los Baños gestudeer het, het ek nie meer die mis bygewoon nie. Ek het eerder die Bybel gelees tesame met die lektuur wat my oom my gegee het. ’n Groep van Jehovah se Getuies het die kampus besoek, en weens gesprekke met een van hulle, Elvira Alinsod, het my begeerte om Jehovah God te dien grootliks begin toeneem.

Toe ek my dosente vertel dat ek van plan is om nie meer te studeer nie, het hulle gevra: “Wie gaan jou onderhou?” Ek het verduidelik dat ek vol vertroue is dat God my sal onderhou as ek hom dien. Nadat ek die kollege verlaat het, het ek na die Wagtoringgenootskap se kantoor gegaan en my as ’n vrywilliger aangebied en verduidelik: “Ek het die publikasies Loyalty, Rykdom en Where Are the Dead? gelees. Ek wil Jehovah nou voltyds dien.” Ek is gevra om na die provinsie Cebu te gaan om by drie pioniers aan te sluit, soos voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies genoem word.

Ek begin met die predikingswerk

Op 15 Julie 1938 het Salvador Liwag my by die pier ontmoet toe ek op Cebu-eiland aangekom het. Die volgende dag het ek aan die bediening van huis tot huis begin deelneem. Niemand het my opgelei nie. Ek het die huisbewoner net ’n getuieniskaart gegee wat ons werk verduidelik het. Trouens, ek het net twee woorde in die plaaslike taal Cebuano geken. So het my eerste dag in die bediening begin.

Wanneer ons in ’n nuwe dorp begin getuig het, het ons gewoonlik eers na die munisipale gebou gegaan. Daar het broer Liwag vir die burgemeester getuig; Pablo Bautista vir die polisiehoof en Conrado Daclan vir die regter. Ek het met die posmeester gepraat. Dan het ons die busterminus, die polisiebarak, die winkels en die skole besoek. Ons het mense boonop by hulle huis besoek. Ons het die Bybelstudiehulp Vyande aangebied. Terwyl ek die manier nagevolg het waarop my metgeselle vir mense getuig het, het ek stadig maar seker Cebuano leer praat, en ek het boeke by mense begin laat. Binne drie maande het ons die hele provinsie Cebu gedek—54 dorpe. Toe het ek vir broer Liwag gevra: “Kan ek nou maar gedoop word?”

“Nog nie, broer”, het hy geantwoord. Ons het dus na ’n ander eiland, Bohol, gegaan en daar ’n maand en ’n half lank in nog 36 dorpe getuig. Ek het weer gevra om gedoop te word. “Nog nie, broer Barlaan”, is daar vir my gesê. Nadat ons Bohol en toe Camiguin-eiland gedek het, het ons na die groot eiland Mindanao gegaan en in die stad Cagayan de Oro getuig.

Teen dié tyd het Virginio Cruz by ons groep aangesluit. Hy was ’n onderwyser in ’n openbare skool en het bedank om ’n pionier te word. Ons het na ander dorpe gegaan en uiteindelik Lanao-meer bereik. Terwyl ons daar was, het ek weer gevra of ek gedoop kan word. Ten laaste, op 28 Desember 1938, ná ongeveer ses maande se pionierdiens het broer Cruz my gedoop in die water van die Lanao-meer by die dorp Lumbatan.

Ons vertroue in God word beloon

Ek het later by drie pioniers in Negros Occidental aangesluit. Hulle was Fulgencio de Jesus, Esperanza de Jesus en Natividad Santos, wat ons Naty genoem het. Ons het in hierdie provinsie saam in baie dorpies getuig. Ons moes werklik ons volle vertroue in Jehovah stel, aangesien ons soms min geld gehad het. Eenkeer wou ons vis kry om saam met ons rys te eet. Ek het ’n man op die strand ontmoet en gevra of ek ’n paar kan koop, maar al sy vis was alreeds na die mark geneem. Hy het my egter een gegee wat hy vir homself gehou het. Ek het gevra hoeveel dit kos. “Toe maar”, het hy gesê. “Jy kan dit maar kry.”

Ek het hom bedank. Maar terwyl ek weggeloop het, het ek besef dat een vis nie vir vier mense genoeg sou wees nie. Terwyl ek verby ’n inham gestap het, was ek verbaas om ’n vis bo-op ’n klip te sien lê, nog nat van die water. Ek het gedink: ‘Miskien is hy dood.’ Ek het die vis opgetel en was verbaas om te sien dat hy lewe. Ek het hom stewig vasgegryp en onmiddellik Jesus se belofte onthou: “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word.”—Matteus 6:33.

Ons getuig te midde van oorlog

Toe ons groep uit nege pioniers bestaan het, is twee groepe gevorm. Ons groep is na Cebu toegewys. Dit was nou Desember 1941, en die Tweede Wêreldoorlog het in die Filippyne gewoed. Terwyl ons in die dorp Tuburan was, het ’n Filippynse luitenant om middernag na ons kamer toe gekom. “Manne, word wakker”, het hy gesê. “Die soldate soek julle.” Ons is as Japannese spioene aangesien en is dus vir die res van die aand ondervra.

Daarna is ons in die munisipale gevangenes gesit. Die Amerikaanse Weermag in die stad Cebu het beveel dat ons vir hulle ’n eksemplaar van elke boek moet gee sodat hulle kon vasstel of ons Japannese spioene is. Baie van die plaaslike inwoners het ons in die tronk kom besoek, nuuskierig om te sien hoe dié sogenaamde Japannese spioene lyk. Party het vrae gevra, en ons het met hulle oor God se Koninkryk gepraat.

Nadat ons vyf dae in die tronk was, het die polisiehoof ’n telegram van die Amerikaanse Weermaghoofkwartier ontvang wat gesê het dat hy die Getuies van Jehovah kan vrylaat. Hy het ons egter beveel om nie meer te getuig nie, aangesien dit nou oorlog was. Ons het verduidelik dat ons nie met die predikingswerk kon ophou nie, want ons het ’n opdrag van God ontvang om hierdie werk te doen (Handelinge 5:28, 29). Die polisiehoof het kwaad geword en gesê: “As julle met julle predikingswerk voortgaan, sal ek toelaat dat die mense julle doodmaak.”

In die daaropvolgende dae het die polisiehoof probeer om ons weer te arresteer. Uiteindelik het ’n groep soldate van die Amerikaanse Weermag ons voorgekeer, en ’n luitenant met die naam Soriano het vir suster Santos gevra: “Sal julle julle predikingswerk staak?”

“Nee”, het sy geantwoord.

“Sê nou ons laat julle voor ’n vuurpeloton staan?” het hy gevra.

“Dit sal ons nie van besluit laat verander nie”, het sy verduidelik.

Ons is toe almal op ’n vragmotor gelaai en na die stad Cebu geneem, waar ons voor kolonel Edmund verskyn het. Luitenant Soriano het ons aan hom voorgestel deur te sê: “Hulle is Jehovah se Getuies. Hulle is Japannese spioene!”

“Jehovah se Getuies?” het die kolonel gevra. “Ek het Jehovah se Getuies baie goed geken in Amerika. Hulle is nie spioene nie! Hulle is neutraal.” Hy het toe na ons gedraai en gesê: “Omdat julle neutraal is, sal julle nie vrygelaat word nie.” Later, nadat ons ’n geruime tyd in ’n stoorkamer aangehou is, het kolonel Edmund weer met ons gepraat en gevra: “Is julle nog steeds neutraal?”

“Ja, Meneer, ons is”, het ons geantwoord.

“Dan sal julle nie vrygelaat word nie”, het hy gesê, “want as ons julle vrylaat, sal julle met julle predikingswerk voortgaan, en diegene wat julle bekeer sal neutraal word. En as almal dit doen, dan sal niemand wil veg nie.”

Vry om weer met die predikingswerk voort te gaan

Ons is later na die gevangenis in die stad Cebu oorgeplaas. Op 10 April 1942 het die Japannese die stad binnegeval. Oral het bomme geval, en ’n groot brand het uitgebreek! Die bewaarder het suster Santos gesien, wie se sel aan die voorkant van die gevangenis was. “O aarde! Jehovah se Getuies is nog steeds daar binne!” het hy geskree. “Maak die deur oop, en laat hulle uitgaan!” Ons het Jehovah vir Sy beskerming gedank.

Ons het onmiddellik na die berge gegaan en na mede-Getuies gesoek. Ons het een in die dorp Compostela opgespoor. Hy het vroeër die leiding in die predikingswerk geneem, maar hy het besluit om nie meer te getuig nie en na die stad Cebu toe te trek om ’n sakeonderneming te begin deur verskeie goedere te verkoop. Ons het nietemin besluit om voort te gaan met die verkondiging van God se Koninkryk, ongeag wat gebeur.

Ons het baie eksemplare van die boekie Comfort All That Mourn gehad, en ons het hard gewerk om dit by die mense te laat. Maar baie het ons probeer bangmaak deur te sê dat die Japannese ons sal onthoof as hulle ons sien. Kort hierna is ’n anti-Japannese guerrillabeweging georganiseer, en die man wat ophou getuig het en na die stad Cebu toe gegaan het om daar handel te dryf, is gearresteer. Ons was hartseer toe ons hoor dat hy daarvan beskuldig is dat hy ’n Japannese spioen is en tereggestel is.

Ons word van spioenasie beskuldig

Intussen het ons in die berge met die predikingswerk voortgegaan. Eendag het ons gehoor dat daar ’n vrou is wat belangstel, maar om haar te bereik, moes ons verskeie guerrillabuiteposte verbysteek. Ons het by die dorpie Mangabon aangekom waar die vrou gebly het, maar ’n afdeling soldate het ons daar gekry en geskreeu: “Waarom het julle hierheen gekom?”

“Ons is Jehovah se Getuies”, het ek geantwoord. “Wil julle die boodskap hoor wat ons met behulp van die grammofoon bring?” Toe hulle gunstig reageer, het ek die plaat The Value of Knowledge gespeel. Ons is daarna deursoek en ondervra en toe na die guerrillahoofkwartier in die dorpie Tabonan geneem. Ons het vir Jehovah se beskerming gebid, want dit was bekend dat byna almal wat al soontoe geneem is, tereggestel is.

Ons is onder bewaking gestel en mishandel. Dit bring ons by die situasie wat ek aan die begin beskryf het toe ek geslaan is en die luitenant na my gewys en gesê het: “Jy is ’n spioen!” Ons is ’n tyd lank mishandel, maar pleks van tereggestel te word, is ons tot dwangarbeid gevonnis.

My broer Bernabe was een van die pioniers wat in Tabonan in die gevangenis was. As gevangenes moes ons elke oggend “God Bless America” en “God Bless the Philippines” sing. In plaas daarvan het die Getuies “Who Is on the Lord’s Side?” gesing. Eenkeer het die verantwoordelike offisier geskreeu: “Enigiemand wat nie ‘God Bless America’ sing nie, sal aan daardie akasiaboom opgehang word!” Maar ten spyte van hierdie dreigemente, is nie een van ons doodgemaak nie. Ons is uiteindelik na ander kampe oorgeplaas. Uiteindelik het my ontslagbrief, gedateer Julie 1943, gekom. Teen daardie tyd was ek al agt maande en tien dae lank ’n gevangene.

’n Lewe vol predikingsbedrywighede

Ons begeerte om belangstellendes te sien vir wie ons vroeër getuig het, het ons beweeg om 60 kilometer na die stad Toledo te loop. Ons het gereelde vergaderinge daar begin hou, en baie mense is uiteindelik gedoop. Die oorlog het uiteindelik in 1945 geëindig. Twee jaar later, byna nege jaar ná my doop, kon ek my eerste streekbyeenkoms bywoon, wat gehou is by die Santa Ana-renbaan in Manila. Ongeveer 4 200 het byeengekom vir die openbare toespraak “Die vreugde van al die nasies”.

Voor die oorlog begin het, was daar ongeveer 380 Getuies in die Filippyne, maar teen 1947 was daar ongeveer 2 700! Sedertdien het ek baie voorregte in Jehovah se diens geniet. Van 1948 tot 1950 het ek as ’n reisende opsiener in die Surigao-gebied gedien. In 1951 het ek met Natividad Santos getrou, wat moedig saam met ons groep gedurende die oorlog getuig het. Ná ons troue het ons van 1954 tot 1972 aan die reisende werk oor die hele Mindanao deelgeneem.

In 1972 het ons spesiale pioniers geword sodat ons naby ons bejaarde ouers kon wees en hulle kon help. Hoewel ons albei al in ons tagtigerjare is, dien ons nog steeds as pioniers, en tesame het ons meer as 120 jaar in die voltydse bediening bestee. Wat ’n vreugde was dit tog vir ons om te sien hoe die aantal mense wat die goeie nuus van God se Koninkryk in die Filippyne verkondig tot meer as 130 000 gegroei het! Dit is ons begeerte om baie ander mense te help besef dat God se Koninkryk die enigste hoop is om ware vrede en geluk op aarde te geniet.

[Lokteks op bladsy 22]

Ons is as Japannese spioene aangesien en is dus vir die res van die aand ondervra

[Prent op bladsy 23]

In 1963 saam met ons vriende op die eiland Bohol. Ek en my vrou is vierde en vyfde van regs af

[Prent op bladsy 24]

Saam met my vrou vandag

[Foto-erkenning op bladsy 20]

Foto op die agtergrond: U.S. Signal Corps photo

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel