Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 1/8 bl. 4-6
  • Waarom verflou die liefde?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom verflou die liefde?
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ontnugtering—“Dit is nie wat ek verwag het nie”
  • Onaanpasbaarheid—“Ons het niks in gemeen nie”
  • Konflik—“Ons is alewig aan die stry”
  • Onverskilligheid—“Ons het hoop opgegee”
  • Die huwelik kan slaag in vandag se wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Wanneer die huwelik dreig om te verbrokkel
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Is daar rede vir hoop?
    Ontwaak!—2001
  • Wat sê die Bybel oor die huwelik?
    Antwoorde op Bybelvrae
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 1/8 bl. 4-6

Waarom verflou die liefde?

“Dit lyk of dit baie makliker is om verlief te raak as om verlief te bly.”—DR. KAREN KAYSER.

DIE toename in liefdelose huwelike is miskien nie verbasend nie. Die huwelik is ’n ingewikkelde menseverhouding, en baie begeef hulle daarin met min voorbereiding. “Ons vaardigheid word getoets wanneer ons ’n bestuurslisensie wil hê”, sê dr. Dean S. Edell, “maar ’n mens kan ’n huwelikslisensie kry bloot deur jou naam te teken.”

Hoewel baie huwelike floreer en waarlik gelukkig is, is daar gevolglik talle wat spanning verduur. Miskien het een of al twee huweliksmaats met hoë verwagtinge getrou, maar sonder die vaardighede wat nodig is vir ’n langtermynverhouding. “Wanneer mense aanvanklik geheg raak”, verduidelik dr. Harry Reis, “ervaar hulle ’n baie sterk gevoel van wedersydse versekering.” Hulle voel asof hulle maat “die enigste ander persoon op aarde is wat dinge soos hulle sien. Daardie gevoel verflou soms, en wanneer dit gebeur, kan dit groot druk op die huwelik plaas.”

Gelukkig bereik baie huwelike nie daardie punt nie. Maar laat ons kortliks ’n paar van die faktore bespreek wat in party gevalle veroorsaak het dat die liefde verflou het.

Ontnugtering—“Dit is nie wat ek verwag het nie”

“Toe ek met Jim getrou het”, sê Rose, “het ek gedink dat ons soos die mooi prinses en galante prins in ’n sprokie sou wees—alles sou romanties wees en ons sou teer en bedagsaam teenoor mekaar wees.” Maar ná ’n ruk het Rose se “prins” nie meer so galant gelyk nie. “Uiteindelik was ek verskriklik teleurgesteld in hom”, sê sy.

Baie rolprente, boeke en gewilde liedjies skep ’n onrealistiese beeld van die liefde. Terwyl ’n man en ’n vrou mekaar die hof maak, voel dit dalk vir hulle soos ’n droom wat bewaarheid word; maar ná ’n paar jaar van getroude lewe begin hulle dink dat dit in werklikheid net ’n droom was! Enigiets minder as ’n storieboekromanse kan ’n huwelik wat suksesvol kan wees soos ’n volslae mislukking laat lyk.

Dit is natuurlik gepas om sekere verwagtinge van die huwelik te koester. Dit is byvoorbeeld gepas om liefde, aandag en ondersteuning van ’n mens se maat te verwag. Maar selfs hierdie behoeftes kan onvervuld bly. “Dit voel amper asof ek nie getroud is nie”, sê Meena, ’n jong bruid in Indië. “Ek voel eensaam en verwaarloos.”

Onaanpasbaarheid—“Ons het niks in gemeen nie”

“Ek en my man verskil lynreg oor feitlik alles”, sê een vrou. “Daar gaan nie ’n dag verby dat ek nie bitter spyt is oor my besluit om met hom te trou nie. Ons pas eenvoudig nie bymekaar nie.”

Gewoonlik neem dit ’n getroude paartjie nie lank om te ontdek dat hulle nie so eenders is as wat hulle tydens hulle hofmakery gedink het nie. “Die huwelik bring dikwels karaktertrekke na vore wat huweliksmaats van hulleself verberg het terwyl hulle ongetroud was”, skryf dr. Nina S. Fields.

Ná die troue begin party paartjies gevolglik dink dat hulle glad nie bymekaar pas nie. “Ondanks ’n paar ooreenkomste in smaak en persoonlikheid bestaan daar by die meeste mense groot verskille in styl, gewoontes en gesindhede wanneer hulle trou”, sê dr. Aaron T. Beck. Baie paartjies weet nie hoe om hierdie verskille te versoen nie.

Konflik—“Ons is alewig aan die stry”

“Ons was verbaas oor hoe baie ons baklei het—ons het selfs op mekaar geskree, of nog erger, dae lank kwaad gebly en nie met mekaar gepraat nie”, sê Cindy, wanneer sy terugdink aan die vroeë dae van haar huwelik.

In die huwelik is meningsverskille onvermydelik. Maar hoe word dit hanteer? “In ’n gesonde huwelik”, skryf dr. Daniel Goleman, “het die man en vrou die vrymoedigheid om te sê wanneer hulle ongelukkig is oor iets. Maar daar word alte dikwels in ’n oomblik van woede op ’n afbrekende manier oor dinge gekla wat die ander persoon se karakter aanval.”

Wanneer dit gebeur, is gesprekke ’n slagveld waar standpunte met onverbiddelike vasberadenheid verdedig word en woorde as wapens in plaas van instrumente vir kommunikasie gebruik word. ’n Span deskundiges sê: “Een van die skadelikste dinge van argumente wat buite beheer raak, is dat huweliksmaats geneig is om dinge te sê wat die lewensbloed van hulle huwelik bedreig.”

Onverskilligheid—“Ons het hoop opgegee”

“Ek probeer nie eers meer om ons huwelik te laat werk nie”, erken ’n vrou ná vyf jaar van getroude lewe. “Ek weet dat dit nou nie meer kan werk nie. Al waaroor ek dus besorg is, is ons kinders.”

Daar is al gesê dat die teenoorgestelde van liefde nie haat is nie, maar onverskilligheid. Trouens, onverskilligheid kan net so vernietigend in ’n huwelik wees as vyandigheid.

Maar ongelukkig word party huweliksmaats so gewoond aan ’n liefdelose huwelik dat hulle alle hoop op enige verandering laat vaar. Een man wat 23 jaar getroud is, het byvoorbeeld gesê dat sy huwelik soos “’n werk is waarvan jy nie hou nie”. Hy het bygevoeg: “Jy doen jou beste onder die omstandighede.” ’n Vrou met die naam Wendy het ook nie meer hoop vir haar man met wie sy sewe jaar getroud is nie. “Ek het al soveel keer probeer”, sê sy, “en hy stel my altyd teleur. Op die ou end het ek depressief geraak. Ek wil dit nie weer deurmaak nie. As ek hoopvol begin raak, sal ek net seerkry. Ek sal eerder niks verwag nie—ek sal nou wel nie gelukkig wees nie, maar ek sal ten minste nie depressief raak nie.”

Ontnugtering, onaanpasbaarheid, konflik en onverskilligheid is net ’n paar van die faktore wat tot ’n liefdelose huwelik kan bydra. Daar is natuurlik ander faktore—waarvan ’n paar in die venster op bladsy 5 gemeld word. Is daar, ongeag wat die oorsaak is, hoop vir huweliksmaats wat voel dat hulle in ’n liefdelose huwelik vasgevang is?

[Venster/Prent op bladsy 5]

LIEFDELOSE HUWELIKE—’N PAAR ANDER FAKTORE

• Geld: “’n Mens sou dink dat die bestuur van hulle geldsake sal help om ’n paartjie te verenig omdat hulle genoodsaak word om saam te werk deur hulle middele bymekaar te sit om die lewensbenodigdhede te verkry en die vrug van hulle arbeid te geniet. Maar wat ’n paartjie in ’n gesamentlike onderneming kan saambind, veroorsaak ook hier dikwels ’n skeiding tussen hulle.”—Dr. Aaron T. Beck.

• Ouerskap: “Ons het gevind dat 67 persent van paartjies ná die geboorte van hulle eerste kind heelwat ongelukkiger met hulle huwelik is, en daar is agt keer meer konflik. Dit is deels omdat ouers moeg is en nie baie tyd vir hulleself het nie.”—Dr. John Gottman.

• Oneerlikheid: “Ontrouheid sluit gewoonlik oneerlikheid in, en oneerlikheid is niks anders as die skending van vertroue nie. Is dit dan hoegenaamd verbasend dat oneerlikheid ’n huwelik kan verpletter, aangesien vertroue ’n noodsaaklike deel van alle suksesvolle langtermynhuwelike is?”—Dr. Nina S. Fields.

• Seks: “Teen die tyd dat mense ’n egskeiding aanvra, is jare lange seksuele onthouding verskriklik algemeen. In party gevalle het ’n seksuele verhouding nooit bestaan nie, en in ander gevalle was seks meganies, bloot ’n uitlaatklep vir een maat se fisiese behoeftes.”—Judith S. Wallerstein, kliniese sielkundige.

[Venster/Prent op bladsy 6]

HOE WORD KINDERS GERAAK?

Kan die gehalte van jou huwelik jou kinders raak? Volgens dr. John Gottman, wat al ongeveer 20 jaar lank navorsing oor getroude paartjies doen, is die antwoord ja. “In twee studies van tien jaar”, sê hy, “het ons gevind dat babas van ongelukkige ouers se hartklop vinniger is gedurende tye van spelerige interaksie en hulle hulleself nie so goed kan kalmeer nie. Mettertyd lei konflik in die huwelik tot swakker prestasies op skool, ongeag die kinders se IK.” In teenstelling hiermee, sê dr. Gottman, vaar kinders van gebalanseerde getroude paartjies “beter op skool en op sosiale vlak omdat hulle ouers hulle geleer het hoe om ander mense met respek te behandel en hulle emosies te beheers”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel