Kan die stryd teen dwelms gewen word?
DIT is ’n lofwaardige doelwit om die stryd teen dwelms te probeer wen, maar dit is nie ’n maklike taak nie. Twee kragtige faktore sit agter die onwettige dwelmbedryf—vraag en aanbod. Regerings- en polisiemagte spits hulle nou al amper ’n eeu lank daarop toe om die aanbod te verminder. Hulle uitgangspunt was eenvoudig: Geen dwelms, geen dwelmslawe nie.
Pogings om die aanbod te verminder
Met hierdie doel het die polisie se dwelmeenhede beslag gelê op groot besendings dwelms, en internasionale samewerking het tot die aanhouding van prominente dwelmsmokkelaars gelei. Al sal doeltreffende polisieoptrede party dwelmsmokkelaars moontlik dwing om êrens anders te gaan, ander markte te soek of vindingryker te word, is die harde werklikheid dat dit hulle nie stuit nie. “Solank die dwelmsmokkelaars onbeperkte fondse het en ons begroting beperk is, sal ons nooit teen hulle opgewasse wees nie”, het een deskundige op die gebied van dwelmmiddels erken.
Joe de la Rosa, ’n misdaadvoorkomingsbeampte van die Gibraltar-polisiemag het met Ontwaak! gepraat oor die probleem om dwelmsmokkelary tussen Afrika en die Iberiese Skiereiland te beheer. “Gedurende 1997 het ons op byna 400 kilogram daggahars beslag gelê”, het hy gesê. “Die meeste hiervan is nie eintlik by dwelmsmokkelaars afgeneem nie; dit is gevind waar dit in die see gedryf het of op die strande uitgespoel het. Dit gee ’n mens ’n idee van die groot hoeveelhede dwelms wat elke jaar oor die Straat van Gibraltar gaan. Dit waarop ons beslag lê, is net die puntjie van die ysberg. Diegene wat die dwelms van Afrika na Spanje neem, het snelbote wat sirkels om ons doeanebeamptes ry. En as hulle agterkom dat hulle gevaar loop om gevang te word, gooi hulle eenvoudig die dwelms oorboord, sodat ons geen bewyse het om hulle in hegtenis te neem nie.”
Die polisie in ander dele van die wêreld het soortgelyke probleme. Mense wat soos gewone reisigers lyk, asook ligte vliegtuie, houerskepe en selfs duikbote smokkel dwelms oor die oseane of deur toeganklike grense. Een verslag van die Verenigde Nasies het bereken dat “ten minste 75 persent van die internasionale dwelmbesendings onderskep sal moet word om die winsgewendheid van dwelmsmokkelary wesenlik te verminder”. Tans word daar waarskynlik nie veel meer as 30 persent van die kokaïen onderskep nie—en aansienlik minder van ander dwelms.
Waarom spits die regerings hulle nie toe op die oorsaak van die probleem en vernietig hulle nie al die daggaplante, opiumpapawers en kokastruike nie? Die Verenigde Nasies het onlangs daardie stap voorgestel, maar dit is nie maklik nie. Dagga kan in amper enige tuin gekweek word. Een vername gebied waar kokaplante in die Andes verbou word, is in ’n streek wat beskryf word as “buite staatsbeheer”. Soortgelyke toestande bestaan in afgeleë dele van Afganistan en Birma, wat vername bronne van opium en heroïen is.
Nog iets wat sake bemoeilik, is dat dwelmhandelaars maklik kan oorskakel na ontwerperdwelms, waarna daar ’n groeiende aanvraag is. En geheime laboratoriums kan hierdie sintetiese dwelms byna enige plek in die wêreld vervaardig.
Kan doeltreffender polisieoptrede en swaarder gevangenisstraf die dwelmhandel aan bande lê? Daar is eenvoudig te veel dwelmsmokkelaars, te veel verslaafdes en te min polisiemanne om hierdie metode uitvoerbaar te maak. Die Verenigde State het byvoorbeeld byna tweemiljoen mense agter die tralies—baie van hulle weens dwelmverwante oortredings. Maar die risiko om tronk toe te gaan, het mense nie gekeer om dwelms te gebruik nie. In talle ontwikkelende lande waar dwelmverkope floreer, is onderbemande en swakbetaalde polisiemagte magteloos om die stroom te keer.
Kan die vraag na dwelms verminder word?
As pogings om die aanbod van dwelms te beheer vergeefs was, wat daarvan om die vraag te verminder? “Die stryd teen dwelms is in werklikheid ’n stryd om harte en verstande, en is nie net ’n kwessie vir polisie en howe en tronke nie”, sê die tydskrif Time.
Joe de la Rosa, wat vroeër aangehaal is, glo eweneens dat opvoeding die enigste manier is om onwettige dwelms te bekamp. “Dwelmverslawing is ’n maatskaplike probleem wat die gemeenskap geskep het, en daarom moet ons die gemeenskap verander of ten minste mense se denkwyse verander”, sê hy. “Ons probeer skole, ouers en onderwysers betrek sodat almal bewus kan wees van die gevaar, dat dwelms beskikbaar is en dat hulle kinders slagoffers kan word.”
Wat Jehovah se Getuies gedoen het
Jehovah se Getuies leer mense al baie jare lank om dwelms te vermy. Hulle het inligting voorberei wat bedoel is om ouers te help om hulle kinders oor die gevare van dwelms in te lig.a Daarbenewens het hulle bediening baie dwelmgebruikers en -handelaars help rehabiliteer.
Ana, wat in die vorige artikel genoem is, het met Jehovah se Getuies kennis gemaak omdat haar suster gehoor het van die welslae wat hulle daarin behaal om dwelmverslaafdes te help. Ana het nie eintlik in die Bybel belanggestel nie, maar sy het tog ’n byeenkoms van die Getuies bygewoon. Daar het sy ’n man gesien wat voorheen ’n berugte dwelmsmous was, maar wat sy voorkoms sowel as sy lewenswyse heeltemal verander het. “Ek het gedink dat ek ook kan verander as hy kon”, sê Ana. “Sy verandering het my oortuig dat ek die aanbod van ’n Bybelstudie moet aanvaar.
“Van my heel eerste Bybelstudie af het ek besluit om in die huis te bly, want ek het geweet dat ek met ander dwelmgebruikers in aanraking sal kom as ek die huis verlaat en ek weer dwelms sal begin gebruik. Ek het alreeds geweet dat dwelms verkeerd is en dat God nie hierdie gewoonte goedkeur nie. Ek het ook die uitwerking gesien wat dwelms op mense het en die leed wat ek my eie gesin aangedoen het. Maar ek het geestelike krag nodig gehad om los te breek van my gevangenskap aan dwelms. Die ontgiftigingsproses was moeilik. Ek het ’n tyd lank heeldag lank geslaap terwyl die gevolge van die dwelms uitgewerk het. Maar dit was die moeite werd.”
Ware hoop en betekenis
Ana se man, Pedro, wat ook in die vorige artikel genoem word, het hom op ’n soortgelyke manier daarvan bevry. “Eendag terwyl ek dagga in my broer se huis gerook het, het ek ’n boek gesien met ’n titel wat my nuuskierig gemaak het”, sê Pedro. “Die titel was Die waarheid wat lei tot die ewige lewe. Ek het dit huis toe geneem, gelees en die tekste nageslaan. Ek was seker dat ek die waarheid gevind het.
“Bybellees sowel as om met ander te praat oor wat ek geleer het, het my beter laat voel en het my drang na dwelms laat afneem. Ek het besluit om nie voort te gaan met my beplande gewapende roof van ’n vulstasie nie. Een van my vriende het die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer, en ek het weldra sy voorbeeld gevolg. In nege maande het ek my lewenswyse verander en my laat doop. Gedurende hierdie tyd het baie van my vorige vriende vir my dwelms aangebied, maar ek het onmiddellik met hulle oor die Bybel begin praat. Party het gunstig daarop gereageer. Een het selfs sy verslaafdheid oorkom.
“’n Mens het hoop nodig om met die dwelmgewoonte te breek. Die Bybel het my daardie hoop gegee, het my lewe ’n doel gegee en het duidelik vir my gewys wat God se beskouing van dwelms en geweld is. Ek het agtergekom dat ek beter gevoel het namate ek meer omtrent die Almagtige geleer het—en daar was geen newe-effekte nie. Later het omgang by vergaderinge van Jehovah se Getuies met mense wat ’n skoon lewe lei my gehelp om in hierdie weg voort te gaan.”
Van dwelmhandelaar tot messelaar
José, die dwelmhandelaar wat in die vorige artikel genoem is, is nou weer ’n messelaar. Dit was nie vir hom maklik om sy winsgewende bedryf te laat vaar nie. “Dwelms bring baie geld in”, erken hy, “maar dit is nie ’n goeie manier om geld te verdien nie. Ek sien jong kinders met handgewere en blink motors. Gesinne verbrokkel, misdaad vier hoogty in die strate en baie dwelmslawe breek by motors in of steel uit winkels of beroof mense om geld te kry vir dwelms. Baie begin met dagga, gaan oor na ecstasy of ander pille en probeer dan kokaïen of selfs heroïen. Ek weet dat ek baie mense by hierdie siklus betrokke laat raak het.
“Namate my Bybelstudie met Jehovah se Getuies gevorder het, het ek al hoe meer daarvan bewus geword dat my betrokkenheid by dwelms verkeerd was. Ek wou ’n skoon gewete hê, en my vrou wat ook ’n studie gehad het, wou dieselfde hê. Dit is natuurlik moeilik om op te hou om ’n dwelmhandelaar te wees. Ek het vir my klante en vir dié wat vir my gesmokkel het, verduidelik dat ek die Bybel bestudeer en nie meer dwelms verkoop nie. Aanvanklik het hulle my eenvoudig nie geglo nie, en party glo dit nog steeds nie. Nietemin het ek byna twee jaar gelede opgehou, en ek was nog geen oomblik daaroor spyt nie.
“Ek werk die afgelope jaar as ’n messelaar, wat my ambag is. Ek verdien nou in ’n maand ’n kwart van wat ek as ’n dwelmhandelaar in een dag kan verdien. Maar dit is ’n beter lewenswyse, en ek voel gelukkiger.”
’n Oplossing wat wêreldwyd sal werk
’n Paar moedige handelaars het die dwelmbedryf laat vaar. En verskillende vorme van rehabilitasie het duisende gebruikers gehelp om hulle verslawing te oorkom. Maar soos die World Drug Report erken, “is volgehoue onthouding vir die langtermyn- strawwe dwelmgebruiker eerder die uitsondering as die reël”. Ongelukkig is daar vir elke verslaafde wat gerehabiliteer word etlike nuwe slagoffers wat in die strik trap. Die vraag en aanbod bly groei.
As die stryd teen dwelms gewen gaan word, moet daar ’n wêreldwye oplossing wees, want dit is reeds ’n wêreldwye probleem. Die Verenigde Nasies se Kommissie vir Verdowingsmiddels het in hierdie verband gesê: “Hoewel dwelmmisbruik, dwelmhandel en die misdade wat met die dwelmprobleem verband hou in die meeste lande as die grootste bedreiging vir veiligheid beskou word, is die publiek minder bewus van die feit dat onwettige dwelms ’n wêreldwye probleem is wat nie meer deur nasionale pogings alleen opgelos kan word nie.”
Maar sal die regerings van die wêreld saamspan om hierdie wêreldwye plaag uit te roei? Sover is die resultate nie aanmoedigend nie. Die Bybel toon egter dat ’n hemelse regering wat nie deur landsgrense aan bande gelê sal word nie die enigste oplossing is. Die Bybel verseker ons dat God se Koninkryk, waarvan Jesus Christus die heerser is, “vir ewig en altyd” sal regeer (Openbaring 11:15). Onder God se Koninkryk sal Goddelike onderrigting derhalwe verseker dat die vraag na dwelms verdwyn (Jesaja 54:13). En die maatskaplike en emosionele probleme wat mense nou vatbaarder maak vir dwelmverslawing sal dan vir ewig tot die verlede behoort.—Psalm 55:23; 72:12; Miga 4:4.
Het jy hulp nodig?
Selfs vandag beweeg die hoop op God se Koninkryk in die hande van Christus mense om nee te sê vir dwelms. Kom gerus met Jehovah se Getuies in jou omgewing in aanraking as jy meer inligting verlang.
[Voetnoot]
a Sien hoofstuk 34 van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, met die titel “Waarom nee sê vir dwelms?”, wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee word.
[Prent op bladsy 11]
Inhegtenis-name weens dwelmoor-treding
[Erkenning]
K. Sklute/SuperStock
[Prent op bladsy 12]
Pedro en sy vrou, Ana, bestudeer die Bybel saam met hulle kinders
[Prent op bladsy 13]
Pedro, waar hy besig is om veiligheidstoestelle te installeer