Hoe onwettige dwelms jou lewe beinvloed
NET soos die houtswam wat die houtbalke van ’n huis wegvreet, kan dwelms die hele struktuur van die gemeenskap vernietig. Die mensegemeenskap het stabiele gesinne, gesonde werkers, betroubare regerings, eerlike polisie en wetsgehoorsame burgers nodig om behoorlik te funksioneer. Dwelms het ’n verderflike invloed op elkeen van hierdie fundamentele elemente.
Een rede waarom regerings die gebruik van niemediese middels verbied het, is die skade wat dit die gesondheid van hulle burgers aandoen. Elke jaar sterf duisende dwelmslawe aan ’n oordosis. Baie meer sterf aan vigs. Trouens, wêreldwyd is sowat 22 persent van dié wat positief vir HIV getoets is dwelmgebruikers wat hulle met besmette naalde ingespuit het. Nasser Bin Hamad Al-Khalifa, van Katar, het dus tereg by ’n onlangse konferensie van die Verenigde Nasies gewaarsku dat “die globale dorp binnekort ’n gemeenskaplike graf vir miljoene mense gaan word as gevolg van die onwettige dwelmhandel”.
Maar meer as die gesondheid van die gebruiker word beïnvloed. Ongeveer 10 persent van alle babas wat in die Verenigde State gebore word, word in die baarmoeder aan ’n onwettige dwelm blootgestel—in die meeste gevalle is dit kokaïen. Pynlike onttrekkingsimptome is nie die enigste probleem waarmee hulle te kampe het nie, want blootstelling aan dwelms in die baarmoeder kan die pasgebore babas op ander maniere aantas—verstandelik sowel as fisies.
Maklike dwelmgeld—die onweerstaanbare lokaas
Voel jy ná sononder veilig in julle woonbuurt? Indien nie, is dit waarskynlik as gevolg van dwelmsmouse. Straatroof en -geweld gaan hand aan hand met dwelms. Dwelmgebruikers wend hulle dikwels tot misdaad of prostitusie om vir hulle gewoonte te betaal, terwyl mededingende bendes veg en mense doodmaak om hulle beheer oor dwelmverspreiding te behou. Dit is te verstane dat die polisie in baie stede van mening is dat dwelms ’n faktor is by die meeste moorde wat hulle ondersoek.
In party lande het rebellegroepe ook die voordele daarvan gesien om die winsgewende dwelmhandel binne te dring. Een groot guerrillagroep in Suid-Amerika verkry nou die helfte van sy inkomste deur beskerming aan dwelmhandelaars te bied. “Inkomste wat deur onwettige dwelms verkry word, finansier van die wêreld se gewelddadigste godsdienstige en etniese konflikte”, berig die Verenigde Nasies se Internasionale Dwelmbeheerprogram.
Dwelmverwante tragedies
Dwelmgebruikers maak die strate ook op ander maniere onveilig. “Dit kan net so gevaarlik wees om ’n motor onder die invloed van marijuana of LSD te bestuur as onder die invloed van alkohol”, sê Michael Kronenwetter, in sy boek Drugs in America. Dit verbaas ons nie dat die moontlikheid ook drie of vier keer groter is dat dwelmgebruikers in ongelukke by die werk betrokke sal wees nie.
Maar dit is waarskynlik in die huis waar dwelms die meeste skade aanrig. “Disfunksionele gesinslewe en dwelmgebruik hou dikwels verband met mekaar”, sê die World Drug Report. Ouers wie se aandag deur hulle drang na dwelms afgetrek word, gee hulle kinders selde ’n stabiele gesinslewe. Die band wat tussen ’n ouer en ’n klein kindjie gesmee moet word—en wat so belangrik is tydens die eerste weke van ’n kind se lewe—kan selfs onderdruk word. Daarbenewens beland verslaafde ouers herhaaldelik in die skuld, en hulle kan van vriende en familie steel of kan selfs uiteindelik hulle werk verloor. Baie kinders wat in hierdie milieu grootword, word straatkinders of raak self ook by dwelms betrokke.
Dwelmmisbruik kan ook tot fisiese mishandeling lei—van die huweliksmaat of van die kinders. Kokaïen kan iemand wat gewoonlik redelik saggeaard is gewelddadig laat optree, veral wanneer dit saam met alkohol gebruik word. Volgens ’n Kanadese opname onder kokaïengebruikers het 17 persent van diegene met wie onderhoude gevoer is, erken dat hulle aggressief word nadat hulle die dwelm geneem het. ’n Verslag oor kindermishandeling in die stad New York het eweneens bereken dat 73 persent van die kinders wat doodgeslaan is se ouers dwelms misbruik het.
Korrupsie en besoedeling
As die huis deur dwelms ondermyn kan word, kan dieselfde van regerings gesê word. In hierdie geval is dit dwelmgeld, en nie dwelms self nie, wat die stelsel vergiftig. “Dwelms het regeringsamptenare, die polisie en die weermag korrup gemaak”, het ’n ambassadeur van een Suid-Amerikaanse land gesê. Hy sê verder dat die hoeveelheid geld wat beskikbaar is “die versoeking net te groot” maak vir diegene wat skaars genoeg verdien om aan die lewe te bly.
In die een land na die ander is regters, burgemeesters, polisiemanne en selfs dwelmbeheeragente in die net van korrupsie gevang. Politici wie se verkiesings moontlik deur dwelmbase gefinansier is, hou hulle doof wanneer daar oproepe is om streng teen dwelmhandel op te tree. Talle eerlike amptenare wat moedig ’n stryd teen dwelms gevoer het, is al vermoor.
Selfs ons grond, ons woude en die spesies wat dit bewoon, ly as gevolg van die wêreldwye dwelmplaag. ’n Groot persentasie van die opium- en kokaïenverbouing word in twee gebiede gedoen wat veral sensitief vir skade aan die omgewing is: die reënwoude van die westelike Amasone en dié van Suidoos-Asië. Grootskaalse verwoesting is in hierdie plekke aangerig. Selfs prysenswaardige pogings om onwettige dwelmoeste te vernietig, rig ernstige skade aan as gevolg van die giftige onkruiddoders wat gebruik word.
Wie betaal?
Wie betaal vir al die skade wat dwelms aanrig? Ons almal. Ja, ons almal betaal vir die verlies aan produktiwiteit, die mediese koste van behandeling, die gesteelde of beskadigde goedere en die koste van wetstoepassing. ’n Verslag van die Amerikaanse Departement van Arbeid het bereken dat “dwelmgebruik by die werksplek die Amerikaanse handel en nywerheid jaarliks tussen $75 miljard en $100 miljard [R450 miljard en R600 miljard] kos . . . weens tyd wat verlore gaan, ongelukke en duurder gesondheidsorg en werkersversekering”.
Al hierdie geld kom uiteindelik van belastingbetalers en verbruikers. ’n Studie wat in 1995 in Duitsland gedoen is, het bereken dat die totale jaarlikse koste van dwelmmisbruik in daardie land R720 vir elke inwoner is. In die Verenigde State was een skatting selfs hoër—$300 (R1 800) per persoon.
’n Baie duurder prys is egter die maatskaplike skade wat dwelms in die gemeenskap aanrig. Wie kan die koste bereken van die verbrokkeling van soveel gesinne, die mishandeling van soveel kinders, die korrupsie van soveel amptenare en die ontydige dood van soveel mense? Wat beteken dit alles in menslike terme? Ons volgende artikel sal toon hoe dwelms die lewe beïnvloed van diegene wat dit gebruik.
[Venster/Prent op bladsy 7]
DWELMS EN MISDAAD
DWELMS IS OP TEN MINSTE VIER MANIERE MET MISDAAD VERBIND:
1. Die onwettige besit van dwelms, asook dwelmhandel is strafbare oortredings in bykans elke land in die wêreld. In die Verenigde State alleen arresteer die polisie elke jaar ongeveer ’n miljoen mense weens dwelmverwante oortredings. In party lande word die strafregsplegingstelsel oorweldig deur ’n vlaag van dwelmverwante oortredings wat die polisie en howe net nie kan hanteer nie.
2. Aangesien dwelms baie duur is, wend verslaafdes hulle dikwels tot misdaad om vir hulle gewoonte te betaal. ’n Kokaïenverslaafde kan tot R6 000 per week nodig hê om vir sy verslawing te betaal! Dit is dus geen wonder nie dat inbrake, straatroof en prostitusie snel toeneem in ’n gemeenskap wanneer dwelms wortelskiet.
3. Ander misdade word gepleeg om dwelmhandel, een van die winsgewendste bedrywe op aarde, te vergemaklik. “Die onwettige dwelmekonomie en georganiseerde misdaad is min of meer onderling afhanklik”, verduidelik die World Drug Report. Smokkelaars probeer amptenare korrup maak of intimideer sodat die dwelms maklik van een gebied na die ander geneem kan word. Party het selfs hulle eie privaat leërs. Die groot winste wat deur dwelmbase gemaak word, skep ook probleme. Die groot somme geld wat hulle ontvang, kan maklik daartoe lei dat hulle betrap word as die geld nie op ’n slinkse manier in hulle rekeninge kom nie; gevolglik word banke en regsgeleerdes in diens geneem om die oordrag van die dwelmgeld te verdoesel.
4. Die uitwerking van die dwelm self kan tot misdade lei. Chroniese dwelmgebruikers mishandel moontlik hulle gesinslede. In party Afrikalande wat deur burgeroorlog geteister word, is gruwelike misdade deur tienersoldate gepleeg wat onder die invloed van dwelms was.
[Prent op bladsy 6]
’n Baba kan deur sy ma se dwelmgebruik benadeel word
[Erkenning]
SuperStock