Bygelowe—Waarom so gevaarlik?
KAN bygelowe jou skade berokken? Party verwerp dalk hierdie idee of sê dat dit nie regtig so gevaarlik is nie. Professor Stuart A. Vyse waarsku nogtans in sy boek Believing in Magic—The Psychology of Superstition: “Bygelowigheid kan tot ’n laer lewensgehalte lei as ’n mens groot bedrae geld aan spiritistiese mediums, waarsêers, numeroloë of tarotkaartlesers bestee, of as jou bygelowige rituele gewoontedobbelary help onderhou.” As ons bygelowigheid toelaat om ons lewe te oorheers, kan dit baie ernstiger gevolge hê.
Soos ons gesien het, is die doel van baie bygelowe om vrese oor die toekoms te stil. Maar dit is belangrik om te onderskei tussen bygelowigheid en betroubare kennis oor wat vir ons voorlê. Kyk na ’n voorbeeld.
’n Insiggewende verhaal
In 1503, ná maande van verkenning langs die kus van Sentraal-Amerika, het Christophorus Columbus sy laaste twee vaartuie op die strand laat loop op die eiland wat nou as Jamaika bekend staan. Aanvanklik het die eilandbewoners hulle kos vryelik met die gestrande ontdekkingsreisigers gedeel. Maar mettertyd het die wangedrag van die matrose gemaak dat die eilandbewoners nie meer vir hulle kos gegee het nie. Die situasie was kritiek, aangesien dit nog ’n hele ruk sou wees voordat ’n ander skip hulle sou kom red.
Volgens die verhaal het Columbus sy almanak geraadpleeg en uitgevind dat daar op 29 Februarie 1504 ’n algehele maansverduistering sou wees. Hy het die eilandbewoners se bygelowigheid uitgebuit en hulle gewaarsku dat duisternis die maan sou verberg as hulle nie sy bemanning van kos voorsien nie. Die eilandbewoners het die waarskuwing geïgnoreer—totdat die verduistering begin het! Toe, “al huilende en klaende”, het hulle “met arms vol kos uit alle rigtings na die skepe aangehardloop gekom”. Die ontdekkingsreisigers is toe vir die res van hulle verblyf daar van kos voorsien.
In die oë van die eilandbewoners het Columbus kragtige towerkuns beoefen. Maar hulle gevolgtrekking was die gevolg van blote bygelowigheid. In werklikheid was die “voorspelling” gegrond op die konsekwente bewegings van die aarde, die maan en die son. Sterrekundiges kan lank voor die tyd gebeurtenisse soos verduisterings betroubaar voorspel, en hierdie inligting verskyn in almanakke. Daarbenewens kan sterrekundiges deur die presiese bewegings van hemelliggame presies bepaal waar hulle op enige gegewe tydstip is. Daarom aanvaar jy dit as ’n feit wanneer jou koerant sê hoe laat die son gaan opkom of ondergaan.
Die Grootse Skepper van die hemelliggame is as ’t ware die bron van die inligting wat gepubliseer word oor die tydsbepaling van verduisterings sowel as sonsopkomste en -ondergange. Maar die voorspellings van waarsêers, spiritistiese mediums, kristalkykers en tarotkaartlesers kom van ’n ander bron, ’n bron wat in stryd met die almagtige God is. Kyk net wat ons bedoel.
’n Gevaarlike bron
In Handelinge 16:16-19 sê die heilige verslag dat “’n sekere diensmeisie” in die eertydse stad Filippi haar here groot wins verskaf het deur haar “voorspelkuns”. Die verslag sê egter duidelik dat die bron van haar voorspellings nie die almagtige Skepper was nie, maar “’n waarsêende demoon”. Toe die apostel Paulus die demoon uitgedryf het, het die diensmeisie dus haar vermoë verloor om voorspellings te doen.
Wanneer ons verstaan dat sulke voorspellings van ’n demoniese bron kom, begryp ons waarom God se Wet aan Israel gesê het: “Daar mag niemand by jou gevind word . . . wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie, of wat met besweringe omgaan, of wat ’n gees van ’n afgestorwene vra of ’n gees wat waarsê . . . Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die HERE ’n gruwel” (Deuteronomium 18:10-12). Trouens, onder die Wet was sulke gebruike ’n halsmisdaad.—Levitikus 19:31; 20:6.
Dit verbaas jou dalk om uit te vind dat bose magte agter baie van die skynbaar onskadelike bygelowige gebruike sit. Tog sê die Bybel dat Satan ‘hom in ’n engel van lig verander’ (2 Korintiërs 11:14). Satan en die demone onder sy beheer kan gevaarlike gebruike onskadelik, selfs voordelig, laat lyk. Soms versin hulle dalk voortekens en laat dit waar word en verlei sodoende toeskouers om te dink dat sulke tekens van God af kom. (Vergelyk Matteus 7:21-23; 2 Tessalonisense 2:9-12.) Dit verklaar waarom sommige voorspellings deur diegene wat beweer dat hulle spesiale kragte het soms waar word.
Natuurlik is baie, indien nie die meeste nie, wat beweer dat hulle spesiale kragte het bedrieërs, blote kwaksalwers, wat daarop uit is om die onbehoedsames van hulle geld te beroof. Maar of hulle nou bedrieërs is of nie, hulle word almal goed deur Satan gebruik om mense teen Jehovah te laat draai en hulle vir “die heerlike goeie nuus” te verblind.—2 Korintiërs 4:3, 4.
Gelukbringers en afgodediens
En wat van die gelukbringers en bygelowige roetines wat mense gebruik om ’n gevoel van veiligheid en beheer oor toevallige gebeurtenisse in die lewe te kry? Dit hou ’n aantal subtiele gevare in. Om maar een te noem, die bygelowige persoon kan in werklikheid beheer oor sy lewe aan onsigbare magte oorgee. Hy gooi logika en rede oorboord en gee eerder toe aan irrasionele vrese.
’n Skrywer noem ’n ander inherente gevaar. Hy sê: “Wanneer iemand op ’n gelukbringer staatmaak vir beskerming en die gelukbringer faal, sal daardie persoon dalk geneig wees om eerder ander se optrede vir [sy] teenspoed te blameer as om self die verantwoordelikheid te aanvaar.” (Vergelyk Galasiërs 6:7.) Dit is interessant dat die skrywer Ralph Waldo Emerson eenkeer gesê het: “Oppervlakkige mense glo in geluk . . . Sterk mense glo aan oorsaak en gevolg.”
Die “oorsaak en gevolg” wat in ons lewe aan die werk is, loop dikwels op toevallige gebeurtenisse uit—die “tyd en onvoorsiene gebeurtenisse” wat ons almal tref (Prediker 9:11, NW). Toevallige gebeurtenisse is nie die gevolg van die wispelturige giere van “ongeluk” nie. Christene weet dat bygelowige roetines en gelukbringers nie die uiteinde van toevallige gebeurtenisse kan beïnvloed nie. Wanneer sulke dinge gebeur, word ons aan hierdie Bybelwaarheid herinner: “Julle . . . weet [nie] wat julle lewe môre sal wees nie. Want julle is ’n mis wat vir ’n klein rukkie verskyn en dan verdwyn.”—Jakobus 4:14.
Ware Christene weet boonop dat eerbiedige aandag dikwels aan gelukbringers sowel as aan bygelowige rituele of roetines geskenk word. Gevolglik beskou Christene dit alles as vorme van afgodediens, wat duidelik in God se Woord veroordeel word.—Exodus 20:4, 5; 1 Johannes 5:21.
Hoe ons kan weet wat die toekoms inhou
Dit beteken nie dat Christene nie oor die toekoms besorg is nie. Inteendeel, gesonde verstand sê vir ons dat dit werklik van waarde is om te weet wat voorlê. As ons vooruit weet wat gaan gebeur, kan ons gepas optree en onsself en ons geliefdes bevoordeel.
Maar dit is werklik belangrik om hierdie inligting by die regte bron te soek. Die profeet Jesaja het gewaarsku: “Mense sal vir julle sê om waarsêers en mediums te raadpleeg . . . Julle moet hulle só antwoord: ‘Luister na wat die Here julle leer! Moenie na mediums luister nie—wat hulle vir julle sê, sal julle nie help nie.’”—Jesaja 8:19, 20, Today’s English Version.
Die regte bron van betroubare inligting oor die toekoms is die Outeur van die Bybel (2 Petrus 1:19-21). Hierdie geïnspireerde boek bevat oorvloedige getuienis dat profesieë van die almagtige God, Jehovah, betroubaar is—om die waarheid te sê, so betroubaar soos die bewegings van die hemelliggame wat in tallose almanakke “voorspel” word. Kyk gerus na die volgende voorbeeld ter toeligting van die uitvoerige akkuraatheid van Bybelprofesieë. Kom ons veronderstel dat ’n vername persoon vandag gebeure in die openbaar voorspel wat 200 jaar van nou af, in die jaar 2199, gaan plaasvind. Sy voorspelling bevat hierdie besonderhede:
◻ ’n Groot militêre stryd sal tussen nasies uitbreek wat nog nie mededingende wêreldmoondhede is nie, en die gevolg sal die verloop van die geskiedenis verander.
◻ Die strategie wat gebruik gaan word, sluit ’n geweldige ingenieursprestasie in wat die loop van ’n groot rivier sal verander.
◻ Die naam van die veroweraar word gegee—baie jare voordat hy selfs gebore is.
◻ Die uiteindelike lot van die verloorder word beskryf, wat die voorspelling nog baie eeue die toekoms in laat strek.
As al hierdie voorspellings waar sou word, sou dit mense dan nie op ander dinge laat let wat hierdie persoon oor die toekoms gesê het nie?
Wat ons nou net beskryf het, het werklik gebeur. Sowat 200 jaar voordat die Meders en die Perse Babilon tot ’n val gebring het, het Jehovah, deur die profeet Jesaja, die volgende voorspel:
◻ ’n Groot militêre stryd sou tussen Medo-Persië en Babilon uitbreek.—Jesaja 13:17, 19.
◻ Die strategie sou insluit dat ’n rivierverdedigingstelsel opgedroog word. Daarbenewens sou die hekke van die versterkte stad oop gelos word.—Jesaja 44:27–45:2.
◻ Die veroweraar se naam sou Kores wees—voorspel sowat 150 jaar voor sy geboorte.—Jesaja 45:1.
◻ Mettertyd sou Babilon ’n algehele puinhoop word.—Jesaja 13:17-22.
Al hierdie voorspellings is bewaarheid. Sal dit dan nie vir jou die moeite werd wees om aandag te gee aan ander profesieë wat Jehovah in sy geskrewe Woord laat opteken het nie?
Die wonderlike toekoms wat God belowe
Wat voorspel die Bybel? Die Bybel belowe dat niemand in die nuwe wêreld wat God tot stand gaan bring weens onsekerheid oor die toekoms sal ly nie. Let op God se waarborg aan diegene wat dan sal lewe: “Niemand sal [my volk] laat bewe nie.”—Miga 4:4, NW.
Die Bybel belowe verder dat God ‘sy hand sal oopmaak en alles wat lewe met welbehae sal versadig’ (Psalm 145:16). Is dit nog lank voordat hierdie belofte vervul sal word? Nee! Lank vooruit het die Bybel voorspel dat die einste toestande wat ons tans op die aarde sien ’n bewys is dat ons in “die laaste dae” van die huidige goddelose stelsel lewe.—2 Timoteus 3:1-5.
Die liefdevolle Skepper sal binnekort ’n einde aan hierdie bose toestande bring. Hy sal oorloë, bronne van wêreldwye onveiligheid en lyding, laat ophou. Daarbenewens sal haat, selfsugtigheid, misdaad en geweld vir ewig iets van die verlede wees. Die Bybel belowe: “Die ootmoediges . . . sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.”—Psalm 37:10, 11.
Van die baie seëninge wat mense in hierdie nuwe wêreld sal geniet, is goeie gesondheid. Selfs die dood en die verdriet wat daarmee gepaardgaan, sal nie meer bestaan nie. God sê self: “Kyk! Ek maak alles nuut.”—Openbaring 21:4, 5.
Dan sal geen mens blootgestel wees aan die toevallige gebeurtenisse wat lewens vandag verander en vernietig nie. Die bose demone en Satan, die bron van bygelowige vrese en bose leuens, sal ook nie meer daar wees nie. Hierdie opwindende waarhede kom in die Bybel voor.
[Prente op bladsy 8, 9]
Bygelowigheid en spiritistiese gebruike hou ten nouste met mekaar verband
[Erkenning]
Buiten vrou in kristalbal: Les Wies/Tony Stone Images
[Prent op bladsy 10]
God se nuwe wêreld sal vry van bygelowigheid wees