Bygelowe—Waarom bly dit voortbestaan?
SOOS jy heel moontlik weet, is daar nog baie mense wat dit as ’n slegte teken beskou wanneer hulle ’n swart kat teëkom of wat bang is om onder ’n leer deur te loop. Baie glo ook dat Vrydag die 13de ’n dag van ongeluk is en dat die 13de verdieping van ’n gebou ’n gevaarlike plek is om te wees. Sulke bygelowe duur voort al is dit sinloos.
Dink daaraan. Waarom hou party mense ’n haaspootjie by hulle of klop hulle aan hout wanneer hulle wil hê dat iets goeds moet gebeur? Is dit nie omdat hulle, sonder betroubare bewyse, glo dat sulke dinge vir hulle geluk sal bring nie? Die boek A Dictionary of Superstitions sê: “’n Bygelowige persoon glo dat sekere voorwerpe, plekke, diere of dade geluk bring (goeie tekens of gelukbringers is) en dat ander ongeluk bring (slegte tekens of tekens van ongeluk is).”—Sien Galasiërs 5:19, 20.
Pogings in China om dit uit te wis
Bygelowigheid het beslis hedendaagse pogings om dit uit te wis, oorleef. In 1995 het die Volkskongres van Sjanghai byvoorbeeld ’n amptelike regeringsbevel uitgevaardig wat bygelowigheid verbied het as ’n outydse oorblyfsel uit die volk se verlede. Die doel was om “feodale bygelowigheid uit te wis, om begrafnisgebruike te hervorm en die opbouing van ’n meer beskaafde hoofstad te bevorder”. Maar wat was die resultaat?
Volgens een verslag het die mense in Sjanghai lojaal teenoor hulle bygelowe gebly. Ondanks die amptelike verbod op die Chinese ritus om nagemaakte geldnote in begraafplase van voorouers te verbrand, het ’n besoeker aan ’n graf gesê: “Ons het 19 miljard joean [ongeveer 18 miljard rand] verbrand.” Hy het bygevoeg: “Dis tradisie om dit te doen. Dit maak die gode gelukkig.”
Die toonaangewende koerant Guangming Daily het die ondoeltreffendheid van die verbod beklemtoon en gesê dat daar tot “vyfmiljoen professionele waarsêers in China kan wees, terwyl daar altesaam maar net 10 miljoen professionele wetenskaplikes en tegnoloë is”. Die koerant het gesê: “Die momentum is blykbaar geheel en al in die guns van die waarsêers.”
The Encyclopedia Americana, internasionale uitgawe, sê die volgende oor bygelowe wat bly voortbestaan: “In alle kulture word sommige ou gebruike nie net behou nie, maar dit word hervertolk en nuwe betekenisse gegee.” ’n Onlangse uitgawe van The New Encyclopædia Britannica het erken: “Selfs in sogenaamde moderne tye, in ’n tyd waar daar groot waarde aan objektiewe bewyse geheg word, is daar min mense wat, indien druk op hulle uitgeoefen sou word, sou ontken dat hulle in die geheim een of twee irrasionele opvattings of bygelowe koester.”
’n Dubbele standaard
Baie mense het blykbaar ’n dubbele standaard, aangesien hulle nie openlik sal erken wat hulle doen as hulle alleen is nie. Een skrywer sê dat mense huiwerig is omdat hulle bang is dat ander sal dink hulle is verspot. Gevolglik verkies sulke mense moontlik om na hulle bygelowige gebruike as roetines of gewoontes te verwys. Atlete praat byvoorbeeld dalk van hulle gedrag as rituele voor die wedstryd.
’n Joernalis het onlangs ’n skertsende opmerking gemaak oor ’n kettingbrief, ’n brief wat aan heelparty mense gestuur word met ’n versoek dat elkeen weer kopieë aan baie ander stuur. Gewoonlik word geluk belowe vir dié wat so ’n brief aanstuur, terwyl dié wat die ketting verbreek kwansuis slegte gevolge sal ondervind. Die joernalis het dus ’n nuwe skakel in die ketting geword en gesê: “Julle moet weet dat ek dit nie doen omdat ek bygelowig is nie. Ek wil net ongeluk vermy.”
Antropoloë en deskundiges op die gebied van volksoorleweringe meen dat selfs die woord “bygelowig” te subjektief is; hulle is huiwerig om sekere gedragspatrone so te beskryf. Hulle verkies die “omvattender” maar eufemistiese woorde “volksgewoonte en -opvatting”, “volksoorlewering” of “geloofstelsels”. Dick Hyman sê openlik in sy boek Lest Ill Luck Befall Thee—Superstitions of the Great and Small: “Soos sonde en die gewone verkoue het bygelowigheid nie baie voorstanders nie, maar wel baie beoefenaars.”
Tog bly bygelowigheid voortbestaan, ongeag hoe dit genoem word. Waarom is dit die geval in vandag se tegnologies gevorderde wetenskapseeu?
Waarom bly dit voortbestaan?
Wel, party voer aan dat dit normaal is vir mense om bygelowig te wees. Daar is selfs dié wat sê dat die neiging om bygelowig te wees in ons gene is. Maar daar is studies wat die teendeel bewys. Die getuienis dui daarop dat mense bygelowig word as gevolg van wat hulle geleer word.
Professor Stuart A. Vyse verduidelik: “Bygelowige gedrag, soos die meeste soorte gedrag, word regdeur ’n mens se lewe aangeleer. Ons word nie gebore met die gewoonte om aan hout te klop nie; ons leer om dit te doen.” Daar word gesê dat mense as kinders aan towery begin glo en dan ontvanklik vir bygelowe bly lank nadat hulle “volwasse waarnemingsvermoëns ontwikkel het”. En waar kom hulle dan aan baie van die bygelowe?
Baie bygelowe hou ten nouste verband met godsdiensopvattings wat vir mense belangrik is. Bygelowigheid was byvoorbeeld ’n deel van die godsdiens van die inwoners van Kanaän voordat die Israeliete daar gaan woon het. Die Bybel sê dat dit die gewoonte van die Kanaäniete was om van waarsêery gebruik te maak, die toorkuns te beoefen, op voortekens en towenaars te vertrou, ander met towerspreuke te bind, geestemediums asook beroepsvoorspellers van gebeure en die dooies te raadpleeg.—Deuteronomium 18:9-12, NW.
Die eertydse Grieke was ook bekend vir bygelowe wat met hulle godsdiens verband gehou het. Hulle het, baie soos die Kanaäniete, aan orakels, waarsêery en toorkuns geglo. Die Babiloniërs het ’n dier se lewer bekyk, aangesien hulle geglo het dat dit vir hulle sou toon watter weg hulle moes inslaan (Esegiël 21:21). Hulle was ook bekend vir hulle dobbelary, en hulle het hulp gesoek by wat die Bybel “die geluksgod” noem (Jesaja 65:11). Dobbelaars is tot vandag toe nog bekend vir hulle bygelowigheid.
Dit is interessant dat ’n aantal kerke eintlik hulle lede aangemoedig het om te dobbel. Een voorbeeld hiervan is die Katolieke Kerk, wat bedrywighede soos bingo bevorder. ’n Dobbelaar het hieroor gesê: “Ek is seker dat die Katolieke Kerk besef dat [dobbelaars baie bygelowig is,] want die nonne was altyd naby die renbaan met hulle kollektebussies. Hoe kon ’n Katoliek, soos baie van ons was, by ’n ‘suster’ verbyloop en verwag om enigsins suksesvol te wees wanneer hy op die perde wed? Daarom het ons bydraes gegee. En as ons daardie dag gewen het, was ons ekstra vrygewig en het gehoop dat dit voortgesette sukses sou bring.”
Opvallende voorbeelde van die hegte band tussen godsdiens en bygelowigheid is die bygelowe wat geassosieer word met Kersfees, ’n viering wat deur die kerke van die Christendom bevorder word. Dit sluit die hoop in dat dit op ’n huwelik sal uitloop as jy iemand onder die mistel soen, asook baie bygelowe oor Kersvader.
Lest Ill Luck Befall Thee sê dat bygelowigheid ontwikkel het omdat mense probeer “om in die toekoms te sien”. Gevolglik raadpleeg gewone mense sowel as wêreldleiers vandag, net soos deur die geskiedenis heen, waarsêers en ander wat beweer dat hulle towerkragte het. Die boek Don’t Sing Before Breakfast, Don’t Sleep in the Moonlight verduidelik: “Mense wou glo dat daar gelukbringers en towerspreuke was wat teen die verskrikkinge van die bekende sowel as die onbekende sou werk.”
Sodoende het bygelowige bedrywighede daartoe bygedra dat mense in ’n mate voel dat hulle in beheer van hulle vrese is. Die boek Cross Your Fingers, Spit in Your Hat sê: “[Mense] vertrou op bygelowe om dieselfde redes as wat mense nog altyd daarop vertrou het. Wanneer [hulle] voor situasies te staan kom wat [hulle] nie kan beheer nie—wat van ‘geluk’ of ‘toeval’ afhang—laat bygelowe [hulle] veiliger voel.”
Alhoewel die wetenskap die lot van die mens op baie maniere verbeter het, voel hy nog steeds onveilig. Trouens, weens probleme wat deur die wetenskap veroorsaak is, voel mense al hoe onveiliger. Professor Vyse sê: “Bygelowigheid en geloof in die paranormale is diepgewortelde kenmerke van ons kultuur . . . omdat ons hedendaagse wêreld ons gevoel van onsekerheid vergroot het.” The World Book Encyclopedia het tot hierdie gevolgtrekking gekom: “Bygelowe sal waarskynlik ’n deel van die lewe bly so lank as wat mense . . . onseker oor die toekoms is.”
Ter opsomming kan ons dus sê dat bygelowe bly voortbestaan omdat dit uit algemene vrese van die mens ontstaan en deur talle godsdiensopvatttings ondersteun word wat vir die mens belangrik is. Maar moet ons dan tot die gevolgtrekking kom dat bygelowigheid nuttig is, aangesien dit mense help om hulle onsekerhede die hoof te bied? Is dit onskadelik? Of is dit iets gevaarliks wat vermy moet word?
[Prent op bladsy 5]
Daar kan vyfmiljoen professionele waarsêers in China alleen wees
[Prent op bladsy 6]
Deur bingo te bevorder, het baie kerke bygelowigheid versterk
[Prent op bladsy 7]
Kerstradisies, soos om iemand onder die mistel te soen, is sterk deur bygelowigheid beïnvloed