Van ’n straaltjie melk tot ’n lepel poeier
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN NIEU-SEELAND
MELK is al duisende jare lank en in feitlik elke land ’n hoofbestanddeel van die mens se dieet. Melk kom natuurlik van die melkkliere van die vroulike dier en is ’n volledige maaltyd vir hulle kleintjies. Anders as ander skepsele kry die mens egter hierdie uiters voedsame vloeistof van ’n verskeidenheid soogdiere—veral van koeie, kamele, bokke, llamas, rendiere, skape en waterbuffels. Behalwe dat mense melk net so drink, geniet hulle ook talle produkte daarvan, waarvan botter, kaas, jogurt en roomys van die gewildste is.
Een van die algemener melksoorte, beesmelk, is hoofsaaklik ’n emulsie van 87 persent water en 13 persent vaste stowwe. Hierdie vaste stowwe sluit in koolhidrate, proteïene, vette, vitamiene en minerale soos kalsium—wat belangrik is vir die groei en instandhouding van bene. Terloops, koeie lewer nie die rykste melk nie. Van die diere wat hierbo genoem word, kom daardie eer die rendier toe, wie se hoogs voedsame melk uit ongeveer 37 persent vaste stowwe bestaan!
Ongeag watter soort melk dit is, melk bly nie lank vars as dit nie verkoel word nie. ’n Gewilde oplossing vir hierdie probleem is poeiermelk. Maar hoe verander ’n mens melk in poeier? Kom ons besoek gou ’n moderne poeiermelkfabriek in Waikato, Nieu-Seeland. Hierdie fabriek is een van die grootstes in sy soort in die wêreld en vervaardig elke dag 400 ton verrykte poeiermelk vir die wêreldwye voedselbedryf.
Van vloeistof tot poeier
Elke dag bring ’n vloot vragmotors met vlekvryestaaltenkwaens vars melk van Nieu-Seeland se melkerye na die fabriek, waar die melk in geïsoleerde silo’s vars gehou word. Van daar gaan die melk na standaardisering-roomafskeiers, waar dit geskei word in afgeroomde melk en room en dan weer in spesifieke hoeveelhede gemeng word sodat die eindproduk die regte standaard, of samestelling, kan hê. Van die roomafskeiers gaan dit na tydelike bergtenks voordat poeiermelk daarvan gemaak word.
Nadat dit gepasteuriseer is, word die melk in ’n vakuum gekook. Waarom in ’n vakuum? Dit verseker dat die melk teen ’n baie laer temperatuur as gewoonlik kook, wat skade weens hitte tot die minimum beperk. Wanneer hierdie stadium van verdamping klaar is, is die konsentrasie vaste stowwe in die melk ongeveer 48 persent. Hierdie gekonsentreerde produk is nou gereed vir die finale proses—uitdroging.
Die droogproses begin met die gekonsentreerde melk wat na die bopunt van ’n vlekvryestaaldroër van verskeie verdiepings gepomp word, waar dit deur verhitte lug binne-in die droër gespuit word. Die melk se voginhoud verminder nou tot 6 persent, en dit word ’n poeier. ’n Laaste stadium verminder die vog tot 3 persent, waarna die poeier geleidelik verkoel word ter voorbereiding vir verpakking en versending. Die hele proses word nougeset uitgevoer met minimale verlies aan die melk se voedingswaarde.
Jy woon dalk in ’n gebied waar vars melk maklik bekombaar is. Maar baie mense woon in afgesonderde gebiede waar dit moeilik is om vars melk in die hande te kry en waar dit duur is. Danksy die wonder van poeiermelk is hulle probleme opgelos. Hulle meng net ’n paar lepels poeier met water, en die hersaamgestelde melk, wat nou wel nie so smaaklik soos vars melk is nie, is gereed om gedrink te word.
[Venster/Prent op bladsy 14]
Wat is pasteurisasie en homogenisering?
Pasteurisasie, wat na die Franse wetenskaplike Louis Pasteur vernoem is, behels dat melk ’n spesifieke tyd lank verhit en dan vinnig afgekoel word. Hierdie proses maak skadelike bakterieë dood en verleng sodoende die raklewe van melk. Maar nie al die bakterieë word doodgemaak nie, en daarom het suiwelprodukte nog steeds ’n beperkte raklewe. Wanneer dit behoorlik verkoel word, het gepasteuriseerde melk van ’n hoë gehalte ’n raklewe van ongeveer 14 dae.
Homogenisering veroorsaak fisiese veranderinge in die vet- of roomdruppels in melk sodat hulle nie bo-op die melk versamel en ’n laag room vorm nie. Homogeniseerders breek die vetdruppels op in druppeltjies wat klein genoeg is om in suspensie te bly, wat melk ’n ryk, gladde konsistensie gee.
[Erkenning]
Met vergunning van: U.S. National Library of Medicine
[Prente op bladsy 15]
Hierdie veelverdiepingdroër kan meer as nege ton poeiermelk per uur droog