Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 7/22 bl. 11-13
  • Kan jy daarna uitsien om vir ewig te lewe?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan jy daarna uitsien om vir ewig te lewe?
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Die gróót vraag”
  • Die grondoorsaak van die dood
  • ’n Vonnis en ’n belofte
  • Hoe om jou lewe te verleng—vir ewig
  • Hoe jy vir ewig kan lewe
    Ontwaak!—1995
  • Is dit werklik moontlik om vir ewig te lewe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Kan jy veroudering vermy?
    Ontwaak!—2006
  • Waarom word ons oud en gaan ons dood?
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 7/22 bl. 11-13

Kan jy daarna uitsien om vir ewig te lewe?

“DAAR is iets aan die gang binne die menslike liggaam wat ’n maksimum moontlike leeftyd van 115 tot 120 jaar vasstel”, sê dr. James R. Smith, ’n professor in selbiologie. “Daar is ’n grens—maar ons het geen idee wat dit vasstel nie.” Die bioloog dr. Roger Gosden sê dus dit is geen wonder nie dat “wetenskaplikes nog ’n manier moet vind om die eindstreep verder te skuif, en kwalik enigeen van hulle dink selfs daaraan”. Gaan dit binnekort verander?

“Die gróót vraag”

Alhoewel daar meer as genoeg teorieë is wat ’n kuur teen veroudering in die vooruitsig stel, stem die meeste deskundiges saam met dr. Gene D. Cohen, president van die Gerontologiese Vereniging van Amerika, dat “al hierdie wonderkoeëls toe al die tyd leë koeëldoppies was”. Waarom? Om maar een ding te noem, sê die wetenskapskrywer Nancy Shute in U.S.News & World Report, “niemand weet nog wat veroudering en die onvermydelike gevolg daarvan, die dood, veroorsaak nie. En om ’n siekte te probeer genees wanneer jy nie weet wat die oorsaak is nie, is op die beste van tye lukraak.” Dr. Gosden sê ook dat veroudering nog steeds ’n raaisel is: “Dit is duidelik in elkeen van ons, maar die onderliggende aard daarvan is nog steeds ’n verborgenheid.” Hy sê dat “die gróót vraag, naamlik waarom dit enigsins gebeur”, min aandag kry.a

Net soos daar ’n perk is aan hoe vinnig mense kan hardloop, hoe hoog hulle kan spring en hoe diep hulle kan duik, is daar klaarblyklik ook ’n perk aan hoeveel deur die mens se denke en redenering alleen verduidelik kan word. En om “die gróót vraag, naamlik waarom”, te beantwoord, is blykbaar buite daardie perk. Die enigste manier om die antwoord te vind, is dus om ’n bron te nader wat bo die beperkings van die mens se kennis verhewe is. Dit is presies wat ’n antieke boek van wysheid, die Bybel, jou aanraai om te doen. Waar dit van die Skepper, “die bron van die lewe”, praat, verseker die Bybel ons: “As julle Hom soek, sal Hy Hom deur julle laat vind” (Psalm 36:9, NW; 2 Kronieke 15:2). Wat openbaar ’n ondersoek van God se Woord, die Bybel, dan oor die werklike rede waarom die mens sterf?

Die grondoorsaak van die dood

Die Bybel sê vir ons dat God “’n gevoel van ewigheid in hulle harte” gesit het toe hy die eerste mense gemaak het (Prediker 3:11, Beck). Maar die Skepper het die mensdom se eerste ouers meer gegee as net ’n begeerte om vir ewig te lewe; hy het hulle ook die geleentheid gegee om dit te doen. Hulle is met ’n volmaakte liggaam en verstand geskep, en hulle het in ’n vreedsame omgewing gelewe. Dit was die Skepper se voorneme dat hierdie eerste mense vir ewig moes lewe en dat die aarde mettertyd met hulle volmaakte nakomelinge gevul sou word.—Genesis 1:28; 2:15.

Die lewe sonder ’n eindstreep was egter voorwaardelik. Dit het van hulle gehoorsaamheid aan God afgehang. As Adam ongehoorsaam aan God sou wees, sou hy “sekerlik sterwe” (Genesis 2:16, 17). Ongelukkig was die eerste mense wel ongehoorsaam (Genesis 3:1-6). Hulle het deur hulle optrede sondaars geword, want “sonde [is] wetteloosheid” (1 Johannes 3:4). Gevolglik het hulle nie meer die vooruitsig op die ewige lewe gehad nie, want “die loon wat die sonde betaal, is die dood” (Romeine 6:23). Toe God die eerste mense gevonnis het, het hy dus gesê: “Stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.”—Genesis 3:19.

Nadat die eerste mense gesondig het, is die voorspelde gevolge van sonde dus op hulle gene afgedruk, en die eindstreep is vasgestel. Die gevolg was dat hulle begin verouder het, met die dood as die uiteinde. Nadat die eerste mense uit hulle oorspronklike Paradystuiste, Eden, gesit is, het hulle boonop voor ’n ander faktor te staan gekom wat hulle lewe benadeel het—die omgewing buite Eden was nou soos ’n hindernis (Genesis 3:16-19, 23, 24). Hierdie wisselwerking tussen onvolmaakte oorerflikheid en harde omgewing het die eerste mense sowel as hulle toekomstige nakomelinge beïnvloed.

’n Vonnis en ’n belofte

Aangesien hierdie nadelige veranderinge in hulle lewe plaasgevind het voordat die eerste mense kinders gehad het, kon hulle net nakomelinge voortbring wat soos hulle was—onvolmaak, sondig en onderworpe aan die verouderingsproses. ‘Die dood het tot alle mense deurgedring omdat hulle almal gesondig het’, sê die Bybel. (Romeine 5:12; vergelyk Psalm 51:7.) “Ons dra ons eie doodsvonnis in ons selstruktuur”, sê die boek The Body Machine—Your Health in Perspective.

Maar dit beteken nie dat daar geen hoop op lewe sonder ’n eindstreep—sonder veroudering en die dood—is nie. Eerstens, dit is redelik om te glo dat die alwyse Skepper van menselewe en ander lewensvorme in al hulle ontsagwekkende verskeidenheid enige genetiese onreëlmatighede kan genees en die energie kan voorsien wat die mens nodig het om vir ewig aan te hou lewe. Tweedens, dit is presies wat die Skepper belowe het om te doen. Nadat hy die doodsvonnis aan die eerste mense opgelê het, het God ’n hele paar keer geopenbaar dat sy voorneme vir mense om vir ewig op aarde te lewe nie verander het nie. Hy gee byvoorbeeld die versekering: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon” (Psalm 37:29). Wat moet jy doen om die vervulling van hierdie belofte te ondervind?

Hoe om jou lewe te verleng—vir ewig

Dit is interessant dat die wetenskapskrywer Ronald Kotulak die volgende gesê het nadat hy onderhoude met meer as 300 mediese navorsers gevoer het: “Wetenskaplikes weet al lank dat inkomste, beroep en opvoeding die heel belangrikste bepalers is van mense se gesondheid en hoe lank hulle sal lewe. . . . Maar dit is opvoeding wat nou na vore kom as die mees kritieke bepaler van langlewendheid.” Hy het verduidelik: “Net soos die kos wat ons eet ons immuunstelsel die krag gee om lewensgevaarlike besmetlike kieme te beveg, beskerm opvoeding ons teen slegte keuses.” Soos een navorser gesê het, “leer ’n mens deur opvoeding hoe om jou wêreld te reël” en hoe om “potensiële hindernisse te oorkom”. Gevolglik is opvoeding op ’n manier, soos die skrywer Kotulak dit stel, “die geheim van ’n gesonder, langer lewe”.

Die eerste stap wat daartoe kan lei dat ’n mens die ewige lewe in die toekoms verkry, is ook opvoeding—Bybelopvoeding. Jesus Christus het gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Die enigste vorm van opvoeding wat ’n mens sal voorberei om die eerste tree op die weg na die ewige lewe te gee, is deur kennis in te neem van Jehovah God, die Skepper, van Jesus Christus en van die losprysreëling wat God voorsien het.—Matteus 20:28; Johannes 3:16.

Jehovah se Getuies bied ’n program van Bybelopvoeding aan wat jou kan help om hierdie lewegewende Bybelkennis te verkry. Besoek een van hulle Koninkryksale as jy meer oor hierdie gratis program wil uitvind, of vra hulle om jou te besoek op ’n tyd wat jou pas. Jy sal sien dat die Bybel onweerlegbare getuienis bevat dat die tyd naby is wanneer die lewe nie meer deur hindernisse besaai en deur ’n eindstreep beperk sal wees nie. Die dood het weliswaar millenniums lank geheers, maar binnekort gaan dit vir ewig vernietig word. Wat ’n opwindende vooruitsig is dit tog vir oud sowel as jonk!

[Voetnoot]

a Gerontoloë het met tallose verskillende teorieë vorendag gekom (volgens een telling meer as 300!) wat beskryf hoe veroudering moontlik plaasvind. Maar hierdie teorieë verduidelik nie waarom dit in die eerste plek gebeur nie.

[Prente op bladsy 13]

Die eerste stap wat daartoe kan lei dat ’n mens die ewige lewe verkry, is Bybelopvoeding

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel