Het dit werklik ’n begin gehad?
DEUR die eeue heen het baie mense na die skitterende sterbesaaide naghemel gekyk en hulle verwonder. Die onmeetlikheid en ontsagwekkende prag van ons wonderlike heelal gaan die verstand te bowe. Wie of wat kan dit alles verklaar? Waarom is dit hier? Het dit nog altyd bestaan, of het dit ’n begin gehad?
Die professor in sterrekunde David L. Block het geskryf: “Die feit dat die heelal nie altyd bestaan het nie—dat dit ’n begin gehad het—was nie altyd gewild nie.” Maar in onlangse dekades het bewyse die meeste mense wat die heelal bestudeer, gedwing om te glo dat dit werklik ’n begin gehad het. “Feitlik alle astrofisici van vandag kom tot die gevolgtrekking”, het U.S.News & World Report in 1997 berig, dat “die heelal met ’n oerknal begin het wat materie in alle rigtings laat wegbeweeg het.”
Robert Jastrow, professor in sterrekunde en geologie aan die Columbia-universiteit, het die volgende oor hierdie algemeen aanvaarde gevolgtrekking geskryf: “Min sterrekundiges kon voorsien het dat hierdie gebeurtenis—die skielike geboorte van die Heelal—’n bewese wetenskaplike feit sou word, maar waarnemings van die hemele deur teleskope het hulle gedwing om tot daardie slotsom te kom.”
Is “die skielike geboorte van die Heelal” werklik “’n bewese wetenskaplike feit”? Laat ons die geskiedkundige bewyse ondersoek wat tot die gevolgtrekking gelei het dat dit wel ’n feit is.
Bewyse van ’n begin
Albert Einstein se algemene relatiwiteitsteorie, wat in 1916 gepubliseer is, het geïmpliseer dat die heelal óf besig is om uit te dy óf besig is om te krimp. Maar die idee was heeltemal teenstrydig met die destyds aanvaarde beskouing dat die heelal staties is, wat Einstein op daardie tydstip ook geglo het. Hy het dus ’n “kosmologiese konstante”, soos hy dit genoem het, by sy berekeninge ingesluit. Hierdie wysiging is gemaak in ’n poging om sy teorie te laat ooreenstem met die aanvaarde opvatting dat die heelal staties en onveranderd is.
Maar bewyse wat in die twintigerjare versamel is, het daartoe gelei dat Einstein die wysiging wat hy in sy relatiwiteitsteorie gemaak het sy ‘grootste fout’ genoem het. ’n Enorme teleskoop van 2,54 meter wat op Mount Wilson in Kalifornië opgestel is, het dit moontlik gemaak om sulke bewyse te versamel. Die waarnemings wat gedurende die twintigerjare met behulp van daardie teleskoop gemaak is, het bewys dat die heelal besig is om uit te dy!
Vroeër kon die grootste teleskope net individuele sterre binne ons eie Melkwegstelsel identifiseer. Waarnemers het weliswaar wasige ligkolle gesien wat newels genoem word, maar daar is oor die algemeen vermoed dat hulle wolke van gasagtige materie binne ons eie sterrestelsel is. Edwin Hubble het egter individuele sterre binne-in hierdie newels geïdentifiseer deur die sterker teleskoop op Mount Wilson te gebruik. Hierdie wasige ligkolle is uiteindelik as sterrestelsels soos ons eie Melkweg geïdentifiseer. Trouens, na raming is daar tussen 50 miljard en 125 miljard sterrestelsels, wat elk tot honderdmiljarde sterre bevat!
In die laat twintigerjare het Hubble ook ontdek dat hierdie sterrestelsels besig is om weg van ons af te beweeg en dat hulle al hoe vinniger wegbeweeg hoe verder hulle van ons af is. Sterrekundiges bepaal die spoed waarteen ’n sterrestelsel wegbeweeg deur middel van ’n spektrograaf, wat die spektrum van lig meet wat van steragtige voorwerpe af kom. Lig wat van verafgeleë sterre af kom, gaan deur ’n prisma wat die lig in sy verskillende kleurkomponente opbreek.
Lig van ’n voorwerp wat weg van ’n waarnemer af beweeg, is rooierig en word rooiverskuiwing genoem. Daarenteen word lig van ’n aankomende voorwerp af blouverskuiwing genoem. Dit is interessant dat alle bekende sterrestelsels, met uitsondering van ’n paar nabygeleë sterrestelsels, spektrumlyne met ’n rooiverskuiwing het. Wetenskaplikes het sodoende vasgestel dat die heelal op ’n ordelike wyse besig is om uit te dy. Die spoed waarteen dit uitdy, word bepaal deur te meet in watter mate die lyne in die spektrum ’n rooiverskuiwing vertoon.
Watter gevolgtrekking is gemaak uit die feit dat die heelal besig is om uit te dy? Wel, een wetenskaplike het mense gevra om hulle die teenoorgestelde van daardie proses voor te stel. Met ander woorde, om in hulle verbeelding ’n rolprent van die uitdyende heelal te sien wat teruggespeel word sodat die kyker die vroeëre geskiedenis van die heelal sien. As ’n mens só daarna sou kyk, sou jy sien hoe die heelal kleiner raak of krimp in plaas van uit te dy. Die heelal sou daardeur uiteindelik terugkeer tot ’n enkele punt van oorsprong.
Die vername fisikus Stephen Hawking het in sy boek Black Holes and Baby Universes and Other Essays, uitgegee in 1993, tot die gevolgtrekking gekom dat “die wetenskap kon voorspel dat die heelal ’n begin moes gehad het”.
Maar ’n paar jaar gelede het baie nie geglo dat die heelal ’n begin gehad het nie. Fred Hoyle was ’n beroemde wetenskaplike wat nie saamgestem het met die idee dat die heelal ontstaan het uit wat hy spottend ‘’n oerknal’ genoem het nie. Hoyle het onder andere aangevoer dat daar iewers in die heelal ’n bewys van daardie gebeurtenis behoue moes gebly het indien daar wel so ’n dinamiese begin was. Daar moet iewers oorblyfsels van straling wees, as ’t ware die een of ander nagloed in die ruimte. Wat het die soeke na so ’n agtergrondstraling aan die lig gebring?
The New York Times van 8 Maart 1998 het berig dat “die sterrekundiges Arno Penzias en Robert Wilson [omstreeks 1965] die alomteenwoordige agtergrondstraling ontdek het, die ligoorblyfsels van die oerontploffing”. Die artikel het bygevoeg: “Dit het gelyk of die [oerknal]teorie onweerlegbaar is.”
Maar in die jare ná Penzias en Wilson se ontdekking het sommige begin vra waarom daar nie geringe onreëlmatighede in die straling opgemerk is as die oerknalteorie dan wel korrek is nie. Daar sou koeler en digter gebiede in die heelal moes wees sodat materie kon saamsmelt om sterrestelsels te vorm. Maar die eksperimente wat Penzias en Wilson van die aarde se oppervlak af gedoen het, het nie sulke onreëlmatighede getoon nie.
Gevolglik is ’n satelliet, die Kosmiese Agtergrondverkenner (COBE), in November 1989 die buitenste ruimte in gestuur deur die Nasionale Lugvaart- en Ruimte-administrasie van die Verenigde State. Die ontdekkings wat daardeur gedoen is, is as indrukwekkend beskryf. Professor Block het verduidelik: “Die golwe wat deur die Differensiële Mikrogolfradiometer aan boord van COBE opgevang is, was inderdaad die afwykings wat op ons kosmos afgedruk is en wat miljarde jare gelede tot die vorming van sterrestelsels gelei het.”
Wat die bewyse impliseer
Wat kan ons aflei uit die feit dat die heelal ’n begin gehad het? Robert Jastrow het gesê: “Jy kan dit die oerknal noem, maar jy kan dit ook letterlik die skeppingsoomblik noem.” Penzias, een van die sterrekundiges wat agtergrondstraling in die heelal ontdek het, het gesê: “Sterrekunde lei ons tot ’n unieke gebeurtenis, ’n heelal wat uit niks geskep is.” En die COBE-spanleier George Smoot het opgemerk: “Wat ons gevind het, is bewyse vir die geboorte van die heelal.”
As daar ’n begin, of skepping, was, is dit dan redelik om tot die gevolgtrekking te kom dat die heelal ’n Beginner, of Skepper, gehad het? Baie dink so. Smoot het die volgende oor die ontdekkings van COBE gesê: “Dit is soos om na God te kyk.”
Miljoene mense het natuurlik, sonder die wetenskaplike bewyse wat in onlangse dekades aan die lig gekom het, die eerste stelling van die Bybel geglo: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.”—Genesis 1:1.
Tog wil nie almal hierdie eenvoudige stelling in die Bybel erken nie. “Baie wetenskaplikes het nie van die idee gehou dat die heelal ’n begin, ’n skeppingsoomblik, gehad het nie”, het die fisikus Stephen Hawking gesê. Hulle “het nie van die niewetenskaplike implikasies van die teorie gehou nie”, het Michael J. Behe geskryf, “en het hard probeer om met alternatiewe vorendag te kom”.
Die vrae is dus: Het die heelal as ’t ware vanself ontstaan? Het dit sommer net gebeur, of is dit deur ’n intelligente Skepper geskep? Jy sal die volgende bewyse insiggewend vind.
[Prente op bladsy 4, 5]
Die teleskoop op Mount Wilson het gehelp om te toon dat ons heelal ’n begin gehad het
[Erkenning]
The Observatories of the Carnegie Institution of Washington