Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 6/8 bl. 14-20
  • Gered uit ’n verwoestende storm!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gered uit ’n verwoestende storm!
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Mitch tref Honduras
  • El Salvador voel die aanslag van Mitch
  • Mitch beweeg verby Nicaragua
  • Verwoesting in Guatemala
  • Mitch—die nasleep
  • Liefde lei tot ’n hegter band van eenheid
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Iets wat geen storm kon wegspoel nie
    Ontwaak!—2003
  • Die noodlenigingsbediening
    God se Koninkryk regeer!
  • ’n Verenigde broederskap staan vas
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 6/8 bl. 14-20

Gered uit ’n verwoestende storm!

Die verwoesting wat verlede jaar deur orkaan Mitch aangerig is, was wêreldwyd in die nuus. Min aandag is egter gegee aan die dikwels heldhaftige pogings van Jehovah se Getuies om slagoffers van hierdie verwoestende storm te help. Die volgende verslag toon op treffende wyse hoe ware Christelikheid en broederskap selfs onder die moeilikste omstandighede kan seëvier.

OP 22 Oktober 1998 het ’n verwoestende storm in die waters van die suidwestelike Karibiese See ontstaan. Dit het as ’n tropiese depressie begin. Binne 24 uur het dit in ’n tropiese storm verander en is dit ’n naam gegee wat lank met vrees en angs onthou sal word—Mitch. Mitch het al hoe sterker geword namate dit noordwaarts beweeg het. Teen 26 Oktober het dit ’n Kategorie 5-orkaan geword, met volgehoue winde van 290 kilometer per uur en rukwinde van baie meer as 300 kilometer per uur.

Dit het aanvanklik gelyk of Mitch op pad was om Jamaika en die Kaaimanseilande te tref. Maar die orkaan het wes gedraai en het reguit op Belize, aan die kus van Sentraal-Amerika, afgestuur. Mitch het egter nie voortbeweeg nie, maar dreigend langs die noordkus van Honduras gewag. En toe, skielik, het die storm inbeweeg. Op 30 Oktober het Mitch Honduras bereik en dood en vernietiging gesaai.

Mitch tref Honduras

Mitch het sy teenwoordigheid met stortreëns aangekondig. “Omtrent eenuur in die oggend, op Saterdag, 31 Oktober”, vertel Víctor Avelar, ’n voltydse evangeliedienaar wat in Tegucigalpa woon, “het ons ’n geluid soos kwaai donderweer gehoor. Wat ’n klein spruitjie was, was nou ’n rivier in vloed! Die stroom het twee huise meegesleur, met hulle skreeuende inwoners wat binne-in vasgekeer was.” In ’n ander deel van die stad is 32 mense in ’n modderstorting dood, waaronder 8 mense wat die Bybel saam met die Getuies gestudeer het. Geen gedoopte Getuies het egter omgekom nie.

Hondurese amptenare het gou op die krisis gereageer en blyplekke vir die mense opgerig. ’n Internasionale noodlenigingspan uit meer as 12 lande het ook aan die werk gespring. Jehovah se Getuies het insgelyks die voortou met noodlenigingspogings begin neem, wat ’n mens laat dink aan die Bybel se woorde: “Laat ons . . . aan almal goed doen, maar veral aan dié wat in die geloof aan ons verwant is” (Galasiërs 6:10). Noodlenigingskomitees is gevolglik in die lewe geroep. Omdat die Getuies geweet het hoe haglik die situasie op die kusdorpies was, het hulle ’n reddingsaksie van stapel gestuur.

’n Getuie met die naam Edgardo Acosta sê: “Op Saterdag, 31 Oktober, het ons ’n klein bootjie gekry en na die vloedgeteisterde gebied gegaan. Hoewel ons twee broersa kon red, het ons besef dat ons ’n groter boot nodig het as ons al die broers wou uitkry. Ons het dus ’n walvisboot gekry en ’n tweede vaart vroeg Sondagoggend begin. Uiteindelik het ons al die gemeentelede uit die gebied verwyder, tesame met party van die bure—altesaam 189 mense.”

Juan Alvarado het met die reddingsaksies naby La Junta gehelp. Hy vertel: “Ons kon mense hoor skreeu: ‘Help! Red ons!’ Dit was die aakligste ondervinding wat ek nog beleef het. Die broers was heeltemal vasgekeer. Baie was op dakke.” María Bonilla, ’n oorlewende, verduidelik: “Die waters om ons was soos ’n oseaan. Ons almal het gehuil.” Die reddingspogings was egter suksesvol. ’n Oorlewende, Humberto Alvarado, sê: “Die broers het ons nie net gered nie, maar het ook vir ons slaapplek, kos en klere gegee.” Humberto vertel verder: “Een man wat die reddingspoging gesien het, het vir ons gesê dat niemand van sy kerk hom probeer uitkry het nie—net Jehovah se Getuies het. Hy is nou oortuig dat Jehovah se Getuies die ware godsdiens het!”

In die dorp La Lima is ’n groep Getuies in ’n huis vasgekeer. Toe die watervlak om hulle styg, het hulle ’n opening in die plafon gemaak en bo-op die plafonbalke geklim. ’n Getuie met die naam Gabi sê: “Ons het genoeg lewensmiddele gehad om ons ’n paar dae te hou. Toe dit klaar was, het een van die broers sy lewe in gevaar gestel deur in die water uit te gaan om kokosneute te gaan pluk. Ons het Koninkryksliedere gesing om ons te troos.” Juan, ’n bedieningskneg, sê: “Ons het nie gedink dat ons dit sou oorleef nie. Ons het dus besluit om die Bybeltydskrif Die Wagtoring te bestudeer. Ons het almal begin huil, aangesien ons gedink het dat dit die laaste keer is wat ons almal saam sou studeer. Die studie het ons versterk om te volhard.” Hulle het agt dae lank uitgehou, totdat hulle uiteindelik deur die owerheid gered is.

Hoewel hulle veilig was en hulle lewe behou het, moes baie vloedoorlewendes harde werklikhede in die gesig staar. ’n Getuie met die naam Lilian erken: “Dit is baie pynlik om persoonlike besittings soos klere, meubels en familiefoto’s te verloor. Dit was eenvoudig verskriklik om my huis vol modder, vullis en selfs slange te sien!” Maar weer eens was die Christenbroederskap van onskatbare waarde. “Broers het kom help”, sê Lilian. “My man, wat nie ’n Getuie is nie, het gevra: ‘Hoe gaan ons hulle terugbetaal vir al hulle werk?’ Een van die susters het geantwoord deur vir my te sê: ‘Jy hoef my nie te bedank nie. Ek is jou suster!’”

El Salvador voel die aanslag van Mitch

Terwyl orkaan Mitch weswaarts in die rigting van El Salvador beweeg het, het dit stoom verloor. Maar dit het nog steeds genoeg krag gehad om dood te maak. Gedurende hierdie tyd was Jehovah se Getuies in El Salvador besig om vir die “God se weg van die lewe”-streekbyeenkoms voor te berei. Na raming sou meer as 40 000 dit bywoon. Namate Mitch al hoe nader gekom het, was daar ’n skrale moontlikheid dat al die broers daardie byeenkoms sou kon bywoon. Riviere het hulle walle oorstroom en gesaaides, hoofweë en huise verswelg. Die heuwels wat deur ontbossing verswak is, het enorme modderstortings veroorsaak.

Nelson Flores was die presiderende opsiener van die gemeente van Jehovah se Getuies in die dorp Chilanguera. Toe hy op Saterdagoggend, 31 Oktober, wakker word, het hy ontdek dat daar niks aan die oorkant van die rivier was waar Chilanguera vroeër geleë was nie! Vyfhonderd huise is weggespoel! Uit vrees vir die lewens van sy geestelike broers, en sonder om oor sy eie veiligheid te dink, het Nelson die vol rivier aangedurf. “Toe ek aan die ander kant kom”, sê Nelson, “het ek uitgeklim en probeer bepaal waar ek is. Ek het elke dag deur hierdie gebied gegaan wanneer ek van huis tot huis getuig het, maar ek kon nie een bekende baken vind nie!”

Ongeveer 150 mense het daardie nag in Chilanguera gesterf. Onder hulle was verskeie mense wat die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer het. Geen gedoopte Getuie is egter dood nie.

Reddingspogings het gou begin. Arístedes Estrada, wat met die organisering van hierdie verrigtinge gehelp het, verduidelik: “Ons is nie toegelaat om in Chilanguera in te gaan nie. Die water het bly styg! Ek sal nooit die gesig vergeet van mense wat om hulp geroep het, maar agtergelaat is deur reddingswerkers wat noodgedwonge moes vlug om hulle eie lewe te red nie.” Mettertyd is al die broers egter veilig uit die gebied verwyder. Koninkryksale het as sentrums vir dakloses gedien. Daarbenewens het Getuies by hospitale, skole en ander plekke diens gedoen waar hulle lyste van beseerdes en dakloses kon nagaan vir die name van Getuies. Plaaslike gemeentes was gou om die nodige voorraad te voorsien.

Dit was egter nie altyd maklik om voorraad by insamelingsentrums te kry nie. Broers van die dorp Corinto het vertrek met produkte van hulle eie landerye, maar hulle pad is deur ’n grondverskuiwing versper. Die oplossing? Hulle het hulle pad oopgegrawe! Omstanders het eers skepties toegekyk. Maar later is hulle beweeg om hand by te sit en te help om die pad oop te maak. Die broers van Corinto het hulle bestemming bereik, vol modder maar bly dat hulle ’n bydrae kon maak.

Die Wagtoringgenootskap se takkantoor het as een van die insamelingsentrums gedien. Gilberto, ’n personeellid wat met die aflewering van skenkings gehelp het, sê: “Dit was ongelooflik! Soveel voertuie het daar opgedaag dat vrywilligers die verkeer in die parkeerterrein en in die straat voor die takkantoor moes reël.” Ongeveer 25 ton klere en 10 ton kos is geskenk. Dit het 15 vrywilligers ’n hele week geneem om die klere te sorteer en te versend.

Mitch beweeg verby Nicaragua

Mitch het naby genoeg aan die grens van Nicaragua verbybeweeg om ook verwoestende reën oor daardie land te laat uitsak. Duisende huise is vernietig, en hoofweë is weggespoel. Naby die dorp Posoltega het ’n modderstorting hele dorpies begrawe—en meer as 2 000 mense.

Toe die Getuies in Nicaragua van die tragedie uitgevind het, is ’n enorme noodlenigingsorganisasie in die lewe geroep. Vrywilligers is op ’n veeleisende en gevaarlike barmhartigheidsending gestuur—om hulle broers te vind! Twee spanne Getuies, een van León (’n dorp suid van Posoltega) en een van Chichigalpa (’n dorp na die noorde), het na Posoltega vertrek, en elke broer het ’n swaar pak voorraad gedra. Reddingswerkers het gewaarsku dat die pad daarheen feitlik onbegaanbaar was, maar die broers was vasbeslote.

Vroeg Maandagoggend, 2 November, het die broers van León voorraad op ’n vragmotor gelaai en tot by ’n verspoelde brug gery. Nadat alles van die vragmotor afgelaai is, het die broers in twee spanne fietsryers verdeel: Een groep het na Posoltega gegaan en die ander groep na die oorstroomde dorp Telica. Die broers het begin deur ’n gebed te doen. “Ná die gebed”, sê een van die reddingswerkers, “het ons baie versterk gevoel.” Hulle sou dit nodig kry. Hulle moes groot slote oorsteek, soms gly-gly deur die modder ry en op ander kere met die fietse op hulle skouers loop. Bome wat omgeval het, het dikwels hulle pad versper. En hulle moes die grusame gesig verduur van lyke wat in poele dryf.

Dit is verbasend dat die fietsryers van León en Chichigalpa op feitlik dieselfde tyd in Posoltega aangekom het! Nerio López, ’n lid van die reddingspan, sê: “My fiets se bande was verslyt. Ek het gedink dit sal net nog ’n kilometer of twee hou.” Maar die fiets het op die een of ander manier gehou. Dit was eers op pad terug dat albei bande gebars het. Die broers was die heel eerste noodlenigingswerkers wat daar aangekom het. Hoe verheug was hulle tog toe hulle ’n groep plaaslike Christenbroers en -susters teëgekom het! “Ek is so dankbaar teenoor Jehovah en teenoor ons broers vir hulle ondersteuning en hulp”, het een suster gesê. “Ons het nooit gedink dat die broers ons só gou sou kom help nie.”

Dit was net die eerste van verskeie fietsekspedisies na die oorstroomde dorpe, en in baie gevalle was die broers die eerste noodlenigingswerkers wat daar aangekom het. Dit was nogal ’n gebeurtenis vir die dorp Larreynaga toe die 16 broers op hulle fietse daar aangekom het! Die plaaslike broers is tot trane beweeg deur hulle pogings. Soms moes die fietsryers meer as 20 kilogram voorraad op hulle rug dra. Twee broers het meer as 100 kilogram kosvoorraad na die dorp El Guayabo gedra! Een broer wat soveel as wat hy kon op sy fiets gedra het, is bemoedig deur oor die Bybelteks in Jesaja 40:29 te peins: “[Jehovah] gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.”

Getuies in die dorp Tonalá het ’n boodskapper na die verantwoordelike broers gestuur om vir hulle te sê dat hulle kosvoorraad amper op was. Toe die boodskapper hulle bereik, was hy verbaas om te hoor dat noodlenigingsvoorraad alreeds gestuur is! En toe hy weer by die huis kom, was daar reeds kos vir hom by sy huis. Marlon Chavarría, wat gehelp het om noodlenigingsvoorraad na die oorstroomde gebied om Chinandega te neem, sê: “In een dorp was daar 44 Getuiegesinne. Maar 80 gesinne is gehelp, want die broers het hulle kos met hulle gedeel.”

Hierdie noodlenigingspogings het onder die aandag van die owerheid gekom. Die burgemeester van die dorp Wamblán het aan die Getuies geskryf en gesê: “Ons skryf aan julle oor die moontlikheid om hulp te kry. . . . Ons sien hoe julle julle broers en susters hier in Wamblán help, en ons wil weet of dit moontlik is dat julle ook iets vir ons kan doen.” Jehovah se Getuies het hierop gereageer deur kos, medisyne en klere te stuur.

Verwoesting in Guatemala

Mitch het skaars Honduras en El Salvador verlaat of dit het Guatemala bereik. Sara Agustín, ’n Getuie wat suid van Guatemala-stad woon, is deur die geluid van vloedwaters wakker gemaak. Die kloof waarin sy gewoon het, is in ’n bruisende rivier verander. Sy het dikwels aan haar bure se deure geklop om hulle van Bybelwaarheid te vertel. Nou het sy van deur tot deur gegaan in ’n desperate poging om hulle wakker te maak! ’n Modderstorting het later by die heuwel afgekom en baie van haar bure se huise verswelg. Sara het ’n graaf gegryp en oorlewendes begin help. Sy het selfs sewe kindertjies uit die modder gegrawe. Sara, wat ’n vroedvrou van beroep is, het een van hierdie kinders in die wêreld help bring. Ongelukkig was ’n tienermeisie met die naam Vilma onder diegene wat gesterf het. Sy het kort tevore Bybellektuur by Sara geneem.

Hoewel Mitch baie van sy felheid verloor het, het die aanhoudende reën aansienlike skade aan oeste, brûe en huise aangerig. Groot hoeveelhede voorraad is na die plaaslike takkantoor van Jehovah se Getuies in Guatemala gestuur, en daar is besluit dat van hierdie voorraad gebruik kon word om die broers in Honduras te help. Aangesien baie brûe verspoel het en die lughawe oorstroom was, moes die voorraad per boot gestuur word. Frede Bruun, van die takkantoor, vertel: “Ons het ’n agt meter lange veselglasboot gehuur en met ongeveer ’n ton medisyne en kos uitgevaar. Ná ’n vreesaanjaende rit op ’n onstuimige see het ons uiteindelik die hawe van Omoa papnat bereik.”

Mitch—die nasleep

Dit het gelyk of Mitch hom oor suidoostelike Mexiko sou uitwoed. Maar in ’n laaste doodsnik het Mitch noordoos beweeg en suidelike Florida, VSA, getref. Mitch het egter gou sy krag verloor. Dit het teruggetrek tot in die Atlantiese Oseaan en het vinnig begin disintegreer. Teen 5 November is daar glad nie meer teen tropiese storms gewaarsku nie.

Party kenners het Mitch “die vernietigendste orkaan genoem wat die Westelike Halfrond in die laaste twee eeue getref het!” Die uiteindelike dodetal kan tot 11 000 wees; duisende mense word nog vermis. Meer as driemiljoen is dakloos gelaat of het ten minste ernstige gevolge gely. President Carlos Flores Facusse, van Honduras, het hartseer gesê: “Ons het verloor wat ons geleidelik oor 50 jaar opgebou het.”

Baie van Jehovah se Getuies het hulle huise weens Mitch verloor. In ’n paar gevalle bestaan die erwe waarop hulle huise gestaan het ongelukkig nie meer nie! Jehovah se Getuies het nietemin reëlings getref om talle te help om hulle huise te herstel of te herbou.

Tragiese rampe soos orkaan Mitch is ’n wrede herinnering aan die feit dat ons in ‘kritieke tye lewe wat moeilik is om deur te kom’ (2 Timoteus 3:1-5). Ware beskerming teen sulke rampe sal alleenlik kom wanneer God se Koninkryk beheer oor hierdie planeet begin voer (Matteus 6:9, 10; Openbaring 21:3, 4). Jehovah se Getuies is nietemin dankbaar dat nie een van hulle broers hulle lewe as ’n regstreekse gevolg van Mitch verloor het nie.b Gehoorsaamheid aan plaaslike ontruimingsbevele en goeie organisasie aan die kant van plaaslike gemeentes het talle gehelp om uit die gevaargebiede te kom.

Gedurende die laaste paar maande het Jehovah se Getuies in die geteisterde lande hard gewerk om weer in hulle geestelike roetine te kom. In El Salvador is reëlings byvoorbeeld getref om stormslagoffers te help om die streekbyeenkoms by te woon wat gehou is net ’n paar dae ná Mitch verbygetrek het. Busse is gehuur om vervoer te voorsien, en huisvesting is gevind. Reëlings is selfs getref om mediese behandeling aan die siekes te gee sodat hulle dit ook kon bywoon! Die byeenkoms was ’n sukses, met ’n opkomshoogtepunt van 46 855—baie meer as wat oorspronklik verwag is. “Ons ondervinding was traumaties”, erken José Rivera, ’n Salvadoriaanse broer wat sy huis sowel as sy sakeonderneming weens Mitch verloor het. “Maar ons het soos nuwe mense gevoel ná daardie byeenkoms waar ons die gasvryheid van die broers ondervind het.” Volgens berigte het die bywoning van die vergaderinge van Jehovah se Getuies in hierdie lande geweldig toegeneem—’n regstreekse gevolg van buitestanders wat ons noodlenigingspogings gesien het.

Maar die ondervinding het moontlik die grootse invloed op die Getuies self gehad. Carlos, wat die oorstromings in Honduras oorleef het, sê: “Ek het nog nooit so iets ervaar nie. Ek het persoonlik die liefde en toegeneentheid van my broers gevoel.” Ja, die skade wat deur orkaan Mitch aangerig is, sal eendag tot die verlede behoort. Maar die liefde wat betoon is deur Jehovah se Getuies, waarvan baie hulle lewe in gevaar gestel het om hulle broers te help, sal nooit vergeet word nie.

[Voetnote]

a Jehovah se Getuies verwys oor die algemeen na mekaar as “broer” en “suster”.

b Ná die storm het gevalle van aansteeklike siektes vinnig toegeneem. Een Getuie in Nicaragua het as ’n gevolg hiervan gesterf.

[Venster/Prent op bladsy 19]

Getuies in buurlande verleen hulp

TOE weervoorspellers gesê het dat orkaan Mitch Belize sou tref, het die land hom voorberei op die slag. Aangesien die regering gesê het dat alle kus- en laagliggende gebiede ontruim moet word, het Jehovah se Getuies na die hoofstad, Belmopan, nagenoeg 80 kilometer na die binneland of na ander hoogliggende dorpe gegaan.

Gelukkig is Belize die ergste van Mitch se woede gespaar. Maar toe die broers in Belize van die lot van hulle broers in Honduras, Nicaragua en Guatemala hoor, het hulle kos, klere, skoon drinkwater en geld geskenk.

Hierdie reaksie was eintlik kenmerkend van broers in buurlande. Getuies in Costa Rica het vier groot houers met kos, klere en medisyne gestuur. Die broers in Panama het vier sentrums ingerig om geskenkte items te ontvang, te sorteer en te verpak. Binne ’n paar dae is meer as 20 ton noodlenigingsvoorraad ontvang. Een persoon wat nie ’n Getuie is nie, het gesê: “Ek het gedink die weermag is die beste organiseerders van noodlenigingswerk. Maar nou sien ek dat Jehovah se Getuies daardie reputasie verdien.” Die Getuies besoek hierdie man nou gereeld om Bybelwaarhede met hom te bespreek.

’n Broer in die vervoerbedryf het ’n sleepwa en ’n drywer (wat nie ’n Getuie is nie) voorsien om noodlenigingsitems na Nicaragua te neem. Amptenare in Panama sowel as Costa Rica het hulle kwytgeskeld van doeanevereistes toe hulle die vragmotor toegelaat het om deur hulle grens te gaan. Een petrolstasie het genoeg brandstof geskenk om die vragmotor se twee tenks te vul—genoeg vir ’n heen-en-weer-rit! In Nicaragua het die doeanebeamptes ook gesê dat dit nie nodig is om die pakkies te inspekteer nie. “As dit van Jehovah se Getuies is, het ons nie nodig om dit te inspekteer nie”, het hulle gesê. “Ons het nooit enige probleme met hulle nie.”

Dit was egter nie moontlik om voorraad oor land na Honduras te vervoer nie. Maar ’n Christensuster wat vir die Hondurese Ambassade werk, kon reëlings deur die ambassade tref om noodlenigingsvoorraad gratis per vliegtuig te stuur! Meer as 10 ton voorraad is so versend.

Dit is interessant dat die noodlenigingswerk van die Getuies ook party beïndruk het wat nie Getuies is nie. Party maatskappye het kartonhouers, hegband- en plastiekhouers geskenk. Ander het geldelike skenkings en afslag gegee. Lughawewerkers in Panama was veral beïndruk om te sien hoe meer as 20 Getuievrywilligers help om die skenkings vir Honduras af te laai. Die volgende dag het party van hierdie lughawewerkers ’n skenking gebring wat hulle onder mekaar ingesamel het.

[Venster op bladsy 20]

Soortgelyke noodlenigingswerk in Mexiko

ORKAAN Mitch het nie veel skade in Mexiko aangerig nie. Maar net weke voor daardie vernietigende orkaan Sentraal-Amerika getref het, was daar hewige oorstromings in die staat Chiapas. Ongeveer 350 gemeenskappe is geraak; hele dorpe het verdwyn.

Die oorstromings het natuurlik baie ontberinge vir Jehovah se Getuies in daardie gebied veroorsaak. Maar vinnige optrede deur die plaaslike gemeentelike ouer manne het dikwels gehelp om die impak van die storm te verminder. In een klein gemeenskap het die ouer manne byvoorbeeld elke gemeentelid besoek en hulle gewaarsku om in die Koninkryksaal te gaan skuil as dit bly reën. Daar is gemeen dat die saal die sterkste gebou in daardie gemeenskap is. Met dagbreek is die dorp getref deur die gekombineerde krag van twee riviere wat in vloed was! Die Getuies—en ’n aantal van hulle bure—het die ramp oorleef deur na die dak van die Koninkryksaal te vlug. Nie een Getuie het sy lewe verloor nie.

Nogtans is ongeveer 1 000 Getuies in Mexiko genoodsaak om na tydelike woonplekke te trek wat deur die regering voorsien is. Ongeveer 156 huise van Getuies is heeltemal vernietig en 24 is beskadig. Daarbenewens is sewe Koninkryksale heeltemal vernietig.

Ses noodlenigingskomitees is gevolglik op die been gebring om in die behoeftes van Jehovah se Getuies en hulle bure te voorsien. Kos, klere, komberse en ander voorraad is gou versprei. Trouens, toe plaaslike amptenare ingelig is oor die omvang van die noodlenigingswerk, het hulle gesê: “Nie eers die weermag kon dit so vinnig doen nie.”

Jehovah se Getuies is al lank bekend vir hulle eerlikheid, en dit het al dikwels in hulle guns getel. Toe een groep mense byvoorbeeld hulp van die plaaslike owerheid gevra het, is hulle gevra of daar enige Getuies van Jehovah in hulle gemeenskap is. Toe hulle ja antwoord, het die amptenare vir hulle gesê: “Bring dan een van hulle na ons toe sodat ons vir hom die noodlenigingsvoorraad kan gee!”

’n Plaaslike ouer man som sake goed op wanneer hy skryf: “Die broers het ondanks die ramp ’n positiewe gesindheid behou. Baie broers van nabygeleë gemeenskappe het hulle lewe in gevaar gestel en ons van kos voorsien sowel as van Bybelpublikasies om ons te versterk. Ons het baie waarvoor ons Jehovah moet dank.”

[Kaart/Prent op bladsy 14]

Mexiko

Guatemala

Belize

El Salvador

Honduras

Nicaragua

Costa Rica

[Prent op bladsy 15]

HONDURAS

◼ Guaceriquerivier

[Prente op bladsy 16]

EL SALVADOR

◼ Die hoofstraat in Chilanguera

◼ José Lemus en sy dogters het die storm oorleef, en die Koninkryksaal is nie beskadig nie

◼ José Santos Hernandez, voor sy verwoeste huis

[Prente op bladsy 17]

NICARAGUA

◼ Die eerste span fietsryers na Telica

◼ Getuies in El Guayabo was bly om kospakkies te ontvang

[Prente op bladsy 18]

NICARAGUA

◼ Vrywilligers herbou die eerste van baie huise

◼ Getuies van plaaslike gemeentes het gehelp om kospakkies op te maak

[Prent op bladsy 18]

GUATEMALA

◼ Sara het gehelp om sewe kinders uit die modder te red

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel