Het jy al ooit ’n vis gesien wat loop?
WAT ’N GESIG! Ek het aan die kant van ’n wortelboommoeras gestaan en uitgekyk oor wat ek gedink het leë modderbanke is. Maar dit was in werklikheid nie leeg nie. ’n Eienaardige groep akrobate was besig om toertjies uit te haal. Eienaardig in watter sin? Elkeen was niks meer as 15 sentimeter lank nie. Hulle was visse.
Hoewel die idee van visse wat loop en spring omtrent so onwaarskynlik klink soos olifante wat kan vlieg, was dit presies wat ek voor my gesien het. Maar hoe kan ’n vis loop, klim en spring—ja, selfs asemhaal—terwyl hy buite die water is?
Die visse wat ek gesien het, word klimvisse genoem. Een van hulle ongewone kenmerke is hulle oë, wat uit hulle kop peul en dan terugtrek. Nog ’n kenmerk is hulle borsvinne, wat die klimvis gebruik om oor modder te beweeg—baie soos ’n mens krukke kan gebruik om rond te loop. Maar hoe spring ’n klimvis? Hierdie ongewone vis kan homself vorentoe skiet met sy stert, wat hom tot 60 sentimeter ver deur die lug laat trek. Klimvisse is ook bedrewe bouers, aangesien hulle hulle vinne as grawe gebruik om lêplekke in die modder te bou.
Die klimvis het ’n ingeboude suurstoftenk—sy mond- en kieuholtes, wat vol water gehou word wanneer hy op land “duik”. Wanneer die suurstof in sy “tenk” op is, trippel hy na ’n modderpoel om dit weer vol te maak.
As jy by modderbanke in Afrika of Asië kan uitkom en as jy die muskiete en die tropiese son kan verduur, gaan soek gerus die klimvis. Dan sal jy ook kan sê dat jy ’n vis gesien het wat loop!—Bygedra.
[Foto-erkennings op bladsy 31]
Agtergrond: Jane Burton/Bruce Coleman Inc.
Inlasprente: Photographed by Richard Mleczko